Issuu on Google+

Skriflesing: Johannes2:13-22 Tygerpoort: 13 Maart 2011 Inleiding Partykeer weet ons mos wat die regte ding is om te doen, maar dan doen ons dit nie omdat iets anders ons aandag daarvan aftrek. Of omdat iets anders op daardie oomblik vir ons meer belangrik word. Kom ek gee ’n voorbeeld: soms weet jy mos net die regte ding om op hierdie Saterdagmiddag te doen, is om die gras te sny, of om die lig wat nou al hoe lank stukkend is, reg te maak, of om die swembad weer ’n slag ordentlik skoon te maak. En dan vind jy sommer so terloops uit van hierdie vreeslike belangrike Super 15 wedstryd wat gespeel word en voor jy jou kan kry, sit jy op die gemakstoel voor die televisie. Partykeer gebeur hierdie soort van goed ook op ‘n dieper, meer abstrakte vlak in ons lewens. Ek weet die regte ding is om iemand wat my te na gekom het te vergewe, maar my eie trots of my eie vooroordele staan gewoon in die pad daarvan en op so manier doen ek nie wat ek eintlik veronderstel is om te doen nie. Die dag by die tempel Ek het ’n idee dis min of meer wat gebeur het op die dag toe Jesusdie tempel besoek het. Die Jodehet baie goed geweet wat veronderstel was om in die tempel te gebeur. Dit was die plek waar God aanbid moes word. Dit was die plek waar alle aandag gefokus moes word op God se teenwoordigheid en sy heiligheid en sy liefde en sy eer. Maar met die tyd saam het daar goed begin gebeur wat gemaak het dat mense nie meer gedoen het wat daar veronderstel was om by die tempel gedoen te word nie. Hierdie verhaal vertel vir ons so tussen die lyne deur van ’n paar van hierdie goed. Wat het skeefgeloop? Die eerste ding het te doen met die offerdiere. Mense het gewoonlik tempel toe gekom om beeste of skape of duiwe te kom offer – in daardie tyd was dit die manier van aanbidding gewees. Maar baie mense het van ver af gekom en dit was nie altyd moontlik om die diere wat hulle wou kom offer, al die pad saam te bring nie. So het daar met die tyd saam die gebruik ontstaan dat mense op die tempelplein offerdiere begin verkoop het. Iemand wat van ver af kom, kon nou sommer ’n bees, of ’n skaap of ’n duif daar op die tempelplein koop ... maar natuurlik ... teen ’n prys! Want met die tyd saam is die storie selfs begin vertel dat die offerdiere wat jy by die tempel kon koop, dan nou kwansuis beter is as die wat jy van elders sou saambring, en daarom moes jy ook meer daarvoor betaal. Maar daar was ook iets anders wat vir Jesusbaie ontstel het. Op die tempelplein was daar ook geldwisselaars. Want sien, by die tempel kon jy net Joodsegeld gebruik. So, mense wat van ander landstreke gekom het, moes nou eers hulle geld omruil vir Joodse geld sodat hulle uiteindelik daarmee die offerdiere kan gaan koop. En natuurlik het hierdie geldwisselaars met die tyd saam begin om buitensporige wins uit hierdie ruiltransaksies te maak.


Die punt is met ander woorde duidelik: die gelowiges wat na Jerusalem toe gekom het om te aanbid, is blatant uitgebuit. Eers deur die geldwisselaars en dan nog daarna deur die verkopers ook. En om alles te kroon het al hierdie bedrywighede binne-in die tempelplein plaasgevind. Die tempelplein was die plek waar die nie-Jodekon aanbid. Maar nou was dit so ’n miernes van bedrywighede, dat daar nie eers meer plek was waar hierdie mense vir God kon aanbid nie. Een van die verklaarders van hierdie gedeelte skryf dat daar op die dag by die tempel plek was vir byna alles en almal, behalwe vir God .... miskien is hy reg. Daar was baie mense ... en baie diere .... en baie geld ... maar nie veel plek en tyd om vir God te aanbid nie. Jesus se optrede Dis mos te verstane dat Jesusontsteld sou wees. Dis mos te verstane dat Hy dit nie so kon los nie. Daar sou eenvoudig net iets gedoen moes word om weer van die tempel te maak wat dit veronderstel is om te wees. Daar sou eenvoudig net iets gedoen moes word om vir God weer sy regmatige plek in mense se lewens te gee. Daar sou eenvoudig net ontslae geraak moes word van dit wat in die pad staan tussen God en mense. Jesuskon mos nie anders as om hard en duidelik te sê: Vat hierdie goed hier weg nie! Hy het rede gehad om almal uit die tempel te verjaag en die tafels om te keer. Dit vra meer ... En tog weet ons dat om vir God weer sy regmatige plek in mense se lewens te gee; om weer mense se verhouding met God te herstel, ja tog weet ons dat dit meer sou vra as net gebreekte tafels .... Sommer in hierdie selfde verhaal word daar al gesinspeel op Jesusse dood en sy opstanding. As Jesussê: “Breek hierdie tempel af en in drie dae sal Ek hom oprig”, dan praat Hy van Homself. God se teenwoordigheid hoef nou nie meer in geboue gesoek te word nie .... Hy is die Een wat God teenwoordig maak. Maar Hy het ook goed geweet dat om mense se verhouding met God te herstel, ’n prys sou vra. ’n Prys waarvan die gebreekte tafels die dag in die tempel maar net die voorspel sou wees. Uiteindelik sou daar ’n liggaam gebreek moes word. In die ander evangelies word hierdie verhaal inderdaad vertel asof dit aan die einde van Jesusse bediening plaasgevind het ... op die vooraand van sy kruisiging. Trouens, hierdie gebeurtenis was een van die dinge wat aanleiding daartoe gegeehet dat die Jodeaangedring het op sy kruisiging. As dit met ander woorde in hierdie verhaal daaroor gaan dat die tempeldiens weer herstel moet word, of beter gesê, dat mense se verhouding met God weer gesond moet word en ons lees aan die ander kant dat hierdie verhaal afspeel op die vooraand van Jesusse kruisiging, dan lyk dit vir my ons sou kon sê ‘n gesonde verhouding met God is net moontlik deur selfprysgawe en selfopoffering. Dis net moontlik wanneer ander se belange meer gewig dra as jou eie. Daarin het Jesusmos vir ons die voorbeeld kom stel.


En daarom kan ons Hom op geen ander manier volg nie. In die kwartaal wat verby is, het ons probeer om opnuut “ja” te sê vir God. Miskien is dit nie toevallig dat die einde van hierdie kwartaal ook die begin van lydenstyd is nie. Want om “ja” te sê vir God, om in ’n gesonde verhouding met God te staan, is om jou eie belange prys te gee, om minder te word sodat ander meer kan word.

Lydenstyd Dis tog waaroor lydenstyd gaan. In die weke wat voorlê moet ons opnuut bewus word van ons eie broosheid en ons eie nietigheid en ons eie verganklikheid. En het die gebeure in Japan die afgelope twee dae ons nie weer intens bewus gemaak van ons eie verganklikheid en ons eie nietigheid nie. Maar lydenstyd moet ons ook help om opnuut bewus te raak van die goed in ons lewens wat ons verhoed om in ’n gesonde verhouding met God te staan. Die goed wat maak dat God nie die eer kry wat Hom toekom nie. Dis om hierdie rede dat baie christene al vir eeue lank hierdie veertig dae van lydenstyd ook gebruik as ’n vastyd. In ons eie kerklike tradisie speel vas nou nie so ’n belangrike rol nie, maar sal dit nie dalk tog iets beteken as ons in hierdie tyd wat voorlê, tot en met Paassondag, iets prysgee nie. Ons kantoorpersoneel het besluit dat ons hierdie lydenstyd nie suiker gaan gebruik nie. Miskien wil jy iets anders so bietjie eenkant toe skuif ... televisiekyk of vleis eet of gholfspeel of wat ookal vir jou lekker is. Die idee van so stukkie vas is mos nou maar net dat dit ’n simbool word, dat dit ons daaraan herinner dat ’n goeie en ’n gesonde verhouding met God ook iets van ons vra. Ja,dat dit uiteindelik van ons vra om ons eie belange en voorkeure en selfsug prys te gee sodat ander mense belangriker kan word as onssself. Dis die pad waarop Christus ons uitnooi om Hom te volg. So word die tempeldiens weer herstel. So tree ons weer in ’n gesonde verhouding met God. Wanneer nie net tempeltafels nie, maar uiteindelik ons eie selfsug en eiebelang gebreek word .... sodat God die eer kan kry. Amen.


PreekFC13032011