Orania Rede Tydskrif

Page 22

die geluk het om saam te stem met wat soms die mees oningeligte mening is; anders is hy: ʼn “intellektueel”. Maar, dames en here, dis nie my doel om oor hierdie dinge te kla nie of ʼn aanklag te maak nie; ʼn mens aanvaar die geestelike klimaat en die tyd waarin jy – niè deur eie toedoen – gebore en geplaas is, net soos jy ook persoonlike beperkthede moet leer aanvaar. En by al die geestelike medikamente wat mense jou wil toedien, het jy nog altyd dié vryheid: jy kan sluk of niè sluk nie; weier om te sluk. Ek wil met u hier praat oor wat ʼn intellektueel is en wat hy nié is nie – u, wat die kans het om intellektuele te word as u wil; u wat dalk groter geleentheid daartoe het as honderdduisend van ons volk. Laat ons dit eers duidelik begryp: ʼn intellektueel is nie noodwendig, of veral, ʼn geleerde of ʼn hooggeleerde nie; hy hoef nie eers iemand te wees wat gestudeer het nie. Ek wil later met u praat oor hoe die ware intellektueel iemand is wat dit vir hom tot lewensreël gemaak het: om by elke saak redelik te dink, billik te oordeel, aarselend te veroordeel, en die eie mening met ʼn bietjie nederige selfkritiek te beskou. En nou is óns tyd juis so (of was alle tye maar so?) dat ʼn man hooggeleerd kan wees en tog bevooroordeeld soos ʼn fanatikus, gretig om te oordeel en te veroordeel, en rotsvas oortuig dat die eie mening oor elke saak altyd en volledig die juiste is. (En hierdie soort man word deur ons soms selfs “’n kragtige persoonlikheid” genoem.) En hoe kry ons nie tòg weer soms onder mense met min boekgeleerdheid juis daardie intellektuele deugde van redelikheid, van onbevooroordeelde ondersoek en selfkritiek! Ja, mense wat selfs daardie deug beoefen wat die moeilikste van almal skyn te wees: om ʼn oordeel op te skort wanneer jy nie wéét dat jy al die feite in ʼn saak ken, én die saak-self tot op die grond begryp nie. Om ʼn intellektueel te wees, hoef ʼn mens dus nie ʼn geleerde of ʼn gestudeerde te wees nie. Die geleerde kán miskien, as hy wil, makliker tot intellektueel promoveer – juis weens sy groter feitekennis en kennis van ander standpunte. Maar geleerdheid kan vir ʼn mens ook verwaand maak – en dáárom kom jy nié deur die enge poort van die ware billikheid van oordeel nie. Moet die intellektueel noodwendig baie intelligent wees? Ek weet nie. Intelligensie sal seker nuttig wees, sal hom help om meer feite vás te vat en wyer verbande tussen feite te lê. Ons is almal bekend

20|REDE

daarmee dat die onkundige meestal die sterkste oortuig is van sy mening se juistheid, en sekerlik meestal die hardste praat. Ja, intelligensie sal seker help. Maar ons weet ook: die intelligensie kan oorslaan tot slimmigheid. En slimmigheid is die Satan in die ryk van die dink: die slimmigheid wat met slinterslae die rein waarheid tot iets anders omstook. Ek glo dat daar ook eenvoudiges van gees is wat juis deur hulle nederigheid, hulle kennis van eie onvolkomenheid, nader aan die werklike intellektueel staan as wat die “slim man” ooit wil staan. Miskien – al klink dit na ʼn paradoks – miskien is: om ʼn intellektueel te wees, eerder ʼn morele as ʼn suiwer-intellektuele lewenshouding. ʼn Ander gebruik van die woord “intellektueel” – en ʼn volkome juiste gebruik – is wat ons kan noem: die sosiologiese. Wanneer ons die woord só bedoel (en ons het alle reg daartoe), dui ons ʼn sekere maatskaplike groep aan – sal ons maar sê: “breinwerkers” as verskillend van handearbeiders of bestuurders van handearbeid; enger bepaald: mense soos kunstenaars, filosowe suiwer wetenskaplikes, predikante, e.d.m., ʼn groep wat as ‘t ware ʼn bietjie náás of buite die produksieproses in enger sin staan. In Marxistiese geskrifte – en waarskynlik ook in die algemene sosiologie – word ons term “intellektueel” dikwels met hierdie betekenis gebruik. Die “intelligentsia” word dan as ʼn klein, nie-magtige groep gesien, wat wel nog betekenis het omdat hy invloed op die openbare mening kan uitoefen (dus “propagandawaarde” het; Stalin is dit glo nog wat sy skrywers “opinie-ingenieurs” genoem het); ʼn groep wat nog ʼn ietsie gevlei, of ten minste nie heeltemal verwaarloos moet word nie, maar wat weens sy kleinheid en politieke onmag tog taamlik hardhandig rondgemaneuvreer kan word, en wat – hoe meer die staat op die politici beheer kry oor alle organe wat die openbare mening beïnvloed – later volkome geïgnoreer kan word. Ek glo nie dis onbillik of onjuis om te sê nie: dat ons Suid-Afrikaanse opvatting van die intellektueel al vandag ʼn byna volledige aanvaarding van hierdie sosiologiese (in wese: Marxistiese) standpunt is. Elke intellektueel het presies ewe veel stemkrag as die onnoselste; hy is minder in getalle as enige ander stand, is meer verspreid en dus meer geïsoleerd, kan dus makliker neergeslaan of geneutraliseer word. Maar ook hier, dames en here, veroordeel ek nie en


Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.