Page 1

Skriflesing: Eksodus 20: 12 Tygerpoort: 8 Mei 2011 Inleiding Die vyfde gebod is ook die eerste gebod op die tweede tafel van die wet. Die eerste vier gebooie – die eerste tafel - handel mos hoofsaaklik oor ons verhouding met God. En die laaste sesgebooie – die tweede tafel - het te doen met mense se optrede teenoor mekaar. Miskien is dit nie om dowe neute dat hierdie eerste van die laaste sesgebooie in gesinstaal geskryf is nie. Want sien, dit wat in gesinne gebeur, vorm mos op ’n manier die basis van die hele samelewing. As dinge daar skeefloop, is die kanse goed dat die res van die samelewing ook gaan sukkel. As ek nie van kleins af leer om my ouers te eer nie, sal ek sukkel om eerbied en respek te hê vir mense wat in ander samelewingsverbande ’n bepaalde verantwoordelikheid teenoor my het. As die vyfde gebod oortree word, volg die oortreding van die ander gebooie op die tweede tafel byna vanself: moord, egbreuk, diefstal, vals getuienis, verkeerde begeertes .... Maar kom ons sê dit meer positief: as dinge in gesinne regloop, dan is die kanse goed dat die res van die samelewing ook gesond funksioneer. As ouers en kinders met eerbied en respek teenoor mekaar optree, dan is dit gewoonlik ook makliker om eerbied en respek te hê vir ander mense wat ’n verantwoordelikheid teenoor my het en teenoor wie ek ’n verantwoordelikheid het. Kortom: As die vyfde gebod uitgeleef word, dan is die kanse goed dat die ander gebooie op die tweede kliptafel ook tot hulle reg sal kom. Gebooie van genade Gesinne en families bly dus die heel belangrikste plek en ruimte waarbinne ons iets van God se genade kan ervaar. Want dis mos maar eintlik waaroor die Tien Gebooie gaan. Dit gaan nie in die eerste plek oor ’n streng wet wat nagekom moet word nie, maar oor God se genade wat op verskillende terreine van die lewe deur mense ervaar moet word. Eksodus 20 is trouens so saamgestel dat God se genade voorop staan ... letterlik! Ek hoop dat jy goed opgelet het wat in die eerste vers van Eksodus 20 staan. En ek hoop dat jy al goed nagedink het waarom die vers aan die begin van die tien gebooie staan, en nie aan die einde nie. As dit aan die einde gestaan het, dan het die Bybel aan ons ’n wettiese godsdiens voorgehou. Dan was die boodskap min of meer dit: sorg dat julle al hierdie gebooie nakom, en dan sal ek julle daarna uit Egipte bevry. As dit so was, dan het Israel se bevryding afgehang van die mate waartoe hulle die wet kon onderhou. Maar nee: Eksodus 20 begin met die volgende woorde: Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het. En dan word die gebooie aangekondig. Met ander woorde, nog voordat God sy gebooie aankondig, sê Hy dat Hy Israel klaar vrygemaak het ... nie omdat hulle die gebooie nagekom het nie (want toe was die gebooie


nog nie eers daar nie), maar sommer net omdat Hy hulle liefgehad het .... uit genade het God hulle bevry. Daarom moet hulle nou die wet nakom, nie om vir God daarmee te beïndruk nie, maar om dankie te sê vir dit wat God reeds vir hulle gedoen het. Dis wat genade beteken ... dat God ons vrymaak sonder dat ons dit verdien. Elke keer wanneer ons God se wet hoor en elke keer wanneer ons probeer om dit te onderhou, moet dit ons as’t ware herinner aan God se liefde en aan sy genade. Ruimtes van genade En nou sê die tweede kliptafel vir ons dat gesinne en families die eerste en die belangrikste plek of ruimte is waarbinne ons iets van hierdie genade kan ervaar. Gesinslede kan mekaar help om God se genade as’t ware konkreet te maak. Die manier waarop ouers en kinders en broers en susters teenoor mekaar optree, kan ons help om elke dag iets van God se liefde en genade en iets van sy nabyheid te beleef. Daarom het hierdie gebod uiteindelik met baie meer te doen as maar net ouers wat bevele gee en kinders wat gehoorsaam is. Die vyfde gebod strek veel dieper .... tot daar waar ons gedrag en ons houdings teenoor mekaar ons aan God self herinner. Versorging Kom ons raak prakties ... ek het aan drie goed gedink wat in gesinne behoort te gebeur en wat ons kan help om iets van God se genade te ervaar. Natuurlik is daar baie meer, maar kom ons kyk vanoggend net na die drie goed. Gesonde gesinne versorg mekaar. En daarmee bedoel ek nie net fisiese en materiële versorging nie, natuurlik dit ook. Maar versorging gaan oor baie meer. Gesinslede versorg mekaar deur vir mekaar om te gee, deur mekaar menswaardig te behandel, deur mekaar te respekteer, deur mekaar onvoorwaardelik lief te hê, deur mekaar te beskerm, deur mekaar se eiesoortige behoeftes in ag te neem. En as dit gebeur, as ons in ons gesinne ’n stuk sorg en ’n stuk versorging ervaar, dan help dit ons om ook te onthou en te ervaar dat God vir ons sorg. Op so manier word ons gesinne ’n plek, ’n ruimte wat ons help om iets van God se versorgende genade te ervaar. Die genade waarvan Eksodus 20:1 praat. Die genade wat sê dat God ’n klompie slawe in ’n vreemde land onder sy sorg geneem het. Die genade wat sê dat God tot vandag toe steeds sy volk versorg. Ons het mos ’n pragtige lied wat daarvan vertel: O God van Jakob, deur u hand word steeds u volk gevoed. Vertroue Gesins- en familielede versorg nie net mekaar nie, hulle vertrou ook mekaar. Dis mos die plek waar kinders van kleins af sommer uit ’n boom uit in pa of ma se arms kan spring met die wete en die vertroue dat hulle gevang sal word. Gesinne is mos die ruimte van waaruit ouers uiteindelik hulle kinders die wêreld kan instuur met die vertroue dat hulle sal gaan leef volgens die waardes wat in die gesin vasgelê is. As ons in gesinne leer om mekaar te vertrou, dan help dit ons om ook ander mense te vertrou.


Maar meer nog: dan help dit ons om ook in ons verhouding met God ’n stuk vertroue te ervaar. Wie die vyfde gebod uitleef, sal met die tyd saam ook leer om op God te vertrou. En: wie die vyfde gebod uitleef, sal algaande ervaar dat God ook sy kinders vertrou. Die vertroue waarvan Eksodus 20:1 praat en wat sê dat God sy kinders onvoorwaardelik bevry omdat Hy vertrou dat hulle sy genade ernstig sal neem. Geduld Gesins- en familielede versorg en vertrou nie net mekaar nie ... hulle het ook geduld met mekaar. Omdat hulle mekaar onvoorwaardelik aanvaar, weet hulle ook van mekaar se swakhede en tekortkomings. En omdat hulle mekaar onvoorwaardelik liefhet, is hulle bereid om geduldig met die swakhede saam te leef. As ons in ons gesinne leer om geduld met mekaar te hê, dan help dit ons om ook geduldig met ander mense te wees. Maar meer nog: dan help dit ons om ook die geduld wat God met ons het, te waardeer. Die geduld waarvan Eksodus 20:1 praat. Want ja, nadat God sy volk uit Egipte bevry het, sou hulle dikwels opstandig raak en telkens maar weer sukkel om sy gebooie na te kom. Maar Hy sou geduldig, keer op keer, weer van voor af die pad saam met hulle begin stap. Slot Daar is geen beter plek om iets van God se genade konkreet te leer ken, as in ’n gesin nie. Daar is geen beter ruimte om sorg, en vertroue, en geduld aan te leer, as daar waar ouers en kinders en broers en susters saamleef nie. Dalk help die volgende video-insetsel ons om iets daarvan te verstaan. Dis ’n gesprek tussen ’n seun en sy pa wat ouer word en begin sukkel om te onthou ....


PreekFC08052011  

Skriflesing: Eksodus 20: 12 Tygerpoort: 8 Mei 2011

Read more
Read more
Similar to
Popular now
Just for you