Page 1

REDE

Ve r s ta n d i g h e i d Geregtigheid Insig

April 2016 | Vol 1

DENKENDE LEIERSKAP REDE|i


REDE is ‘n indieptepublikasie vir denkende Afrikaners wat oor ons wese, verlede en toekoms lees, besin en debatteer. Redakteur: Jaco Kleynhans Taalversorging: Francois de Vos Medewerkers Prof. Danie Goosen – Professor in godsdienswetenskap aan Unisa en voorsitter van die FAK Prof. Koos Malan – Professor in Publiekreg aan die Universiteit van Pretoria Dr. Koos van der Merwe – Voormalige parlementslid en hoofsweep van die IVP Mnr. Pieter Krige – Bestuurder van Gousblom Ontwikkeling, ‘n filiaal van die Orania Beweging

VOORBLAD Plato en Aristoteles in die Atheense skool, ‘n muurskildery van Rafaël. Saam met Sokrates word Aristoteles en Plato as die drie groot filosowe van antieke Griekeland bestempel. Waarom Plato en Aristoteles op die voorblad van die eerste uitgawe van REDE? Die basis vir die Westerse filosofie is deur hierdie groot denkers daargestel. REDE is nie in sy kern ‘n filosofiese tydskrif nie, maar ag die filosofie as belangrike basis vir enige diepliggende denke. Dit is daarom ook geen verrassing dat ‘n hele paar medewerkers in hul artikels na een van hierdie groot Griekse denkers verwys het nie. Ernstige denke vandag kan nie die werk van Plato, Aristoteles en Sokrates uitsluit nie.

Ons sal met elke uitgawe van REDE ‘n gedig van een Afrikaanse digter plaas. Ons begin met AG Visser.

Mnr. Sebastiaan Biehl – Navorser by die Orania Beweging Mnr. Carel Boshoff – President van die Orania Beweging Mnr. Jaco Kleynhans – Uitvoerende Hoof van die Orania Beweging Teken in op REDE Stuur ‘n e-pos na jaco@orania.co.za vir ‘n inskrywingsvorm. Intekening kos R50 vir twee uitgawes of R80 vir 4 uitgawes. Maak ‘n inbetaling aan Orania Beweging, ABSA, Tjekrekening, Rekeningnommer 2630143015. Verwysing: REDE en u naam en van.

REDE word uitgegee deur die Orania Beweging en sy navorsingsfiliaal EPOG. Ondersteun asseblief beide organisasies. Besoek www.orania.co.za vir meer inligting.

EPOG

Vry! Op swarte agtergrond van al wat ons moet ly Blink as ‘n ster in duist’re nag die een woord: VRY! U het, O Heer, ons volk met eie hand Gelei, opdat hul rein U woord bewaar, Van Noord tot Suid langs weë wonderbaar En onder vreemde sterre hier geplant. ‘Om vryheidswil, verlaat die Suiderstrand, Trek Noord en deins terug vir geen gevaar!’ ‘t Was U bevel. Van Kaap tot Ewenaar Lê nog ons bloedspoor deur die donker land! Om weer - die vadererf verwoes, verbrand Na naamloos’ leed die onderspit te delf In ongelyke stryd teen dwinglandy! Ai, my! Ons ken geen ander vaderland. Die drang na vryheid kom tog van U self; Maak, Heer, ons volk, U Benjamin, weer vry!


‘n Tydskrif

vir die nederige intellektuele Afrikaner

Redakteur Jaco Kleynhans

Die hele lewe leef in ons: om onsself te ken – en om selfs intelligent nederig te wees – moet ons al die gestaltes ken wat in ons aanwesig is – NP van Wyk Louw Die man wil volk-volk skree totdat die ganse volk hom hoor. Sy held is De la Rey, al spel hy dié gevierde generaal se van op Facebook verkeerd. Ons leiers het ons belieg en bedrieg sê hy, maar hy verkies om sy ore uit te leen aan mense wat hul argumente op propaganda en persepsies bou en dit in afgejaagde geskriffies met bedenklike grammatika op sosiale media uitdruk. Ons mense is soekend. Hulle vra: Wie is ons? Waar kom ons vandaan? Waarheen is ons op pad? Wie is ons leiers? En dan, in oomblikke van swakheid, gryp hulle na die populisme van mense met geen bewese rekord nie. In oomblikke van frustrasie word die denkers teen die doeners afgespeel en word boeke verruil vir politieke praatjies langs die rugbyveld of om die braaivleisvuur. In oomblikke van magteloosheid word elitisme met politieke hoogwaardigheid verwar en word leiers met goeie argumente en ‘n stewige stapeltjie navorsing agter hulle na die brandstapels toe gestuur. Is daar hoop? Die bekende Britse filosoof GK Chesterton het gesê dat hoop beteken dat daar hoop is wanneer alles hopeloos lyk. Met hierdie eerste uitgawe van REDE wil ons sê: Daar is altyd hoop vir mense wat ernstig dink. Mense wat

hulself met kennis bemagtig en met mense omring wat meer as hulle oor dinge wat belangrik vir hulle is, weet. Regdeur die Westerse wêreld beleef ons vandag ‘n opbloei van die populisme. Hierdie populisme moenie altyd as sleg beskou word nie, veral nie wanneer dit die onaantasbare leiers van die territoriale staat aanvat nie. Wanneer die populisme egter anti-intellektueel van aard raak, moet ons ons mense op nederige en beskaafde wyses daarteen waarsku. Met hierdie tydskrif wil ons ‘n lansie breek vir die konserwatiewe Afrikanerintellektueel wat nie op ons mense neersien met ‘n intellektuele meerderwaardigheid nie, maar wat met sy en haar volgehoue werk ons mense wil herinner aan wie ons is, waar ons vandaan kom en hoe ons ‘n volhoubare, regverdige toekoms vir ons mense kan verseker. Ons eerste publikasie is ook ‘n nederige begin en u ondersteuning in die toekoms sal die omvang van hierdie publikasie bepaal. Dankie aan die briljante groepie medewerkers wat vir hierdie eerste uitgawe geskryf het en dankie aan almal wat die moeite doen om hierdie publikasie te lees. Die Afrikaner het denkende leierskap, wat Van Wyk Louw ‘intelligent nederig’ beskryf het, nodig.

REDE|01


Die populisme

en die rol van die intellektuele

“This is always populism’s peril: That it relies too much on the power of charisma.” Ross Douthat, New York Times In die afgelope dekades is reeds telkemale vanuit konserwatiewe kringe geskryf oor wat as die ‘verraad van die Westerse intellektueel’ beskryf kan word. Asof gemotiveer deur selfveragting neem intellektuele soos klokslag standpunt in teen hulle eie kulturele erfenis. Volgens dié intellektuele word die Westerse erfenis deur niks anders nie as geweld, kolonialisme en rassisme gekenmerk. Daarteenoor verteenwoordig die ‘ander’ kulture in hul oë die beskermingswaardige en selfs die voorbeeldige.

Prof. Danie Goosen

So kontinueer die selfveragters die tradisie van Jean-Jacques Rousseau, wat reeds in die 18de eeu die toestand van die sogenaamde edele barbaar bo dié van sy eie Europese kultuur verkies het. Historici voer vandag met oortuiging aan dat die onmiddellike oorspronge van die selfveragters na die 60’er jare van die vorige eeu teruggevoer kan word, maar dat Rousseau hulle werklike ideologiese vader is. Selfveragting is vandag egter ook onder Afrikaanse intellektuele aanwesig. Verskeie van hulle word ook deur ’n wrokkigheid jeens en selfs haat in die eie identiteit gemotiveer. Tegelyk word die ‘andere’ in hulle oë edele slagoffers waarvoor onvoorwaardelik kant gekies moet word.

02|REDE


Een van die mees bisarre voorbeelde hiervan is ’n junior personeellid van Unisa wat onlangs aangevoer het dat Afrikaners kollektief moet selfmoord pleeg. Slegs so kan daar anderkant die ‘kriminele verlede’ van Afrikaners getree word, sê hy.

groepe speel vandag ’n noodsaaklike rol om die identiteitsvraagstuk in die hart van die openbare lewe te plaas. Die kritiese vraag is egter of hulle genoeg doen om ’n aantreklike tuiste vir intellektuele te bied.

Daarmee is egter nog nie die volle verhaal vertel nie. Selfveragting is vandag nie die enigste eienskap van die Westerse mens nie. Verskeie lande in die Westerse wêreld word tans deur ‘populistiese’ groeperinge gekenmerk wat, in spanning met die selfveragters, voorspraak vir die eie identiteite maak. Alhoewel die populiste nie die enigste voorspraakmakers daarvoor is nie, neem hulle ‘n belangrike plek in die hedendaagse politiek van identiteit in.

Onderliggend aan hierdie vraag is die legitieme kommer dat die populistiese groepe nie hulle verantwoordelikheid jeens die identiteitsgedagte sonder die steun van intellektuele sal kan nakom nie. Trouens, sonder die aanwesigheid van intellektuele is die politiek tot mislukking gedoem. Sonder stewige idees en verantwoordelike denke sal die populistiese groepe slegs eendagverskynsels wees. Idees bied immers riglyne vir eeue, terwyl die slagspreuke van populiste môre vergete kan wees.

Ondanks die tirades wat deur intellektuele selfveragters in die openbare media teen populistiese groepe gevoer word, word laasgenoemde deur groeiende getalle ondersteun. Onlangse verkiesings in drie Duitse deelstate is maar slegs die jongste bewys hiervan. Die populistiese Alternative für Deutschland (AfD) het, ondanks felle mediakritiek, bo verwagting goed gevaar. Soortgelyke tendense is bykans in elke ander Wes- en Oos-Europese land aan te tref. Maar hierdie opmerkings bring ons nader aan die vraag wat hieronder ter sprake gebring word. Dit gaan oor die noodsaaklike rol wat intellektuele en hul idees in die populistiese apologie vir die eie behoort te speel. Alhoewel populistiese groepe dikwels deur intellektuele ondersteun word (die AfD was aanvanklik bekend as die ‘party van professore’), loop hulle dikwels die risiko om deur antiintellektuele sentimente gekenmerk te word. Trouens, in die openbare gemoed word hulle selfs as vyandig teenoor die wêreld van die intellektueel en hul idees ervaar. ’n Hedendaagse voorbeeld hiervan is Donald Trump, Amerikaanse presidentskandidaat. In ’n onlangse analise van Trump se taalgebruik het Ross Douthat in The American Conservative op die gebrekkige intellektuele aard van sy uitsprake gewys. Volgens Douthat is dit deurspek van pure nonsens, onsamehangende sinne, gebrek aan argumente en idees, persoonlike beledigings, ensovoorts. Dit wil sê alles dinge waaruit ’n afkeur in denke straal. Nogtans geniet Trump groot steun onder ‘n belangrike segment van die Amerikaanse kieserspubliek. Dit bring ons uiteindelik by die vraag wat hieronder ter sprake gebring word. Populistiese

Wat dus gemaak met die anti-intellektuele aard van populistiese groepe? Is die identiteitsbewuste beweging eenvoudig aan hul anti-intellektualiteit uitgelewer? Om hoegenaamd hierop te antwoord is dit noodsaaklik om tussen twee verskillende soorte populisme te onderskei. Alhoewel die een soort dikwels afwysend teenoor intellektuele staan, is die goeie nuus dat die ander populisme deur diep intellektuele wortels gekenmerk word. Kortom, identiteitsbewustes hoef nie die populisme as sodanig vaarwel toe te roep nie. Hulle kan met groot vrug hul gewig by die tweede groepering ingooi. Ons verwys na die onderskeid wat tussen die charismatiese en die demokratiese populisme getref kan word. Terwyl ’n intellektuele aanslag dikwels in die charismatiese populisme afwesig is, speel intellektuele daarteenoor dikwels ’n betekenisvolle rol in die demokratiese populisme. Ons staan by enkele van die ooreenkomste en verskille tussen die twee populistiese groeperinge stil: 1. Die charismatiese populisme word, soos die naam sê, meestal rondom charismatiese leiersfigure tot stand gebring. Daarteenoor steun die demokratiese populisme op gemeenskappe. Ondanks die appèl wat die charismatiese populisme op gemeenskappe maak, word dit deur ’n ‘van bo-af ’-benadering (vanuit die leier) gekenmerk. Die demokratiese populisme, daarenteen, word van ‘onder af,’ vanuit die gemeenskappe, gelei. Kenmerkend van die ‘van bo-af ’-benadering is die vertroue wat in die sogenaamde sterk leier gestel word. Leiers sal, word geglo, die gemeenskappe van alle krisisse bevry. Trump is weer eens ’n voorbeeld hiervan. Hy word

REDE|03


negentiende eeuse Afrikaners, dit wil sê dié Afrikaners wat die binneland ingetrek en ’n veelheid van mikrorepublieke gestig het. Ten grondslag van dié republieke het die tipiese demokraties-populistiese idee gelê dat die gemeenskap self verantwoordelikheid moet aanvaar.

voorgestel as ‘n leier wat alle probleme waarvoor die magtige VS vandag te staan gekom het, sal oplos, vanaf die immigrasievraagstuk tot en met die omvattende strukturele vrae waarmee die Amerikaanse middelstand vandag worstel. In die demokratiese populisme, daarenteen, word nie soseer op die groot leier vertrou nie, maar eerder op die demokratiese besluitnemingsbevoegdheid en instemming van die gemeenskappe. As ons nogmaals na ’n Amerikaanse voorbeeld kan verwys. Volgens die tradisie van demokratiese populisme in die VS lê die belangrikste besluite by die plaaslike gemeenskap (die munisipaliteit, die distrik en die deelstaat). Histories gesproke kan die oorsprong van dié populisme na Thomas Jefferson, skrywer van die Amerikaanse Onafhanklikheidsverklaring, teruggevoer word. In die negentiende en twintigste eeue is dié gedagte deur ’n groot veelheid van skrywers vertolk. 2. Kenmerkend van die charismatiese populisme is om telkens weer op die sogenaamde ‘sondebokmeganisme’ terug te val. Sondebokke word dikwels deur charismatiese leiers as verantwoordelik vir alle krisisse voorgehou. Indien die sondebokke (Jode, Afrikaners, ensovoorts) uitgedryf word, sal alle probleme soos mis voor die son verdwyn.

‘n Plaaslike voorbeeld is Julius Malema. Malema se retoriek word besprinkel deur sondebokke, soos Westerse lewenstyle, wit mense, Afrikaans, die kolonialisme en die kapitaliste. Hy glo vas dat Suid-Afrika se enorme opvoedkundige, sosiale en ekonomiese probleme meteens opgelos sal word as hy van hulle ontslae kan raak.

In die demokratiese populisme daarenteen word die sondebokmeganisme juis aan kritiek onderwerp. Laasgenoemde, word gesê, is diep onverantwoordelik. In plaas daarvan dat ‘n beroep op sondebokke die probleme oplos, word dit so eerder vererger. Volgens die demokratiese populisme moet die klem op selfstandige handeling en die neem van eie verantwoordelikheid geplaas word. Oplossings lê nie in die uitdryf van sondebokke nie, maar in die eie inspanning en arbeid. Begin by die ‘verantwoordelike self ’ en nie die ‘skuldige ander’ nie, word gesê. ’n Voorbeeld is die republikanisme van die

04|REDE

3. Terwyl die charismatiese populisme meestal deur ’n gebrek aan idees gekenmerk word, word die demokratiese populisme juis deur die rol van idees gekenmerk. ’n Goeie voorbeeld van laasgenoemde kom van Christopher Lasch, waarskynlik die belangrikste intellektuele verdediger van die populisme tydens die laaste dekades van die 20ste eeu.

Lasch voer in sy bekende boek, The True and Only Heaven, aan dat die demokratiese populisme deur diepliggende intellektuele kragte gevoed word. ‘n Belangrike onderdeel van die boek is daarom ook om die intellektuele oorspronge van die demokratiese populisme op te soek en die geskiedenis daarvan tydens die 19de en 20ste eeue neer te skryf.

Volgens Lasch is die sentrale idee van die demokratiese populisme dat lokale gemeenskappe so sterk as moontlik inspraak in dié sake behoort te hê wat hulleself ten nouste raak. Tegelyk word dit gekenmerk deur ’n kritiek op pogings om die politieke gesag te sentraliseer. Vanuit hierdie perspektief beoordeel is die demokratiese populisme selfs ’n vyand van die charismatiese populisme omdat laasgenoemde telkens weer na sentralisme neig. Volgens Lasch bevind die demokratiese gedagte sigself vandag in ‘n krisis. Tegelyk verteenwoordig die demokratiese populisme ’n geloofwaardige én legitieme antwoord.

By talle bestaande demokrasieë word die gesag in die hande van (demokraties verkose) oligargieë geplaas. Politieke, media- en besigheidselites bepaal die gang van dinge. Volgens Lasch bied die demokratiese populisme juis hierop ‘n antwoord: die gesag word uit die hande van die oligargieë gehaal en in die hande van die gemeenskappe geplaas. Slegs so kan die demokratiese gedagte tot sy reg kom.

Gevolgtrekking: die feit dat die demokratiese populisme die demokratiese gedagte in beskerming neem, maak dit vir intellektuele moontlik om hulself daartoe te verbind. As


van die grens as minderwaardig, moreel veroordelingswaardig, of selfs as boos te beskou. Etniese suiweringsveldtogte is ’n tipiese gevolg hiervan, dit wil sê veldtogte waarin die ander etniese groep as ’n objek van haat, vervolging en selfs uitdelging ervaar word.

beskermer van ‘n tradisie wat self tot en met die Atheense polis terugreik, word dit deur ‘n onvervreembare legitimiteit gekenmerk. Afrikaners behoort vandag hierby aanklank te vind. Hulle eie gemeenskapsgeoriënteerde republikanisme is juis ’n uitdrukking van genoemde eienskappe eie aan die demokratiese populisme. Trouens, dit gebeur reeds. Afrikaners wat vandag te midde van die staatsverval en miskenning van gemeenskappe klem op selfstandige handeling plaas, is ’n hedendaagse uitdrukking daarvan. 4. Ons laaste punt hou nogmaals met die intellektuele aantreklikheid van die demokratiese populisme verband. Sowel die charismatiese as die demokratiese populisme plaas klem op die noodsaaklikheid van grense. Kulture en gemeenskappe kan nie sonder grense bestaan nie, sê hulle. Grense maak ruimtes oop waarbinne die eie kan gedy.

Beide stem daarom ook saam dat dit ’n waanbeeld van die selfveragters en selfontkenners is dat ’n grenslose toestand – ’n wêreld sonder kulturele verskille – die optimale toestand verteenwoordig. Presies die teendeel is waar: grense maak die vorming van ’n eie karakter en identiteit moontlik. Daarsonder vervaag alles tot ’n karakterlose grysheid.

Nogtans is daar ook ’n reuse verskil. Die charismatiese populisme neig telkens daartoe om gemeenskappe aan die ‘anderkant’

In die demokratiese populisme word anders oor die kwessie van grense en verskille gedink. Klem word nie net op die belangrikheid van die eie gemeenskap duskant van grense gelê nie, maar ook op die ander aan die anderkant daarvan.

Waarom? Want, sê die demokratiese populisme, sonder die ander gemeenskappe kan die eie gemeenskappe nie wees nie, nie net in die logiese sin van die woord nie (‘self ’ en ‘ander’ vooronderstel mekaar logies), maar ook in die eksistensiële sin (die eie gemeenskap bestaan in die konkrete werklikheid altyd te midde van en met behulp van ander gemeenskappe).

Uit hierdie gegewe maak die demokratiese populisme ’n ander gevolgtrekking. In plaas daarvan om die ander gemeenskap as boos en ’n objek van veroordeling te ervaar, word eerder goeie en verstandige verhoudinge met hulle aangeknoop.

Ook wat hierdie laaste punt betref kan gesê word dat dit ’n onvervreembare legitimiteit aan die demokratiese populisme verleen. Afrikaanse intellektuele met ‘n sin vir die eie behoort hulle tuis binne dié idioom te vind.

REDE|05


Die uitdaging van die indiversalisme – verstaatliking se opvolger

Die Europese nuustoneel word nou reeds vir bykans ʼn jaar oorheers deur die hewige omstredenheid rondom die dik stroom Moslemimmigrante wat Europa binnestroom.

Ofskoon baie van die immigrante vlugtelinge vanuit oorloggeteisterde lande soos Sirië, Libië en Afganistan is, is hulle kieskeurig oor waar hulle hulself wil vestig, naamlik nie in Moslem-Turkye of in armer Europese state soos die Balkanlande nie, maar juis in die ryker Noordwes-Europa. Die voorkeurbestemming is derhalwe lande soos Duitsland, Nederland, Engeland, België, Frankryk en in Skandinawiese state soos Swede of Denemarke. Dit is juis hierdie lande wat reeds vir etlike dekades, veral sedert die begin van die sewentigerjare van die vorige eeu, hulle deure wyd oop het vir bykans enige potensiële immigrant wat oorweeg om daar te vestig. Gevolglik het hierdie lande se bevolkingsamestelling merkbaar verander en het hulle beduidende minderhede van nie-Europese oorspronge soos die Midde-Ooste, Noord-Afrika en Suid-Asië.

06|REDE

Koos Malan

Daar is egter ook ʼn ander rede waarom die lande van NoordwesEuropa so ʼn sterk trekpleister vir hierdie immigrante is – trouens, na alle waarskynlikheid die belangrikste rede. Dit is die ideologie, meer spesifiek die mensbeskouing wat in Noordwes-Europa aan die orde van die dag is, naamlik die ideologie van individualistiese universalisme. Kortliks kan ons hierna as indiversalisme verwys. Daarvolgens is mense fundamenteel abstrakte individuele wêreldbewoners. Die drie komponente van indiversalisme, naamlik abstraktheid, hiperindividualiteit en wêreldbewonerskap is heg verweef. Hulle vloei in mekaar in. Abstraktheid impliseer dat mense juis nie konkreet en besonders is nie. Dit wil sê, hulle het geen besondere karakter of identiteit nie. Hulle is van geen besondere kultuur, godsdiens, taal, afkoms, plek of enigiets dergeliks wat hulle eiesoortig, onderskeibaar, besonders, vreemd of anders maak nie. Hiperindividualiteit impliseer dat almal bloot enkelinge is. Niemand behoort tot enige gemeenskap of gemeenskappe nie. Hulle kan ook nie as behorend tot gemeenskappe beskou word nie, want dit sal ʼn toegewing aan besondersheid, eiesoortigheid en onderskeibaarheid wees, wat teen die idee van abstraktheid indruis. In werklikheid behoort eerder hierna as wêreldswerwerskap eerder as bewonerskap verwys te word, want om te woon impliseer alreeds iets blywend met ʼn gepaardgaande verbondenheid aan ʼn besondere plek en gemeenskap. Volgens die indiversalisme is alle mense dus bloot individue met regte. En aangesien geen mens aan enige besondere gemeenskap verbonde is


nie en almal bloot abstrakte fundamenteel eenderse mense is, is die regte abstrakte regte, oftewel universele menseregte. Die woord menseregte is gepas want alle regte wat ʼn mens toekom, is juis regte van ʼn abstrakte, ongebonde en ongedefinieerde, individuele mense, en juis nie die regte van mense met ʼn besondere identiteit en in ʼn besondere konkrete konteks nie. Dienooreenkomstig verwerp die indiversalisme alle aansprake, regte en magte vir gemeenskappe of vir individue in ʼn bepaalde gemeenskapsgebonde konteks. Alle regte en aansprake is bloot individueel. Trouens, die idee van universele menseregte is as’t ware die juridiese uitdrukking van die indiversalisme. Vir sover daar wel besondere gemeenskappe mag bestaan, beskou die indiversalisme dit as ʼn blote tydelike abnormaliteit en toevalligheid en bowendien dikwels ook as inherent gewelddadig omdat dit mense wat nie tot ʼn bepaalde gemeenskap behoort nie, sou uitsluit. Daarom moet die gemeenskappe verdwyn.

moontlik onder druk kan kom vanweë die vestiging van groot getalle Moslems nie. Inteendeel, volgens die indiversalisme word Duitsland nie deur ʼn Duitse volk (of deur Duitse gemeenskappe) bewoon nie, maar bloot deur abstrakte individuele mense. Nuwe aankomelinge, ook Moslems, kan derhalwe maar op groot skaal in Duitsland kom woon, want die “Moslems” is in die finale instansie nie werklik Moslems nie. Moslemskap en ʼn Moslemgemeenskap, soos enige ander gemeenskap, is ten slotte ook ʼn blote tydelike en toevallige abnormaliteit, wat spoedig in die universele abstrakte mensdom sal assimileer en verdwyn. Moslems is derhalwe ook maar net ʼn skyngemeenskap en hulle verskille met ander mense is eweneens ʼn blote skyn-verskil. “Hulle”, die “Moslems”, is in die finale instansie ook net abstrakte individue net soos wat die bestaande inwoners van Duitsland (en die hele wêreld) abstrakte individue is. “Hulle” assimilasie (eenwording) met die bestaande inwoners van Duitsland is derhalwe eintlik reeds ʼn voldonge feit wat spoedig met absolute noodwendigheid gaan voltrek. Trouens,

Duitse kanselier, Angela Merkel Indiversalisme het waarskynlik sy hoogtepunt, meer korrek, eerder sy laagtepunt, bereik met die welkomskultuur wat verlede jaar onder leiding van die Duitse kanselier, Angela Merkel aangekondig is. Merkel het dit uitbasuin dat Duitsland se deure wyd oopstaan vir die Moslem-immigrante. Die Moslems kon maar in groot getalle Duitsland toestroom, want per slot van sake is daar eintlik nie iets soos ʼn (besonderse) Duitse kultuur of tradisie wat

ek plaas die “hulle” (en “Moslems”) doelbewus in aanhalingstekens want volgens die indiversalisme is daar geen “ons” of “hulle” nie; daar is bloot een groot aggregaat van algemene individue met individuele menseregte. Die begrip “Duitsland” wat ook ʼn bepaalde (staatlike) gemeenskap aandui, is volgens die indiversalisme natuurlik net soos Moslemskap (en alle ander besondere gemeenskappe) ʼn tydelike abnormaliteit (en skyn-normaliteit) wat vir

REDE|07


assimilasie in die universele individuele abstrakte mensheid bedoel is. Dit is ʼn treffende ironie dat juis Merkel die groot vlagswaaier van die indiversalisme is. Sy is per slot van sake die leier van die Christen Demokratiese Unie (CDU) wat tans die leidende party in Duitsland se koalisieregering is. Dit is die party wat, soos sy naam aandui, juis die Christelike wortels van Duitsland moet koester en sin vir die wesenlik Duitse karakter van Duitsland behoort te hê. Met haar oorgawe aan die indiversalisme het Merkel juis die teenoorgestelde gedoen en die besondere Duitse tradisie as offerhande vir die indiversalisme aangebied. Merkel is nie alleen hierin nie. Sy is deel van ʼn rolverdeling van establishment-politici in die Europese Unie wat elkeen sy of haar bydrae lewer om die Europese gemeenskappe op die indiversalismealtaar te plaas. Etlike van hulle is leidende figure in Europese state en veral toonaangewende politici van die Europese Unie wat saam met Merkel op die tamboere van die indiversalisme slaan. Die name Jean Claude Junkers, voorsitter van die Europese Kommissie en Martin Schultz, die ondervoorsitter, is besonder prominent. Dit is hulle in wie Merkel haar belangrikste bondgenote het. Dit is hierdie Europese Unie-politici, wat die oopgooi van Europa se grense voorstaan en dit is hulle wat ongenaakbaar is teen enige regering, party of gemeenskap wat die Europese tradisie, enige bepaalde Europese staat of die integriteit van enige spesifieke Europese (volks) kultuur probeer beskerm. Streng gesproke is hierdie mense nie Europese politici nie. Hulle is eerder politici van die indiversalisme wat in Europa aan die werk is en hulle beywer vir die opoffering van Europa en state en gemeenskappe aan die abstrakte mensdom van die indiversalisme. Dikwels laat hierdie mense hulle uit oor “ons waardes” (our values / unsere Werte, ens). Hulle dring daarop aan dat nuwe aankomelinge in Europa, ook Moslems, hulle aan “ons waardes” moet onderwerp. Die waardes is die waardes van menseregte, of soms soos dit in Duitsland genoem word, die waardes van die regstaat, wat ten slotte wesenlik ʼn blote sinoniem vir menseregte is. Daar is egter niks besonders, anders of uitstaande aan die “ons waardes” nie. Daar behoort derhalwe eintlik nie van “ons” waardes gepraat te word nie want die waardes is ten slotte niks anders nie as die indiversalisme wat alle partikuliere gemeenskappe verwerp en ʼn enkele abstrakte mensheid voorstaan.

08|REDE

Eerste minister van Hongarye, Viktor Orban Merkel en haar indiversalistiese bondgenote het egter geen sukseswaarborg nie. Inteendeel, daar is sterk tekens dat hulle indiversalistiese projek vanweë oplaaiende teenstand vir mislukking bestem is. Daar is vooraanstaande stemme in die akademiese wêreld wat ʼn kommunitêre in plaas van indiversalistiese beskouing koester. In die Europese politiek is die belangrikste stem vir die koestering en herlewing van Europa se godsdienstig-kulturele wortels en vir Europa se subkulture die eerste minister van Hongarye, Viktor Orban. Orban se sienings word gedeel deur verskeie regerings, meer bepaald deur dié van Pole, Slowakye en die Tsjeggiese Republiek. Die name van die voorsitter van die regerende Party vir Reg en Geregtigheid, Jaroslaw Kaczynski en die eerste minister, Beata Szydlo, verdien veral vermelding. Die Balkanstate het hulle grense vir die Moslem-inkomelinge gesluit. In Oostenryk weerklink Orban se sienswyses ook onder andere in die standpuntinname van die Oostenrykse kanselier, Werner Faymann, wat hom reeds herhaaldelik teen Merkel uitgespreek het. Wat Fayman se sienswyse veral noemenswaardig maak, is dat hy die leier van die linkse Sosiaal Demokratiese Party is. Sy party is in ʼn koalisieregering met die konserwatiewe Volksparty. Dit is veelbeduidend dat selfs Skandinawiese state, soos Denemarke en Swede hulle nie met die indiversalisme vereenselwig nie. Dit is betekenisvol,


veral gegee die agtergrond van Skandinawië se lang tradisie van politieke liberalisme. In Frankryk is die Front National tans die enkele sterkste politieke krag en word dit slegs deur ʼn gemanipuleerde kiesstelsel van ʼn prominente posisie in die nasionale vergadering weerhou. In Nederland groei die Partij voor de Vrijheid sterk. Die Nieuw-Vlaamse Alliantie is die sterkste krag in Vlaandere. In Duitsland self sien ons tans vir die eerste maal die opkoms van ʼn volksparty in die Alternative für Deutschland wat pas op 15 Maart ʼn opskudding in drie Länderverkiesings veroorsaak het. Buitendien word Merkel sterk teengestaan deur die CDU se susterparty in Beiere, die Christen Sosiale Unie (CSU) onder Horst Seehofer. Seehofer, terloops, het ook opbouende betrekkinge met Orban. Verder oos is daar natuurlik Rusland wat toegegee al die voorbehoude wat ʼn mens oor die regering van Vladimir Putin kan hê, die Russiese aard van Rusland onbeskaamd teen enige indiversalistiese aanslag verdedig. Rusland is byvoorbeeld glad nie ʼn bestemming vir immigrante uit die Midde-Ooste nie. Die indiversalisme is egter nie ʼn nuwe ding nie. Merkel verteenwoordig ʼn hoogtepunt hiervan maar is allermins indiversalisme se oorsprong. Inteendeel, die wortels daarvan loop diep en ver terug. Presies daarom moet dit nie onderskat word nie. Dis

Horst Seehofer van die Christen Sosiale Unie (CSU)

noodsaaklik om dit na te gaan ten einde grondig en doeltreffend daarop te antwoord. Ek gee hierna kortliks hieraan aandag. Wes-Europa het vroeër, tot selfs nog in die agtiende eeu, as Westerse Christendom bekend gestaan. Dit was tekenend van die besonderse tradisie, ‘n tradisie wat sy wortels in die Christelike godsdiens, die Griekse filosofiese tradisie, die Romeinse regstradisie en die aard en opvattings van Germaanse gemeenskappe vind, Christelik/Grieks/Romeins/ Germaans dus. Samevattend kan ʼn mens daarna as die Christelik-humanistiese tradisie verwys, of kortliks as die oop Christelike tradisie. ʼn Tradisie is nie ʼn ideologie of ʼn ongenaakbare teologie nie. Dit versteen derhalwe nie in absoluut vaste ongenaakbare finale “waarhede” nie. Daarom is dit ook nie uitgelewer aan die onverdraagsaamheid wat talle moderne ideologieë en sektariese teologieë kenmerk nie. ʼn Tradisie is iets wat deurlopend groei en dus ook verander. Die verandering is egter nie ingrypend nie en bly getrou aan die grondliggende eienskappe van die tradisie. Ofskoon die aanslag teen die tradisie reeds lank in die filosofie en die politiek van Wes-Europa opgelaai het, was die Franse Rewolusie die eerste voltrefferhou teen die tradisie. Vernuwing was in daardie stadium in Frankryk noodsaaklik om verby die verstarde “ancien regime” te kom. Die rewolusie het egter veel verder as vernuwing gegaan, nie net wat betref die buitensporige geweld wat daarmee gepaard gegaan het nie, maar veral aangesien dit daarop gemik was om die totale Westers-Christelike tradisie af te skaf en ʼn absoluut nuwe rasionalistiese begin met letterlik die nuwe jaar Nul te maak. Die rewolusie het nog nie ʼn volskaalse indiversalisme in die plek van die tradisie geplaas nie, maar die kiem van die indiversalisme was onmiskenbaar teenwoordig. Twee dinge het met die rewolusie in die slag gebly: Die sin vir die Europese Christelike gemeenskap en die sin vir die talle partikuliere gemeenskappe dwarsoor Frankryk (en Europa). Die eeuelange beskouing van Wes-Europa as ʼn Christelike gemeenskap (al was dit sedert die Hervorming in twee gedeel) is verwerp. Daar is ook weggedoen met die koestering van die talle besonderse taal- en kultuurgemeenskappe. Die dinge is beskou as van geen waarde nie, en ʼn blote hindernis in die weg na ʼn groter sogenaamde rasioneel ingerigte orde. Mense was net individue wat, juis uit hulle verbondenheid met hulle besonderse gemeenskappe ontwortel moes word. Kragtens hierdie beskouing is taalen kultuurgemeenskappe aktief aan aggressiewe

REDE|09


assimilasieprogramme onderwerp sodat almal wat eertyds lede van gemeenskappe was, hulle met ʼn groter wêreld, moes vereenselwig. Hierdie groter wêreld was egter nog nie ʼn enkele universele geheel soos kragtens die indiversalisme nie. Die groter wêreld was die staat, die territoriale staat, waarvan die Jakobynse Frankryk van die tyd vir die rewolusionêres die bloudruk was. Mense is derhalwe gedwing om af te sien van die besondere gemeenskappe waarvan hulle lede was. In die plek daarvan moes ʼn enkele staatlik Franse identiteit aanvaar word. Hulle mog nie meer Bretoons, Provansaals, Oksitaans, Baskies, ens. wees nie, maar slegs individuele burgers van die Franse staat. As hulle van ʼn bepaalde godsdiens was, wat hulle verkieslik nie moes wees nie, moes dit van blote private belang wees. Dit moes egter geen uitwerking gehad het op die eis dat mense eerstens en laastens eintlik net individuele lede, burgers, van die Franse staat was nie. Slegs een openbare identiteit, naamlik die van Franse staatsburgerskap, was toelaatbaar. Ofskoon die rewolusie getaan het, het die verwerping van die idee van gemeenskappe en die aandrang dat mense slegs ʼn staatsidentiteit mag hê, stand gehou en die bloudruk geword van die ideologie van verstaatliking wat in talle plekke wêreldwyd steeds die oorheersende is. Die ideologie van verstaatliking huisves die hele ideologiese spektrum van heel regs tot heel links. Die Marxiste aan die linkerkant het geen verdraagsaamheid vir godsdienstige, taal- of kulturele gemeenskappe. In die besonder moes klein gemeenskappe verdwyn en in groter staatsnasies opgaan. Volgens die Marxistiese beskouing is daar slegs plek vir (groter) sogenaamde historiese nasies soos die Britte, Duitsers en Russe, maar nie vir klein niehistoriese nasies soos die Baske, Walliesers, Hollanders, Tsjegge, Slowake en al die ander klein volke nie. Hierdie klein volkere is as’t ware onhistoriese nasies, oftewel historiese anomalieë, wat net vir een ding bestem is, naamlik om ter wille van vooruitgang en hulself in die groter nasies en hulle state op te gaan. Die liberalisme huldig wat hierdie kwessie betref dieselfde sienswyse. So het John Stuart Mill, een van die vaders van die moderne liberalisme, net soos die Marxiste, hom in skerp verkleinerende taal oor kleiner volkere uitgelaat. Dié volkere, antropologiese anachronismes, – moes in die naam van vooruitgang in die groot nasies opgelos word.

10|REDE

Brittanje en die VSA was die groot vaandeldraers van hierdie stroming van die staatlike politiek. EngelsBritse liberalisme het die assimilasie van die Keltiese volkere – die Walliesers, Iere en Skotte, en later ook van Afrikaners geëis. Die Amerikaanse liberalisme het op sy beurt alle vorme van multikulturaliteit ter wille van ʼn enkele Anglo-Amerikaanse nasie verwerp. Aan die regterkant van die spektrum van staatlikheid is op dieselfde wyse te werk gegaan, op die mees volgehoue grondslag deur die Spaanse Falangiste. Alle gemeenskappe in Spanje, Katalane, Baske en Galisiërs, is gedwing om hulle eie tale en kulture ter wille van ʼn enkele verstaatlikte Spaanse (Kastiliaanse) identiteit te laat vaar. Die indiversalisme is die opvolger van die ideologie van verstaatliking. Indiversalisme en verstaatliking het dit gemeen dat hulle albei met die abstrakte individu as basiese bousteen vir die politieke orde werk en terselfdertyd alle gemeenskappe verwerp. Die verskil lê daarin dat, waar staatlikheid die territoriale staat as die kollektief beskou het waaraan individue hulle moes verbind en gemeenskappe hulself moes oplos, die indiversalisme met die staat weggedoen het en met ʼn algemene universele mensheid vervang. Ten slotte eis die indiversalisme dat nie net gemeenskappe nie, maar ook state hulself in ʼn universele orde moet oplos. Vir sover daar wel vir state ruimte mag wees, is state slegs abstrakte ruimtes wat wesenlik op dieselfde wyse as ander state as administratiewe agente optree om individue te bestuur en hulle regte te administreer. Dis presies om hierdie rede dat Angela Merkel en haar indiversalistiese meedoeners Duitsland en Europa se grense vir Moslems, en vir wie ook al, eintlik ongekwalifiseerd wil oop hê, want ten slotte is daar vir hulle nie meer ʼn Duitsland en ʼn Duitse volk (of Duitse gemeenskappe) en ʼn Westers-Europese kultuur met eiesoortige eienskappe ter onderskeid van alle ander gemeenskappe nie. Daar is net een enkele abstrakte wêreld en een universele mensdom bestaande uit alle individue wat wesenlik almal dieselfde is. ʼn Kommunitêre politiek wat die talle partikuliere gemeenskappe, kultureel, etnies, taal, godsdienstig, territoriaal en andersins, as net so wesenlik as die individu beskou, is die grondslag vir ʼn antwoord op die indiversalisme.


Smuts

‘n Man van vele seisoene Jan Christiaan Smuts – Kennis, Insig, Visie – ’n man van vele seisoene Pieter Krige In die skaduwee van groot bome is ons bestaan hier aan die Suidpunt van Afrika. Die blik gerig op my treë merk ek blare, wortels, akkers, lewemaar ook vele kolle waar die gras net nie wil groei nie. Ek kyk op en staar my vas teen drie enorme akkerbome: dr. Hendrik Verwoerd, president Nelson Mandela en ek gaan staan voor ’n ou grote: generaal Jan Christiaan Smuts. Alan Paton sê oor Jan Smuts: “Even the great thought he was great.” Vele seisoene In die titel verwys ek vrylik na Robert Bolt se drama “A Man for all Seasons”, handelend oor Sir Thomas More se lewe. Jan Smuts was ’n enigma en ek sal so ver gaan deur hom met beide More, asook Thomas Cromwell te vergelyk. ’n Man van vele seisoene, vele fasette, onpeilbaar maar altyd boeiend, interessant, uitdagend. Student, Regskenner, Administrateur, Boeregeneraal, Politikus, Volksleier, Strateeg, Premier, Wêreldleier. Jan Smuts, soos ’n diamant met vele fasette, soms skitterend, soms verblindend, altyd hard, altyd besonders. Slim Jannie Half spottend deur sommige, voluit beledigend deur ander, is generaal Jan Smuts deur vriend en vyand beskou as ’n fenomenale denker, Slim Jannie Smuts. Smuts het sy eerste skoolopleiding eers op

REDE|11


die ouderdom van 12 begin maar met gretigheid en sy legendariese stamina het hy na kennis gesmag en dit ingedrink. Mnr. TC Stoffberg van Riebeeck Kasteel, waar Jan gestuur is vir sy skoolopleiding, het hom beskryf as een van die briljantste studente en die hardwerkendste seun wat ooit oor sy pad gekom het. Met die agterstand van 3 jaar minder op skool as die ander leerlinge het Jan op sestien tweede in sy klas geëindig, waarna hy Stellenbosch toe is, Victoria College, vir sy matriek, waar hy Grieks oor ’n sesdaagse vakansie bemeester het. Onder vele swaarkry, as gevolg van ‘n gebrek aan finansies, het Smuts sy kennis verbreed as regstudent by Christ’s College, Cambridge, in Engeland. Wat opmerklik is van sy hele lewe is dat hy hom omring het, nie met massas vriende nie, maar met denkers soos hy en gaandeweg het Jan Smuts ontwikkel in, wat vandag slegs beskryf kan word as ’n intellektuele fenomeen. Hierdie merkwaardige eienskap is deur vriend en vyand geprys. Terugskouend is daar sekere eienskappe van Smuts wat hom gevorm het as intellektuele leier. Welgekose kringe Soos bo genoem het Smuts hom geplaas tussen en omring met denkers. Sy huweliksmaat Sybela, sy vriendin Emily Hobhouse, president Paul Kruger, Louis Botha, Rhodes, Walt Whitman en vele ander het sy honger na kennis en miskien eerder sy honger na “verstaan” en insig gestimuleer. Lloyd George, Churchill, Eisenhower, Koning George V, Roosevelt, Niels Boor, Koningin Frederika en Koning Paul van Griekeland, Albert Einstein, Ghandi almal mense wat Jan Smuts persoonlik geken het, by wie hy kon idees uitruil, maar veel meer kere, met wie hy kennis en insig kon deel. Diepe geloof As denker, filosoof, politikus en wetenskaplike was ’n uitstaande kenmerk Smuts se erns met God en godsdiens. Met sy sterk Calvinistiese opvoeding en sy soeke na sin en wysheid het Smuts altyd vasgehou aan God as die Beskikker en die Soewereine. Oral, selfs op kommando in die Boereoorlog, het Smuts sy opgeleesde eksemplaar van die Griekse Nuwe Testament by hom gehad. Hy het in sy soeke na die “groter prentjie” altyd in gedagte gehad dat God dié een is wat sal besluit. Hy het dit ook reggekry om binne homself verskeie vakgebiede en ideologieë te vereenselwig, byvoorbeeld evolusie, wetenskap, filosofie en christenskap, wat hom, binne sy leeftyd, ’n unieke individu gemaak het. Waar hierdie

12|REDE

denkskole meermale mekaar aangeval, verketter of verkramp het, het Smuts in homself die raakpunte tussen hierdie uiteenlopende gedagtes bespeur en dit geïntegreer tot ’n beter verstaan van die wêreld.

Jan Smuts by die San Francisco-konferensie in 1945 Multidissiplinêr In sy soektog na die groter verstaan van die heelal het Smuts hom ingegrawe in veelvuldige dissiplines. Hy het ook oor die uitsonderlike vermoë, of die onverstaanbare geluk beskik om leiers op elk van sy vele belangstellingsvelde na hom toe aan te trek en by hulle te leer en meermale húlle te leer. Smuts het hom ingegrawe in die Regte, Antropologie met as genoot dr. Robert Broom, in die Botaniese veld saam met dr. IB Pole Evans, Filosofie, Whitman en, alhoewel hulle nie tydgenote was nie, het Darwin met sy ontwikkeling van die spesiesteorie groot indruk op Smuts gemaak. Smuts het ’n voorliefde vir die veld gehad en in besonder vir grasse. Hy het deurentyd grasse versamel, geïdentifiseer en gekweek, met die vooruitsig dat gras grootliks die suksesvolle toekoms van die Afrikaner, maar ook die mensdom, sal bepaal. Hy het binne die botaniese wêreld ’n spirituele sy gesien waar die mens en die natuur, die mens en dier, asook die mens en mens alles verbind is aan mekaar. Smuts was ’n panteïstiese, holistiese, wetenskaplike calvinis en hoe teenstrydig dit ook al mag klink, het hierdie ideologieë tuiste in sy fenomenale verstand gevind. Jan Smuts was, doelbewus, of so deur ‘n Hoër Hand beskik, soos hy diep calvinisties geglo het, bereid om uit wye, soms polisistiese oorde, te leer. Dit alles het hom gevorm tot ’n visionêr, ’n groter-prentjie-intellektueel, wat


hom in die skole van sinteses asook die, eintlik voor sy tyd, holistiese skool geplaas het. Gedissiplineerd Smuts se lewe word gekenmerk deur ’n streng, amper militaristiese sin vir dissipline. Hy het in die eerste plek hierdie kode op homself toegepas maar ook op mense rondom hom. Hy was gedissiplineerd oor sy fisiese fiksheid, gesondheid en dan in hoëre mate sy studie. Hy het op gereelde basis homself afgesonder in sy biblioteek en hierdie studietyd was ononderhandelbaar. Hy was ook gedissiplineerd in sy gewoontes, geen roker nie en so te sê ’n geheelonthouer. Sy groot trots op sy plaas Doornkloof, behalwe sy familie, was sy ewig groeiende en deurleesde biblioteek waar hy pynlik pligsgetrou en in afdwingbare stilte homself toegerus het. Selfversekerd Met Smuts se onfeilbare geheue en sy magdom kennis vanuit soveel velde en skole het hy vinnig tot gevolgtrekkings oor probleme gekom en soms, sonder enige verduideliking, dit aangebied as die oplossing, tot groot frustrasie en konsternasie van ander. Hy het opgemerk dat as hy dit oordink het, die oplossing ontdek het en dit dan aanbied, dat diegene wat verskil met hom, óf onnosel óf aspris is. Asketies Die spirituele van die berg as entiteit het vir Smuts groot vertroosting en bekoring ingehou. Hy het geglo in gereelde afsondering en in plaas van gholf

speel, of ander sosiale aktiwiteite bedryf, sou hy homself afsonder, uitwyk na die berg. Moses, Elia, Jesus, Abraham en vele ander groot karakters het die berg opgesoek, verkies en beskou as ’n spirituele of geestelike plek. Smuts het tyd gemaak vir meditasie (oordenking), stilword en vir hierdie kosbare tye het hy die berg opgesoek. Enige koppie of hoogte sou vir hom ’n bekoring en aanlokking inhou, veral Tafelberg. Op die berg, reken ek, is alles stiller, alles so bietjie kleiner, jou visie so ’n bietjie verder. Smuts se lewe sou ek opsom as dié van ’n man wat op ’n berg sit en verder as al die ander sien, maar ook soms minder. Smuts se asketiese neigings het hom minder gewild gemaak as van sy meer sosiale vriende, so ook sy politieke vyande. Hy was in sy vrye tyd alleen, maar telkemale ook in die politiek. Alleen op die berg met kennis en wysheid, buite bereik van ander. Lessenaarsosiaal Smuts was nie bekend as ’n sosiale mens nie. Hy het min gekuier en min vriende gehad. Hy was egter intellektueel-sosiaal van agter sy lessenaar. Hy het geskryf: artikels, navorsingstukke, boeke, maar die heel meeste het hy briewe geskryf, ook ontvang. Gedurende sy leeftyd het hy oor die 23 000 briewe geskryf: aan vriende, kennisse, navorsers, denkers en leiers. Meer versigtig en geweeg is die geskrewe woord en Smuts het dít verkies bo aangesigsosialisering. Sy pen was sy venster tot die wêreld, sy posadres die wêreld se venster na hom.

Smuts saam met die Britse leier Winston Churchill

REDE|13


Groot manne oor Smuts Groot, bekende mense het Jan Smuts geken en hy het op hul almal ’n indruk gemaak. Geen mens, goedgesind of vyandig, kon met Smuts paaie, of swaarde kruis en onaangeraak gelaat word nie. Smuts se persona het impak, gewig gedra.

Suid-Afrika nie, maar in Europa en Amerika, met die tsunami-agtige invloei van immigrante vanuit die Derde Wêreld. Smuts se visie het wyer gestrek as bloot net Suid-Afrika. Hy het die wêreld as ‘n holistiese eenheid gesien, waar gebeure in die een deel ‘n invloed op die geheel het.

Albert Einstein skryf dat daar twee groot teorieë is wat die wêreld gaan verander: Sy eie relatiwiteitsteorie en Jan Smuts se Holism and Evolution. Hy beweer verder dat daar slegs 11 mense in sy tyd sy relatiwiteitsteorie verstaan het, een van hulle: Jan Smuts.

Ek wil dit amper vergelyk met die basiese konsep van die chaosteorie. So ook is ons laers nie op eilande, eintlik planete, getrek nie, maar ‘n intrinsieke deel van ‘n groter prentjie. Ek betoog dat ons nie só fokus op die kleine, hoe groot dit ook al vir ons mag wees, dat ons vergeet van die grote nie. Ek betoog verder dat ons nie só sal fokus op die grote dat die kleine vir ons genegeer word tot ‘n inkonsekwensiële realiteit nie. Die skoenlapper klap sy vlerk en die winde van verandering waai - en ál die takke wieg.

Lord Todd, Meester van Christ’s College by Cambridge, sê in 1970: “In 500 years of the College’s history, of all its members past and present, three had been truly outstanding - John Milton, Charles Darwin and Jan Smuts.” Churchill skryf oor Smuts: “He fought for South Africa, he thought for the World.” Ek haal ook weereens Alan Paton aan: “Even the great thought he was great.” Smuts weet die beste Smuts was nie populisties nie, inteendeel, die meeste mense het hom gesien as outokraties en meermale arrogant. Hy het moeilik werk gedelegeer en moeiliker na ander geluister. Dit het hom telkemale polities duur te staan gekom, maar sy standpunt, sou ek opsom as ‘n geloof dat hy nie hoef te hoor wat die mense wil hê om te kan doen wat hulle nodig het nie. Dit het gegeld in sy Suid-Afrikaanse politieke loopbaan maar ook internasionaal. Hy het, heel moontlik tereg, geglo dat as die geallieerde leiers, ná die Eerste Wêreldoorlog, na sy raad geluister het, raad om ‘n hand van vriendskap na Duitsland uit te steek, die tweede oorlog nooit sou plaasvind nie. Smuts se visie vir die League of Nations en later die Verenigde Nasies was oortuigend gefundeerd in sy onskatbare vermoë om die geheel te sien as meer as die som van die onderdele. Holistiese benadering Jan Smuts se lewe, kennisse, studie en ook religie kulmineer in ‘n metabenadering, ‘n politiesreligieuse en wetenskaplik-filosofiese denksisteem wat as Holisties beskryf kan word. As negatiewe nagevolg van hierdie wyer visie is dit so dat SuidAfrika meermale aan die korter end van sy intellek moes trek. Hy was twee mense vir twee wêrelde: die hooggeëerde staatsman vir die wêreld, die veragte verraaier vir die nasionaliste in Suid-Afrika. Smuts: relevansie Die tweede dekade van die een-en-twintigste eeu is ‘n tydperk waarbinne die Afrikaner, asook ander regse politieke groeperinge laer trek, nie net in

14|REDE

In my voortdurende studie van generaal Jan Smuts sou ek wou sê dat ek met Smuts besig is, maar ek moet versigtig bely dat hy ook met my besig is. Richard Steyn se skrywe oor Smuts “Unafraid of Greatness”, skets ’n prentjie wat ‘n mens verby die polemiek laat kyk, om iets van die mens agter die naam ook raak te sien. Soos ek, nog besig met my eksemplaar van Holism and Evolution, dink oor Smuts, verstaan ek ten minste beter sy kontroversiële en soms vernietigende optrede en besluite. My grootste kritiek, as ek myself so ’n vergunning kan maak, is die feit dat Smuts se visie nie Suid-Afrika se visie was nie, nie die mense se visie was nie. In die boek van ons Afrikanergeskiedenis is die laaste hoofstuk nog lank nie geskryf nie. Vele voorafgaande hoofstukke beïnvloed die inhoud van hierdie boek, miskien geen ander hoofstuk só ingrypend soos die hoofstuk van generaal Smuts nie. Die geskiedenis van die wêreld is ook nog lank nie klaar geskryf nie en selfs in hierdie millenniale boek is die hoofstuk “Jan Christiaan Smuts” ’n grote. In Smuts, meer as in die meeste ander SuidAfrikaanse leiers, sien ek ’n intellektualis wat uiteindelik deur populêre opinie, meermale deur sy eie oorhaastige optrede en uitsprake, by meeste Afrikaners in groot onguns verval het. Ek oordeel ons armer sonder hom as met hom. Slot Dr. Verwoerd, Nelson Mandela en Jan Smuts, reusebome, enorme skaduwees. Intellektueel, dinamies grensend aan outokraties en altyd kontroversieel. Ek kyk na hierdie drie bome wat vir ‘n wêreld skaduwee gee en ek merk dat die gras onder hulle die meeste sukkel om te groei. Ek staan onder die ou grote, kyk op en prewel, knop in my keel: Totsiens Oubaas.


Carel Boshoff Denkende leier in ons midde Prof. Carel Boshoff, “die vader van die volkstaatgedagte”, was ‘n idealis by uitstek Sebastiaan Biehl

Hy was nie tevrede om te aanvaar dat Afrikaners se tyd verby is en hulle maar ‘n oorgawe moet onderhandel wat hulle ten minste nog genoeg ruimte tot persoonlike verryking sou gee nie. Hy het sy lewe lank onwrikbaar geglo aan die voortbestaan en voorspoed van die Afrikanervolk as vrye volk, wat deur die geskiedenis en groot gebeure soos die Groot Trek, die Vryheidsoorloë en die 20ste eeuse merkwaardige heropstanding uit die as gevorm is. As Godsman en teoloog het hy God se hand in alles gesien. Hy het sy beginsels gehad en was nie bereid om dit prys te gee ter wille van aanvaarding nie. As leier van die Voortrekkers, die Afrikaner Broederbond, as hoogaangeskrewe dosent by Tukkies en predikant was hy ‘n figuur wat gesag afgedwing het, maar wat terselfdertyd nederig gebly het. Hy was egter ook ‘n realis. Hy was nie verblind deur ‘n soort ultranasionalisme soos sommige van sy tydgenote nie en was sterk bewus van Afrikaners se foute en verkeerde besluite, wat juis gelei het tot die magsverlies in 1994, iets wat hy al in die 1980’s kon voorsien. As realis het hy nie gekla en geraas oor dit wat verkeerd is nie, maar het diepgrondige ondersoek ingestel hoekom dinge ontwikkel het soos dit het en watter lesse daaruit geleer moes word, nie as akademiese oefening nie, maar as padkaart vir ‘n Afrikanertoekoms. Terwyl ander die (uit hulle oogpunt) katastrofe van ‘n swart magsoorname probeer keer het, het prof. Carel Boshoff reeds ‘n toekoms anderkant die onvermydelike beplan.

REDE|15


Carel Boshoff se opvoeding het vir hom ‘n stewige fondament gegee. Hy het die twee wêrelde van die Afrikaner, platteland en stad, in homself verteenwoordig. Hy het grootgeword in die Waterbergdistrik, ‘n diep konserwatiewe en op dié tydstip nog arm, amper argaïese streek wat nog talle elemente van die voormoderne era gehad het. Hy het direkte ondervinding van boerdery opgedoen en vandaar die liefde vir die grond gekry. Die hegte gemeenskap van die Waterberg se Afrikaners het hom die waarde van gemeenskap laat besef. Al twee is kernelemente van die latere volkstaatideaal: grond en gemeenskap. As kind het Carel Boshoff SePedi aangeleer en dit so goed as sy moedertaal gepraat. Aan die Universiteit van Pretoria het hy ‘n sterk sendingywer geopenbaar en as voorsitter van die Sendingkring dit tot die grootste kampusvereniging help opbou. As predikant was sy volle bediening aan die sending toegewy, eers as gemeentepredikant met sendingopdrag, later as voltydse sendeling opeenvolgend in Lebowa en Soweto, wat hom insig van sowel die plattelandse en tradisionele, asook die verstedelikte swart mense gegee het. Toe sy alma mater ‘n Departement Sending- en Godsdienswetenskap in die lewe geroep het, is hy gekies om die grondslag daarvan te lê. Later sou hy dekaan van die teologiese fakulteit word. Te midde van sy sendingwerk was Boshoff deurentyd by die Afrikaner se kultuurlewe betrokke. Hy was voorsitter van die Afrikaner Broederbond (AB), die Suid-Afrikaanse Buro vir Rasse-aangeleenthede (SABRA) en hoofleier van die Voortrekkers. Veral in die 1970’s en vroeë 1980’s was prof. Boshoff deel van die gevestigde orde, maar het onafhanklike denke ontwikkel. Die beleid van aparte ontwikkeling, soos voorgestel en ingestel deur dr. HF Verwoerd (met wie se dogter Anna hy getrou het) het vir hom sin gemaak en sy pad het naby die van die NP-regering geloop. Gebeure soos die Soweto-onluste en die opkomende swart verset het hom egter laat besef dat die apartheidbewind nie onbepaald kon voortgaan nie. Veral die sogenaamde hervormings oor ‘n nuwe grondwetlike bedeling in die vroeë 1980’s onder PW Botha, was ‘n breekpunt. Dit was in daardie tyd waar prof. Boshoff se paaie met die gevestigde orde geskei het. Hy het in 1983 as voorsitter van die AB bedank en was voortaan in opposisie tot die bewind. Maar pogings om hom te isoleer was onsuksesvol. In 1985 is hy byvoorbeeld tot hoofleier van die Voortrekkers herkies, ten spyte van ‘n sterk veldtog daarteen. Die regering het ook gepoog om SABRA, wat nou in

16|REDE

opposisie was, te verlam deur hulle befondsing op te skort, maar prof. Boshoff het ook hier voet by stuk gehou en SABRA sonder staatshulp onafhanklik verder gevoer deur private fondsinsameling. ‘n Nuwe, behoudende kultuurorganisasie, die Afrikaner Volkswag, wat die Groot Trek-herdenking van 1988 gereël het en die Afrikanervryheidstigting (wat later die Orania Beweging sou word), die organisasie wat instrumenteel tot die stigting van Orania was, is onder sy leiding in die laat 1980’s gestig. Terwyl in die 1980’s, selfs nog in die vroeë 1990’s die meeste Afrikaners nog gedink het dat die apartheidsbewind kan aangaan en baie energie op onbenullige vraagstukke gespandeer het en ‘n toenemend onverdedigbare bestel probeer handhaaf het, het prof. Boshoff reeds anderkant magsoorname deur ‘n swart bewind gedink. Nie hoe om dit te keer nie, maar hoe om ’n Afrikanertoekoms te bedink wat swart magsoorname nie hoef te keer nie, maar ‘n onafhanklike toekoms skep. Hoe kon dit wees dat die eens magtigste volk van Afrika, wat teen alle verwagting in opspraakwekkend na ‘n klaarblyklike totale vernietiging in 1902 so skouspelagtig in die twintigste eeu uit stof kon opstaan en ongekende hoogtes, kultureel, akademies, ekonomies en militêr kon bereik, aan die einde van dieselfde eeu alle mag prysgegee het en verminder is tot ‘n verslane minderheid wat uitgelewer is aan die genade van ‘n vyandige bewind? Die meeste van prof. Boshoff se tydgenote het die dramatiese omswaai toegeskryf aan verraad. Veral partye soos die HNP en bewegings soos die AWB het ‘n hele mitologie die lig laat sien wat die geleidelike agteruitgang van die Afrikaner se mag na die dood van dr. HF Verwoerd aan verraad in eie geledere toeskryf. Alhoewel die narratief elemente van waarheid bevat, was die verklaring vir prof.


Boshoff nie voldoende nie. ‘n Stelsel wat werk en vooruitgaan, kan nie deur ‘n paar verraaiers omver gewerp word nie. Die probleem was dat die stelsel onvolhoubaar was. Vir die volk om voort te bestaan in vryheid is fundamenteel drie dinge nodig: eie grond, eie arbeid en eie instellings. Niemand het soos prof. Boshoff die Afrikaner se dilemma ontleed en die oplossing voorgestel nie: die Afrikaner is ‘n inheemse volk van Afrika, wat hulle duidelik onderskei van ander blankes in Afrika wat net tydelik hier was en na die einde van koloniale beheer moederlande gehad het om na toe terug te keer. Hulle het egter dikwels opgetree soos koloniale blankes en nie soos inheemse mense nie, deur swart mense vir hulle te laat werk en ‘n sosiale skeiding te handhaaf, maar om op arbeidsterrein geïntegreerd te wees. Arbeidsintegrasie sou, soos voorspel, eers lei tot geografiese integrasie en uiteindelik ook sosiale integrasie. Hy het hom van sy volksgenote onderskei (en in sekere kringe ook ongewild geraak) omdat hy die harde waarheid verkondig het: jy kan nie sosiale apartheid hê as vreemde volke vir jou werk nie en jy kan hulle nie op lang duur weerhou om op elke vlak met jou te integreer nie. Wanneer hy op massasaamtrekke in veral die woelige oorgangstydperk van die laat 1980’s/vroeë 1990’s mense toegespreek het, saam met ander leiers van destyds, was prof. Boshoff se boodskap dat Afrikaners ‘n kleiner grondgebied met meerderheidsbesetting

sou moes vestig om te oorleef. Dit het soms ongemak veroorsaak by leiers wat belowe het dat alles gaan bly soos dit is, solank die hervormings van FW de Klerk net gestuit word. As uitweg is hy, as erkende teoloog, soms gevra om te preek. Selfs na die omwenteling van 1994 het net ‘n minderheid Afrikaners sy boodskap aangegryp. Die wat het, het met die opbou van Orania ‘n blywende erfenis help skep. Op die ou einde was hulle meer werd as die tienduisende wat die Konserwatiewe Party, Afrikaner Volksfront en Afrikanerweerstandsbeweging kon mobiliseer, maar wat na 1994 net weggeraak het omdat hulle geen plan gehad het nie. Prof. Boshoff het die sentrale rol van arbeid ten opsigte van die verkryging van ekonomiese en uiteindelik politieke mag besef. Die Nasionale Partyregering het die druk gevoel en het geen ander resep gehad nie as om toe te gee aan die eise van die swart vakbonde om gelyk behandel te word, sonder om in ag te neem dat dit net die eerste stap was op pad na die verkryging van alle mag. Aan die regterkant is goedkoop arbeid as ‘n gegewe gesien en aanvaar dat groot getalle arm swart mense altyd sou meeding vir goedkoop arbeid en die kwasikoloniale ekonomie dus sou voortbestaan. Die krag van swart vakbonde en die vermoë om te organiseer in swart geledere is totaal onderskat. Prof. Carel Boshoff was een van die min Afrikaners wat demografie en internasionale tendense in ag geneem het. Sabra, van wie hy jarelank die

REDE|17


voorsitter was, het uitgebreide bevolkingstudies en vooruitskattings oor groei gedoen. Dit was reeds in die 1970’s duidelik dat teen die jaar 2000 blankes (die statistieke het Afrikaners nie as afsonderlike groep gelys nie) se aandeel aan die bevolking amper met die helfte sou krimp, terwyl swart getalle sou verdubbel (wat ook gebeur het). Dit sou die regverdiging, asook die uitvoerbaarheid van blanke oorheersing soveel moeiliker maak as wat dit reeds in die 1970’s was. Hy het egter ook besef dat die permanente oorheersing deur ‘n minderheid nie net moeilik was nie, maar ook moreel verkeerd. Anders as liberaliste het hy egter nie tot die gevolgtrekking gekom dat magsoorgawe aan ‘n swart meerderheid in ‘n onverdeelde Suid-Afrika die oplossing was nie, maar dat ‘n model gevind moes word hoe Afrikaners se toekoms beveilig sou word deur selfstandigheid en selfbeskikking. Individuele en selfs minderheidsregte in die grondwet soos wat die NP geglo het, sou dit nie kon doen nie. Die ander uiterste, wat die KP en HNP voorgestaan het, naamlik voortgesette blanke oorheersing, was vir prof. Boshoff net so onaanvaarbaar en ook onhaalbaar. Regses in Suid-Afrika het te min na internasionale tendense gekyk en Suid-Afrika hanteer asof dit ‘n planeet van sy eie was en is dus deur die gebeure van die 1990’s onkant betrap. Die radikale omwenteling wat sou kom kon nie deur dieselfde ou resepte gekeer word nie. Daarom moes die Afrikaner ‘n radikale paradigmaskuif maak: om in ‘n yl bevolkte deel te konsentreer en alles as volk self te doen. Sy standpunt was een van radikale verandering ter wille van selfbehoud. Hy was konserwatief in sy sienings en oortuigings, maar radikaal in sy denke. Die voorbeeld vir prof. Boshoff se volkstaatidee was Israel en die wyse hoe ‘n volk uit alle oorde bymekaarkom weens omstandighede en ’n nuwe tuiste deur eie, harde pionierswerk skep. Dit kon net in ‘n gebied gedoen word waar ‘n nuwe begin moontlik was en waar die omstandighede vir ’n pioniersvolk geskik was. Dus kon dit nie wees in lankal reeds geintegreerde stede waarheen meer en meer swart mense gestroom het nie, maar in ‘n yl bevolkte, plattelandse deel, by name die NoordwesKaap. Die geskiedenis het prof. Boshoff reg bewys. In ‘n land soos Suid-Afrika, met sy groot fabrieke, myne en plase, was en is goedkoop massa-arbeid nog altyd ‘n sterk ekonomiese hefboom. Die val van wit beheer het nie begin met John Vorster nie, en ook nie met FW de Klerk nie. Dit het begin toe Afrikaners

18|REDE

beheer oor hulle land se arbeid, en daarmee oor die ekonomie en uiteindelik oor die politiek verloor het. Met die drie pilare arbeid, demografie en politieke beheer omgetrek, moes die res, kultuur, opvoeding, taal en christelike waardes, ook val. Een belangrike kenmerk van leierskap is dat die leier bou vir ‘n volgende geslag en dus ‘n visie het wat homself oorleef. Talle politieke leiers, wat in hulle tyd magtig en gewild was, se politieke visie het onmiddellik na hulle dood verbrokkel. Ander was roepers in die woestyn en het verbitterd gesterf omdat niks van dit wat hulle wou hê, tot stand gekom het nie. Prof. Boshoff was iemand wat ‘n saadjie geplant het, dit natgegooi en sien opkom en groei het. Hy het al die eerste vrugte gesien, maar die volgroeide boom, wat vir geslagte na hom nog sal staan, het hy nie gesien nie. Hy is egter met die wete en gerustheid graf toe dat hy iets geskep het wat groter is as hyself, wat blywend is en wat hy met gerustheid in die volgende generasies se hande kan oorlaat. As ‘n mens hom met ‘n Bybelse figuur wil vergelyk, sal dit Moses wees: iemand wat deel van die elite was, maar wat ter wille van sy volk daarmee gebreek het en die harde en eensame pad van opofferende leierskap gekies het. Ook Moses is dikwels nie verstaan nie en die wat hom gevolg het, wou dikwels omdraai. Moses het met God gewandel, nes prof. Carel Boshoff en al twee het die beloofde land gesien, maar dit nie binnegegaan nie. Prof. Boshoff was (anders as byvoorbeeld sy skoonpa, dr. HF Verwoerd, of Jan Smuts) ‘n leier wat ander naby hom toegelaat het en wat van sy eie feilbaarheid en tekortkominge bewus was. As gelowige het hy geweet dat God aan hom ‘n taak gee wat hy tot die beste van sy vermoë moet uitvoer. Maar dat hy ook mense het wat saam met hom die pad stap, as gelykes, nie as volgelinge nie. Hy was ‘n ware primus inter pares (eerste onder gelykes) en sy vrou Anna was ‘n sterk medestryder en meer die doener teenoor prof. Boshoff as die denker en beplanner. Hy het ander groot geeste wat meer in die agtergrond gewerk het, maar sonder wie prof. Boshoff min sou kon bereik het, om hom geskaar, soos dr. Chris Jooste, mnr. Dirk Viljoen, mev. Kobie Gouws, om maar net enkeles te noem. Hy kon betyds die leisels oorgee aan die volgende geslag (iets wat talle leiers weier om te doen) en daarom het sy groot nalatenskap, Orania en die ontluikende Afrikanergebied, en die beginsel van selfstandigheid met eie arbeid, op ‘n Christelike lewens- en wêreldbeskouing gegrond, hom oorleef.


intellektueel? Wat is ʼn

Toespraak tydens die eerste deel van die promosieplegtigheid van die Universiteit van Pretoria op 17 Maart 1961 Ek moet vooraf vir u iets in vertroue erken: Ek vind die hou van toesprake een van die onaangename uitwasse van ons hedendaagse leefwyse. Luister maar na die radio, lees die koerant, en u merk elke dag: minister A het “verklaar”, land B het “verklaar”, mnr. C het “beval”… “onthul”… ʼn Stroom toesprake vol verklarings, onthullings, eise: dit hang soos rook en roet in ons lug. Ons lewens word as ‘t ware in die rukwinde geleef wat uit tienduisende openbare keelgate op ons toestroom. En daarby leef ons ook nog in die eeu van die onpresiese woord en die slordige gedagte: dié wat by die uitspreek al onpresies en slordig is, en daarna nog tot die tweede mag van die onnoukeurigheid verhef word deur die slordiger en haastige koerantman. Daarom hóú ek geen toesprake nie. ʼn Mens moet nie ʼn volkseuwel nog groter maak nie. Ek was dan ook van plan om beleefd nee te sê toe ek ʼn brief van u Universiteit ontvang het; maar toe ek wéér lees, merk ek dat u geen toespraak wil hê nie, maar hoogstens ʼn soort iets wat nie langer as twintig minute duur nie. U wysheid hierin, menere, het my weieragtigheid oorrompel. En nou, geagte studente – die van u wat u studie gelukkig voltooi het en nou in ons volkslewe ingaan, en ook u wat nog verder gaan studeer -: oor watter onderwerp sou ek met meer gepastheid met u kon praat, as die onderwerp van: die rol wat die gestudeerde in ʼn samelewing kan speel, die taak vir u en my opgelê word deur die geluk wat ons ontvang het om onsself in rus ʼn aantal jare met dinge van die intellek besig te hou? Ek wil praat met u oor die tema: Wat is ʼn intellektueel? Wat doen hy en moet hy doen? Wat kan ons van

NP van Wyk Louw

hom verwag? Watter eis stel hy aan homself? U sal met my saamstem dat hierdie woord “intellektueel” ʼn veelgebruikte woord in ons openbare lewe die afgelope tyd is. “Intellectuals” in Suid-Afrika se Engels het byna al by ons, as dit op Afrikaners toegepas word, die betekenis gekry van mense wat op die rand van volksverraad staan. “Intellektualiste”, weer, word hulle genoem deur dié koerantskrywers wat lekker kry wanneer hulle ons taal deur onjuiste gebruik verknoei. Meer presies word hulle “intellektuele” deur ander genoem; maar dan óók nog bespottend, agterdogwekkend… sodat niemand meer die moed moet hê om te erken: “Ek wil ʼn intellektueel wees” nie. En wat ek vir u vanaand wil sê, is dit: geeneen van ons het die reg om te sê: ek ís ʼn intellektueel nie; maar die lot van ons volk kan van ons eis dat ons hartstogtelik sê: ek wíl ʼn intellektueel wees! Ek wil waardig wees aan die eise wat die intellek aan ons stel. U en ek. Ons almal. Elke dag, elke uur. En dat ons hierdie wil sonder skaamte bely. Hierdie opwek van agterdog kry ons van onder tot bo in die koerantwêreld, in die organe wat ons openbare mening vorm: heel onderkant by die liewe soort wárkóp wat ʼn brief instuur om te verklaar: “Insig in die Bybel word nie aan professore, doktore en geleerdes op ʼn skinkbord gegee nie” – in die naïewe veronderstelling dat daardie insig wel vir die ongeletterdes en onkundiges so op ʼn skinkbord aangedra word; van hierdie laagtepunt af tot bo by dié wat koerantbeleid bepaal, wat briewe plaas, en dié wat besluit watter nuus ons toegelaat sal word om te lees, is dit dieselfde growwe of subtieler lugbesoedeling. ʼn Geleerde is alleen ʼn geleerde as hy

REDE|19


die geluk het om saam te stem met wat soms die mees oningeligte mening is; anders is hy: ʼn “intellektueel”. Maar, dames en here, dis nie my doel om oor hierdie dinge te kla nie of ʼn aanklag te maak nie; ʼn mens aanvaar die geestelike klimaat en die tyd waarin jy – niè deur eie toedoen – gebore en geplaas is, net soos jy ook persoonlike beperkthede moet leer aanvaar. En by al die geestelike medikamente wat mense jou wil toedien, het jy nog altyd dié vryheid: jy kan sluk of niè sluk nie; weier om te sluk. Ek wil met u hier praat oor wat ʼn intellektueel is en wat hy nié is nie – u, wat die kans het om intellektuele te word as u wil; u wat dalk groter geleentheid daartoe het as honderdduisend van ons volk. Laat ons dit eers duidelik begryp: ʼn intellektueel is nie noodwendig, of veral, ʼn geleerde of ʼn hooggeleerde nie; hy hoef nie eers iemand te wees wat gestudeer het nie. Ek wil later met u praat oor hoe die ware intellektueel iemand is wat dit vir hom tot lewensreël gemaak het: om by elke saak redelik te dink, billik te oordeel, aarselend te veroordeel, en die eie mening met ʼn bietjie nederige selfkritiek te beskou. En nou is óns tyd juis so (of was alle tye maar so?) dat ʼn man hooggeleerd kan wees en tog bevooroordeeld soos ʼn fanatikus, gretig om te oordeel en te veroordeel, en rotsvas oortuig dat die eie mening oor elke saak altyd en volledig die juiste is. (En hierdie soort man word deur ons soms selfs “’n kragtige persoonlikheid” genoem.) En hoe kry ons nie tòg weer soms onder mense met min boekgeleerdheid juis daardie intellektuele deugde van redelikheid, van onbevooroordeelde ondersoek en selfkritiek! Ja, mense wat selfs daardie deug beoefen wat die moeilikste van almal skyn te wees: om ʼn oordeel op te skort wanneer jy nie wéét dat jy al die feite in ʼn saak ken, én die saak-self tot op die grond begryp nie. Om ʼn intellektueel te wees, hoef ʼn mens dus nie ʼn geleerde of ʼn gestudeerde te wees nie. Die geleerde kán miskien, as hy wil, makliker tot intellektueel promoveer – juis weens sy groter feitekennis en kennis van ander standpunte. Maar geleerdheid kan vir ʼn mens ook verwaand maak – en dáárom kom jy nié deur die enge poort van die ware billikheid van oordeel nie. Moet die intellektueel noodwendig baie intelligent wees? Ek weet nie. Intelligensie sal seker nuttig wees, sal hom help om meer feite vás te vat en wyer verbande tussen feite te lê. Ons is almal bekend

20|REDE

daarmee dat die onkundige meestal die sterkste oortuig is van sy mening se juistheid, en sekerlik meestal die hardste praat. Ja, intelligensie sal seker help. Maar ons weet ook: die intelligensie kan oorslaan tot slimmigheid. En slimmigheid is die Satan in die ryk van die dink: die slimmigheid wat met slinterslae die rein waarheid tot iets anders omstook. Ek glo dat daar ook eenvoudiges van gees is wat juis deur hulle nederigheid, hulle kennis van eie onvolkomenheid, nader aan die werklike intellektueel staan as wat die “slim man” ooit wil staan. Miskien – al klink dit na ʼn paradoks – miskien is: om ʼn intellektueel te wees, eerder ʼn morele as ʼn suiwer-intellektuele lewenshouding. ʼn Ander gebruik van die woord “intellektueel” – en ʼn volkome juiste gebruik – is wat ons kan noem: die sosiologiese. Wanneer ons die woord só bedoel (en ons het alle reg daartoe), dui ons ʼn sekere maatskaplike groep aan – sal ons maar sê: “breinwerkers” as verskillend van handearbeiders of bestuurders van handearbeid; enger bepaald: mense soos kunstenaars, filosowe suiwer wetenskaplikes, predikante, e.d.m., ʼn groep wat as ‘t ware ʼn bietjie náás of buite die produksieproses in enger sin staan. In Marxistiese geskrifte – en waarskynlik ook in die algemene sosiologie – word ons term “intellektueel” dikwels met hierdie betekenis gebruik. Die “intelligentsia” word dan as ʼn klein, nie-magtige groep gesien, wat wel nog betekenis het omdat hy invloed op die openbare mening kan uitoefen (dus “propagandawaarde” het; Stalin is dit glo nog wat sy skrywers “opinie-ingenieurs” genoem het); ʼn groep wat nog ʼn ietsie gevlei, of ten minste nie heeltemal verwaarloos moet word nie, maar wat weens sy kleinheid en politieke onmag tog taamlik hardhandig rondgemaneuvreer kan word, en wat – hoe meer die staat op die politici beheer kry oor alle organe wat die openbare mening beïnvloed – later volkome geïgnoreer kan word. Ek glo nie dis onbillik of onjuis om te sê nie: dat ons Suid-Afrikaanse opvatting van die intellektueel al vandag ʼn byna volledige aanvaarding van hierdie sosiologiese (in wese: Marxistiese) standpunt is. Elke intellektueel het presies ewe veel stemkrag as die onnoselste; hy is minder in getalle as enige ander stand, is meer verspreid en dus meer geïsoleerd, kan dus makliker neergeslaan of geneutraliseer word. Maar ook hier, dames en here, veroordeel ek nie en


kla ek nie aan nie. Ek konstateer net wat vir my na ʼn feit lyk. Om oor dié soort feitelikheid in die wêreld te huil, sou net so sinvol wees as om te huil daaroor dat ons almal op ʼn dag moet sterwe. Ek wou slegs vir u laat verstaan dat ek vanaand hier die woord “intellektueel” nié in hierdie sosiologiese sin gebruik nie. Waarom nie? Ten eerste: omdat ek hier nie in terme van magsgroepe (of onmagsgroepe) dink nie, maar aan persoonlike ideale wat ek aan u wil voorlê. En ten tweede: omdat die intellektueel soos ek hom aan u wil voorstel, geen sosiale stand is nie: maar in enige stand kan voorkom. Ek het reeds vir u iets aangedui van wat ek met “die intellektueel” bedoel: ʼn mens wat op elke gebied vir hom as ideaal stel: om nie sommer haastig, slordig, in woede te oordeel en te veroordeel nie; ook om nie te oordeel soos ons doopformulier dit so mooi te stel: “uit gewoonte of bygelowigheid” nie. En juis dit doen ons so dikwels. En wat is die intellektueel positief? U moet nie van my vra dat ek dit vir u in ʼn paar formules saamvat nie. Die ideaal om ʼn intellektueel te wees, is byna so wyd as die lewe self. Dit kan alles insluit: askese of roes; dit kan mak of wild wees; bid, of juig. Hoe kan ʼn mens dit in formules uitdruk? Ek sal hier slegs ʼn paar lewensreëls voorlê wat vir u ʼn rigting kan wys: ʼn Intellektueel is iemand wat homself die tug oplê: 1. om elke saak altyd op meriete te beskou; vir jouself vooraf te vra: Het ek moontlik hier êrens ʼn vooroordeel? Dien ek hier my eie sakie?; 2. om jou mening nooit verder te laat strek as die bewese feite wat jy besit nie; 3. om by ʼn teenstander altyd die moontlikheid in te sien dat hy dalk gelyk het en jy nié. (Waarom sou die waarheid steeds in jou hoede wees?); 4. om jou eie mening telkens jaloers-krities te ondersoek (jaloers, ja; want jou hele wese is daarmee gemoeid). Ten slotte: om nie bang te wees vir ʼn waarheid nie, al bring dit vir jou nadeel (waarom moet alle waarheid juis tot jou voordeel wees? Is die wêreld vir jou gemaak?). Dit is ʼn paar van die dinge wat ʼn mens jou moet voorneem as jy werklik ʼn intellektueel wil wees. En jy moet besluit óf jy dit wil wees; of jy hierdie nugter water bo die wyn van die redelose lewe

verkies. U het die reg om hier te vra: is die intellektuele lewe dan ʼn koue, onpersoonlike iets? – moet ʼn mens eers ʼn standbeeld word voordat jy ʼn intellektueel is? Ek sê vir u: Nee. Dit is ʼn hartstog. As jy stukke veroordeel, oorhaastigheid, stukke van die heilige eie temperamentjie moet afsny – dis ʼn gesonder askese, gesond soos die brood en water van die woestynheiliges. En ʼn oorwinning binne jouself oor jou eie dwaasheid kan ʼn ekstatiese fees word. Wat jy gedink het is water, is wonderbaarlik tot wyn verander. Maar is dit nie tóg ʼn koue ideaal nie? Ek glo dit nie. Maar ek weet miskien ook nie. Miskien is ek nie genoeg intellektueel nie. Wie van ons is? Wie van ons het nog nooit ʼn intellektuele sonde begaan nie? Wie begaan dit nie daagliks nie? Die religieuse mens en die intellektueel is in baie opsigte eenders: geeneen van die twee mag kyk na die oë van mense vir goedkeuring nie; vir albei is dit ʼn swaar en eensame persoonlike verantwoordelikheid; albei erken ʼn hoër instansie bokant hulleself: iets buitekant jou eie ek, buitekant jou teenstander, jou vriende, jou volk, buitekant ons planeet; geeneen van die twee kan sê: Ek is dit, nie; albei moet sê: Ek hoop dat ek die genade ontvang om dit te kan wees. Die Christen kan nie sê: Ek is ʼn goeie Christen, nie; hy weet dat die ideaal hom te skande sal maak. Die intellektueel kan nie sê: Ek is ʼn intellektueel, nie; hy kan alleen sê: Ek hoop dat ek dit kan wees. Miskien ontmoet die twee, die Christen en die intellektueel, mekaar in die groot woorde wat albei gedurig moet bely, en wat ek volstrek weier om in gnostiese sin te verstaan: “En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak”; miskien vandag ook al in die ánder woorde: “Soos uitvaagsels van die wêreld het ons geword, die afskraapsels van almal tot nou toe.” Dit is hierdie soort teks wat ʼn mens in jou hart moet skrywe die dag dat jy besluit: ek gaan nie meer saamskreeu met die skreeuers van die wêreld nie; nie saamskel met die skelders, saamhaat met die haters nie; ek gaan daardie versmade ding wees: ʼn intellektueel.

REDE|21


Denkers as leiers

Carel Boshoff iv

Denkers as leiers of Leiers as denkers?

Altwee onderwerpe is moontlik, want altwee veronderstel dat dié twee verskynsels nie sonder meer aan mekaar gelyk gestel kan word nie, maar tog verwant is. Leiers ís nie vanselfsprekend goeie denkers nie en denkers ís nie van vanself suksesvolle leiers nie, al het elkeen ’n element van die ander in hom opgesluit. As ‘n mens dan, soos REDE, dit kennelik doen, ’n voorkeur vir denkende leierskap openbaar, is dit ’n vraag of jy by leierskap of by denke moet begin. Verder: of en in hoe ’n mate ‘n mens die twee eienskappe uitmekaar kan of moet haal as beide dan tot ’n mindere of meerdere mate in een persoon teenwoordig is. Die antwoorde op hierdie vrae sluit, met behulp van die moderne denker Hannah Arendt se werk, by die klassieke tradisie aan en gee om redes waarop daar later teruggekom sal word, voorrang aan die denke. Daarom dat die besondere onderwerp van denkers as leiers oorweeg word sonder om te veronderstel dat ander perspektiewe op denkende leierskap van minder belang is. Toeligting van die argument vind ook plaas aan die hand van drie figure uit die Afrikaner se Suid-Afrikaanse geskiedenis, naamlik HF Verwoerd, NP van Wyk Louw en PW Botha.

22|REDE

In die eerste deel van die artikel word die teenstelling en verskille tussen denke en leierskap verken en oorweeg, in die tweede deel word ’n bepaalde beeld van demokrasie aan die orde gestel en in die derde deel word dié demokratiese perspektief ingespan om moontlike aansluiting tussen denkers en leiers uit te werk. 1. Denkers of leiers Hoewel Hannah Arendt se boek, The Human Condition (1958), bedoel is as ’n kritiek op die moderne mensdom, delf dit diep in die klassieke tradisie en sit ’n hele verbygegane wêreldbeskouing, veral aan die hand van Aristoteles se werk, uiteen. Haar doel daarmee is om maatstawwe en verwysings te vind waaraan die ommeswaaie wat die moderniteit onderlê, gemeet en verstaan kan word. Hierdie artikel wil nie voorgee om reg te laat geskied aan haar deurtastende kritiek op die moderne én die klassieke nie, maar daar word dankbaar

Hannah Arendt


gebruik gemaak van die woordeskat wat sy ontwikkel en konseptuele onderskeide wat sy oproep en met mekaar in verband bring. Om dit uiters oorsigtelik op te som: ons menslike toestand vereis ten minste drie soorte aktiwiteit, naamlik arbeid, werk en handeling. Op die oog af dui dié drie woorde op dinge wat so nóú saamhang dat die verskil behoorlik uitgespel moet word. Dit doen sy dan met groot belesenheid en oortuiging. • Arbeid verbind Arendt met die menslike toestand van lewe in biologiese sin. Dit verwys byvoorbeeld na die herhalende aktiwiteite wat vereis word om voedsel te verbou en te berei, om skuiling en kleding te vind en te verseker dat ons nie by gebrek aan lewensversorging tot niet gaan nie. So beskou, bring arbeid niks permanent tot stand nie. Die herhalende en onvoltooibare aard daarvan bring mee dat arbeid in die geskiedenis by voorkeur aan onvrye persone, tipies slawe en vroue, opgedra is. Andersom gestel, dat onvrye persone se onvryheid juis in hulle vaskluistering aan die ewig herhalende aktiwiteite van lewensversorging geleë is. Dit neem egter nie weg dat arbeid vereis word om altyd weer dít te voorsien waarsonder niks permanent gemaak of vermag sou kon word nie. Hoewel dit duidelik nie sonder betekenis is nie, is arbeid in hierdie klassieke sin onderaan die aktiwiteite waarmee ’n redelike mens sou kies om hom(!) te bemoei. Uit die oogpunt van onvermydelike arbeid word die mens as animal laborans beskryf. • Werk, daarenteen, is juis op dinge afgestem wat by die individuele lewe verbystrek, wat bedoel is om langer as die werker self te lewe. Die bouer bou byvoorbeeld ‘n huis met die bedoeling dat dit van geslag tot geslag stand sal hou en die meubelmaker vervaardig byvoorbeeld ’n tafel wat lank na sy eie leeftyd of dié van die opdraggewer nog gebruik sal word. As arbeid op die lewe afgestem is, dan is werk (of vervaardiging) op die wêreld, veral op die dinge waaruit ons leefwêreld bestaan, afgestem. Werk hoort egter steeds tot die private en huishoudelike sfeer van menswees en hoewel dit met welvaart en nie net welsyn nie, verband hou, kan die vervaardigende mens of homo faber steeds nie as vry gereken word nie. • Vryheid is uiteindelik beskore vir diegene wat in staat is om anderkant die behoeftes van arbeid en werk te tree, deels deur bemiddeld genoeg te

wees dat beide hulle lewe en hulle wêreld verseker is en deels deur nie oormatige hoë waarde aan enigeen van die twee te heg nie. Hulle is naamlik afgestem op daardie dinge wat nie vir mense nie, maar tussen mense tot stand gebring word en wat nie lewensekerheid of gerief nie, maar onsterflikheid beloof. Onsterflikheid word binne hierdie verband aan onsterflike roem gekoppel en word deur voortreflike woorde en dapper dade, deur handeling verwerf. Dit geskied in die oë van ander, binne die verband van die polis en is gevolglik polities van aard. Dit staan die burger van die stad aan wie se lewensbehoeftes voldoen word, wat tipies grond en slawe besit het, vry om politieke leiding te gee en te neem en by wyse daarvan onsterflike roem te verwerf. Al drie hierdie aktiwiteite vorm deel van die vita activa waarsonder die menslike bestaan deels onmoontlik, deels onwenslik en deels onwaardig sou wees. Vrye handeling, wat ons vandag met politieke leierskap sou verbind en wat te make het met die inrigting van die samelewing op só ’n wyse dat dit die goeie bevorder en die kwade bekamp, is dus die nastrewenswaardigste en wenslikste van menslike aktiwiteit. Dit beteken egter nie dat menslike aktiwiteit die hoogste menslike toestand is nie. Volgens die filosowe sedert Plato en veral sedert Aristoteles is daar bó vrye handeling as hoogste lewensaktiwiteit iets wat nie as aktiwiteit beskryf kan word nie: die denke wat deur ’n stille ontvangs en oordenking van die waarheid gekenmerk word. Bó die vita activa is daar die werklik nastrewenswaardigste van menslike toestande, naamlik die vita contemplativa. Net soos die aktiwiteite van die animal laborans in diens van homo faber staan en beide se hoogste waarde is dat hulle die vrye handeling van homo politicus moontlik maak, vind die hele menslike aktiwiteit vanuit hierdie perspektief sy vervulling in ’n geestelike ruimte waar die waarheid oordink word. Al is die vermoë om te dink vir elke menslike aktiwiteit onmisbaar, is ’n lewe wat aan die denke gewy word vir die filosowe die hoogste vorm van bestaan en is die denker die wenslikste menslike model. In soverre die polis steeds geregeer moet word en die gehalte van die regering die gehalte van die meeste mense se lewens sal bepaal, beskryf Plato dan ook die filosoof-koning as ideale regeerder. Vir Arendt is hierdie siening, wat die vrye handeling in die polis in die skadu van die filosofie stel, ‘n bedenklike verwikkeling. Sy beskou dit selfs as die voorloper van die moderne ommekeer wat met

REDE|23


die nuwe wetenskap sedert Galileo, Copernicus en Descartes afgeskop het. Nadenke sou voortaan nie die toegang tot waarheid gee wat die vita contemplativa geïdealiseer het nie, wetenskaplike handeling sou nodig wees. In opvolgende stappe wat nie hier uiteengesit kan word nie, sou die moderne ommekeer teweeg bring dat homo politicus bo-aan die hiërargie van aktiwiteite plek maak vir homo faber (soos in kapitalisme), wat op sy beurt en met die opkoms van die gelykheidsleer in die twintigste eeu sou plek maak vir die animal laborans (soos in sosialisme). Haar wens sou wees om vrye handeling in die polis of republiek weer in ere te herstel, maar nie noodwendig om die vita contemplativa daarbo te verhef nie. Terwyl dit duidelik is dat ’n kloosteragtige terugtrek van die kontemplatiewe denke uit die menslike lewenswêreld nie in pas met die klassieke beskouing van politieke leierskap sou wees nie, hoef ’n mens nie in die debat oor die botoon al dan nie van die vita contemplativa te verval nie. Dit is voldoende duidelik dat nadenke nie identies aan nie, maar wel ten nouste verweef is met goeie politieke handeling. Sonder nadenke kan die verskil tussen goeie en slegte politiek, veral onder omstandighede waar slegte politiek populêr sou wees, vervaag of kan korttermynvoordeel bo langtermyngevolge verhef word. Denke stel die maatstaf vir goeie leierskap daar, met die gevolg dat denkende leierskap nie net nastrewenswaardig is nie, maar ook dat die denke daarin ’n toonaangewende rol speel. Uit dié oogpunt word hier dus oor denke en leierskap (in dié volgorde) geskryf. Maar waarom dan die of as dit by “denkers of leiers” kom, as die denke en leierskap menslik beliggaam word? Die antwoord hierop kan nie in die eerste plek deur ’n ontleding van konsepte beantwoord word nie, maar lê op die terrein van menslike beliggaming. Die temperamente van denkers en van leiers verskil. Waar ’n sin vir die ewewig van argumente vir die denker ’n deug is, kan dit vir die leier ’n struikelblok wees. Vir hom is duidelike skeidslyne en beslissings noodsaaklik en wie dit moeilik vind om keuses te maak en besluite te neem, sal dit moeilik vind om leiding te gee. Selfs waar dieselfde persoon soms denker, soms leier sou wees, soos Plato se filosoofkoning veronderstel is om te wees, sou die twee rolle nie soomloos in mekaar oorgaan nie. Twee teenstrydige houdings moet in gespanne balans gehou word om onder bepaalde omstandighede die toepaslike deugde te beoefen. Die denker-leier sal in sy samestelling iets vind wat skif eerder as meng.

24|REDE

2. Demokrasie Die politieke filosoof, Carl Schmidt, gee in sy opstel The Concept of the Political (1932) ’n kort aanduiding van wat politiek is deur te vra wat die grondliggende onderskeid is waarmee die politiek werk. As die kuns met die onderskeid tussen mooi en lelik werk en die wetenskap met die onderskeid tussen waarheid en onwaarheid, dan het ons daarmee nog geen volledige definisie van die kuns of wetenskap nie, maar het ons tog ’n belangrike greep op die verskynsels kuns en wetenskap gekry. Sy enigsins verrassende antwoord op die vraag na die onderskeid grondliggend tot die politiek is vriendskap en vyandskap. Daarvolgens vind politiek plaas daar waar mense rondom belange en verbintenisse gegroepeer is en die botsing van belange bygelê moet word. Vyandskap kan, maar hoef nie tot konfrontasie aanleiding te gee nie, solank die onderling uitsluitende (vyandige) verhouding tussen rolspelers erken en verreken word. Op ’n ironiese wyse is die verrekening van vyandskap vir hom die voorwaarde vir vrede eerder as andersom.

Politieke filosoof, Carl Schmidt

Hoewel Schmidt se sienings op sigself interessante lig op die vraag van denke en leierskap kan werp, word dit hier te berde gebring met die doel om op soortgelyke wyse die maatstaf van demokrasie te


identifiseer en daardeur ’n greep op dié sonderlinge verskynsel te kry. Nie dat hyself ’n aanhanger van die demokrasie was nie, ten minste nie in die liberaal individualistiese sin waarin die woord meestal gebruik word nie. Vir hom lê die wese van die demokrasie op ’n voorkeur vir gelykheid eerder ongelykheid opgesluit, ’n voorkeur wat eenvoudig uit pas met die werklikheid is. Oor demokrasie vind ’n mens natuurlik ’n eindelose herhaling van ’n aantal gemeenplase, van akademiese tot populêre literatuur tot geselsradio tot skoolleerplanne. Voorbeelde van wat as maatstaf genoem word, sluit sake soos gereelde verkiesings, verteenwoordigende regering, gelyke regte, skeiding van magte (wetgewend, uitvoerend en regsprekend), vrye media, soms selfs grondwetlike soewereiniteit in. Dit bevestig inderdaad Schmidt se siening dat demokrasie in die twintigste eeu aan liberale demokrasie gelyk gestel is. Dit lei tot pogings om die agonistiese of strydvaardige kante van politiek in prosedure te verpak en daarvan ’n soort administratiewe bedrywigheid te maak. Sy voorkeure, wat weens sy verbintenis met die Duitse nasionaal-sosialisme as regs geëtiketteer is, word op ’n boeiende wyse deur ’n meer eietydse en linkse denker soos Chantal Mouffe (o.a. On the Political 2005) voortgedra en deur die radikale post-Marxistiese tydskrif Telos ontgin. Binne hierdie verband word dit egter nie tot uitsluiting van demokrasie aangehang nie, ’n meer radikale en deelnemende demokrasie word eerder as die gepaste arena vir die vreedsame beoefening van agonistiese politiek beskou. Baie meer kan oor Schmidt se belangrikheid vir en ontvangs in ons tyd gesê word, maar die verwysing na sy werk is daarop afgestem om ’n positiewe, nieliberale blik op die demokrasie te verwerf. Om dus sy patroon, indien dan nie sy sentiment nie, te volg kan ’n ander onderskeid as dié tussen gelykheid en ongelykheid as grondliggend tot die demokrasie uitgewys word. Dit is die onderskeid tussen deelname en uitsluiting, met ’n voorkeur vir deelname wat inderdaad met of sonder baie van die eienskappe wat eie aan die liberale demokrasie is, tereg kan kom. Om die waarheid te sê, dit is ’n vraag of enige politieke stelsel, onder watter vaandel ookal, sonder só ’n demokratiese impuls vir enige betekenisvolle periode lewensvatbaar kan of kon wees. Vir die doel van hierdie artikel word egter by ’n plaaslike, Afrikaanse denker aangesluit. Hoewel NP van Wyk Louw homself nie ondubbelsinnig van die

liberalisme distansieer nie en waarskynlik nie tot ’n agonistiese of strydgebaseerde politiek aangetrokke sou voel nie, is sy behandeling van demokrasie in sy opstelle onder die opskrif Argumente teen ’n hark wat in sy opstelbundel Liberale Nasionalisme (1958) verskyn het, hier ter sake. Die rede is dat hy, hoewel nie in soveel woorde nie, aan die gedagte van partydige deelname eerder as neutrale prosedure, voorkeur gee. In ’n sin wentel sy argument om die vraag van gelykheid en die implikasies van ons antwoord op dié vraag vir ons beskouing van demokrasie. Hy ervaar dit inderdaad as ’n groot, maar onvermydelike dilemma om hierdie hoeksteen

NP van Wyk Louw van liberale demokrasie te bevraagteken en eindig by ’n beeld van demokrasie wat nie van sy liberale getuigskrif afhanklik is om as demokraties beskryf te word nie. Van Wyk Louw se opstelle neem die vorm aan van ’n aantal briewe in antwoord op ’n korrespondent wat sy voorkeur vir ’n totalitêre regeringsvorm uitspreek op grond van die meeste mense se onvermoë om op te leef na die eise wat samelewingsvraagstukke aan hulle insig stel. En die “meeste mense” is immers per definisie die besluitnemers in ’n demokrasie. Louw se strategie is enersyds om die veronderstelde bevoegdheid van watter elite

REDE|25


ookal as regeringsbevoeg voorgehou mag word, te dekonstrueer en andersyds om die veelheid van prosesse en vlakke van deelname as vertragende en korrigerende invloede op openbare besluitneming voor te hou. Daarin sluit hy, sonder om dit uit te spel, by iets van die oorspronklike konserwatiewe voorkeur vir gelykmatige ontwikkeling, wat eie aan die vader van konserwatiewe politiek, Edmund Burke, se denke is aan. Burke word ook soms, ten onregte, as teenstander van die demokrasie uitgebeeld. Louw se punt is dat al die openbare forums en geleenthede vir deelname, al lyk elkeen apart maar onaantreklike of onindrukwekkend, tesaam tog aansluiting by die byna onuitspreeklike verskeidenheid van voorkeure en belange binne ’n politieke gemeenskap vind en gesamentlike optrede moontlik maak. Hy gaan selfs sover as om die demokrasie as meer “organies” en die totalitarisme as meer “meganies” te beskryf – met die duidelike implikasie dat ’n bloot meganistiese, prosedurele benadering tot openbare besluitneming in wese ondemokraties kan wees, onder watter vaandel dit ookal vaar. Dus daar waar wesenlike en werklike deelname aan die orde is, daar is die demokrasie teenwoordig, selfs al ontbreek een of meer van die tipiese kenmerke van liberale demokrasie. Daarenteen, daar waar deelname net oppervlakkig of skynbaar plaasvind, daar is die demokrasie net oppervlakkig of skyn, al sou al die tipiese kenmerke van moderne demokrasie teenwoordig wees. Dit maak die oënskynlik onmoontlike moontlik, naamlik om die gedagte van ongelykheid en hiërargie met demokrasie te verbind. Dit is die verband waarbinne José Ortega y Gasset, een van die vroeë invloede op Louw se denke, se The Revolt of the Masses (1930) én Christopher Lasch se The Revolt of the Elites and the Betrayal of Democracy (1995) waarby Louw se soort nasionalisme aansluiting sou vind, tereg kan kom. Nie die tegniese prosedure van bestuurders en die amptenary nie, maar die deelname van ’n vrysinnige, denkende burgery dien as borg vir die demokrasie. Nie die nihilistiese dekonstruksie van identiteit en ideologie nie, maar ’n sin vir die samehanggewende narratiewe en vir die transendente werklikheid gee voortgang aan die demokratiese bedrywigheid. 3. Denkers en leiers As demokrasie dan meer na ’n kultuur as na ’n stelsel verwys, dan maak dit van denkende leierskap en van denkers se leierskap meer as net ’n deug, dit maak

26|REDE

daarvan ’n noodsaaklikheid. Dit maak van denkers en leiers, in soverre die onderskeid op grond van ’n oorwig van eienskappe na die een of die ander kant gemaak kan word, medestaanders in die publieke domein. Demokrasie vereis dat denkers en leiers nie met ’n groot óf nie, maar met ’n groot én verbind word. Iets daarvan is te vinde in ’n kostelike opstel van een van die grondleggers van die Sosiologie, Max Weber. In sy Het Politiek als Loopbaan (1919) beskryf hy veel meer as net die organiseerder en parlementariër, of selfs die Amerikaanse lobbyist, die beroepe wat teen die agtergrond van ’n prosedurele demokrasie by ’n mens opkom. Hy verwys na die werk van byvoorbeeld joernaliste en skrywers, staatsdiensamptenare, diplomate en juriste as loopbane in die politiek omdat dit die sake van die polis en die inrigting van die samelewing op die oog het. Die punt is dat die openbare domein in die demokrasie breed beskou moet word en dat die kritiese oorweging en debattering van moontlikhede en onmoontlikhede, inisiatiewe, prioriteite, alternatiewe, regstellings, ens. die sleutel tot goeie besluitneming is. Hoe dit in praktyk plaasvind? Een beskrywing daarvan maak ’n groot deel van Van Wyk Louw se opstel waarna hierbo verwys is uit. Binne talle verbande waarvan nie een apart té indrukwekkend lyk nie, maar wat saam tog die gang van dinge bepaal en bo die individuele voorkeure van ’n enkele leier of standpunt uitlig, neem besluitneming vorm aan.

José Ortega y Gasset


Hy wys op ’n kostelike teenstrydigheid wat in die liberale demokrasie na vore kan tree wanneer die meerderheid op sterkte van sy prosedurele vermoë om dit te doen, die minderheid minagtend aan sy wil of belange onderwerp. Dit is wanneer prosedurele gelykheid tot substantiewe ongelykheid, oftewel meerderheidsoorheersing lei. Dit bring ’n mens by een van die ander sleutelonderskeide wat met die wisselwerking tussen denke en leierskap saamhang, naamlik die verskil tussen mag en gesag. Brute mag kan op verskillende maniere, ook volgens demokratiese prosedure bekom word. As sodanig neem demokratiese prosedure egter nog niks van die brutaliteit daarvan weg nie en vereis die gesag, waarsonder magsuitoefening vryheidvernietigend is, besinning en debat. Hoewel mag en gesag ook nie waterdig van mekaar te onderskei is nie, bied dit ’n maatstaf om tussen goeie en slegte of sterk en swak leierskap te onderskei. Demokraties gesproke is ’n leier wat hoofsaaklik van die magsmiddele tot sy beskikking uitgaan, nie ’n goeie of sterk leier nie terwyl ’n leier wat met gesag optree, ook wat sy aanwending van magsmiddele betref, ’n goeie en sterk leier is. Dink byvoorbeeld aan die verskil tussen dr. HF Verwoerd en mnr. PW Botha. Verwoerd word vandag deur die media, skoolleerplanne en kwaadgesinde historici ongenuanseerd as ’n bose figuur in die geskiedenis uitgebeeld. As “argitek van Apartheid”, wat immers deur die VN tot “misdaad teen die mensdom” verklaar is – een van die ANC se grootste internasionale skakelsuksesse wat destyds in die Weste nie met veel erns bejeën is nie – word hy die beliggaming van alle onreg wat in Suid-Afrika teen swart mense gepleeg is. Soos elke stereotipering is hierdie uitbeelding ook nie sonder enige aanknoping by geskiedkundige gebeure nie en die rykwydte van Verwoerd se invloed saam met die diepte van sy oortuiging en die hoë vlakke van steun wat hy veral onder Afrikaners geniet het, verklaar waarom dit vir vyande van die vorige bedeling so belangrik was om hom te diskrediteer. Sy onblusbare selfvertroue wat enersyds beïndruk het en vertroue geskep het, maar andersyds irritasie ontlok het en selfs weersin gewek het, het sy opponente gehelp om die beeld van ’n onversetlike granietfiguur te skep. Sonder om die heersende negatiewe stereotipering met die teenoorgestelde beeld, naamlik dié van ’n onbesmetlike engel te wil vervang, word hier van die gebalanseerde oordeel van ’n geskiedkundige soos Hermann Giliomee in sy Die laaste Afrikanerleiers ’n

opperste toets van mag (2012) uitgegaan. Dit is ook nie die doel om hier die wenslikheid of sukses al dan nie van Verwoerd se beleidsrigtings te beoordeel nie, maar wel om ’n beeld van sy soort leierskap te vorm. Giliomee verwys dan ook in die Inleiding tot Die laaste Afrikanerleiers na ’n opmerking van Henry Kissenger wat aan die hand van sy ervarings in die Midde-Ooste sou gesê het: “As ’n professor was ek geneig om aan die geskiedenis te dink as iets wat deur onpersoonlike magte gedryf word. Maar wanneer jy dit in die praktyk sien, sien jy die verskil wat persoonlikhede maak.” (p12) Dit sluit uiteraard regstreeks by die vraag na denkende leierskap aan en het Giliomee se ondersoeke op ’n baie toepaslike voet vir hierdie skrywe geplaas. Giliomee se gedagte kan in kort soos volg saamgevat word: Hoewel Verwoerd in sy tyd ikoniese status verwerf het en die indruk geskep het van een wat glo dat hy oor al die antwoorde beskik, het sy denke enersyds soms verrassende ontwikkeling ondergaan en was sy denke andersyds op begronding en samehang afgestem. Soms het hy die indruk van meer professor as politikus geskep en deurgaans het hy die vermoë geopenbaar om die vraagstukke waarmee hy te kampe gehad het, konseptueel te beheers. Óf, in hoeverre en van wie hy advies aanvaar het, het duidelik soms kritiek ontlok, maar dat hy daarin geslaag het om die kwesbare, soms minder ontwikkelde deel van sy kieserskorps, sowel as die Afrikanerdenkers en akademici van sy beleid te oortuig, kan as grondslag van sy merkwaardige steun beskou word. Een van Giliomee se belangrikste gevolgtrekkings is dan ook dat Verwoerd ’n té beweeglike denker was om hom tot ’n stagnante beleid te verbind en dat, as hy langer aan bewind was, hy nuwe horisonne vir Afrikanernasionalisme sou verken. Hoewel dit vandag so uitgebeeld word, het Verwoerd se leierskap nie primêr in die teken van brute magsuitoefening gestaan nie – al het hy per geleentheid die staat se kenmerkende magsmiddele doeltreffend ingespan, maar sy leierskap het in die teken van besonnenheid en beplanning gestaan. Sy vroeë studiejare in Amerika waartydens hy die opkoms van die Sosiologie gevolg het en dit later by die Universiteit van Stellenbosch ingedra het, sowel as sy betrokkenheid by die Armblankevraagstuk en sy voorkeur vir sentrale beplanning het van hom ’n eg moderne “sosiale ingenieur” gemaak. Dit kan, veral by terugskoue, maklik gekritiseer word, maar dit neem nie weg nie dat Verwoerd tydgenootlik as ’n sterk en goeie leier gereken is en dat dié beoordeling

REDE|27


regtreeks met die gehalte van sy nadenke verband gehou het. Van sy opvolger, BJ Vorster, wat ’n groot bewondering vir Verwoerd gehad het, kan natuurlik meer gesê word, maar Patti Waldmeir se opmerking in Anatomy of a Miracle. The End of Apartheid and the Birth of the New South Africa (1997) som eintlik op waarom hy nie hier meer aandag geniet nie. Oor die woede wat Kleurlinge en Indiërs se deelname tot uitsluiting van Swartes se deelname aan Blanke politieke prosesse by die Swartes sou uitlok, sê sy: “John Vorster did not see it that way; the big picture once again eluded him.” Oor PW Botha oordeel sy nie meer simpatiek nie (en vir Verwoerd het sy net beledigings gehad), maar sy vind in Botha se leierskap darem ’n sekere samehang. Dit was die samehang van ’n sekurokraat wat geglo het Suid-Afrika is die slagoffer van ’n totale rewolusionêre aanslag wat net met ’n totale teenstrategie beantwoord kan word en daarvoor moet die hele samelewing gemobiliseer word. Hoewel Botha indertyd as ’n sterk leier beskou is omdat hy vreesloos en kras kon optree, is die oordeel wat mettertyd vorm aanneem anders. Terugskouend was hy nie net ’n sterk, maar minder goeie leier nie, sy kragdadige optrede het eerder vir sy swak greep op die onderliggende vraagstukke van Suid-Afrika probeer kompenseer. Nie eers ’n simpatieke biografie soos dié van Daan Prinsloo, Stem uit die Wildernis. ’n Biografie oor oud-pres PW Botha, (1997) en veral nie The Interviews PW Botha, die onderhoude wat Cliff Saunders ter herdenking van sy negentigste verjaarsdag met hom gevoer het, maar nooit uitgesaai is nie, spreek Giliomee se oordeel in Die laaste Afrikanerleiers teen nie. Dit is: “Sy mag was direk en persoonlik; hy het reguit gepraat, was taai, brutaal, oorweldigend en soms buffelagtig, wraakgierig en kleinlik.” (p147) Met betrekking tot die balans van denker en leier en van die deugde van ewewigtigheid en dapperheid is sy destydse hoofamptenaar se beskrywing insiggewend. Jannie Roux het gesê: “Hy was nie bang om besluite te neem nie en het ’n afkeer van lang besprekings in die kabinet gehad.” (p146) Die probleem was dat hy die blanke oorheersing van Suid-Afrika, selfs ná dekolonisering, as só vanselfsprekend aanvaar het dat dit behoue sou bly selfs as Suid-Afrika weer as ’n eenheidstaat beskou word en alle inwoners as burgers gereken word. Hy het verwag dat klein toegewings binne- en buitelandse ondersteuning sou geniet en dat hy aan die hand van liberaal demokratiese denkbeelde kon optree, maar duskant demokratiese meerderheidsregering sou kon stop.

28|REDE

Die uitkoms was ’n onplanmatige dialektiek van hervorming en geweld wat op sy eie eerlose afsetting as president uitgeloop het en die grondslag vir Afrikaners se totale magsverlies gelê het. (SABRA se publikasie Hervorming en Geweld (198x) het sy reeds versuurde verhouding met die Botha-regering nie juis versoet nie.) Waldmeir som haar onderhoud in Anatomy of a Miracle met die lank afgetrede PW Botha op deur te sê: “I wondered whether my questions had bored Botha. Was it simply too late to explore the inner workings of the mind that had caused South Africa such heartache? Then I realised that the old man was telling me the simple truth as he saw it. He could not provide what I sought, a grand plan to explain his presidency, for no such plan ever existed. Botha was the supreme pragmatist: Changes were made on an ad hoc basis when they could no longer be avoided. No ideology, no vision, guided them.” Die uiterste vorm van ondenkende leierskap onder Afrikaners wat tot ons ondergang gelei het. Hoe word denkers leiers? Oor die soort leiding wat denkers kan gee, hoef byna niks meer gesê te word as wat met die insluiting van NP van Wyk Louw se opstel Wat is ’n intellektueel uit sy bundel Liberale Nasionalisme (1958) in hierdie uitgawe gesê word nie. Die blywende waarde van ’n goeie standpunt op skrif en gepubliseer, selfs lank nadat die onmiddellike oorsake vir dié standpuntinname al vervaag het, kan kwalik oorskat word. Buiten vir die eietydse invloed wat dit mag hê, verwys volgende geslagte leiers daarna wanneer hulle voor soortgelyke vrae te staan kom. Louw het inderdaad nie net van die intellektueel ’n onmisbare leiersfiguur in die demokrasie gemaak nie, hy het eers met sy genuanseerde hantering van onderskeid en hiërargie in die samelewing ruimte daarvoor geskep. Andersom gestel: die behoefte aan ’n “geestelike aristokrasie” wat vir Louw so belangrik was om diepgang aan onder andere politieke prosesse te verleen, roep die figuur van die intellektueel op. Hyself dien natuurlik as voorbeeld daarvan, iemand wie se leierskap nie op ’n uitvoerende posisie in regeringstrukture uitgeloop het nie, maar wat by wyse van sy kritiese prosa tot die woordeskat en denkbeelde van komende geslagte leiers op verskillende fronte bygedra het. Sonder sy “voortbestaan in geregtigheid” sou Afrikaners al onder verskillende omstandighede merkbaar minder toegerus gewees het vir die uitdagings


waarvoor hulle te staan gekom het. Maar dit kan nie gebeur as denkers nie doeltreffend uitdrukking gee aan die insigte wat hulle in sake van die dag verwerf nie. Nie dat alle insigte ewe blywend is of alle denkers ewe tydloos nie, maar dit sou onmoontlik wees om groot gedagtes aan die orde te stel as daar nie ook talle klein gedagtes in omloop is nie. Daarom hoef elkeen wat per geleentheid sy of haar hand op papier waag, dit nie aan die grootste skrywers van ons taal te meet om dit die moeite werd te maak nie. Deelname aan sake van die dag begin met toetrede tot die gesprekke daaroor, nie – juis nie – net in die private domein nie, maar in die openbaar, in koerante en op webwerwe waar ’n mens kan verwag dat jou standpunte nie net aanvaar word nie, maar ook gekritiseer en verwerp word; dus oorweeg word. Om dit saam te vat: geen leiding sonder deelname, en geen deelname sonder toetrede nie, al is dit altyd weer ’n waagstuk. Die volgende vraag is natuurlik: Deelname waaraan? Toetrede waartoe? Hierbo is na openbare forums verwys, maar dit is belangrik om stil te staan by die gedagte dat leierskap altyd bemiddel moet word. Daar is altyd ’n middelgrond tussen leidinggewende en leidingnemende partye nodig, ’n openbare ruimte waar sake van gemeenskaplike belang in behandeling geneem word. Hier word nie na ’n bloot abstrakte ruimte verwys waar stemme as’t ware spookagtig met mekaar kommunikeer nie, hier word na konkrete instellings verwys: koerante en tydskrifte, webwerwe en blogs, radio en televisie, konferensies en vergaderings, parlemente en howe, sinodes en eredienste, selfs drama en sang, soms restaurante, parke en pleine. En geeneen van hierdie dinge geskied anders as by wyse van ’n instelling wat die geleentheid om dit te laat plaasvind, skep nie. Dikwels is die instellings veel ouer en gevestig as die rolspelers wat hulle verhoë betree sodat dit as gegewe aanvaar word, maar dikwels het die instellings self vernuwing of vervanging nodig en ervaar diegene wat daarby betrokke is dit as deel van ’n wêreld wat gemaak en onderhou moet word. Sonder instellings is demokratiese politiek onmoontlik. Hiervan (en meer) gee Danie Goosen ’n sonderlinge uiteensetting in sy Die nihilisme. Notas oor ons tyd (2007), veral in die deel wat oor Die dramaturgiese gemeenskap handel en wat ’n metafisiese dimensie aan sulke oënskynlik alledaagse dinge gee. Maar dit regverdig ’n behandeling op sigself en sal hier nie tereg kom nie. Met gewillige rolspelers en bemiddelende instellings

is die veronderstelling dat daar ’n kultuur van deelname en debat in die politieke gemeenskap bestaan. Hoewel geen demokratiese kultuur sonder rolspelers en “verhoë” kan funksioneer nie, bring die blote bestaan van sulke rolspelers en verhoë nie ’n deelnemende kultuur tot stand nie, of verseker dit nog geen hoë gehalte van deelname nie. Dié kultuur is as’t ware ’n eiestandige element wat op sigself gekoester en bevorder moet word en wat op ironiese wyse soms juis onder druk floreer. Niks gee ook aan so ’n gemeenskaplike kultuur van deelname soveel diepte as ’n geskiedenis van deelname, ’n tradisie met voorbeelde, rolmodelle en helde wat onder moeilike omstandighede voor die gees geroep kan word en, by wyse van spreke, oor groot uitdagings geraadpleeg kan word nie. Hannah Arendt gebruik ’n frase wat by haar hele verwysing na die klassieke aansluit en wat nie eenduidige Afrikaanse vertaling toelaat nie. Dié frase is public spirit, iets soos ’n sin vir die openbare, gemeenskaplike sake waaraan waarde geheg word ongeag enige persoonlike voordeel of belang. Dit is ’n soeke na die beste vir die gemeenskap, soms selfs ten koste van die self en dit word eerder met eer as met welvaart beloon. Maar daarmee waag ‘n mens dit reeds weer op ’n terrein wat vir die moderne wêreld met sy omgekeerde orde onbekend en gevolglik onsinnig lyk. Public spirit hou op ’n kostelike wyse verband met ’n ander Engelse frase wat in sy letterlike betekenis ewe skaars geword het en regstreeks met die gawe en ontvangs van denkende leierskap verband hou, naamlik common sense. Die gedeelde verwysings wat hierdeur veronderstel word, se afwesigheid eerder as teenwoordigheid word voelbaar en sigbaar en dit moet altyd weer verwerf word om nie permanent verlore te gaan nie. Dit is daarom dat die demokratiese kultuur gekoester moet word. Maar noodsaaklik soos ’n gedeelde kultuur en instellings is, bied dit nog net die geleentheid vir gesamentlike en openbare optrede, oftewel politieke handeling. Die sake waarmee daar gehandel word, is egter nog ’n onderwerp op sigself. Dit is die openbare sake of res publica wat vir ’n gemeenskap en haar lede van wesenlike belang is. Vir Afrikaners vandag sou dit onder andere taalhandhawing, onderwys, veiligheid, gesondheidsorg en werksgeleenthede wees, al daardie sake waarvoor daar onder die huidige staatsbestel min erkenning en geleenthede is. Koos Malan gee in sy Politokrasie. ’n Peiling van die dwanglogika van die territoriale staat en

REDE|29


gedagtes vir ’n antwoord daarop (2011), veral in die deel Politokrasie ’n uitvoerige en prikkelende behandeling van wat die res publica behels en hoe dit prakties in beskerming geneem kan word. Terwyl daar onder gunstige omstandighede ’n saak uitgemaak kan word vir die beskerming deur ’n gemotiveerde gemeenskap van sulke wesenlike sake op ’n nieterritoriale grondslag, veral buiteom die moderne territoriale staat, is dit moeilik te bedink dat ’n gemeenskap wat verspreid en onder vyandige omstandighede lewe, suksesvol daarna sal kan omsien. Uiteindelik vereis die res publica ’n republiek, ’n plek waar dit gehuisves kan word. Hoe dit daar moet en kan uitsien, word deur tyd en omstandighede bepaal, maar die samehangende geheel waarbinne denkende leierskap tereg kom en floreer, vereis begronding in die letterlikste sin van die woord. (’n Mens kan kwalik vandag na die Afrikaner se republikeinse strewe verwys sonder om Danie Goosen se Oor die Republikeinse Gedagte. ’n Oefening in Herinnering (2010) te berde te bring. Sy behandeling daarvan is te waardevol om te verswyg en te omvattend om te behandel; daarom word hier met ’n rigtingwyser vir belangstellende lesers volstaan.) Ten slotte ’n onderskeid wat in die hart van die verskil tussen liberale en deelnemende of klassieke demokrasie staan en wat getref moet word as die leierskap van denkers, langs watter bepaalde weg ookal, in ’n politieke gemeenskap tereg moet kom. Dit is naamlik die verskil tussen regering en bestuur. Binne die liberale, gedepolitiseerde idioom word goeie regering tot goeie en deursigtige bestuur van openbare fondse en dienste gereduseer. Deelname word tot die verkiesing van openbare

verteenwoordigers, wat die doeltreffende openbare bestuur moet verseker, beperk. Openbare verteenwoordigers speel die rol van direkteure of onafhanklike trustees wat doeltreffendheid moet verseker en prioriteite moet bepaal, maar wat kwalik as die beliggaming van ’n gedeelde strewe of kultuur beskryf kan word. Buiten natuurlik in soverre dit die strewe na welvaart en ’n globale verbruikerskultuur behels. Daarenteen kan denkers leiers word waar bestuur, noodsaaklik soos dit is, binne die groter verband van ’n gemeenskap se politieke en staatkundige selfdaarstelling en selfuitdrukking tereg kom. PW Botha was, as eerste minister en president, waarskynlik die doeltreffendste regeringsbestuurder van die moderne Suid-Afrika. Sy rasionalisering van staatsdepartemente en van die funksionering van die kabinet, om van sy veiligheidsbestuurstelsels nie te praat nie, het van doeltreffende bestuur getuig, maar dit kon selfs in eie geledere nie die weerstand wat tot sy politieke ondergang gelei het, voorkom nie. Thabo Mbeki het ’n soortgelyke lot te beurt geval. Die groter prentjie, daardie ontwykende perspektief vir wie die openbare domein sonder die nodige insig en talent betree, is in politieke verband nie die vrug van individuele genialiteit nie. Dit is die vrug van deelnemende diskoers waar argument, sentiment en simbool op sodanige wyse beliggaam word dat burgers oor ’n breë front daarby aansluiting kan vind, al is dit nie ewe veel op die voorpunt nie. Die verantwoordelikheid vir denkende leierskap berus uiteindelik by beide denkers en leiers en by beide diegene wat leiding gee en diegene wat leiding ontvang – al is nie een van dié onderskeide waterdig nie.

Bronverwysings Arendt, H 1989 The Human Condition Chicago: The University of Chicago Press Giliomee, H 2012 Die laaste Afrikanerleiers. ’n Opperste toets van mag Kaapstad: Tafelberg Goosen, DP 2007 Die nihilisme. Notas oor ons tyd Dainfern: Praag Goosen DP 2013 Oor die Republikeinse Gedagte. ’n Oefening in Herinnering Pretoria: NP van Wyk Louw-sentrum Lasch, C 1996 The Revolt of the Elites end the Betrayal of Democracy New York: Norton Louw, NP vW 1986 Versamelde prosa 1 Kaapstad: Tafelberg Malan, K 2011 Politokrasie. ’n Peiling van die dwanglogika van die territoriale staat en gedagtes vir ’n antwoord daarop Pretoria: PULP Mouffe, C 2005 On the Political New York: Routledge Ortega y Gasset, J 1993 The Revolt of the Masses New York: Norton Schmidt, K 1996 The Concept of the Political Chicago: Univeristy of Chicago Press Waldmeir, P 1997 Anatomy of a Miracle. The End of Apartheid and the Birth of the New South Africa London; Penguin Books Weber, M 1999 Politiek als Beroep Baarn: Agora

30|REDE


Nuwe Afrikanerleiers moet vra:

Wie is ons?

Tussen aarde en maan, vervreemd, verblind, - een wolk op een storm van dromen – Door sombre vreugden vervoerd, ontzind, Is hij luidzingend gekomen: De machtige zee, de donkere wind hebben hem genomen… (Adriaan Roland Holst, Nederlandse digter)

Jaco Kleynhans

‘n Stukkie volksfilosofie

en identitetsverwardheid leef.

Wie is ons? Waar kom ons vandaan? Hoekom is ons? Terwyl die modernisme van die eerste helfte van die twintigste eeu van hierdie vrae weg probeer stuur het en juis in verset teen identiteit en die deursuur van kultuur, geloof en tradisie in die filosofie, kuns en politieke lewe gekom het, het die era van sogenaamde postmodernisme, hoewel minder radikaal, nie juis probeer om weer na hierdie kernvrae terug te keer nie. Die postmodernisme het oor die afgelope paar dekades juis gevestigde waarhede en rasionele begrippe sodanig uitgedaag dat Westerlinge vandag in ‘n staat van intellektuele

Die Afrikaner is nie van hierdie staat van twyfel vrygespreek nie. Wat dinge vir die Afrikaner selfs vererger, is die komplekse wyse waarop hy as volk uit ‘n staat van beskermde denke tot die wêreld van vrye denke toegetree het. Teen die laat 1980’s was die modernisme en hernude verligtingsdenke in Westerse lande op ‘n hoogtepunt. Identiteitsverlies, sekularisering en ‘n intellektuele opstand teen ou waardes wat soms tot ‘n soort anti-intellektualisme gelei het, was aan die orde van die dag. Onder Afrikaners was gedeelde begrippe oor identiteit, waardes en geskiedenis baie sterk. Die wie, waar en

REDE|31


hoekom van ons wese is beantwoord en is deur ‘n staat wat in baie opsigte die rol van die gemeenskap en sy instellings oorheers het, aan volgende generasies oorgedra. Twee revolusies Die revolusie van die vroeë 1990’s word steeds vandag in baie opsigte onderskat. Afgesien van die politieke revolusie wat in 1994 sy hoogtepunt bereik het, maar vandag steeds voortwoed en met tye interessante nuwe wendings kry, het daar ook ‘n ander revolusie die Afrikaner getref. Hierdie tweede revolusie kan as meer as net die toetrede tot globalisme bestempel word. Die tweede revolusie is ook die revolusie waar ‘n volk van minstens drie miljoen mense skielik blootgestel word aan ‘n intellektuele revolusie wat in ander Westerse lande reeds ver gevorderd was. Terwyl weeklikse kerkbywoning in lande soos Nederland, Duitsland en Frankryk onder 10% inbeweeg het, het meer as 80% van Afrikaners steeds weekliks kerkdienste bygewoon. ‘n Sterk identiteitsbewussyn en liefde vir tradisie, kultuur en taal was sigbaar in Afrikaners se deelname aan die aktiwiteite van politieke en kultuurverenigings en die wyse waarvolgens instellings soos skole, universiteite, maar ook openbare ruimtes soos museums en parke hierdie trotse identiteitsbewussyn beklemtoon het. In Europa en ons stamlande het ‘n meerderheid van mense toe reeds hul rug op identiteitstrots gedraai. Globale, individualistiese identiteitlose beginsels was reeds aan die orde van die dag. Sedert hierdie twee revolusies die Afrikaner in die 1990’s getref het, het ook ons mense oor baie dinge begin twyfel. Kulturele verval het begin intree en sekularisering is toenemend sigbaar. Tog het die wêreld nie ophou verander nie. Die modernisme raak toenemend ‘n konsep wat tot in die lêer van moderne geskiedenis gebêre kan word. Die postmodernisme het homself as beweging reeds lankal as ‘n verwarrende poging om van niksheid ‘n groter nikswees te maak, bewys. ‘n Nuwe generasie op soek na identiteit Min Westerse lande beleef nie vandag ‘n herbesinning oor identiteit nie. Afrikaners, anders as die meeste ander Westerse volkere, leef toenemend as ‘n minderheid in ‘n land waar die meerderheid multikulturalisme verwerp en gevolglik tree vir tree die breë weg na minderheidsonderdrukking neem. Wat begin het as straat- en dorpsnaamveranderinge

32|REDE

speel nou af by universiteite, skole, monumente en museums. Wat Moslemekstremisme en -terrorisme vir Europa is, is die ANC se aanslag op enige teken van Afrikanerkultuur in die Suid-Afrikaanse openbare lewe vir ons. Wanneer elke tweede vriend van jou op Facebook dus op 6 April ‘n foto van Jan van Riebeeck plaas, of iets oor die volksplanting in 1652 sê, moet die betekenis hiervan nie onderskat word nie. ‘n Generasie Afrikaners word tans groot sonder ‘n regering wat vir hulle vertel waar hulle vandaan kom, of in elk geval die volle verhaal van waar hulle vandaan kom. Dié stand van sake hou egter geleenthede in. Die Afrikaner het vir lank homself gereduseer tot ‘n volk wat uit die Vryburgers, Groot Trek en twee Vryheidsoorloë onstaan het. Hoewel hierdie episodes van ons ontstaan, saam met ons modernisering gedurende die twintigste eeu belangrike elemente van ons geskiedenis beslaan, is daar ‘n element wat veral van die tweede helfte van die twintigste eeu versaak is en wat vandag eintlik weinig bespreek, bedink en oor geskryf word. Ons stamvaders en die plekke waar ons vandaan kom Min Afrikaners weet waarskynlik van die Tagtigjarige Oorlog, van Willem van Oranje, die ontstaan van die Koninkryk van Nederland met haar twaalf provinsies en selfs die Reformasie, die VOC en die rede waarom Vlaandere nie deel van Nederland is nie. Die Tagtigjarige Oorlog, vandag ook in Nederland bekend as die Nederlandse opstand, het van 1568 tot 1648 gewoed en was ‘n langdurige opstand van die sewentien provinsies van die Lae Lande teen Spaanse heerskappy. Hierdie opstand het veral momentum tydens die Reformasie gekry toe die noordelike provinsies die protestantse reformasie ondersteun het. In 1588 ontstaan ‘n republiek met die sewe noordelike Nederlandse provinsies. Die suidelike provinsies het onder die bewind van Spanje gebly en slegs die Katolieke Kerk is daar toegelaat. Byna net so belangrik soos die Tagtigjarige Oorlog is die Dertigjarige Oorlog, een van die mees verwoestende oorloë wat ooit in Europa plaasgevind het. Hierdie oorlog het in 1618 uitgebreek weens konflik tussen Protestante en Katolieke in die Heilige Romeinse Ryk. Die oorlog het grotendeels in die gebied waar Duitsland vandag is plaasgevind en het gelei tot groot armoede en lyding in die noordelike


protestantse gebiede. Talle jong Duitse mans is weens die oorlog genoodsaak om sonder geld en in gehawende klere na Nederland te reis om daar vir die VOC te gaan werk. Hermann Giliomee beskryf in sy boek Die Afrikaners ‘n Biografie die aard van die vroeë Nederlandse staat. Nederland van die sewentiende en agtiende eeu was ‘n losse federasie van sterk gedesentraliseerde provinsies met ‘n samewerkende eenheid in die StateGeneraal. Die Prins van Oranje was die staatshoof, maar hy was alles behalwe ‘n monarg met uitgebreide magte. Die Nederlandse historikus Willem Frijhoff skryf in die boek Histories of Nations dat Nederland van sy onstaan af ‘n sterk gedesentraliseerde land was waar gemeenskappe oor hulself regeer het. Om die geboorte van ‘n nuwe volk aan die Kaap te verstaan is dit belangrik om te weet wie die mense was wat aanvanklik tot hierdie nuwe volk toegetree het en tot watter mate hulle die waardes en wese van hierdie nuwe volk beïnvloed het. Giliomee maak dit duidelik dat Nederlanders hierin die septer geswaai het. Tydens die eerste 30 jaar van die verversingspos aan die Kaap was dit hoofsaaklik Nederlandse mans wat daar kom woon het. Hierdie mans het ‘n diepe besef van die stryd om vryheid wat hul ouers en grootouers teen Spaanse onderdrukking gestry het, gehad. Hulle was ook meestal sterk oortuigde protestante. Die 200 Franse Hugenote wat tussen 1688 en 1700 na die Kaap gekom het, sowel as latere aankomelinge, het ‘n duidelike waardeimpak gemaak, maar in getalle was hulle ‘n klein minderheid. Die meeste vroue-immigrante was jong Nederlandse meisies, baie uit weeshuise, terwyl baie mans wat na die Kaap gekom het Duitse kleinboere of arbeiders was wat deur die Dertigjarige Oorlog verarm is. Hierdie jong Duitse mans het net soos hul Nederlandse eweknieë deeglik besef wat die prys vir vryheid was. Die mense wat dus gedurende die eerste paar dekades in die Kaap kom vestig het, het in die meeste gevalle eerstehandse ervaring van die stryd om geloofs- en politieke vryheid in Europa beleef. Die kernwaardes van die mense wat uiteindelik die Afrikanervolk sou vorm, was dus Calvinisme, politieke desentralisasie, vryehandel en nederigheid. Wanneer Afrikaners vandag na Nederland, Vlaandere, Duitsland en Frankryk reis, is dit moeilik om die spoor tussen wie ons is en waar ons vandaan kom te vind. Dit is omdat hierdie spoor in die fisieke ruimte uitgewis is en vandag nog net in

boeke bestaan. Volgens Frijhoff het die formasie van die Nederlandse staat na die Napoleontiese era, die val van kolonialisme aan die einde van die 1940’s en uiteindelik die kulturele opstande van die 1960’s tot die uiteindelike daarstelling van ‘n gesentraliseerde gesekulariseerde welsynstaat gelei. Om ons wortels dus in vandag se moderne Wes-Europa te probeer vind moet jy meestal jouself tot argiewe en biblioteke wend. Die bekende Afrikaanse skrywer Karel Schoeman het presies dit gedoen en in minstens drie boeke wat hy oor ons en sy eie Nederlandse herkoms geskryf het, vertel hy pragtig die verhaal van juis dié mense wat ons volk help vorm het. Schoeman raak in Riviereland ‘n punt aan wat op die oppervlak onbelangrik kan lyk, maar wat belangrike dieperliggende waarde het. In Riviereland bespreek hy in diepte die provinsie Gelderland en ondersoek hy ook die invloed wat hierdie binnelandse provinsie op die Kaapse kolonie gehad het. Aan die hand van ‘n hele aantal individue bewys hy dat dit nie net seemanne uit Zeeland en Holland was wat in die Kaap gaan werk en vestig het nie, maar dat binnelandse provinsies soos Gelderland en NoordBrabant ook heelwat mense, beide invloedryke leiers in die VOC en ook gewone boere en arbeiders, na die Kaap gestuur het. Nuwe intellektuele leierskap Wanneer ons oor intellektuele leierskap praat, praat die Afrikaner vandag nie net oor die uitdagings wat voor ons staan nie, maar kry ons ook die uitdagende geleentheid om weer te herbesin oor die vrae van wie ons is en waar ons vandaan kom. Terwyl generaal Koos de la Rey en president Paul Kruger ‘n jong generasie se verbeelding weer aangryp, moet ons dit oorweeg om ook Prins Willem van Oranje en die leiers van die Reformasie aan jongmense bekend te stel. Wanneer ons oor die twee Vryheidsoorloë praat moet ons ook oor die Tagtigjarige en Dertigjarige Oorloë praat omdat ook dié twee oorloë ons volkswees gevorm het. ‘n Herbesinning oor identiteit skep die geleentheid vir Afrikaners om diepte aan ons geskiedenis te gee en daardeur opwindende nuwe argumente vir die behoud van taal, kultuur, geloof en tradisies te ontwikkel. Ons voortbestaan vereis van ons om van die oppervlakkige desperaatheid van ‘n volk wat wegkwyn weg te staan en met intellektuele leierskap ons mense van die waarde van Afrikanerwees te oortuig. Dit is tereg een wolk op een storm van drome.

REDE|33


Daar is ‘n merkwaardige verskil tussen denkende leierskap en leierskap en dit is nie altyd ewe maklik om die verskille te identifiseer nie

Die verlede wys ons

‘n groot gaping in denkende leierskap

dr. Koos van der Merwe

Daar is talle leiers wat groot oratore is, hul gehore kragdadig opsweep en selfs ook dreigend kan voorkom en hul planne gewoonlik in ou cliches uitspel. Daar was ‘n onlangse Afrikanerleier wat na die swart gevaar verwys het met die dreigement ons maak hulle level met die gravel. Die effek van sulke toesprake is gewoonlik van oppervlakkige waarde en hou niks nuuts en kreatiefs in om oplossings aan die hand te doen nie. Dit vererger egter die uitdaging. Hierdie oratore toon normaalweg gewone leierskap wat ‘n stilstaande intellektuele parkeerplek is. Daar is denkende en ondenkende leiers in Afrikaners se onlangse geskiedenis. Verreweg meer ondenkendes as denkendes, as ‘n mens hulle aan ‘n paar kriteria toets. ‘n Denkende leier is veral op die loer vir nuwe, kreatiewe idees hoe om vordering te maak. Sy belangrikste eienskap is die vermoë om skeppend te kan dink. Om deur diep navorsing en aanvoeling situasies te identifiseer, te ontleed en vroegtydig aanpassings te maak en gedurig te moniteer.

34|REDE


Watter eienskappe moet ‘n denkende leier hê? Die gewone eerbare eienskappe soos integriteit, harde werk en lojaliteit is baie belangrik, maar baie ondenkendes beskik ook daaroor. Die uitdaging is om baie dieper te delf. Daar is gesê Plato is filosofie en filosofie is Plato. Hy was ‘n briljante student van Socrates wat in 347 vC oorlede is. Hy het daarom ‘n filosofieskool opgerig met die naam Academia. Socrates het die mens se gedagtes wegbeweeg na die edele aspek van liefde in die soeke na ideale skoonheid van gedagtes en gees. Sou hierdie waarheid van liefde van twee millennia gelede die fondament wees wat denkende leierskap bestuur? Watter vorm van (denkende) leierskap het mense soos Julius Caesar, Napoleon, Hitler en Stalin getoon? Was daar enige teken van Socrates se liefdesleer? Leiers het oor tyd die aakligste wandade teenoor ander gepleeg. Die Khans was glo verantwoordelik vir die dood van 35 miljoen mense, met Josef Stalin nie ver agter hom nie en koning Chaka agter in die tou met een miljoen. Was hulle denkend, en indien wel, hoe het hulle gedink en wat was hul persoonlike motiewe? Waar was die denkende leiers? Of is denkende leiers ook in staat om grenslose aaklighede te pleeg? Waarskynlik weens menslike swakhede oorval met mag en gunste en die dreigement dat beswaarmakers se koppe afgekap word. Op ‘n militêre besoek in Augustus 1974 na Israel het ek die Israeli-generaal gevra hoe stop jy ‘n oorlog? Sy antwoord? “Stop the will to fight in the mind of the enemy commander”. Dit was vir my ‘n verfrissende en kreatiewe gedagte deur klaarblyklik ‘n denkende leier, want hy kom met ‘n voorstel voor die dag wat almal diep laat dink oor sy stelling en wat sonder twyfel tot ‘n oplossing kan lei. Tydens ‘n parlementêre besoek aan Israel het president Peres (in die tagtigs) gesug en aan ons sowat ses of agt Suid-Afrikaanse LP’s gevra waarom word jeug op jong mense vermors? Dis denkend want dit skud jou dat jou jeug tydelik is en dat jy jou jeug ten volle moet gebruik. Is dit nodig vir denkende leierskap om ‘n deeglike akademiese opleiding te hê? Ja, dit kan help, maar is nie deurslaggewend nie. Van ons leiers van die verlede was akademies maar agter in die tou soos oom Paul Kruger en ander soos president Jacob Zuma. Tog is jare lank se akademiese studie ‘n formidabele fondament vir menswees. Toe ek my doktorsgraad in 2014 ontvang het, toe ek al 76 jaar

oud was, was my eerste wrede skok hoe min ek weet. Die smag na kennis en wysheid staan naby voor in die tou om ‘n denkende leier te wees. Hitler het gesê: “A leader must be able to move the masses”. ‘n Leier wat die massas kan aanvuur om die warmplek met ‘n emmer water te bestorm. Die hou van ’n opruiende toespraak maak nie van jou ‘n denkende leier nie. Jou toespraak is dalk vir jou geskryf en jy is mooi afgerig. Daar is ook werklike en skynleierskap. Ek het president Reagan se Presidentsverkiesing bygewoon en daar is geskinder dat hy ‘n skimkandidaat is omdat hy ’n mooi voorkoms het, ’n pragtige stem, vriendelik en ’n bekende Cowboy was. Dit het glo gewerk. Die denkende leiers sou agter hom gestaan en hom gemarionetteer het. Ek kan nie sê dis waar nie, maar die punt is gemaak. ‘n Denkende leier moet onwrikbare moed en geloof in homself en in sy boodskap hê. Hy moet met kragtige deursettingsvermoëns met nuwe, kreatiewe gedagtes voor die dag kom. Ek was tien jaar in die Konserwatiewe Party (KP) en daar het weinig, indien enige iets nuuts, voor die dag gekom om ‘n veilige en voorspoedige toekoms te verseker. Ons het maar net lekker op die ou apartheidkitaartjie getokkel. Die KP het nie werklik denkende leiers gehad nie. Net die getokkel op die ou apartheidsnaar. ‘n Denkende leier moes in ons onlangse apartheidsverlede met kreatiewe voorstelle hoop gebring het, wat nie gebeur het nie. Ons leiers se voertuig het in die apartheidsmodder vasgeval. Een persoon wat wel kreatief gedink en gedoen het,

REDE|35


was Carel Boshoff. Hy was laag aangeslaan deur die ander regse politici. Ek onthou dat hy die KP Koukus toegespreek het en moes aanvoel hoe die mense hom gering ag met sy simpel voorstel van ‘n Orania-tipe oplossing. Ja, die ondenkende leierskap van die KP. Waar is julle vandag? En Orania gaan sterk voort. Carel was ‘n denkende leier, bygestaan deur Anna, sy vrou. Die Progs het gedink. Hulle het die onheilspellende tsoenami sien wakker word – ‘n tsoenami van miljoene stemlose mense wat soos ‘n brullende tsoenami apartheid en blanke politieke partye sou verswelg en niemand is level met die gravel gemaak nie. Ons ondenkende leiers het gesê nooit, nooit ‘n swart meerderheidsregering nie, want apartheid is die antwoord. Daar is nie diep genoeg gedelf vir nuwe idees nie. Het was niet ons ernst. Jy kry leiers wat dink hulle dink. Ek het as Inligtingshoof in die KP se Hoofraad se Dagbestuur gesê ek word oorval met vrae met betrekking tot ons plan om Suid-Afrika te onderverdeel in verskeie state. Vrae soos waar presies is die grense van ons land? Hoe verdeel ons die tenks, pantserkarre, gewere en patrone tussen die verskillende volke, of hou ons alles vir onsself? Waarom mag ‘n swarte wat 50 jaar in blank Suid-Afrika woon, nie ‘n burger word nie, maar ‘n Portugees na slegs vyf jaar? Wat is ons beleid presies? Ek het my gerig tot die Hoofleier, Andries Treurnicht, met hierdie vrae. Hy het ‘n oomblik nagedink en gesê: “Kollegas, kollega Koos opper baie ernstige punte. Ons sal beslis daaraan aandag moet gee”. Dan vra hy wat is volgende op die sakelys? Lekker onder die mat in. Waarom? Hy het nie diepdiep nagedink nie. Maar Andries, wat ‘n ware gentleman en godsman was, kon sy saak voor ‘n gehoor stel met omhaal van pragtige inspirerende woorde. Sy gebrek aan diep denkende leierskap is die beste gedemonstreer toe hy in die KP Koukus gesê het as daar dan oorlog kom, sal hy die veldprediker wees. Waar pas die veldprediker in ‘n moderne oorlog in? Ek het respek vir Andries gehad en takel hom nie af nie. Hy was egter ‘n leier wat gedink het hy dink, maar sy denke het nie tot by die diepste wortels van die problematiek deurgedring nie. My vrou en ek het oom PW na sy uittrede besoek. Wat my verstom het, was sy antwoord op my vraag op watter pad is ons land nou. Oom PW het verskoning gemaak en gesê hy was daardie tyd siek anders sou die dinge nie gebeur het nie. Hoe sou oom PW die tsoenami kon keer? Hy was nie diepdenkend genoeg om die problematiek diep genoeg te verstaan nie.

36|REDE

Verwoerd het nie net diep gedink nie, maar begin om sy beleid te konkretiseer. Tuislande en vier onafhanklike state het gevolg. Denkende leierskap by uitstek. Carel Boshoff se Orania staan vandag nog en groei. Die ander regses (en baie Nattes) wat ook aktief by die stryd betrokke was, is vandag spoorloos weg. FW de Klerk, wat 80 jaar oud is, bestuur vandag nog twee Stigtings, die FW de Klerk Stigting en die Global Leadership Foundation. Waar is die ander leiers wat saam met hom die Nuwe Suid-Afrika met gebalde vuiste bestorm het? Spoorloos. Is hulle dalk ondenkend en het die handdoek ingegooi? Al hul uitsprake van die verlede uitgevee. Ja goed, ons eet môre-aand by julle en Saterdag by Koos. Ons het FW in 1990 ‘n verraaier genoem (ek ook), maar dit staan vandag geskryf dat FW sy uitgedinkte voorstelle tot aan die einde bevorder. Byna man alleen. Denkende leierskap skep nie net nuwe kreatiewe gedagtes nie, maar maak seker dit word uitgevoer. My ervaring in die 20 jaar in die Nuwe SuidAfrikaanse Parlement is dat talle pragtige besluite geneem word, maar die uitvoering daarvan loop teen slakkepas, of staan geparkeer. Samevattend is die vereistes vir ‘n denkende leier dat hy • Die gewone talente besit soos integriteit, lojaliteit en so meer. • Dat hy dink. Dat hy tot die diepste wortels van die probleem afsak; dit bestudeer; dit verstaan, vergelykings doen en daarvan gebruik maak waar nodig; op die hoogte te wees met soortgelyke gebeure elders op aarde. • Dat hy met kreatiewe denke voor die dag kom wat oplossings inhou. • Dat hy nie terugdeins om sy saak met sy opponente elders op die planeet te gaan bespreek nie. Treurnicht het nie die uitnodiging aanvaar om die KP se saak in Bemuda te gaan stel nie en ek het dit moes doen. • Dan sal hy geskik wees to move the masses. Die vraag: En nou? Nou goed, ons leiers het probeer, maar hoofsaaklik gefaal. Wie neem nou die voortou vir die toekoms as ons denkende leier? Want sonder so ’n man is ons magteloos. ‘n Man wat steeds Afrikaner is, maar ‘n meer moderne een wat op die hoogste vlakke ons saak met oortuiging stel. Ek dink dis Flip Buys – ‘n ware denkende leier.


EPOG

EPOG

doen onder andere die volgende in Orania: 1. Bestuur twee museums in die dorp 2. Bestuur die dorp se argief en Africana-boekery 3. Neem verantwoordelikheid vir erfenisbewaring in die breë 4. Publiseer dokumente en boeke 5. Organiseer gereelde gedenklesings soos die jaarlike HF Verwoerdgedenklesing

EPOG is ‘n filiaal van die Orania Beweging.

Raak betrokke deur ‘n donasie aan EPOG te maak of om by die organisasie se werksaamhede betrokke te raak. Kontak Willem van As by epog@orania.co.za vir meer inligting.


Verskeie standbeelde en monumente is die afgelope tyd gevandaliseer. Orania bied `n veilige tuiste aan Afrikanererfenis. Neem eienaarskap van jou herkoms en raak betrokke by erfenisbewaring.

Sms die woord “bewaar” na

41076

www.orania.co.za 053 207 0062

Elke sms kos R1.50. Gratis sms’e geld nie. Uitleg en drukwerk deur SwiftPrint, Tel: 053 839 2900, Kimberley

Orania Rede Tydskrif  

Verstandigheid, Geregtigheid, Insig

Read more
Read more
Similar to
Popular now
Just for you