1 minute read

Vossies kyk Bergies diep in die oë

Die Hoërskool Ben Vorster se meisies en seuns eerste hokkiespanne het op Rustenburg by Bergsig Akademie se jaarlikse Sporttoernooi deeglik hul stempel afgedruk. Die toernooi is van die 27ste April tot die 1ste Mei aangebied.

Dit was veral die Buffelkraal se meisies hokkiespan wat deurgaans beëindruk het met die aantal seges wat hulle behaal het.

Advertisement

In die twee kragmetings teen die span van Rob Ferreira het Ben Vorster die een wedstryd met 1-0 gewen en in die volgende ontmoeting ‘n oorwinning van 2-1 aangeteken.

Die span van Selly Park kon nie ‘n antwoord op Ben Vorster se aanvallende spel gee nie en het met 0-3 teen die Tzaneense besoekers vasgeval.

Die gasheerskool, Bergsig Akademie, se hokkiemeisies is ietwat verneder na Ben Vorster hulle in beide wedstryde gemaklik geklop het. In die eerste ontmoeting het Ben Vorster ‘n weghol oorwinning van 0-5 gevier en in die tweede kragmeting het Bergsig moedig probeer, maar kon geen teenstand bied teen die Rooi Golf nie en het die keer met 0-2 die afgtog geblaas.

Ben Vorster se seuns eerste hokkiespan het gemengde welslae in hul wedstryde behaal, alhoewel die span egter geen van hul kragmetings verloor het nie.

In die Vossies se eerste ontmoeting teen Selly Park het hulle met 2-1 gewen. In die tweede kragmeting het beide spanne mekaar behoorlik opgekeil en die wedstryd het uiteindelik met een doel elk (1-1) geëindig.

Die tweedespan van Selly Park het ook die Vossies se seuns eerste hokkiespan aangedurf en het met ‘n loesing van 0-2 ‘n hokkiesles ontvang. Die wedstryd teen Bergsig het vir ‘n taai en opwindende tweestryd gesorg.

Beide spanne het twee doele (2-2) aangeteken en geen van dié twee spanne kon daarna slaag om die wendoel in die doelhok te slaan nie.

Die deelnemende skole by Bergsig se sporttoernooi wat ook rugby en netbal ingesluit het, was Hoërskole

Ben Vorster, Randburg, Riebeeckrand, Die Wilgers, Rob Ferreira, Rustenburg, Frikkie Meyer, Jim Fouché, Linden, Grenswag, Koster, Parel Valley High School, Krugersdorp High, Queens High, Rustenburg Rugby Akademie, Grenville, Selly Park en Fields College.

Die Limpopo spanne vir die 2023 seisoen is aangewys en ‘n hele paar Laerskool Tzaneen spelers is in die verskeie spanne opgeneem.

Ilana Lubbe, Lika Nel en Shekinah Ramabulana is ingesluit in die O/13 A-span wat gaan deelneem aan die Interprovinsiale toernooi in Bloemfontein vanaf die 1ste tot die 5de Julie.

Maryna Jacobsz, Mandla Nkuna, Ndzaka Twala en Livhuwani Makwarela is in die Ben C-spanne ingesluit. Hierdie spanne sal aan ‘n toernooi in Potchefstroom vanaf die 29ste Junie tot 3de Julie deelneem.

Die O/12 spelers wie in die streekspanne ingesluit is, is Kaylee Dreyer, Dunay Dreyer, Jany Norval, Kgotatso Senyolo, Willem Mostert, Celbie Rabopape, Ruan Bieldt, Luan Lubbe, Refentse Pheladi en Liam Fourie. Hierdie spelers sal in Krugersdorp vanaf die 30ste Junie tot die 4de Julie deelneem.