Issuu on Google+

Skriflesing: Jona 3:10-4:11 Tygerpoort: 10 Maart 2013 Inleiding Die God van Jona is ’n God van liefde. Grenslose liefde! Jona het hierdie God van liefde vir homself opgeëis. En vir sy volk. Hy het immers, volgens 2 Kon 14, bekend gestaan as ’n nasionalistiese profeet; ‘n profeet vir wie sy eie volk so belangrik was dat dit selfs God se liefde wou verdring. Aan hierdie nasionalistiese profeet gee God nou ’n opdrag. Hy moes God se liefde gaan verkondig. Aan die goddelose mense van Nineve. Aan sy volk se grootste vyande! En toe Jona uiteindelik onder protes en met bedekte motiewe tog God se boodskap gaan verkondig, toe kry die mense van Nineve berou oor al hulle verkeerde dade. En dis al wat God wou hê. 1


Want die God van liefde is ook die God van redding. Hy wil hê mense se harte en gesindhede moet verander. Hy wil mense liefhê en hulle genadig wees. Grensloos! Jona is kwaad En toe die mense van Nineve hulle bekeer, so lees ons 3:10, toe het God van plan verander. Toe het God afgesien van die ramp wat Hy oor hulle wou bring. Nineve is gered! Die stad van haat is oorrompel deur God se liefde. Ja, die God van Jona is toe al die tyd ’n God van genade. Sy genade bedek toe selfs ’n liefdelose, goddelose stad. Sy genade ken toe inderdaad geen grense nie. Nineve is gered! En Jona? Wat nou van God se profeet? Jona, so lees ons, is ontevrede en baie kwaad. So maklik gaan hy darem nie sy eie teologie prysgee nie. 2


So maklik gaan hy darem nie sy verstaan van God verander nie. As God miskien dink dat sy genade grensloos is, dan het hy wat Jona is, anders besluit. Hy het besluit dat God se genade wel grense het. En diĂŠ grense loop saam met die grense van sy volk. Die God van Jona is Jona se God; en Hy is die God van sy volk. Daarom konfronteer Jona vir God. Ek het dit geweet, sĂŞ hy. Ek het geweet dat u genade die grense van my oortuiginge gaan deurbreek. Ek het geweet dat U genadig en barmhartig en lankmoedig en vol liefde is. Daarom het ek in hoofstuk 1 al besluit om liewer van U af weg te vlug. Ek het geweet dat U maklik van die straf afsien. Ek het geweet die evangelie gaan eenvoudig net oor berou .. en glo ... en hoop ... en liefde.

3


Ek het geweet dit gaan nie in die eerste plek oor my eie belange en my eie behoeftes en my eie oortuiginge nie. Ek het geweet dat my eie uitgewerkte, deurdagte teologie op die spel gaan kom ter wille van God se grenslose genade. Ek het geweet dat U van my gaan verwag om u liefde met ander te deel. En weer ’n keer besluit Jona dat hy nie langer met hierdie liefdevolle God kan saamleef nie. Prontuit en selfversekerd sê hy: dis vir my beter om te sterwe as om te lewe. Dit laat mens nogal dink aan die keer toe Paulus gesê het dat die sterwe vir hom wins is. Maar Paulus het dit gesê omdat hy deur die poort van die dood by God wou uitkom. Jona wil sterf omdat hy ’n ontsnappingsroete soek. ’n Roete weg van God af. Weg van die God van genade af. Daarom probeer hy vir oulaas wegkom. 4


Hy loop uit die stad uit. ’n Ent buite die stad gaan bou hy vir hom ’n skerm om onder te sit. Van hier af hou hy die stad dop. Miskien ... wie weet ... miskien. Toe hy ’n vorige keer wou sterf, het God hom met ’n vis kom haal. Miskien gaan God hom weer red. En .. wie weet .... miskien gaan Nineve tog nog onder. Miskien sal God hierdie keer berou kry en Nineve verwoes. Miskien sal God tog weer ingryp. God se doel En dan gryp God inderdaad weer in. Want God het ’n plan met Jona. God wil hê Jona moet anders oor Hom begin dink. Jona moet begin verstaan dat Hy God nie vir homself kan opeis nie, maar dat hy Hom met ander moet deel; selfs met sy vyande!

5


Die vorige keer het God ingegryp met ’n sterk wind en ’n groot storm en ’n groot vis. Hierdie keer is dit met ’n ou klein plantjie. Dit was só klein dat dit in die Hebreuuse taal met ’n dubbele verkleiningsvorm aangedui word; amper iets soos plantjietjie. Langs Jona het daar ’n plantjietjie opgekom. Maar vir Jona maak dit nie saak nie; vir Jona is dit genoeg rede om baie bly te word. Oor God se liefde vir ’n groot stad met baie inwoners, was Jona baie kwaad. Maar oor ’n klein plantjie wat vir hóm beskerming kan bied, is hy baie bly. In die skadu van hierdie plantjie soek hy nou skuiling net soos wat hy al die jare skuiling gesoek het agter sy teologie en sy verstaan van God. Sy teologie wat gemaak het dat hy gerieflikheidshalwe sy opdrag kon ontduik. Sy teologie wat vir God se genade grense getrek het. 6


En hier, in die skaduwee van die komkommerplant vlam Jona se hoop weer op. Vir hom is dit die teken dat God hom weer kom red het. Dan was hy tog al die tyd reg gewees. Nineve se dae ís getel. Wanneer die son more breek, dan is dit verby met Nineve. En .... toe die dag breek .... toe stuur God ’n wurm om die plantjietjie op te vreet. En toe die son opkom, toe stuur God ’n sterk wind uit die ooste. Die vorige keer het God ’n groot vis gestuur om vir Jona weer by sy opdrag uit te kry. Hierdie keer stuur God ’n wurm en ’n sterk wind om vir Jona weg te kry van sy valse oortuiginge af. Miskien, wie weet, miskien is Jona bereid om dié keer te erken dat hy God al die jare verkeerd verstaan het. Miskien verander Jona se selftrots hierdie keer in hoop; soos wat die koning van Nineve se haat verander het in hoop. Maar ... Jona kies die dood eerder as die hoop. 7


Voordat hy die grense van God se genade verskuif, steek hy eerder die grens van die lewe oor. Dit is vir hom beter om binne sy eie grense te sterf, as om binne God se grenslose genade te lewe. En dan eindig die verhaal met ’n vraag wat in die lug bly hang. Want sien, dis ’n vraag wat ook ek en jy moet beantwoord. ’n Vraag wat te doen het met grense en grensverskuiwings. Jona moet kies: of hy sterf binne die grense wat bepaal word deur die koelte van sy komkommerplant; binne die grense van sy eie valse en beperkte oortuiginge van God, binne die grense van sy eie selfbelang. Of hy moet leef binne die grense van God se genade. God se genade wat eenvoudig groter is as wat Jona al die jare vermoed het. God se genade wat in Christus alle grense oorskry het. God se genade wat selfs vir heidense konings en vir hoere en vir tollenaars ’n kans gee. Wie weet ... miskien. 8


Slot Miskien sal die koning van Nineve voor Jona by die poorte van die hemel ingaan. Miskien sal daar tollenaars en hoere wees wat voor baie kerkmense die hemel ingaan. Dit hang alles af van hoe Jona uiteindelik die vraag beantwoord het. Dit hang alles af van waar ek en jy die grense trek. En of ons grense trek. Want in Christus het die grense verval. Daarom kan ons almal saam die hemel ingaan: ek en jy en Jona en die koning van Nineve en die hoere en die tollenaars en elkeen wat bereid is om sy eie oortuiginge prys te gee; sy kruis op te neem en agter Jesus aan te loop. Die vraag waarmee die boek afgesluit word, is vandag nog geldig. Wat Jona se antwoord was, weet niemand nie. Jona weet. En God weet. 9


Wat jou en my antwoord is, weet niemand nie. Ons weet. En God weet. Want ten diepste gaan dit in hierdie verhaal om ’n saak van die gewete. ’n Saak tussen jou en God. ’n Saak van liefde. Selfliefde of naasteliefde. ’n Saak van grense. Grense van selfliefde en eiebelang. Of grenslose Godsliefde. Uiteindelik het die vraag wat in die lug bly hang nie net te doen met of ons God se genade en sy liefde met ander deel nie, maar of ons bereid is om vir God met ander te deel. Gelukkig het God ons met hierdie saak nie in die duister gelos nie. Hy het vir ons ’n storie gegee om ons te help. Die storie van Jona! Amen. 10


11


PreekFC10032013