Page 1

1

Sondag 4 Maart 1 Tim 4:6-13 Geloofsvennote – Mentorskap “Bestee jou tyd en energie daaraan om jouself te oefen tot geestelike fiksheid. Liggaamlike oefening het wel waarde, maar geestelike oefening is baie belangriker, want dit hou belofte in van beloning. Sowel in hierdie lewe as in die volgende.” (1 Tim 4:7-8). Soms kry ’n mens die gevoel dat daar te veel leuenstoel- christene in die kerk is:  Hulle wil getrakteer word op net die beste. Hulle is geestelike oorvoed, maar hulle kom nie in beweging om iets te doen, om opstaan en in die Naam van Jesus ’n verskil te maak nie.  Hulle is baie gou om soos leuenstoel-sportmanne voor die TVkommentaar te lewer – hulle weet beter as die afrigter, die spelers en die skeidsregter. Maar hulle is nie deel van die spel nie.  Miskien sou Paulus se raad aan Timoteus ook hier van toepassing wees: “Moenie jou tyd verkwis met redenasies oor goddelose idees en ouvroustories nie” (vs 6) Daar is baie beter dinge om te doen. “Bestee jou tyd en energie daaraan om jouself te oefen tot geestelike fiksheid.” (vs 7). Of in die taal van die gesprek waarmee ons besig is: Gebruik jou tyd en krag om die geloofsgewoontes of geestelike dissiplines in die oefen!  Soos met enige oefenprogram kan jy van ’n instrukteur of mentor gebruik maak. In sekere kerklike tradisies sal iemand by ’n geestelike begeleier aanklop om op ’n gereelde basis begeleiding te ontvang oor geestelike sake. So ’n instrukteur of mentor stel vir jou ’n program voor, monitor jou vordering en moedig jou aan om te volhard. Jesus was so mentor vir sy dissipels en Paulus was so mentor vir Timoteus.


2

Hy noem Timoteus sy “my eie kind in die geloof” (1 Tim 1:2) en “my geliefde seun” (2 Tim 2:2). Hy moedig hom aan om te volhard in die geloof wat in sy ouma Loïs en in sy ma Eunice was (2 Tim 1:5). Hy moedig hom aan om sy geestelike gawes te gebruik in die bediening. Ons raak moeg en moedeloos omdat ons nie iemand het wat ons so kan aanspoor en bemoedig nie. Dalk is dit nou die tyd om so iemand te vind.  Ons kan natuurlik ook soos met enige oefenprogram ’n oefenmaat of spanmaat kry. Iemand wat ons kan herinner aan ons oefentye en selfs bel om te hoor of ons wakker is en gereedmaak om te oefen. Iemand wat saam met ons sweet, maar ook saam met ons die vreugde ervaar van sukses en oorwinning. Ons is arm in ons geestelike lewe omdat ons te veel op ons eie ons geloofspad wil loop. Dit is nou die geleentheid om ’n geloofsgenoot te kies.  Dan kan ons ook saam in ’n span oefen. Jy kan deel wees van ’n oefengroep. Daar is vele sulke groepe in die gemeente. Die waarde daarvan is dat jy dan veel meer insette kry en mekaar kan inspireer en bemoedig. Die belangrike vraag is natuurlik: Hoe lyk so oefenprogram van ’n instrukteur? Waaroor moet ons praat as geloofsvennote? Wat is die agenda as die groep bymekaarkom? Met ander woorde: Hoe kan ons mekaar vorm en beïnvloed? Oor hierdie vraag dink mense na al vanaf die vroegste tye. Die Grieke het nie baie gehou van oefen nie. Paulus het dalk by die Stoἲsynse filosowe aangesluit toe hy, soos die 1933 dit vertaal, sê: “Want die liggaamlike oefening is van weinig nuut” (vs 8). Die Grieke was lief om te praat. Hulle was geskool in die kuns van redevoering of retoriek. Aristoteles het


3

gesê dat daar drie dinge nodig is as jy iemand wil oorreed: Logos, pathos en ethos. Ons lewe oppervlakkig en ons verhoudings het leeg geword, omdat ons dink dat alles draai om kennis en vaardighede (logos). Ons het grootgeword met die spreekwoord: Kennis is mag! Natuurlik is kennis belangrik. Ons is ongelooflik dankbaar vir wat die wetenskap en tegnologie vir ons gebring het. Maar as dit al is waaroor dit gaan, mis ons die punt. Ouers voel minderwaardig omdat hulle kinders meer weet as hulle en oumas en oumas voel “stupid” as kleinkinders vaardiger is met die TV-kontroles en die selfoon. Kinders en kleinkinders dink hulle ouers en grootouers is dom en hulle hoef nie na hulle te luister nie. Pasop vir die leuen van die moderne tyd. Daar is ’n ander spreekwoord: “Hoe groter gees, hoe groter bees”. Paulus noem dit die kennis wat ’n mens opgeblase maak, hoogmoedig en beterweterig maak. Mense, ook kinders wat dink dat hulle alles weet, is buffelagtig in hulle optrede teenoor ander kinders en volwassenes. Te lank het mense, en ook onderwysers, gedink dat IK alles is. Gelukkig is daar mense wat tot die insig gekom het dat daar ook sosiale, emosionele en liggaamlike intelligensie is waarsonder jy nie suksesvol kan wees nie! Dit het Aristoteles lankal gesê. Daar moet pathos wees. Jy moet jou kan verbind, jy moet kan meeleef met die ander persoon (gehoor). Die moderne woord is “connectedness”. Sonder hierdie band kan daar nie opvoeding en vorming plaasvind nie. So bly die Bybelse waarhede koud en sonder inhoud, vorm sonder inhoud, ’n wet (tora) sonder die liefde (wysheid). Sonder passie vir dit waaroor jy praat, is daar geen geloofsvorming nie. ’n Goeie onderwyser is ’n onderwyser wat leef vir sy vak. Maar daar is nog ’n dieper fondament– ethos, karakter, geloofwaardigheid. Jy kan al die kennis hê en dit met passie oordra, maar as


4

dit wat jy sê nie neerslag vind in jou eie lewe nie, gaan niemand jou glo nie. Dit is soos om vir jou kinders van die Bybel te leer en te vertel hoe wonderlike is om die Here te dien, maar hulle dan maar net af te laai vir kategese. Woorde wek, maar dade trek. Jou voorbeeld praat harder en duideliker as jou woorde. Dit is wat jou kinders hoor. En as ons voel dat ons misluk het in ons opvoeding – dan is dit dalk omdat een of meer van die elemente ontbreek het. Steeds is die vraag: Waaroor moet ons praat as geloofsgenote? Die antwoord is: Oor hierdie drie dinge – logos, pathos, ethos. Dit wat ons moet weet (die waarheid), dit wat ons voel en dit wat ons is.  Ons moet praat oor wat ons weet (waarheid):Wat verstaan ek nie? Paulus sê vir Timoteus hy moet sy hoorders voed met die boodskap van die geloof en die ware leringe (vs 6). Hy moet vir die gelowiges ’n voorbeeld wees in wat hy leer (vs 12).  Ons moet praat oor wat ons ervaar: Hoe voel jy daaroor? Timoteus moet vir hulle ’n voorbeeld wees in liefde (vs 12). Ons moet met mekaar praat oor ons verhouding met God en met mekaar.  Ons moet praat oor wie ons is: Wat doen dit aan of vir jou? “ Wees ’n voorbeeld vir alle gelowiges … in die manier waarop jy lewe, … jou geloof (lewensingesteldheid) en soberheid” (vs 12). Wanneer ons as geloofvennote by hierdie gesprek uitkom, het dit waarde:  Vir hierdie lewe – dit gee rigting, dit bemoedig, dit help om nou die wil van God te verstaan en uit te leef.  Vir die toekomstige lewe – dit berei ons voor en laat ons uitsien om eendag aan die voete van die Groot Leermeester te sit waar Hy alles in almal sal wees en waar ons alles sal weet – Hy al ons vrae sal beantwoord word.

Preek 4 Maart 2012  

1 Timoteus 4:6-16 Prediker: Dr D Dreyer Uit die reeks Geloofsgewoontes

Read more
Read more
Similar to
Popular now
Just for you