Weslander 15 March 2012

Page 3

Weslander 15 Maart 2012

Nuus ∙ News

3

Saak van bedrog ondersoek teen Pelikaan-hawe Heléne Meissenheimer VELDDRIF – ’n Saak van bedrog teen die bestuur van die Pelikaanhawe-sentrum is dié week geopen. Konstabel Melvin de Bruyn, woordvoerder by Laaiplek-polisie het Dinsdag bevestig dat ’n saak van bedrog teen die sentrum se bestuur Maandag by hulle geopen is en nou verder ondersoek word. Weslander het ook verneem dat die polisie Dinsdagmiddag op die sentrum se boeke beslag gelê het. Weslander het verlede jaar meermale klagtes ontvang oor hoe die sentrum bestuur word. Die Velddrif-gemeenskapsontwikkelingsforum, ’n artikel 21-maatskappy is sedert 2003 aan beheer van sake. Geskille tussen huurders en bestuurslede het verlede jaar al meermale genoodsaak dat die polisie uitgeroep word. Verlede Vrydag was daar weer ’n geskil waarvoor die polisie uitgeroep is, het kapt Devina le Roux, stasiebevelvoerder gesê. Twee klaers en ’n bestuurslid, Randall de Villiers, sou Maandag die saak voor haar verder bespreek. Maandagoggend, voor die vergadering kon plaasvind, het een van die klaers reeds ’n klag van bedrog gelê. Le Roux het gister gesê sy sal nou eers self die saak verder ondersoek. Sammy Claassen, voorsitter van die ANCtak op Velddrif, het gistermiddag gesê die party is baie bekommerd oor die huidige toestand by die Pelikaanhawe-sentrum. Hy het gesê die swak omstandighede by die sentrum was Maandagaand op die agenda van

die party se takvergadering. Daar is besluit dat die ANC volgende Woensdag, 21 Maart’n gemeenskapsvergadering gaan hou waarheen die forum se bestuurslede genooi gaan word om terugvoer te gee wat hulle die afgelope nege jaar gedoen het. “Die Pelikaanhawe-geboue is destyds vir sowat R820 000 deur middel van die departement seevisserye se armoedeverligtingfonds gekoop om die arm mense van Velddrif te help. Volgens die maatskappyewet moet die forum gereeld aan die gemeenskap terugvoer gee deur algemene jaarvergaderings waar geouditeerde finansiële verslae voorgelê word. Dit het nie gebeur nie,” het Claassen gesê. Claassen het gesê die ANC verwag dat ’n nuwe bestuur verkies moet word. De Villiers het gister gesê hy dra nie kennis dat ’n saak van bedrog geopen is nie of dat die ANC so ’n vergadering beplan nie. Op die ander aantygings wou hy hom nie uitlaat nie, omdat hy volgens hom net ’n gewone bestuurslid is. Hy het Weslander verwys na Themba Williams, die bestuurder van die sentrum en voorsitter van die forum. Williams het gesê hy weet nie van die ANCvergadering of die bedrogsaak nie en hy wil geen verdere kommentaar lewer nie. In Desember was meeste van die winkeltjies toe of leeg, het die pleister van die mure geval en het diegene wat nog ’n bestaan probeer maak, kry min of geen kopers gekry. Uit verskeie oorde is verneem die sentrum skuld R200 000 in agterstallige water-, riolering- en belastingrekeninge. Dit kon nie gistermiddag by die Bergrivier-munisipaliteit bevestig word nie.

Ongeluk naby gholfklub: Woensdagmiddag omstreeks 16:30 is ’n motorfietsryer deur ’n motoris raakgery. Die ongeluk het gebeur voor die ingang na die Vredenburg-gholfklub. Die motorfietser is met twee gebreekte bene opgeneem in die Vredenburg Provinsiale Hospitaal. Sy identiteit was gister teen saktyd nog onbekend. FOTO: TRISH GOOSEN

ANC ontbind Weskusstreekbestuur Heléne Meissenheimer MALMESBURY – Die Weskusstreekbestuur van die ANC is Dinsdagaand ontbind. Theunissen Andrews, bekend as Bumper, het gisteroggend bevestig dat die streekbestuur, wat onder leiding van Jeffrey Swart gestaan het, ontbind het en vervang gaan word deur ’n taakspan wat deur die provinsiale leierskap aangewys sal word. Swart en die res van die uitvoerende komitee het glo nie een Dinsdagaand se vergadering bygewoon nie.

Volgens gister (Woensdag) se berig in Die Burger sit interne faksiegevegte binne die party agter die skuif. Die meerderheid van die streekleierskap wat ontbind word, is glo pro-Jacob Zuma. Die ander faksie is Marius Fransman-gesindes. Dit gaan blykbaar oor die manipulasie van stemme by die ANC se nasionale leierskapverkiesing aan die einde van die jaar in Bloemfontein. Die Wes-Kaap wil, so blyk dit, ’n Fransman-gesinde faksie stuur. Swart, ten spyte van herhaalde oproepe, kon nie gister vir kommentaar bereik word nie.

Personeel wag voor Wimpy in Hoofstraat se toe deur nadat die restaurant se kombuis vermoedelik as gevolg van ’n kortsluiting die vorige nag gebrand het. FOTO: TRISH GOOSEN

Wimpy in Hoofstraat brand Trish Goosen VREDENBURG – Diegene wat gisteroggend gesmag het na Wimpy se beroemde koffie en ’n stewige ontbyt, moes teleurgesteld voor dié restaurant in Hoofstraat omdraai. Die deure was op 14 Maart bottoe. Die kombuis het in die nag, vermoedelik weens ’n kortsluiting, net voor middernag aan die brand geslaan. Teen 09:00 die volgende oggend het personeel voor die restaurant vergader. Die groep was hard aan die gons oor die vorige nag se gebeure toe Weslander op die toneel kom.

Hulle het deur die vensters geloer in ’n poging om te sien hoeveel skade aangerig is. Daar is aan Weslander gesê dat hulle vir die eienaar van Wimpy, Wilma de Villiers, wag om te kom oopsluit sodat hulle kan begin skoonmaak. Volgens De Villiers is dit nog te vroeg om die randwaarde van die skade te bepaal. Sy het gesê dat Wimpy weer Maandag oop sal wees. Volgens kapt Thembela Mgudlwa van Vredenburg-polisie is die brand net na 00:00 geblus. ’n Saak van brandstigting word ondersoek, ’n standaard prosedure in só ’n geval.


Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.