Page 1

Skriflesing: Openbaring 19:5-9 Tygerpoort: 22 Mei 2011 (Paassangdiens)

Inleiding Christus het opgestaan. Christus het waarlik opgestaan. Na Paassondag was dit die manier waarop christene begin het om mekaar te groet. En kort daarna het hulle begin om hulle geloof in die opgestane Christus te bely met die woorde: Christus is die Here! Daarmee het hulle gesê dat geen ander persoon of instelling of mag of krag hulle lewe beheer nie, maar dat hulle leef onder die heerskappy van dié Here wat op Goeie Vrydag gekruisig is en op Paassondag opgestaan het.

Paasfees In die boek Openbaring sê Johannes nou vir ons dat die oorwinning en die heerskappy van Christus aangebreek het, maar dat dit nog nie in hierdie lewe volledig sigbaar sal word nie. Ander gesê: mense, en ook christene, sal op aarde nog steeds swaarkry en droefheid en pyn en hartseer ervaar. Tot op ’n dag .... Tot op dié dag wanneer Christus se heerskappy uiteindelik finaal sal deurbreek. Tot op dié dag wanneer daar uiteindelik geen swaarkry en geen pyn en geen hartseer meer sal wees nie. Tot op dié dag wanneer alles en almal uiteindelik die knie sal buig en saam sal bely: Christus ís die Here!


Op dié dag, met Christus se tweede koms na die aarde, op die tweede Paasmore, op die dag sal daar fees gevier word soos wat daar nog nooit op aarde fees gevier is nie. Johannes sê dit sal klink soos die geluid van ’n groot menigte, soos die gedruis van ’n groot watermassa, soos die gedreun van swaar donderweer, en almal sal uitroep dat die Here nou as koning heers! Op die dag sal die vreugdesvure brand soos nooit tevore nie. Dit sal die moeder wees van alle feeste! Bruilofsfees Hierdie fees wat Johannes in sy geestesoog sien, is eintlik so groot en so heerlik en so vol vreugde dat hy dit nie regtig in aardse taal kan beskryf nie. Daarom soek hy, soos op baie ander plekke in die boek Openbaring, na beelde en metafore om hierdie onbeskryflike fees mee te beskryf. En die vergelyking, die beeld, die metafoor wat hierdie moeder van alle feeste vir hom die beste beskryf, is die beeld van ’n bruilofsfees. As ons nou al reeds, hier op aarde, ’n gebeurtenis soek wat die naaste kom aan die fees wat eendag op ons wag, dan, sê Johannes, is dit waarskynlik ’n bruilofsfees. Hierdie is nie die eerste plek in die Bybel waar die verhouding tussen God en mense met ’n bruilof, met ’n huwelik vergelyk word nie. Daarom het ek gewonder of ons nie dalk Johannes se beeld vanoggend vir ’n oomblik kan omkeer nie: dat die groot fees aan die einde van die tyd ons nie net sal herinner aan ’n huweliksfees nie, maar dat die liefdesverhouding tussen ’n man en ’n vrou hier op aarde ons ook moet herinner aan dit wat op ons wag wanneer ons volkome in God se teenwoordigheid gaan leef.


As dit so is, dan beteken dit dat gesonde huwelikke vir ons ’n voorsmakie van die hemel moet gee. Dan beteken dit dat gesonde huwelikke ’n stukkie hemel op aarde kan wees. Dan beteken dit dat gesonde huwelikke ons nou al reeds iets moet laat ervaar van die wonderlike verhouding waarin God met mense leef. Gesonde huwelikke Die implikasies daarvan is natuurlik dat mans en vrouens in hulle liefdesverhoudings teenoor mekaar so behoort te leef, dat ons daardeur iets van God self kan ervaar. Die manier waarop ’n man ’n vrou liefhet, moet ’n vrou iets van God se liefde laat ervaar. Nou al reeds .... hier op die aarde. En die manier waarop ’n vrou haar man liefhet, moet hom iets van God se liefde laat ervaar. Nou al reeds ... hier op aarde. Die manier waarop ’n man en ’n vrou mekaar versorg en vir mekaar omgee, moet hulle help om iets van God se sorg en iets van God se omgee te ervaar. Sou dit nie dalk ook wees wat agter die woorde van die sewende gebod lê nie? Sou dié gebod ons nie dalk wil aanmoedig om so as mans en vrouens teenoor mekaar op te tree, dat ons iets van God self kan ervaar nie. Sou die uitleef van dié gebod ons nie dalk kon help om die vreugde en die diepte en die rykdom en die lewe van Paasmore nou al reeds te sien en te voel en te proe en te geniet nie. Want as ons nie moet egbreuk pleeg nie, dan is die omgekeerde daarvan tog dat ons getrou aan mekaar moet wees. Dat ek so moet praat en leef en liefhê dat die ander een my kan vertrou.


En dit doen ons nie omdat ons van nature so is nie, maar omdat God so is. Omdat God tot die dood toe getrou was. Omdat God so met ons kom praat het en so tussen ons kom leef het en ons so liefgehad het dat ons Hom met ons lewe kan vertrou. En as ons dan nou – ook in ons liefdesverhoudings – getrou is, dan is dit omdat ons in die oggendson van Paasmore leef. Dan is dit omdat die nuwe lewe in Christus dit vir ons moontlik maak. Dan is dit omdat Hy, die Paaslam, dit vir ons moontlik maak. Slot Dan is dit omdat ons nie kan wag vir Openbaring se bruilofsfees nie. Dan is dit omdat ons nou al reeds iets van die hemel wil ervaar. Openbaring sê dis moontlik. Daar waar die sewende gebod tussen ’n man en ’n vrou uitgeleef word, daar breek die hemel deur. Nou al reeds. Hier .... op hierdie aarde. Tussen die mense wat Paasfees vier. Tussen die mense wat mekaar groet met die woorde: Christus het opgestaan; Christus het waarlik opgestaan. Tussen die mense wat bely dat Christus die Here is. Die een wat ons help om nuut te lewe. Nie net in ons huwelikke nie, maar in al ons verhoudings. Die een wat ons help om die kuns van die nuwe lewe te bemeester. Sodat ons nou al reeds, hier op die aarde, ’n stukkie van die hemel kan ervaar. Amen.


Preek 22 Mei 2011 deur dr Ferdie Clasen  

Paassangdiens

Read more
Read more
Similar to
Popular now
Just for you