Issuu on Google+

Skriflesing: 2 Samuel 23:1-7 Tygerpoort : 28 Oktober 2012 Inleiding Die mense wat geleef het in die tyd van die Ou Testament, met ander woorde in die tyd voordat Jesus op aarde was, het baie anders as ons erediens gehou. Hulle kerkgebou het ook baie anders gelyk as vandag se kerke. Hulle het dit ’n tempel genoem. Voor die tempel was daar iets wat amper soos ’n groot tafel gelyk het; dit was die altaar. Die altaar was ’n plek waarop hulle goed gebrand het om vir die Here te sê dat hulle jammer was oor al die verkeerde goed wat hulle gedoen het. Iets wat ’n mens so kom verbrand het, het mens ’n offer genoem. Die storie agter die offers het min of meer so gewerk: mense het geglo dat as jy iets verkeerd gedoen het, dan moet jy gestraf word. En as jy iets teenoor die Here verkeerd gedoen het, dan was dit so ernstig dat jy eintlik doodgemaak moes word. As mens iets teenoor die Here verkeerd doen, dan is dit mos sonde en sonde moet met die dood gestraf word. Daar moes dus ’n lewe gegee word in die plek van die sonde. Maar nou het die godsdiens van daardie tyd so gewerk dat ek gelukkig nie self hoef te sterf nie, maar dat ek die lewe van iets anders in my plek kon gee. Ek kon ’n skaap of ’n bok of ’n duif of ’n bees na die erediens toe bring, en dan is die dier op die altaar in my plek doodgemaak. So ’n dier wat in my plek doodgemaak word, noem ons ’n offer. Met ander woorde, ek gee ’n offer en dan kan ek bly lewe. En nou was daar allerhande soorte offers; ons kry in die Ou Testament ’n hele lang lys van verskillende offers: beweegoffers, brandoffers, dankoffers, diereoffers, eerstelingoffers, graanoffers, skuldoffers, sondeoffers, versoeningsoffers, vuuroffers, wierookoffers en sommer nog ’n klomp ander. Die goeie nuus is dat ons nie meer vandag al hierdie offers hoef te bring nie omdat Christus in ons plek geoffer is. Dit het natuurlik gebeur toe Hy aan die kruis gesterf het. 1


Toe dit gebeur het die Here gesê dit was so ’n groot offer dat al die verskillende soorte offers glad nie meer nodig is nie en dat dit ook nooit weer nodig sal wees om enigiets of enige iemand se lewe te neem. Jesus se lewe was so ’n groot offer dat dit sommer genoeg was om vir ons almal se sondes te betaal. Die nagmaal help ons om dit te onthou. Ons vier die nagmaal ook by ’n tafel, maar ons sit nou nie meer allerhande diere op die tafel neer wat geoffer moet word nie. Nee, op die tafel lê daar net brood en wyn. Die brood laat ons dink aan Jesus se liggaam en die wyn laat ons dink aan Jesus se bloed. So, as ons die brood breek, dan help dit ons om te onthou dat Jesus se liggaam ook so gebreek is in ons plek, want dis vir ons sonde wat Hy gesterf het. En die wyn wat ons drink help ons om te dink aan Jesus se bloed wat aan die kruis gevloei het. Elke keer as ons nagmaal vier, dan is ons bly dat ons nie meer al die klomp offers hoef te bring om vir die Here jammer te sê vir alles wat ons verkeerd doen nie. En ons hoef nie meer te offer nie, omdat Jesus se offer groot genoeg was om sommer vir ons almal se sonde te betaal. Vanoggend gaan ons weer saam brood eet en wyn drink sodat ons kan onthou hoe groot Jesus se offer was .... Wat nou? Jesus se offer was so groot en so volmaak en so volkome en so genoegsaam dat die hele lang lys van offers waarvan ons in die Ou Testament lees nou nie meer nodig is nie. Ons hoef nooit weer ’n skuldoffer of ’n sondeoffer of ’n versoeningsoffer erediens toe bring nie. Na Jesus Christus se kruisiging en opstanding het daar net een offer oorgebly ..... en dis ’n offer waarmee ons vir die Here dankie sê. Nuwe Testamentiese gelowiges wat saamkom om erediens te hou, bring net een offer en dis ’n dankoffer. Ons bring nie meer offers sodat die Here ons moet vergewe nie, ons bring net ’n offer omdat die Here ons reeds vergewe het; ons noem dit ’n dankoffer. 2


En die offer bestaan mos nou uit ons hele lewe uit. Verlede Sondag het ons gehoor hoedat Paulus ons in Romeine 12 uitdaag om onsself aan die Here te gee as heilige en lewende offers. En ons doen dit om daarmee dankie te sê. Die vraag is nou: hoe lyk hierdie offers waarmee ons vir die Here dankie sê? As Paulus sê ons hele lewe is ’n offer, dan beteken dit onder andere dat ons ons tyd gee, en ons gawes en ons talente en ons woorde en ons dade .... dis alles maniere waarmee ons vir die Here dankie sê. Maar vanoggend herinner ons mekaar veral daaraan dat ons ook ons geld gee as ’n offer van dankbaarheid. En ek wil eintik net een ding sê oor ’n gemeente se dankoffers. Hoe dink ons oor geld? Ek het ’n vermoede dat die manier waarop ons oor geld dink, nogal baie te doen met hoe ons oor God dink. As ons aan God dink as Iemand wat ver in die hemel bly en soos ’n groot towenaar nou en dan op ’n bonatuurlike manier in ons lewens ingryp en eintlik net in ons “siele” belangstel, dan het dit mos nou radikale implikasies vir hoe ons oor aardse goed soos geld dink. Dan is alles wat aards is, eintlik van minder belang en dan hoef ons ook nie veel aandag daaraan te gee nie. Al wat dan belangrik is, is om eendag by God in die hemel te wees. Maar nou is daar mos ’n klomp verhale in die Bybel wat ons help om anders oor God te dink. Verhale wat ons help om te verstaan dat God nie net in ons siele belangstel nie. Een van die verhale kry ons in 2 Samuel. Hierdie verhaal is deel van Dawid se afskeidsboodskap. Skriflesing: 2 Samuel 23:1-7 Miskien kan ons Dawid se eerste woorde van sy laaste toespraak min of meer so saamvat: God werk deur mense! Gewone mense. Mense van vlees en bloed: “Dit is Dawid seun van Isai wat praat. Dit is ’n man wat praat ...” ’n Gewone mens met aardse ouers. En, sou ons kon byvoeg: een wat by tye gesukkel het om sy gesin bymekaar te hou; een wat dikwels moes pleit om vergifnis; een wat meer as een keer die Here teleurgestel het. 3


En ten spyte daarvan weet ons wat God alles deur Dawid gedoen het! Dalk sê hierdie afskeidswoorde van Dawid vir ons baie meer oor God as wat dit iets oor Dawid sê. Dit sê dat God kies om deur gewone mense sy werk op aarde te doen. Dit sê, by wyse van spreke, dat God doelbewus nee gesê het vir die engeltjies. Want natuurlik sou God hulle inderdaad ook kon gebruik en na alle waarskynlikheid sou hulle dalk baie beter as ons gevaar het! Maar God het gesê: Nee, ek wil mense gebruik, gewone mense, aardse mense! Mense soos Dawid, en jy, en ek! En as dit nou die manier is waarop God werk, dan is ook ons aardse goed mos vir God belangrik. En dit sluit ons geld in. God gebruik aardse mense en hulle aardse goed om sy werk op aarde mee te doen. Trouens, sonder ons geld sal God se werk op aarde moeilik gedoen kan word. Dis een van die hulpbronne wat ons as kerk beskikbaar het en waarmee die ekonomie van die evangelie bestuur moet word. Om daardie rede kan en mag en behoort gelowiges ook met mekaar oor geld te praat. In ons gemeente doen ons dit weliswaar baie min, maar ons glo dat ons dit wel behoort te doen. Eintlik praat ons net aan die begin van ’n jaar so bietjie met mekaar oor ons begroting, en dan motiveer ons mekaar weer hierdie tyd van die jaar om tydens ons tiende-dankoffermaand so bietjie meer te gee as wat ons gewoonlik gee. Daarom wil ek graag vanoggend een of twee goed sê oor waar ons gemeente se finansies op die oomblik staan. Ons het begroot vir ’n inkomste van R 5 837 374 en uitgawes van R 5 912 331. Dit beteken dat ons begroot het vir ‘n tekort van R 74 957. Vanoggend kyk ons veral na ons inkomste: 84% van ons inkomste bestaan uit dankoffers (4 905 800) en 16% van ons inkomste kom uit ander bronne soos byvoorbeeld fondse wat deur ons bedieninge gegenereer word (931 574).

4


Ons dankoffers word op die volgende manier saamgestel: ons maandelikse dankoffers is die grootste deel van ons dankoffers, ongeveer 76% (3 726 000). Tydens ons eredienste samel ons per jaar ongeveer 15 % van ons begrote dankoffers in (739 800). En dan het ons hierdie jaar begroot om tydens ons tiendemaand 440 000 in te samel, wat ongeveer 9% van ons totale dankoffers vir die jaar sal uitmaak. As ons na die eerste 7 maande van die jaar se inkomste kyk, dan lyk die prentjie so: ons maandelikse dankoffers was 1 932 444, maar ons het begroot om vir die eerste sewe maande 2 173 500 te ontvang. Tydens ons eredienste het ons bietjie meer ingesamel (457 425) as dit wat ons begroot het (431 550). In totaal het ons dus 2 389 869 ontvang, terwyl ons begroot het vir 2 605 050. Vir die eerste sewe maande van die jaar het ons dus ‘n tekort van 215 181 op ons begroting. Die enigste manier waarop ons hierdie tekort kon akkommodeer, was uit die aard van die saak om ons uitgawes te sny, wat natuurlik beteken dat ons nie alles kon doen waarvoor ons bedieninge beplan het nie. As ons hierdie tekort wil uitwis, dan kan dit mos nou op verskillende maniere gedoen word. Ons kan ons uitgawes aanhou sny, maar ons kan ook planne maak om ons inkomste so bietjie te verhoog. As ons almal vir die volgende vyf maande van die finansiĂŤle jaar ons dankoffers met 12% verhoog, dan kan ons begroting klop. Dis die eerste opsie. Nog ‘n opsie is om vir ons tiendemaand nie vir ons begrote bedrag van 440 000 te mik nie, maar wel vir 655 000. Hoe dit ookal sy, as ons al ons werk wil doen, dan moet ons behalwe ons normale dankoffers, omtrent so 215 000 ekstra insamel. Dit klink dalk na vreeslik baie geld, maar as ons dit deur 5 maande deel, dan beteken dit ons moet 43 000 per maand meer insamel. 5


As net die helfte van ons lidmate, kom ons sê 1000 vir die volgende vyf maande elke maand 43-00 meer gee, dan klop ons begroting. As my sommetjies reg is, dan is 43-00 ongeveer 3,5 liter petrol. Of, as jy wil, so twee McDonald hamburgers. Dink nou net as almal van ons vir die volgende 5 maande 2 hamburgers per maand minder eet, dan het ons inkomste gestyg en ons gesamentlike gewig het gedaal! Slot So van gesamentlik gepraat, die laaste wat ek graag oor ‘n gemeente se begroting wil sê, is dat dit ons almal se verantwoordelikheid is. Ons is deur die genade van die Here almal deel van hierdie gemeente en daarom is ons almal se deelname aan die funksionering van hierdie gemeente belangrik. En dit geld ook van ons dankoffers. En nou gaan dit mos nie in die eerste plek oor hoeveel ek gee nie; dit gaan oor die gesindheid waarmee ek gee. Volgens my eie vermoë en my eie omstandighede moet ek soveel gee dat dit iets weerspieël van die dankbaarheid wat daar in my hart leef. ‘n Dankbaarheid wat maak dat ons ook bereid is om saam verantwoordelikheid te neem vir die werk wat deur hierdie gemeente gedoen moet word. Dis ons verantwoordelikheid, niemand anders kan of gaan dit doen nie. Daarom glo ons dat die Here, soos in die verlede, ook hierdie jaar gaan voorsien in ons gemeente se finansiële behoeftes. En Hy gaan dit doen deur die lidmate van ons gemeente. Gewone mense; mense soos Dawid; en mense soos ek en jy. Want God het nee gesê vir die engeltjies. Amen.

6


Preek 28 Oktober 2012