Issuu on Google+

1

Sondag 18 November 2012 20-12-2012 2 Pet. 3:1-15 Miskien is dit met jou ook so:  Jy weet presies wanneer jy op vakansie gaan – maar die laaste week hardloop jy rondom alles gedoen te kry. Ons is mos geneig om altyd uit te stel en word dan onverhoeds betrap.  Sê nou ons aanvaar dat 20-12-2012 die laaste dag sal wees, wat sou jy vandag anders doen? Sou jy dadelik vir iemand verskoning gaan vra? Sou jy nou iemand vergewe en vryspreek? Sou jy breek met een of ander sonde wat jou bind in jou lewe? Sou jy vir iemand wou sê jy is lief vir hom/haar? Den dit in elke geval nou! Deur die eeue het mense gepraat oor die wederkoms van Jesus. In tye van swaarkry sien mense meer uit daarna dat Jesus weer moet kom as in tye van voorspoed. Ons moet altyd onthou dat soos met die eerste dinge (die skepping), ons die laaste dinge (wederkoms) ook nie direk kan ervaar. Wetenskaplike spandeer miljoene rande om die eerste oomblik nadat alles begin het, na te vors. Wat nog van die einde van alles! Wanneer Jesus oor die toekoms gepraat het, het Hy gelykenisse (stories) vertel. Die gelykenis van die vyf verstandige en vyf onverstandige meisies is ’n pragtige voorbeeld hiervan (Matt. 25:113). Die Bybelskrywers het die taal en beelde van hulle eie tyd gebruik om prentjies van die toekoms te teken. Daarom praat Petrus anders oor Jesus se terugkoms as Johannes in Openbaring. Wat die Bybel duidelik vir ons sê is dat net soos daar nie aan die begin nie niks was nie, daar aan die einde ook nie niks sal wees nie – God sal


2

daar wees! Hy is die Eerste en Laaste, die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. Wat ons oor die toekoms sê is ten diepste ’n geloofsbelydenis in dié God wat ewig en betroubaar is. Hierdie belydenis is nie ’n vae verwagting nie, maar ’n vaste sekerheid van ons toekoms saam met God. Hebreërs 11:1 sê: “Om te glo is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie”. Omdat dit vir baie mense nie genoeg is om te glo nie, maak geloof plek vir bygeloof. Die nuuskierigheid van mense het nog altyd aanleiding gegee tot baie spekulasie en fantasieë. Vandaar ook die jongste ophef oor die voorspellings rondom die magiese datum: 2012-2012. Dit is die laaste dag op die Maja-kalender. Die Majas was in hoogs ontwikkelde Indiaanse stam, wat teen ongeveer 900 n.C. uitgesterf het. Vir die sensasie-soekers is die liggelowigheid van mense ’n manier om geld te maak. Hollywood het reeds ’n film gemaak met die titel 2012. So lank terug as die 5e eeu het biskop Hesychius in brief aan sy kollega Augustinus geskryf en gesê dat hy dink dat Christus binnekort weer gaan kom. Almal kan tog die tekens van die tye sien soos wat Christus dit voorspel het:  Jerusalem het reeds geval en die tempel is verwoes (70 n.C.).  Die groot oorlog het plaasgevind en in 410 het die “ewige Romeinse Ryk” tot ’n val gekom en Rome is verwoes.  Mense het geweldige tekens in die hemel, soos die sonverduistering van 418, gesien.  Die Evangelie is reeds in die hele wêreld verkondig. Augustinus skryf terug aan sy kollega en sê:


3

 Jy kan die wederkoms van Christus te gou verwag en in tussentyd niksdoen nie.  Jy kan die wederkoms te laat verwag en onverwags daardeur oorval word. So ver as ons in die Bybel teruggaan, lees ons dat die Jode geglo het dat God vir hulle ’n besondere doel het. Daarom het hulle geleef uit die beloftes van God aan Abraham dat Hy hulle ’n groot nasie sal maak en aan hulle ’n eie land sal gee. Dit het nooit gelyk of die storie werklik op dreef gekom het nie. Hulle het mekaar bemoedig met die verhale van die verlossing uit Egipte en die koningskap van Dawid. Van tyd tot tyd het daar leiers na vore gekom wat die droom waar wou maak. Daarom was daar groot verwagtings van Jesus as Messias/Gesalfde toe Hy op die toneel verskyn het. Veral toe Hy nog gesê het dat met sy koms die koninkryk van God aangebreek het (Mrk. 1:14). Dit het soos musiek in hulle ore geklink. Sy volgelinge het vas geglo dat Hy hulle van die Romeinse oorheersing sou verlos. Maar toe sterf Hy aan die kruis met die spottende opskrif: “Die Koning van die Jode”. Die ontnugterde en teleurgestelde dissipels het na sy dood, opstanding en hemelvaart geglo dat Hy weer gou terug sou kom om aan hulle reg te laat geskied en hulle verdrukkers te straf. Die eerste geslag Christene het verwag dat Jesus nog in hulle eie leeftyd sou terugkom (Matt. 10:23; 24:34; Mrk. 9:1; 13:30; 1 Tess. 4:15). Toe dit nie gebeur nie, het mense begin vrae vra: Die tweede en derde geslag mense het spottend gesê: ”En wat het nou geword van die belofte van sy wederkoms? Ons vaders is al dood en tog bly alles net soos dit was van die begin van die skepping af?” (vs. 4).


4

Petrus het sy tweede brief geskryf om ’n antwoord op hierdie vraag te gee en om vir die Christene hoop te bring. Petrus gebruik vier argumente om aan sy lesers leiding te gee. 1) Hulle moenie moedeloos word nie: God is besig in die wêreld. Dit is nie so dat alles van die begin af dieselfde is nie. Die wêreld het al in die tyd van Noag vergaan (vs. 5-7; vgl. Gen. 6:5-9:7). Dit wat hulle nou ervaar is tydelik, die wêreld en alles het nie en sal nie dieselfde bly nie. Die grootste verandering was reeds dat God homself in Christus op ’n spesiale manier kom bekendmaak het. Hy is Immanuel, God by ons (Matt.1:23). Met sy hemelvaart het Hy gesê: “Ek is met julle al die dae tot die voleinding van die wêreld” (Matt. 28:20). Die eintlike woord wat in die Bybel vir wederkoms gebruik word, is parousie, wat beteken: Dit gaan om God se teenwoordigheid by ons. In die sin het die wederkoms reeds met Christus se koms aangebreek en leef ons reeds in die laaste dae! Dit is bevestig deur die uitstorting van die Heilige Gees (Hand. 2). Die “tekens van die tye” was duidelik in die vorm van ’n geweldige rukwind en tonge van vuur as tekens van God se teenwoordigheid deur sy Gees wat uitgestort is. En, ek en jy as deel van die kerk as die liggaam is geroep om God nou in die wêreld sigbaar te maak. Waar ons God se liefde met die ander mense deel, vind die parousie plaas: God se teenwoordigheid word hier-en-nou ervaar. In die “tekens van die tye” gaan dit nie om ’n voorspelling oor die toekoms nie, maar om ’n voortdurende ontvouing van God se teenwoordigheid nou reeds - totdat dit eendag ten volle sal realiseer wanneer Christus “alles in almal sal wees” (Open. 21).


5

2) God kan nie vasgevang word in ons verstaan en ervaring van tyd nie. Hy is God en Hy is ewig. Sy siening van tyd is anders as ons siening van tyd. Vir Hom is duisend jaar soos een dag en een dag soos ’n duisend jaar (vs.8). Dit het Petrus beter verstaan as baie slim mense vandag, want hy het Ps. 90:4 geken. Daarom is enige berekening van die dag en die uur van Christus se wederkoms onmoontlik en ’n mors van tyd. 3) Daar is ’n diepere betekenis van God se uitstel. Dit is deel van Sy genade. Hy wil nog meer mense die geleentheid gee om gered te word (vs. 9,15). Die feit dat Hy geduldig is, is nie ’n teken van die Here se magteloosheid nie, maar ’n teken van krag. So skep Hy die geleentheid dat die evangelie uitgedra kan word en mense tot geloof kan kom. Die belangrikste roeping van die kerk is om God in die wêreld teenwoordig te maak, sodat elkeen nou reeds iets van sy nuwe koninkryk kan ervaar. 4) Tog is dit ook duidelik: Die dag van die Here sal onverwags wees soos ’n dief in die nag (vs. 10). Mense wat hoop vir die toekoms verloor het, leef net vir die oomblik. Hulle gee hulle oor aan sedeloosheid en sonde. Daarom moet ons, wat uitsien na Jesus se koms, “vroom en aan God toegewy lewe”. Ons moet só leef dat ons elke oomblik gereed sal wees om die Here te ontmoet. Wie nie voorbereid is nie, sal onverhoeds deur dié dag oorval word. Omdat ons nie weet wanneer die Here weer kom nie, moet ons elke oomblik gereed wees. Daarom, terwyl ons in die verwagting leef dat Jesus weer sal kom, moet ons waak terwyl ons werk, en werk terwyl ons waak. Die uitgestelde koms van Jesus is nie ’n tyd vir spekulasie oor allerhande vrae nie, die


6

wagtyd is waaktyd en die waaktyd is werktyd, omdat ons glo dat Jesus weer kom!


Preek 18 November 2012