Issuu on Google+

1

Sondag 15 Mei 2011 Die kuns om te lewe! Eks 20:13 “Jy mag nie moord pleeg nie” 1 Kor 13:13 en 1 Tess 1:2-3 As daar een gebod is wat ons voel ons darem nie so skuldig oor hoef te voel nie, is dit die sesde gebod: Nie een van ons het al ’n moord gepleeg nie! Dan sou ons nie hier gesit het nie! Omdat die Fariseërs ook net op die uiterlike betekenis van die wet gelet het, het hulle gevoel hulle doen nie te sleg nie. Dit het hulle selfs hoogmoedig gemaak. Wanneer Jesus dan op die dieper betekenis van die wet wys, dan kom dit nader aan hulle eie vel: Matt 5:21“Julle het gehoor dat daar van die ou tyd af aan die mense gesê is: ‘Jy mag nie moord pleeg nie; en elkeen wat moord pleeg, is strafbaar voor die regbank’. 22Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat vir sy broer kwaad is, is al strafbaar voor die regbank. Verder, elkeen wat sy broer uitskel vir ’n gek, is strafbaar voor die Joodse Raad; en wie hom uitskel vir ’n idioot, is strafbaar met die helse vuur.” Wanneer dit kom by gedagtemoord, gebaremoord en woordmoord dan staan ons almal skuldig: Gedagtemoord - ons wens dat die persoon iets sleg moet oorkom. Toe een ma vir 'n ander ma sê dat sy nie kan verstaan dat Abraham vir Isak kon gaan offer het nie, merk die ander ma op: “Hy was seker ‘n tiener”. Ons voel soms om iemand te vermoor wat hy/sy jou aangedoen het. Gebaremoord – ons gedagtes word dikwels uitgedruk in ons gebare, houdinge en ons liggaamtaal. Ons sê eintlik vir die ander persoon: "Jy het nie bestaansreg nie." Ons ontken die ander persoon se menswaarigheid en gun hom/haar geen lewensruimte nie.


2

Woordmoord – skerp woorde is soos dolke in die siel van ‘n mens wat hom/haar innerlik laat sterf! Op Golgota het die Groot Moord plaaasgevind. Daar het die werklike gesindheid van mense tot uitbarsting gekom. Mense het gekies vir die dood teen die lewe. Maar, op Paasmôre het die lewe oor die dood getriomfeer. Die graf is leeg! Jesus het opgestaan! Daarom is dit vir elke gelowige wat leef uit die opstanding van Jesus, belangrik om die kuns van die lewe te bemeester. Soos met enige kuns is daar teorie en praktyk. Iets wat jy moet weet en iets wat jy moet inoefen. 1. Die teorie van die lewenskuns. God is die Skepper/Gewer van die lewe: - Hy is vir die lewe en teen die dood. - Elke slagoffer van dit tsoenami in Japan, elke persoon wat in die burgerloog in Libië stref, elke moord wat gepleeg word en elke onskuldige kind wat in ‘n gesinsmoord, sterf gryp God in die hart. - Wanneer ons die lewe liefhet en stry vir die beskerming van die lewe, wanneer ons ons beywer vir ‘n menswaardige bestaan vir almal, veg vir die bewaring van die natuur en die die lewensnoodsaaklike hulpbronne, tree ons as verteenwoordigers van ‘n Lewende God op. Om so te leef en te laat leef – is goddelik! - Natuurlik leef ons in ‘n onvolmaakte wêreld – wat verder besoedel word deur die sondige begeertes van mense. Mense maak eerder dood .... as om te laat lewe! Hulle vernietig eerder ... as om op te bou. Hulle mors met die lewe .... eerder ons op te bewaar. Daarom móés daar iets gebeur het. Die Skepper God het ingegryp. Hy is ook die Herskepper – die Gewer van die nuwe lewe!


3

- Jesus het sy lewe gegee, sodat ons kan lewe. Daarom kon Hy gesê het: “Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed” (Joh 10:10). - Meer nog, God het ons sy Gees gegee. Die Gees is die Een wat lewend maak. Hy maak van mense van die nag soos Nikodemus, mense van die dag. Hy bewerk die wedergeboorte (Joh 3:8). Hy gee vir ons ‘n nuwe visie dat ons nie meer vir onsself wil lewe nie. Ons word nie meer gedryf deur ons eie selfsugtige begeertes nie, maar ons lewe vir Hom wat vir ons gesterf het en uit die dood opgewek is (2 kor 5:15). Met ander woorde: Alleen ek en jy wat in Christus die nuwe lewe het, en deur die Helige Gees gelei word, kan reg laat geskied aan die werklike bedoeling van die sesde gebod! 2. Die praktyk van die lewenskuns Die praktyk van die lewenskuns het drie note: Geloof, liefde en hoop. Hierdie bladmusiek moet voortdurend ingeoefen word. Dit vra inspanning en opoffering om dit werklik te bemeester. Goeie musikante bring ure voor die klavier deur. Daar is baie kinders wat met groot entoesiasme musieklesse begin neem, maar hulle sak later uit. Hulle sien nie kans ons gereeld te oefen nie. Hulle is nie bereid om opofferings te maak nie. Ja, hulle verleer selfs dit wat hulle bemeester het, omdat hulle nie aanhou oefen nie. - Ons lewens val dikwels uitmekaar omdat ons nie kans sien om die bladmusiek van geloof, liefde en hoop in te oefen nie; - ons val terug om in ons geloofslewe omdat ons nie aanhou om die bladmusiek van geloof, liefde en hoop in te oefen;


4

- ons lewe staan meer in die teken van die dood as van die lewe, omdat ons opgehou het om die bladmusiek van geloof, liefde en hoop in te oefen. Geloof, hoop en liefde is eintlik werkwoorde. Dit is dinge wat gedoen moet word. Hoe bemeester ons die kuns van die lewe? - Deur in geloof te volhard (werk van julle geloof – 1 Tess 1:3) Deur die geloof hou ek vas aan God en die beloftes van sy Woord; deur die geloof bly ek ingeënt in die ware windergdstok, Jesus Christus; deur die geloof dra ek die vrug van die Gees in my lewe! Om moord te pleeg – om jou eie lewe of die lewe van ‘n ander mens te neem, is ‘n daad van kleingeloof, selfs ongeloof. So ‘n mens wil self God wees deur te beskik oor sy eie lewe en die lewe van ‘n ander mens. Daar word vergeet dat elkeen voor God verantwoording sal doen vir sy/haar dade. - Deur uit liefde te lewe (inspanning van die liefde - 1Tess 1:3). 1 Kor 13:4

Die liefde is geduldig,die liefde is vriendelik;dit is nie afgunstig

nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. 5Dit handel nie onwelvoeglik nie,soek nie sy eie belang nie,is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie. 6Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid. 7Dit bedek alles,glo alles, hoop alles,verdra alles. Liefde is soos die suurstof vir die liggaam: Dit leef en laat leef. Dit skep lewensruimte vir ander – na liggaam, siel en gees (fisies, emosioneel en geestelik).


5

Om moord te pleeg – is ‘n daad van liefdeloosheid! Daardeur ontneem jy ander die voorreg van lewe, groei en ontwikkeling. - Deur te bly hoop (volharding van julle hoop – 1 Tess 1:3). 1 Kor 13:12

Nou kyk ons nog in ’n dowwe spieël en sien ’n raaiselagtige

beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken. Hoop is om te bly sien, hoe donker die omstandighede om jou is; hoop is om te bly uitsien na die toekoms wat God vir jou in gedagte het, al verstaan jy nie nou alles nie; hoop is om op God te bly vertrou vir hierdie lewe én die ewige lewe. Om moord te pleeg – is ‘n daad van hopeloosheid. Daar word net geleef vir die hier en die nou; vir die onmiddelike bevrediging van jou eie selfsugtige begeertes. Moord is ‘n daad van wanhoop – omdat so ‘n mens nie op God vertrou vir sy behoeftes en sy toekoms nie. Wat is die roeping van die kerk in die lig van die misdaad en geweld? Om gelowiges te help om te bly oefen om die bladmusiek van geloof, liefde en hoop te speel. Om dit só te speel dat ander ons voorbeeld sal begin volg. Daarom bid ons voortdurend dat meer en mense die nuwe lewe in Christus sal vind en gelei sal word deur die Gees om tot eer van die lewende God te lééf!


PR15052011