Page 1

Skriflesing: Psalm 16 Tygerpoort: 13 November 2011 Inleiding So klompie jare gelede het een van die bekendste kitskos restaurante in die wêreld ‘n “supersize” aanbod gehad. Alles wat jy bestel, kon jy laat “superzise”. As jy ’n groot pak chips bestel het, dan kon jy ’n nog groter een kry. As jy ’n groot coke bestel het, dan kon jy ’n nog groter een kry. ‘n “Supersize”! In daardie tyd het daar ook ’n dokumentêre film verskyn met die titel “Supersize me”. Die idee was dat hulle vir een persoon gevra het om elke dag ’n “supersize”-ete by die spesifieke restaurant te bestel en dan sou hulle hom daagliks monitor om te kyk wat doen hierdie oormaat kitskos nou aan sy gesondheid.

1


Die saak waaroor dit gegaan het en wat die film wou aanspreek, was natuurlik die verbruikerskultuur waarin ons leef. ’n Kultuur wat sê dat alles altyd groter en altyd beter en altyd meer moet wees. Die film wou kyk wat doen dit aan ons fisiese gesondheid, maar die dieper vraag is natuurlik of hierdie soort ingesteldheid nie dalk ook iets doen aan ons algehele gesondheid, aan ons menswees nie. Is hierdie verbruikerskultuur nie dalk besig om ons baie meer siek te maak as wat ons dink nie? Want, so terloops, na omtrent 20 dae se supersize-maaltye, het dokters die man verbied om aan te gaan daarmee omdat sy lewe in gevaar was. Behalwe die soort vrae, wil ons natuurlik vanoggend ook vra of die verbruikerskultuur nie dalk besig is om ons

2


dankbaarheid van ons af weg te vat nie, want dis mos die tema waaroor ons hierdie kwartaal met mekaar gesels. Om vergenoegd te leef Ek wil graag hê ons moet vanoggend so bietjie nadink oor twee kenmerke van die verbruikerskultuur en dan kyk ons of Psalm 16 ons nie dalk kan help om meer gesond te lewe nie. Die eerste kenmerk van die verbruikerskultuur, is dat die kultuur ons dwing om altyd te fokus op dit wat ons nie het nie. In ’n verbruikerskultuur is jy altyd besig om te dink aan dit wat jy graag eendag nog sal wil hê. Ag, as ek darem ook net eendag ’n huis by die see kan hê. Ag, as ek darem ook net eendag in Skotland of in Switserland kan gaan vakansie hou. Ag, as ek darem ook net die nuutste i-phone of ’n i-pod of ’n ipad kan hê.

3


Die hele advertensiewese is mos daarop ingestel om ons bewus te maak en by ons ’n behoefte te skep vir dit wat ons nog nie het nie. En as jy natuurlik die heeltyd dink aan dit wat jy nog nie het nie en wat jy graag eendag sal wil hê, dan sukkel jy mos nou om dankbaar te wees vir dit wat jy wel het. Ek dink die verbruikerskultuur beroof ons van ’n stuk dankbaarheid. En dis juis waarmee die skrywer van Psalm 16 ons wil help. Psalm 16 smeek by ons om nie net te fokus op dit wat ons nie het nie, maar om in hemelsnaam tog net ’n slag weer raak te sien wat ons wel het. As jy goed opgelet het, sou jy agterkom dat die psalmdigter nêrens vir ons sê hoeveel dinge hy van God ontvang het nie.

4


Trouens, die enigste keer wat hy van oorvloed praat, is wanneer hy in vers 11 sê dat die Here aan hom oorvloedige blydskap verskaf! En as hy wel begin om van sy besittings te lys, dan is dit nie materiële dinge nie, nee, dan loof hy die Here omdat hy insig van Hom ontvang het en omdat die Here hom leer hoe om te lewe. Ek dink die punt is duidelik: die skrywer van Psalm 16 is nie bly en gelukkig omdat hy baie dinge ontvang het nie, hy is gewoon bly oor dit wat hy wel van die Here ontvang het. Psalm 16 daag ons uit om weer ’n slag dit wat ons het, te waardeer. In Afrikaans het ons ’n vreeslike mooi woord wat sê dat wanneer jy tevrede is met wat jy het, dan is jy vergenoegd. Ek dink dis onder andere waaroor dit in Psalm 16 gaan; om vergenoegd te lewe.

5


Vergenoegdheid het mos te doen met daardie rare verskynsel dat ek dit soms kan regkry om vir myself te sê: hier stop ek nou eers, selfs al kan ek verder. Genoeg is nou eers genoeg. Dis om vir ’n slag weer bietjie te vergeet van die huis wat ek nie het nie, en met nuwe oë te kyk na die een wat ek wel het. Dis om elke dag my man of my vrou of my kinders of my ouers raak te sien en te waardeer en te ervaar dat hulle geskenke is wat die Here vir my gegee het. Dis om die goed wat ek dikwels so vanselfsprekend aanvaar, doelbewus en intens te geniet: die son wat skyn, die lug wat ek inasem, goeie vriende, ’n eenvoudige bord kos. Daar is ’n ou Japannese spreekwoord wat sê: Hy wat vergenoeg is, is ryk genoeg. Ons sê in hierdie kwartaal vir die Here dankie.

6


As ons dit uit die hart uit wil doen, dan moet ons leer om nie altyd te fokus op dit wat ons nie het nie, maar op dit wat ons wel het. Om besit te word Daar is nog ’n kenmerk van die verbuikerskultuur waaroor ek graag wil hê ons so bietjie oor moet nadink. As dié kultuur gedurig ons aandag vestig op dit wat ons nie het nie, dan is dit juis omdat dié kultuur ons wil aanmoedig om al hoe meer en meer te wil hê. Om al hoe meer en meer te besit. Dit verlei ons om te dink dat as ons net meer en meer besit, dan sal ons ook gelukkiger wees. Psalm 16 help ons om anders oor ons besittings te dink. Psalm 16 sê dat ons veel gelukkiger sal wees as ons ervaar dat ons besit word.

7


As ek weet dat ek aan iets of iemand behoort, dan is ek regtig gelukkig. As ons vir ’n oomblik dieper daaroor nadink, dan sal ons besef dat die psalmdigter nogal ’n punt beet het. Ons almal ken mos die gelukkige gevoel wanneer jy jou man of jou vrou of jou kinders lanklaas gesien het en jy hulle weer ’n slag in jou arms kan vashou. Waarskynlik maak dit jou gelukkig omdat jy weet dat jy deur hierdie vrou of hierdie man of hierdie kind besit word; dat jy aan hulle behoort! Of daardie heerlike gevoel wanneer jy tussen 50 000 ander mense op Loftus sit en jy weet sommer net: ek hoort hier. Of wanneer jy saam met vriende rondom ’n braaivleisvuur of ’n glasie rooiwyn sit en kuier en jy weet die vreugde van die oomblik lê nie in besittings nie, maar in die gedagte dat julle aan mekaar behoort.

8


Waaroor dit eintlik gaan, is dat verhoudings veel belangriker is as besittings. Ek kan die mooiste en die grootste en duurste en die beste huis besit, maar as daar nie binne in daardie huis mense saam met my bly vir wie ek lief is en aan wie ek behoort nie, dan is die huis die laaste ding wat my gelukkig sal maak. Uiteindelik is die grootste geluk wat jy kan vind natuurlik wanneer jy ontdek dat jy aan die Here behoort; dat jy besit word deur Iemand groter as jyself. Psalm 16:2: “Ek het vir die Here gesê: Ek behoort aan U, daar is vir my niks goeds nie behalwe by U”. Miskien is dit tog betekenisvol dat die heel eerste vraag en antwoord van die Heidelbergse Kategismus só klink: Vraag: Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe? Anders gesê: Wat is die enigste ding wat jou regtig gelukkig kan maak in hierdie lewe en in die lewe hierna?

9


Antwoord: Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan Jesus Christus behoort. Die lewe gaan nie net oor dit wat ek besit nie. Die wete en die ervaring dat ek besit word, dat ek aan iemand behoort, en veral dat ek aan God behoort, die wete kan ons op ’n baie dieper vlak gelukkig maak. Slot Miskien wil Psalm 16 ons leer om nie alles te wil supersize nie, maar om superwise te leef. Bybelse wysheid is om te weet dat dit beter is om besit te word, as om te besit. Bybelse wysheid is om gedurigdeur dankie te sê vir dit wat ek wel het, eerder as om heeldag dit wat ek nie het nie, te begeer. Iemand het dit op ’n keer só probeer beskryf: Geluk is nie om te kry wat ek wil hê nie, maar om dit wat ek gekry het, te wil hê!

10


Miskien sou die skrywer van Psalm 16 wou byvoeg: dit wat ek gekry het, wil ek hĂŞ, want dit is wat God vir my gegee het. En dit is genoeg. Amen.

11

Preek 13 November  

Preek 13 November 2011

Read more
Read more
Similar to
Popular now
Just for you