Tygerburger Elsiesrivier 24 Oct 2012

Page 13

Woensdag 24 Oktober 2012

Broodjie in oond sonder sweet Wie kan ’n snytjie louwarm, varsgebakte brood weerstaan? Min mense, glo ek. Wanneer laas het jou kombuis soos ’n plaaskombuis geruik met die reuk van brood wat in die lug swewe – goudbruin met ’n krakerige kors. Die meeste mense deins terug as daar gepraat word van enige gebak waar gis gebruik word. Vandag wil ek dié mite die nek inslaan. Hierdie vasgestelde riglyne sal sorg vir spoggebak. Eerstens, wanneer jy gis by jou bestanddele voeg gebeur niks tot jy dit aktiveer nie. Jy moet dit as’t ware wakker maak om te begin werk. (Baie soos met tieners). Die regte temperatuur warm water sal die gis aktiveer om sodoende jou deeg te laat rys. As die water jou brand, is dit te warm. Korrekte temperatuur is 49 °C tot 54 °C om droë gis te aktiveer. Te warm water sal die gis doodmaak en jou deeg sal nie rys nie. As die water te koud is, sal die gis nie geaktiveer word nie – dus plat toegeslane brood. Die ander knelpunt is die knie van die deeg. Ek het lank gesoek na ’n resep waar ek hierdie lastige stap kon uitskakel. Daar is nie altyd ’n man naby wie ek kan vra om die kniewerk te doen nie. Ek het sowaar spiere van papiere, het beslis nie my ouma se boarms geërf nie! Ek deel dus vandag ’n broodresep sonder kniewerk. Hoera! Niks van inknie en afknie nie. Nou kan al die nuwe bruide hul skoonmoeders verras met dié woorde: “Ek het ’n broodjie in die oond!” Tuisgebakte brood sonder knie: 7 koppies (1 kg) meel 2 teelepels (10 ml) sout 1 pakkie (10 g) suurdeeg (gis) 4 koppies sterk louwarm water Verhit oond tot 180 ˚C. Meng droë bestanddele, voeg sterk louwarm water by en meng goed deur. Verdeel tussen twee gesmeerde broodpanne en laat rys tot die panne tot bo vol is. Bak vir 1 uur tot mooi bruin bo-op. Verwyder uit oond, plaas op rakkies en smeer bo-kors liggies met ’n bietjie botter indien verkies. Notas: • Ek gebruik die groen pakkies gis op die winkelrak, nie die koekies nie. Dit is droë korrelgis. • Ek verkies om koekmeel te gebruik. • Wanneer dit koud is, rys brood nie goed nie. Ek verhit my oond tot 100 ˚C en skakel dan die oond af. Sit dan die broodpanne in om te rys vir sowat 40 minute. • Die gaar brood vries goed. Kontak Louise met navrae by 021 591 8391.

Nuus/News

TygerBurger Elsiesrivier Bladsy 13


Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.