Page 1

1

Nagmaal Sondag 10 Februarie 2013 Versoening 2 Kor. 5:14-19 2 Kor17”

Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is

verby, die nuwe het gekom. 18Dit alles is die werk van God. Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou. 19Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie. Die boodskap van versoening het Hy aan ons toevertrou”. Miskien sou ons ons verhouding met God en ons lewe as Christene kon vergelyk met ons hand: Die handpalm en die vyf vingers. Die handpalm verbind die hand met die res van die liggaam en die vyf vingers maak dit moontlik dat die hand sy spesifieke funksies kan vervul. Dan sou ons kon sê (by wyse van vergelyking) dat die handpalm die geloof en die liefde is waarmee ons as deel van die liggaam van Christus, aan Hom verbind is. Hy het hom by my doop aan my verbind - én ek het een of ander tyd in my lewe in die geloof daarop geantwoord. Nou is die vraag: Hoe leef ek as nuwe mens? Ons kan dit vergelyk met die vyf vingers wat almal ook met ’n v begin: Verteenwoordiger, vervreemding, versoening, vergifnis, vreugde. Verteenwoordiger. By ons mannebybelstudie is ons van die begin die jaar besig met Genesis. Ons word meer en meer bewus daarvan dat as jy nie


2

Genesis 1-11 verstaan nie, jy ook nie die res van die Bybelse Boodskap gaan verstaan nie. In Gen. 1:27 lees ons dat “God die mens geskep het as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep”. Vanmôre is dit belangrik om te onthou: As verteenwoordiger van God is jy soos die duim van die hand. Die ander vingers kan eintlik nie hulle hul funksie vervul as daar nie ’n duim is nie. In alles wat ons doen, moet ons bewus wees daarvan dat ons daar is om God te verteenwoordig. Ons moet as nuwe mens nie in die eerste plek ter wille van onsself optree nie – wanneer ons bestuur, in die bank, by die grenspos, in die munisipale kantoor en aan die etenstafel. Dit is nogal as skrikwekkende gedagte! As man of vrou in my huwelik, as ma en pa wat my kinders moet opvoed soos ek beloof het, as oupa en ouma moet my klein kinders iets van God in my kan sien, as werkgewer en werknemer, as skolier by die skool en as student op universiteit moet ons as beeld van God Hom in alles verteenwoordig. Die enigste manier waarop sekere mense iets van God kan leer ken is in my en jou woorde en optrede. Vervreemding Terwyl ek so praat het jy sekerlik (soos ek) ongemaklik begin voel omdat ons weet dat die ideaal nie die werklikheid is nie. Ons is nie wat God ons bedoel het dat ons moet wees nie. Ons is van God en mekaar vervreem. As kinders van Adam en Eva vertoon ons eerder die karakter van die ou mens. Ons is op onsself en ons eie belange afgestem. Daarom haal Paulus Ps. 14 aan wat sê: “Almal het afgedwaal, almal het ontaard. Daar is nie een wat goed doen nie,


3

selfs nie een nie.” Dalk kan jy dit ook nou beaam: “Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek. Ek, ellendig mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here” (Rom. 3:19, 24-5). Die sonde vervreem ons van God en van mekaar en van die wêreld waarin ons lewe. Daar is slegte dinge wat in ons lewe gebeur wat ons laat twyfel of God regtig vir ons omgee; ons doen verkeerde dinge en verkies om eerder van God weg te vlug. In ons huwelik en gesinne raak ons van mekaar vervreemd omdat ons ongelooflik selfsugtig is. Ek word kwaad en as ek nie sin kry nie, vat ek my goed en ek loop. Dit is hartseer dat statistiek wys dat dat dit egskeidings nie beduidend minder is tussen mense wie sê dat hulle Christene is. Verstaan ons dan werklik iets van die Christelike boodskap van versoening? In ons land is daar soveel dinge wat ons uitmekaar dryf, wat mense van mekaar vervreemd. Dit bevestig ons slegte en verkeerde persepsies teenoor ander mense. Hoewel ons dankbaar is as sport ons nader aan mekaar bring en as ’n wêreldberoemde orkes kom om deur hulle musiek te probeer om grense oor te steek, maar dit is nog nie werklike versoening nie. Versoening Die Bybelse boodskap van versoening is dat versoening nie goedkoop is nie. Dit vra ’n prys – ’n duur prys! Die prys word in die Bybel word gesien in die praktyk van die offer. Die offer is vir ons iets vreemd. Ons kan nie verstaan dat iets of iemand geoffer word nie. In die Bybelse tyd was die offer ’n algemene praktyk. Die offer


4

het veral twee betekenisse gehad: Jy het geoffer om jou afhanklikheid van ’n godheid te bely en so jou respek te betoon. En tweedens het jy geoffer om versoening te doen vir jou skuld uit vrees vir straf. En wanneer jy dan die offer bring, moet jy die beste gee wat jy het. En binne hulle (patriargale) kultuur waar die voorbestaan van die familie die belangrikste was, was die oudste seun as die draer van die lewe die kosbaarste. Daarom was dit ’n algemene praktyk onder die Kanaäniete om hulle oudste seun aan Baäl as die god van die vrugbaarheid te offer. Dit het dikwels ook in Israel gebeur. Die opdrag aan Abraham om vir Isak te gaan offer as ’n brandoffer, moet in hierdie lig gesien word. Maar dan gebeur dit dat ’n lam (skaapram) gegee is om in die plek van Isak geoffer te word. Daarom kan die Nuwe Testament sê dat God sy Seun, sy eersgebore gegee het as offer vir ons sondes. Vir hom was daar nie ’n plaasvervanger nie. Hy het gesterf in ons plek, sodat ons deur Hom die lewe kan hê. Hy het die versoening vir ons gebring en hierdie boodskap van versoening is aan ons toe te vertrou. Hoe wonderlik om te weet, om vir iemand te sê: “Jy hoef nie jou oudste seun te offer nie. Iemand het jou so liefgehad dat Hy sy Seun gegee het om vir jou en my sonde te sterwe!” Vergifnis Vergifnis is daarom ook nie goedkoop nie. Wanneer jou vrou die kar afgeskryf het, vergewe jy haar maar jy bring die offer, jy betaal die skade; as jou kind die onverskillig is en seerkry, vergewe jy hom/haar, maar jy betaal vir die behandeling; as daar ontrou in die


5

huwelik was, kan jy hom/haar vergewe, maar jy bring die offer om die stukkende verhouding weer te laat werk. God het deur die offer van Christus aan die kruis vir ons versoening gedoen. Hy het die volle losprys betaal. Hy het aan God se geregtigheid voldoen. Daarvan is die nagmaal vanmôre die bewys! Wanneer ons dan in geloof deel kry aan die werklike betekenis van die nagmaal, word ons ook opgeroep om uit dankbaarheid vir die Here te gaan lewe. “Die boodskap van die versoening het Hy aan ons toevertrou” (vs. 19). Vreugde As ons vir mekaar sê: “Raak deel van die beweging”, bedoel ons ten diepste daarmee: “Raak deel van God se liefdesbeweging na die wêreld deur versoening te bring waar daar vervreemding is; liefde waar daar haat is; vergifnis waar daar wraak is”. Dit is nie maklik nie. Inteendeel in eie krag is dit menslik onmoontlik. Dit vra iets van ons. Ons land en ons omstandighede; ons huwelike en ons gesinne; die wêreld smag na hierdie boodskap wat ’n verskil kan maak om ons lewe en ons omstandighede te verander. Dit is voorreg om hierdie boodskap te mag deel met ander mense. Ons gaan die vreugde daarvan smaak as ons die boodskap uitdra en iets daarvan word waar in mense se lewens! Maar, glo ons regtig in hierdie boodskap van versoening – omdat dit ’n verskil in ons eie lewe gemaak het?

Preek DD 10 Februarie 2013  

Dr Danie Dreyer preek uit Handelinge 9:1-19 met VERSOENING as tema.

Read more
Read more
Similar to
Popular now
Just for you