Page 1

Skriflesing: Handelinge 9:20-31 Tygerpoort: 17 Februarie 2013 Inleiding Toe mense eendag vir „n wyse ou man vra hoe „n mens „n storie moet vertel, het hy geantwoord: „n Storie moet só vertel word dat dit die wat dit vertel en die wat daarna luister, daardeur gehelp word. My oupa was lam, vertel die man toe verder. Eendag het mense hom gevra om hulle te vertel van sy held, Baal Sjem Tov. My oupa begin toe vol geesdrif vertel hoe die heilige Baal Sjem Tov altyd rondgespring en gedans het wanneer hy baie ernstig bid. Terwyl my oupa so van sy held vertel, het hy uit sy stoel opgestaan. Meegevoer deur sy eie vertelling het hy self begin rondspring en dans om te wys presies hoe Baal Sjem gemaak het. Van daardie oomblik af was Oupa van sy lamheid genees. 1


Dit is hoe mens „n storie moet vertel, het die wyse man gesê. (Uit: Stories vir die lewe). Christene is storievertellers Christene is storievertellers! Soos baie ander Bybelkarakters, help Paulus ons vanoggend om weer „n slag dié waarheid te verstaan. Paulus kon gewoon nie stilgemaak word nie. In Damaskus het hy in die sinagoges sy storie vertel; daarna het hy al hoe kragtiger onder die Jode begin preek; nog later, lees ons, het hy saam met die apostels oral in Jerusalem rondgegaan en onophoudelik sy storie vertel. En toe hulle hom uiteindelik na Sesarea en later na Tarsus toe wegstuur, weet ons mos dat dit hom ook nie kon stilmaak nie. Hy het aangehou en aangehou om sy storie te vertel. Gelowiges kan nie anders nie. In „n sekere sin sou mens kon sê die Bybel is die resultaat van die feit dat gelowiges oor al die eeue bereid was en gedring was en geïnspireer was om hulle stories oor te vertel. 2


Trouens, dis presies hoe veral die Ou Testament ontstaan het. Kom ons neem „n voorbeeld: Die Israeliete trek uit Egipte, swerf vir jare lank in die woestyn rond en neem uiteindelik besit van die land Kanaan. En dan begin hulle hierdie storie oorvertel aan hulle kinders en hulle kinders vertel dit vir hulle kinders en eeue later word dit op skrif gesit sodat ons dit in 2013 kan oopmaak en lees. En ons kan dit doen omdat ons voorouers in die geloof storievertellers was; omdat hulle gewoon nie kon stilbly oor dit wat met hulle gebeur het nie. En Paulus staan ook met sy voete vierkantig in hierdie tradisie. Paulus is ook besig om sy storie te vertel oral waar hy kom. Stories word natuurlik nie altyd op dieselfde manier oorvertel nie; dit hang mos af van die tyd en die omstandighede waarin ons leef. In die tyd van die Ou Testament kan ek my nogal voorstel hoedat „n groot familie in die aand rondom „n vuurtjie gesit het en dan het pa en ma vertel van al hulle omswerwinge in die woestyn. 3


In Paulus se tyd weer was formele gesprekke in die tempelpoorte, en op die stadsplein en in die sinagoges die gewilde ding om te doen. „n Klompie jare gelede het christene dikwels hulle storie vertel aan die hand van „n spesifieke metode. Evangelisasiespanne het gewoonlik van deur tot deur gestap, aangeklop, en dan aan die hand van twee of drie baie direkte vrae mense probeer oortuig om deel van die christelike storie te word. Vandag is daar baie redes waarom die metode nie altyd meer lekker werk nie. Een daarvan is sommer „n heel praktiese rede, naamlik dat mens nogal sukkel om in vandag se woonbuurte van huis tot huis te loop en aan deure te klop omdat mens gewoon nie toegang tot enige woonbuurt het nie. Maar daar is natuurlik ook „n veel dieper rede hoekom ons vandag dink dat dit dalk nie die enigste of die beste metode is nie. 4


Dit het te doen met die feit dat ons al hoe meer begin verstaan dat die storie van die evangelie nie regtig van een persoon aan „n ander vertel kan word sonder dat daar ook „n gesonde verhouding tussen die twee mense bestaan nie. Ons begin al hoe meer besef dat mense mekaar eers goed moet ken en moet leer om mekaar te vertrou, dan kan ek ook met geloofwaardigheid my storie vertel. Of anders gesê: dan kan ek begin getuig en vertel van hoe ek die Here se betrokkenheid en teenwoordigheid in my eie lewe ervaar. ‘n Storie van geloof Want ten diepste is dit mos nou waarom dit gaan in Paulus se storie en in al die Bybelskrywers se stories. Paulus se mond loop oor van dit waarvan sy hart vol is. Miskien kan ons in Paulus se geval selfs sê dat sy mond oorloop van dit wat hy met sy oë gesien het. In die vorige hoofstuk word daar mos nou vertel van Paulus se bekering. 5


Hoedat hy „n lig uit die hemel op hom sien neerdaal het en „n stem met hom hoor praat het. Hoedat hy vir „n tyd lank nie kon sien nie en „n man met die naam Ananias hom gehelp het om weer te kan sien. En nadat die skille van sy oë afgeval het, sou die nuwe geestesoë waarmee hy gekyk het dalk in die toekoms veel belangriker wees as die feit dat hy ook weer fisies kon sien. Want sien, die punt is dat Paulus die teenwoordigheid en die nabyheid en die krag van die lewende Here in sy lewe ervaar het, en daaroor kon hy gewoon nie stilbly nie. Natuurlik het nie almal van ons so „n radikale bekering soos Paulus gehad nie. En baie van ons sal nooit die werk van die Here op so kragtige en radikale manier soos Paulus beleef nie. Maar dis nie die punt waarom dit gaan in hierdie verhaal nie en dis ook nie die punt wat die res van die Bybelskrywers aan ons wil voorhou nie.

6


Daar is baie ander verhale in die Bybel wat ons daaraan herinner dat die Here op „n heel alledaagse, natuurlike manier by ons is. Kom ons neem weer die uittog uit Egipte as voorbeeld. Die verhaal sou ook gewoon as „n historiese of „n politieke verhaal oorvertel kon word. „n Verhaal van „n volk wat deur „n ander volk onderdruk was en op „n stadium besluit het genoeg is nou genoeg. Hierdie volk het vir hulle „n goeie leier gekry en met „n goeie strategie het hulle die land verlaat en „n ander land in besit gaan neem. Maar die verhaal wat ons uiteindelik in die Bybel lees, is nie „n gewone politieke of „n historiese verhaal nie. Dis „n geloofsverhaal. Dis „n getuienis. En daarom lees ons dat die gelowiges van daardie tyd ook hierdie verhaal in geloofstaal oorvertel het: dis die Here wat hulle uit Egipte uitgelei het en dis die Here wat in die woestyn vir hulle gesorg het, en dis die Here wat vir hulle „n nuwe land gegee het. 7


Ek het „n vermoede dis ten diepste waaroor enige gelowige se getuienis behoort te gaan. Getuienis het nie in die eerste plek te doen met die groot en bonatuurlike en skouspelagtige dinge wat met ons gebeur nie. As dit so was, dan sou ons mos nie almal getuies kon wees nie want sulke dinge gebeur nie met almal van ons nie. Nee, ek dink getuienis het juis te doen met die feit dat ons dit wat in ons alledaagse lewe gebeur, in geloofstaal moet kan oorvertel. Christene se storie het te doen met dit wat elke dag met ons gebeur en met hoe ons dan God se nabyheid en sy teenwoordigheid en sy liefde en sy getrouheid in daardie alledaagse dinge ervaar. En dit kan ons mos nou net doen, as die Here ons oë, soos Paulus s‟n, oopmaak sodat ons sy werk in ons lewe kan raaksien. Om „n getuie te wees vra allereers dat ek vir die Here sal vra om vir my nuwe oë te gee; geestesoë, wat my sal help om meer te

8


sien en dieper te kyk en beter te verstaan dat die Here elke dag in ons en rondom ons en deur ons aan die werk is. Met sulke soort van oë het elkeen van ons „n storie om te vertel. Kan elkeen van ons in geloofstaal dit wat elke dag met ons gebeur beskryf. Al is dit dan net om te vertel hoedat ons deur die Here se genade die son weer vanoggend kon sien opkom; hoedat ons in „n eenvoudige bord kos iets van die Here se sorg kon ervaar; hoedat ons in „n vriend se glimlag of omhelsing iets van die Here se getrouheid en sy liefde kon beleef. Wie met gelowige oë kyk en leef, het ook „n storie om te vertel. En, soos Paulus, geniet ons gelowiges dit om ons stories te vertel, want ons aanbid „n God wat van stories hou …. Daar bestaan „n ou Joodse legende wat vertel hoedat God lank gelede verskillende nasies oorweeg het toe Hy moes besluit het wie Hy sy uitverkore volk sou maak.

9


Hy het eerste met die Grieke gaan gesels: “As Ek julle God sou wees en julle my spesiale volk, wat is daar waarmee julle My sou kon vreugde gee?” “O, ons sal U eer met die beste kuns in die wêreld en met die uitnemendste denkskemas waartoe die mens in staat is,” antwoord hulle. “Ons groot denkers sal gedigte en dramas oor U skrywe.” “Dankie vir julle aanbod,” het God gesê. Hierna is God na die Romeine toe met dieselfde vraag: “Waarmee sal julle My plesier kan gee as ek julle God is en julle my spesiale volk?” “O, ons sal U eer met die grootste, indrukwekkendste bouwerke van alle tye, met die beste paaie, met die mooiste tempels waarin U aanbid kan word,” was hulle antwoord. “Ons sal ter ere van U die wêreld verower.” “Dankie vir julle aanbod,” antwoord God en soek verder. Toe dink God aan die Jode, „n klein, onbelangrike volkie in die Midde-Ooste.

10


Weer eens vra Hy: “As ek julle God sou wees, en julle my uitverkore volk, sal daar iets by julle wees waarin Ek My kan verbly?” “O, God, ons is nie bekend vir ons kuns of ons bouwerk of ons militêre mag nie,” antwoord hulle. “Maar ons is‟n volk van storievertellers. Al wat ons kan aanbied, as U ons God en ons u spesiale volk sou wees, is dat ons u storie dwarsoor die wêreld sal vertel.” “Bod toegeslaan!” het God glimlaggend geantwoord. (Uit: Stories vir die lewe). Amen.

11


PreekFC17022013  

Dr Ferdie Clasen preek uit Handelinge 9:20-31 oor die tema: Geloofwaardige getuie

Advertisement
Read more
Read more
Similar to
Popular now
Just for you