Page 1

Koerant met hart I The paper with heart TEL: 058 ­ 303 5411

WOENSDAG 26 JUNIE 2013

WWW.MALUTINEWS.CO.ZA

FREE

Bejaardes sonder krag Kabel lei tot krisis Lynda Greyling

Vra mooi vir ’n skenking DIE lede van Bethlehem­Tafelronde 920 het Vrydagaand hul jaarlikse Winter Knights­projek gehou. In samewerking met die Dihlabeng­munisipaliteit se verkeersafdeling is ’n deel van Kerkstraat versper sodat Tafelaars motoriste om skenkings kon vra. Hier oortuig Alwyn Shields (groen) en Werner Engel­ brecht ’n motoris om ’n skenking te doen. Foto: Lynda Greyling

’n ONDERGRONDSE kabel was die oorsaak dat die versorgingseenheid, asook die meeste huise in die Bergprag-aftreeoord, etlike dae sonder krag was. Verskeie noodmaatreëls moes ingestel word nadat daar probleme met die kragtoevoer by die Bergprag-aftreeoord se afdeling vir verswakte inwoners, asook baie van die huise, ontstaan het. Sr. Nelie Smith, bestuurder van Bergprag, sê personeel het haar Donderdagaand gebel om te sê dat die krag af is. Die krag was later ’n rukkie aan, maar het daarna weer afgegaan. Hulle het die Dihlabeng-munisipaliteit gebel, maar daar is aan hulle gesê dit is hul probleem en hulle moet dit self hanteer. Die munisipale bestuurder, Thabiso Tsoaeli, het bevestig dat die waarnemende bestuurder van die elektriese afdeling, Sam Masoeu, ondersoek ingestel en aanbeveel het dat Engo ’n elektrisiën aanstel om die probleem op te los aangesien dit op sy terrein is. Intussen het Bergprag die kragopwekker en suurstofsilinder wat tydens noodgevalle gebruik word, ingespan. Kos by die versorgingsafdeling word op ’n gasstoof berei en water is gekook om die bejaardes te was. Die vrou in beheer van die washuis het die wasgoed huis toe geneem en daar gaan was en stryk. Smith sê baie van die bejaardes is

na hul familie toe. Hansie Kramer, een van die inwoners, sê sy en haar man, Japie, was in Bloemfontein en die kragkrisis het hulle nie geraak nie. Gelukkig het hulle ’n sonpaneel sodat hulle warm water het. Selfs hul vrieskas het nie ontdooi nie. Rachel Ferreira het by ’n vriendin ’n stofie geleen om water te kook. Saterdagaand is ’n tweede kragopwekker deur Smith se man, Sampie, en seun, Sampie (jr.), van die plaas af Bergprag toe gebring om bykomende krag te voorsien. Jannie Nothnagel, Engo: direkteur ondersteuningsdienste, asook Thys Wessels, die kontrakteur, het alles moontlik gedoen om die probleem op te los. Nothnagel het toegesien dat ’n mobiele kragopwekker van Bloemfontein gestuur word. Dit was Sondagoggend vroeg al by Bergprag en is dadelik in werking gestel. Die vragmotor waarop die kragopwekker was, moes egter terug Bloemfontein toe en dus moes die kragopwekker van sowat twee en ’n halwe ton afgelaai word. Nothnagel sê ’n kontrakteur van Ficksburg het Maandagoggend die taak verrig. ’n Kontrakteur van Bloemfontein het Maandag danksy tegnologie in tien minute die fout opgespoor – ’n kabel wat af was. Hy kon egter nie ’n kabel-las op Bethlehem kry nie en moes een op Reitz gaan haal om die fout te herstel.


2

MALUTI, WOENSDAG 26 JUNIE 2013

Man in hof ná aanval op vrou ’n MAN wat verlede week ’n huis op die Eden-hoewes buite dié dorp ingegaan en glo ’n vrou wou verkrag, het Donderdag in die hof verskyn. Die man is aanvanklik in hegtenis geneem, maar die polisie het versuim om hom in die voorgeskrewe 48 uur aan te kla. Daarom moes die polisie hom vrylaat. Maluti het onlangs berig oor Debbie Viljoen en haar agtjarige dogter wat in hul sitkamer oorval is. Die man het vir haar gesê hy soek

medisyne en sy is daardie medisyne. Toe het hy haar gegryp en na ’n kamer gedwing. Sy het gebid dat hy hulle nie moes seermaak nie. Net toe het ’n deur oopgewaai en haar man, Dewil, was daar. Hy het die gemaskerde man met ’n flits geslaan en ’n stoeiery het ontstaan. Sy seun, wat kom ondersoek instel het, het ’n tou gebring en saam met sy pa die man vasgebind.

Wag vir inskrywings

Die polisie was gou op die toneel en het die man in hegtenis geneem. Die man is toe intussen weer in hegtenis geneem en volgens die polisiewoordvoerder, kapt. Harry Nagel, is die man se toerekeningsvatbaarheid gister in die hof bevraagteken. Daarom moet hy op 17 Julie vir 30 dae na ’n psigiatriese hospitaal in Bloemfontein gaan, omdat daar dan eers vir hom ’n bed beskikbaar sal wees. Tot dan bly hy in aanhouding.

Vroue help seun ná oorstroming Marguerite Vermeulen

SARIE BRITS van Bethlehem het haar vir die Bethlehem­ekspo se Mej. Koring­ korrel­kompetisie ingeskryf. Meisies tussen 13 en 15 jaar kan hulle gerus inskryf. Slegs oorspronklike foto’s sal aanvaar word.

CARINA BRITS (17) van Bethlehem is een van die eerste meisies om haar vir die Beth­ lehem Expo se mej. Koringaar in te skryf. Meisies tussen 16 en 24 jaar kan hulle hier­ voor inskryf.

Foto’s: Magic Photography

AHI kan klagtes hanteer AAN wie behoort Bethlehem? Is dit die belastingbetaler, politieke partye, raadslede of amptenary? Volgens die Afrikaanse Handelsinstituut (AHI) Bethlehem behoort Bethlehem aan die belastingbetaler. Johan Voigt, voorsitter van die AHI Bethlehem, sê belastingbetalers ondervind gereeld probleme met die Dihlabeng-munisipaliteit. Sommige verkondig die negatiwiteit oor die diens wat verkry word. Ander benader dit met ’n positiewe gesindheid en indien die probleem aangepak word, kom hulle met ’n moontlike oplossing. Ander mense

raak betrokke om ’n positiewe impak te lewer. Die AHI Bethlehem en die munisipaliteit werk baie nou saam. Voigt sê die AHI is bereid om klagtes namens inwoners te hanteer, maar kan dit slegs doen as die AHI bewus is van die klagtes. Inwoners word genooi om enige voorstelle of klagtes wat hulle mag hê per e-pos aan johan.voigt@vodamail.co.za of lgreyling@volksblad.com te stuur. Besoek gerus Maluti se webblad by www.malutinews.co.za en neem deel aan die meningspeiling hieroor.

’n EGPAAR wat vir ’n begrafnis in die Kaap was, se huis en besittings is grootliks deur vreemdelinge gered toe pype gebars en die huis oorstroom het. Die betrokke Dinsdagaand was dit verskrikliklik koud en dit het waarskynlik veroorsaak dat die pype gebars het. Anthony, ’n gr. 9-leerling aan die Bethlehem- Afrikaanse Privaatskool, het by vriende oorgeslaap maar was bedags by die huis. Hy het omstreeks 12:00 ná die eksamen by die huis gekom en toe sien hy die leefgebiede van die huis is enkeldiep onder water. Die water het nie na die kamers versprei nie, omdat dit op ’n hoër vlak as die res van die huis gebou is. Blykbaar was die gebiede geteël, behalwe een vertrek wat gelamineerde houtvloere gehad het. Dit moet saam met die kombuiskaste en plafonne vervang word. Van die meubels is antiek en party van hout. Miena Nel het gesê sy het ’n onvervangbare sitkamerstel wat hulle op stene gepak het sodat dit nie water trek nie. Die twee vroue het blykbaar hul broekspypee opgerol, skoene uitgeskop en begin rondskuif en droogmaak. Miena se man, Tony het hul makelaar Hanlie Gericke en Anesca Koen van Sapcor geskakel wat toe uit hul eie die gesin se meubels gered het. Koen het gesê hulle het dit uit liefde gedoen, omdat die seun alleen by die huis was en sy ouers ’n begrafnis moes bywoon. “Die seun het eintlik alles gedoen,” vertel Koen. Tog is die Nel-gesin hul baie dankbaar.

Smul aan seekos op Vryfees Madelein Venter DIE Vryfees vind weer van 9 tot 14 Julie op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat (UV) plaas en een van die groot trekpleisters – De Vette Mossel – is ook weer terug. Dié outentieke seekosrestaurant bied ’n seekosbuffet met ’n volle agtgangmaaltyd, asook ’n à la carte-spyskaart. Voorafbesprekings is noodsaaklik vir die buffet en vir R250 kan jy aan die smullekker seekosgeregte en varsgebakte potbrood smul totdat jy trommeldik is. Daar sal ook ’n kontantkroeg wees om die ergste koue te verdryf. Lewendige vermaak word deur Henning Joubert en Anton Botha verskaf. Joubert is ’n Bloemfonteinse kunstenaar wat al wye draaie in die musiekwêreld gestap het. Hy was een van die stigterslede van die Afrikaanse groep Beeskraal en kan ’n hele string instrumente bespeel. Hy het al saam met al wat ’n bekende kunstenaar in die land is, opgetree en werk nou aan ’n solo-album. Hy is ook in die Vryfees-produksie Fyngeslyp te sien. Botha is al ’n bekende in die Afrikaanse musiekbedryf. Sy musiekvideo’s word gereeld op kykNET vertoon. Hy skryf die meeste van sy eie musiek en kan blitsvinnig ’n partytjie aan die gang kry. Kaartjies vir dié eetplek is by Spotted Apple beskikbaar. Skakel 051-447-1086 of stuur ’n e-pos na info@spottedapple.co.za om jou plek te bespreek of vir meer inligting.

HENNING JOUBERT vermaak besoe­ kers aan De Vette Mossel op die Vryfees.

Kitaar bly gunsteling JY sal verskoon word as die naam Henning Joubert nie dadelik ’n klokkie lui nie. As jy egter na sy CV kyk, sal jy gou besef dié man het wel al jou pad gekruis. Daar is min instrumente wat dié 31-jarige Bloemfonteinse musikant nié kan bespeel nie. Voeg daarby ’n fantastiese stem en dan besef jy Henning is die hele pakket. Hy is op Klerksdorp gebore, maar is gek na Bloemfontein. “Ek’s mal oor die mense. Hulle is baie vriendelik en warm.” Hy het op skool sy buiging as konsertinaspeler gemaak en daarna aan die jazzdepartement van die Tswane-universiteit vir Tegnologie gestudeer. Hy bespeel ook die kitaar, mandolien, baskitaar, bluesharp, banjo, klavier en trekklavier. “My gunsteling bly egter die kitaar,” sê Henning. “Dit is so veelsydig, baie verskillende genres, style en aanslae.” In 2001 het hy die Sakkie-langarm-boereorkeskompetisie op kykNET gewen en die album wat hy daarna opgeneem het, is met ’n Sama-eerbewys vereer. Henning was een van die stigterslede van die Afrikaanse rockgroep Beeskraal en ook permanent lid van Dozi en Robbie Wessels se orkeste. “Ek sou baie graag saam met Coenie de Villiers, Vusi Masashela, Tony Cox en PJ Powers wou optree,” sê hy. Hy het ook al in Londen, Nieu-Seeland, Kanada en Indië opgetree. Hy is boonop ’n talentvolle liedjieskrywer en werk nou aan sy solo-album wat later vanjaar uitgereik sal word. Hy het die meeste van die liedjies op die album self geskryf. Vir meer inligting of besprekings, bel Spotted Apple by 079-504-3912 of 051-447-1086.


MALUTI, WOENSDAG 26 JUNIE 2013

3

Groentetuin-projek voed 949 mense

’n PAAR predikante van Bethlehem is Woensdagoggend in die Metropolitan­sentrum “gevange” gehou. Die predikante moes kyk of hulle mense kon oorreed om bloed te skenk. Van links is, voor: Mafa Simela (links van bed) en Edith Liebenberg (regs van bed); middel: sr. Nomathemba Mlangeni, sr. Barbara Bornman, ds. Lyndon van der Haer, Rochelle van der Merwe, sr. Wetsi Moloiagter: di. Org van der Watt, Rikus Hattingh, Alta Xaba, David Molatuli, Sithem­ bile Nhlapo en ds. Dougy Bubb; heel agter: Thato Mkwanasi. Foto: Lynda Greyling

ALTESAAM 949 kinders en bejaardes van Bethlehem en Fouriesburg hoef nie meer honger te gaan slaap nie, danksy ’n groentetuin-projek wat deur organisasies begin is. In September 2012 het Pierre Coetzee ’n stuk grond op sy plaas, Sidney, vir ’n groentetuin beskikbaar gestel. Farmsecure het die elektriese omheining, stoorkamer en arbeid voorsien terwyl Bethlehem se Tafelronde 60, in samewerking met die Masechaba-projek, vir die besproeiingstelsel, ablusiegeriewe en stoorplek verantwoordelik was. Die Frontier Inn Dihlabeng-gemeenskapstrust het verseker dat die groentetuin met skadunet bedek is. Saad is deur Starke Ayeres en kunsmis deur Kynoch verskaf. Pierre Coetzee verskaf die water en krag. Nadat al die voorbereiding afgehandel is, is die eerste somergewasse geplant en soos dit gereed was, gepluk en aan die nodige instansies gegee om kos vir die kinders en bejaardes voor te berei.

Die instansies is Youth With a Mission (YWAM), wat Dinsdae en Donderdae tussen 200 en 400 kinders en bejaardes voed, die inwoners van Kareehuis by die Charlotte Theronkinderhuis, sowat 95 bejaardes van die Sonskyn-dienssentrum, 350 kinders van die Intermediêre Skool Fouriesburg en 200 tot 400 leerlinge van die Maluti-Hooglandskool. Tans is die skadunette opgerol om te voorkom dat dit deur sneeu beskadig word. Daar is 17 000 spinasieplante, beet en wortels. Om te verseker dat die projek voortgaan, word skenkers benodig om maandelikse uitgawes te dek. Dit sluit onder meer salarisse vir werkers wat die groentetuin in stand hou en vir die verspreiding van groente verantwoordelik is, in. As die groentetuin in volle produksie is, word beoog om weekliks vir 2 000 mense etes te verskaf, asook om ’n derde van die opbrengs te verkoop sodat die projek selfonderhoudend kan wees.

Predikante help SANBD Lynda Greyling ALTESAAM 50 eenhede bloed vir die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBD) was die mikpunt vir vier predikante wat Woensdag in ’n hok in die Metropolitan-sentrum van die Bleed Out-projek deurgebring het. Die vier, di. Dougy Bubb, Rikus Hattingh, Org van der Watt en prop. Lyndon van den Haer, het vooraf

SMS’e gestuur aan mense om hulle te ondersteun deur bloed te skenk. Die vier, wat veronderstel was om in die hok te bly, het hope pret verskaf. Kort-kort het een ’n bekende sien verbystap, uitgehardloop na die betrokke mens en dié behoorlik gesmeek om bloed te skenk. Aan grappies was daar ook nie ’n tekort nie. Die mikpunt van 50 eenhede is oorskrei en die SANBD het altesaam 66 eenhede ontvang.

Bubb van die NG kerk Efrata het verseker dat 19 mense hom ondersteun. Hattingh van die NG kerk Bethlehem-Oos het die ondersteuning van 18 mense gehad, terwyl Van der Watt (NG kerk Môrelig) en Van den Haer elk 11 eenhede verskaf het. Die Metropolitan-huurders gaan nou R2 500 aan Kansa skenk nadat hulle vooraf ooreengekom het om R50 vir 50 eenhede bloed geskenk aan Kansa te gee.

DIE groentetuin­projek wat op die plaas Sidney begin is, verseker dat 949 kinders en bejaardes weekliks kos het om te eet.


4

MALUTI, WOENSDAG 26 JUNIE 2013

Nood is groot oor hele land Lynda Greyling OP 16 Junie 1976 het onluste in Soweto uitgebreek. Baie van die ouer garde sal dit onthou. In daardie tyd was ek ’n student in Johannesburg met bekommerde ouers wat gedink het hul bloedjie gaan iets oorkom. Ná daardie gebeure word Jeugdag jaarliks gevier – ’n vakansiedag. Vir menige mens is dit net ’n vakansiedag en tot nie so lank gelede nie vir die fikses die dag van die Comrades-ultramarathon. Jaarliks word ’n tema vir Jeugdag gekies. Vanjaar het die klem op onderwys, die ontwikkeling van vaardighede, werkskepping en die voorkoming van dwelmmisbruik geval. Volgens statistieke is sowat 3 miljoen Suid-Afrikaners tussen 15 en 34 jaar werkloos. Baie word as dwelmsmouse ingespan. Ry ’n mens soggens deur sommige woonbuurte in Bohlokong, Kgubetswana, Mautse en ander OosVrystaatse dorpe, is dit opvallend hoeveel jong mense wel hier werkloos is. Hou jy deesdae by ’n verkeerslig stil, is daar mense wat bedel. So ’n paar weke gelede was daar ’n nuwe gesig wat op die parkeerterrein kom bedel het. “Net ’n brood, asseblief, Mevrou, ek en my gesin en ouers is honger.” Heel ordentlik. So het ek vir hulle die nodige gekoop. Intussen het die man vir almal wat stilhou, gevra en toe ek uitkom met die nodige wat ek vir hulle gekoop het, het hy reeds ’n redelike voor-

deur

Lynda Greyling raad kos gehad. Tog was hy baie dankbaar. Intussen het ek gesien die familietjie “bly” agter Steers. Hulle sit bedags heel gesellig in ’n kring op ou blikke terwyl een by die verkeerslig staan en bedel. ’n Bietjie later staan een van die ander en bedel – die oupa, die pa en die ma. Elke keer as ek daar verbyry, wonder ek wat het in hul lewe verkeerd gegaan dat ’n hele familie sonder heenkome is. Ek wonder of hulle snags buite slaap en of hulle Eden ontdek het. Hulle is ouer as die drie miljoen jong mense wat werkloos is, maar daar is kinders. Wat gaan van hulle en al die ander word wie se ouers werkloos is? Junie was daar nie net ’n Jeugmaand met Jeugdag nie, dit was Internasionale Bloedskenkmaand, Internasionale Rolskaatsdag en, glo dit of nie, Nasionale Kaalvoetdag. Laasgenoemde is vanjaar deur die Put Foot-organisasie begin en is op 18 Junie gehou. Mense is gevra om die dag kaalvoet deur te bring om op dié manier aan minder bevoorregte kinders in Suid-Afrika te dink, asook om ’n paar skoolskoene te skenk. Jeug, bloed, skaats, kaalvoet . . . wat is volgende?

Ysbere pak Saterdag weer jaarlikse swemtog NAGENOEG 600 swemmers word Saterdag by die Bundukamp, Ventersburg, vir die jaarlikse Ysbeerswem verwag. Die belangstelling van oral is oorweldigend en daar word uitgesien na ’n lekker koue swem van ongeveer 7,5 °C. Die koue fronte kom jaarliks aanmekaar voor en die water is al 8,5 °C. Die watervlak wissel van 1,5 m tot 2 m oor die sowat 28 m wat geswem gaan word. Vir Oos-Vrystaters wat nie die Ysbeerswem by die Bundukamp kan bywoon nie, is daar Saterdag om 14:00 ’n Ysbeerswem by die Arpadam naby Fouriesburg.

’n Hele klomp mense het aangedui dat hulle die sowat 50 m yskoue water gaan aandurf. Die temperatuur van die water is sowat 5 °C. Die poging is ten bate van die Cluny Animal Trust. Vyftig meter is dalk net een lengte van ’n Olimpiese swembad, maar sulke koue water hou ook gesondheidsgevare in. Gelukkig sal daar nooddienste wees wat kan hulp verleen indien iets verkeerd sou gaan. Diegene wat dalk nie kans sien vir die koue water nie, kan die projek ondersteun deur een van die swemmers te borg.

Kuier saam op Bhm­leeskringvergadering KAROLIEN besoek Stilbaai waar haar ma op sterwe lê. Sy dink sy het net kom afskeid neem, maar ontdek ’n verhaal van moord, verraad en ’n vergete liefde . . . Die akteur en skrywer Woutrine Theron se boek Dans met die Rooi Rok is deur Thersia Craven op die Bethlehem­leeskring se maandelikse vergadering bespreek. Van links is Craven, Rassie Lourens en Lella Farrell.

Is verval by alle stasies te bespeur? VERVALLE STASIEGEBOUE: Oos-Vrystater: PETRUS STEYN se stasiegebou is nie die enigste een wat vervalle is nie. Bitter min van die stasies word nog gebruik en is jare laas in stand gehou. Dit laat my terugdink aan die tye toe daar gereeld passasierstreine was, Koringfeeste met stoomtreinritte oor Retiefsnek, Slabberts toe en terug – ’n era nie soveel dekades gelede nie. Ek wonder of al die geboue op die stasies soos die een op Petrus Steyn lyk. Ek sien nog gereeld goederetreine ry. Deesdae spog Spoornet ook met

Koerant met hart I The paper with heart

Briewe / Letters vrouemasjiniste. Die masjinis en ander personeellede het gewoonlik van die kleiner stasies se badkamergeriewe gebruik gemaak. Hoe nou gemaak? As die geboue so vervalle is soos Petrus Steyn s’n is daar beslis nie geriewe vir die personeel nie. Is dit nie ’n skending van hul basiese menseregte nie? Of bied Spoornet alternatiewe geriewe? Ek wonder maar net.

Skuil tussen die blaaie van die Bybel GEPARSTE BLOMME, Bethlehemiet: HET jy ook as kind graag blare en blomme gepars? Soms het ons dit gebruik om kaartjies mee te versier of as boekmerke. Ander kere het ons gepars net om te pars. Die Bybel was altyd ’n ideale parsboek – hoe dikker, hoe beter. Geparste blare bly kleurvol, heel en nuttig. Hul ongeparste maats het lank-

al verrot, maar hulle is nog mooi en bruikbaar. Soms voel ons ook soos blare wat gepars word – platgedruk – so asof die lewe uit ons gepers word. In sulke tye moet ons seker maak ons bly tussen die bladsye van die Bybel. Daar leer ons God ken as ’n God van liefde, selfs in parstye. Daar is ons toegevou in die beskerming van sy Woord. Skuil vandag tussen die bladsye van die Bybel, want daar is jy veilig.

Gholfspelers maak harte oop

OTTO WACHTER (Wachter en Vennote), At Shields (Watashi Spur), Johan Roos (voorsitter van die Bethlehem­ Tafelronde, asook speler wat die meeste houe geslaan het) en Alwyn Shields (Watashi Spur).

GEWOONLIK moet gholfspelers betaal om aan ’n gholfdag deel te neem. Verlede Saterdag was die betaling ietwat anders en moes die spelers met komberse “betaal” om te kan speel. Die spelers het behoorlik hul harte oopgemaak en het altesaam 250 komberse ten bate van die Bethlehem-Tafelronde se Winter Knights-projek ingesamel. Spelers moes volgens ’n beterbal formaat speel. Daan Marais en Schalk Strydom was die wenners.

Leer oor die wonder van lewe op boekefees Elretha Britz BEHALWE besprekings oor ’n verskeidenheid romans en religieuse boeke op vanjaar se boekefees, kry die wetenskap en geskiedenis ook ’n “spreekbeurt”. Dié leesfees is geborg deur Van Rensburg-patoloë en is deel van die Vryfees, wat van 9 tot 14 Julie op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat gehou word. As deel van die eeufeesviering van die Vrouemonument het die Oorlogsmuseum Nuwe perspektiewe op die Anglo-Boereoorlog met essays oor gebeure in die Anglo-Boereoorlog saamgestel. Die bekende prof. Fransjohan Pretorius sal die gesprek oor dié boek lei. In Julie verskyn die Afrikaanse weergawe van ’n insiggewende publikasie waarin die wonderwerk van lewe op aarde beskryf word. The Story of life & the Evironment – an African perspective vertel ook van die natuur se vermoë om te oorleef en die verskeidenheid van lewe op ons ondermaanse. Prof. Linda Basson sal die skrywers Jo van As, Johan du Preez, Nico Smit en Leslie Brown, almal professore, oor dié merkwaardige werk aan die gesels sit.


MALUTI, WOENSDAG 26 JUNIE 2013

5


6

MALUTI, WOENSDAG 26 JUNIE 2013

Sakeman tuis op Bethlehem AGTTIEN jaar gelede het hy met deur-tot-deur-verkope begin en vandag is hy ’n gevestigde sakeman. Maluti het met Deon van Rensburg van Nashua Bethlehem gesels. Jy is nog nie lank op Bethlehem nie. Van waar is jy? Ek het in Johannesburg grootgeword en het drie jaar gelede die alleenagentskap van Nashua oorgeneem. Watter werk het jy in Johannesburg gedoen? Ek het in 1996 as ’n deur-totdeur-verkoopman vir NashuaNoord in Randburg begin werk. In net 18 maande is ek tot die groot rekeninge-afdeling in die maatskappy by Nashua-Noord bevorder. Twee jaar later is ek hoofkantoor toe waar ek met korporatiewe verkope te doen gekry het – kliënte soos Nedbank, Southern Sun en Anglo Gold. Hoe lank het jy met korporatiewe verkope te doen gehad? Ek het agt jaar daarmee gewerk. Is jy vir jou harde werk beloon? In die agt jaar is ek vier keer as die verkoopman van die jaar aangewys. Hoe het jy op Bethlehem beland? Ek het die base gevra wanneer ’n alleenagentskap beskikbaar word, of hulle my in gedagte sal hou. Is jy spyt jy het Gauteng vir die platteland verruil?

DEON VAN RENSBURG Nee, geensins nie. Dit was nie aldag maklik nie. Ek het ’n moeilike onderneming oorgeneem en moes dit van voor af opbou. Hoe groot is die gebied waarin jy sake doen? Villiers, Warden, Harrismith, Van Reenenspas, Kestell, Qwaqwa, Bethlehem en Reitz. Het die onderneming uitgebrei? Ons het aanvanklik verbruiks- en hardeware verkoop. Nou het ons ’n volledige IT-afdeling met verkope en diens. Ons het ’n rekenaar- en diensafdeling en hou ook ’n volledige reeks skryfbehoeftes aan. Ons beskik oor PABX (telefoonstelsels) en het Nashua Mobile drie weke gelede geopen. Nashua Bethlehem is nou ’n eenstopwinkel. Het jou personeellede vermeerder soos die onderneming groter geword het? Beslis. Ons was eers sewe en is nou al 13. Wat is jou leuse? Dit is HIT (integrity and transparency). Ek hou van integriteit en eerlik-

heid. Dit is ’n eerlike onderneming. Dit het baie gekos om dit weer op te bou. Jy is baie betrokke in die gemeenskap. Hoekom? Dit is vir my belangrik om aan die gemeenskap terug te gee. Waar is jy betrokke en hoekom? Ek was die afgelope drie jaar die hoofborg van die Kansa Relay for Life. Ek het velkanker gehad en sal Kansa altyd ondersteun. Ek het al skenkings aan die tennisklub, gholfklub, skole, ouetehuise en minder bevoorregte kinders gedoen, asook kleiner borgskappe. Ondersteun jy plaaslike ondernemings? Ek koop niks buite die dorp nie, want ek glo daaraan om plaaslik te ondersteun. Neem jy aan sport deel en hoe betrokke is jy? Ek speel gholf en was die afgelope twee jaar klubkaptein. Wie is jy as mens by die huis? Ek is ’n geswore oujongkêrel wat vanjaar verloof gaan raak. Ek en Leigh het 16 jaar gelede ontmoet en mekaar ná jare weer raakgeloop. Sy woon in die Kaap en beplan om volgende jaar Bethlehem toe te verhuis. Ek behoort aan die Metodistekerk en lees elke oggend ’n dagstuk voor werk. My familie en vriende is belangrik. Jou boodskap aan Bethlehem? Kyk om jou, sien die mense raak wat goeie dinge op die dorp doen en ondersteun hulle.


MALUTI, WOENSDAG 26 JUNIE 2013

7

Oud-inwoner sterf in ongeluk ’n OUD-BETHLEHEMIET, Riana Jansen (28), is Maandagoggend in ’n motorongeluk in Pretoria dood. Die ongeluk het op ’n kruising plaasgevind. Riana was ’n passasier in die motor. Die bestuur-

der is ernstig beseer. Sy is Maandagoggend uit die NG kerk Oosterlig in Pretoria begrawe. Sy word deur haar pa, Johan van Bethlehem, ma, Rina van Pretoria, en twee broers, Johan en Kobus, oorleef.


8

MALUTI, WOENSDAG 26 JUNIE 2013

’n OUMA­EN­OUPADAG is by Care Kids gehou. Shari Hattingh se oupa en ouma Abrie en Bets Beukes, asook haar ma, Maryn, het die oggend saam met haar deurgebring.

SEBASTIAAN DE WIT was alte bly sy ouma Annelien de Wit kon by sy kleuterskool, Care Kids, kuier. PHEDISANG BANA, ’n skool met sy 54 ge­ stremde kinders, het 10 rolstoele van die Frontier Inn Dihla­ beng­gemeenskaps­ trust ontvang. Perso­ neellede van die Frontier Inn and Casi­ no het ná die oorhan­ diging vir die kinders worsbroodjies en koeldrank gegee. Van links is Jolandi van den Heever (Frontier Inn and Casino), Lor­ raine Sebotsa (hoof), Tjhetane Mofokeng (uitvoerende burge­ meester, trustee van Frontier Inn Dihla­ beng Trust), Anthony Oliver (bestuurder, Frontier Inn and Casi­ no, trustee), Mike Kgwatlela (trustee) en Simon Makhoba (Frontier Inn and Ca­ sino).

KAYLEIGH en Shiloh Brits se ouma en oupa Leonie en André Bezuidenhout en hul ma, Nadia, het die Ouma­en­oupadag by Care Kids bygewoon. Foto’s: Magic Photography

HANDREI BRANDT (3) se oumagrootjie Sarie van Niekerk het die Ouma­en­oupadag by Care Kids bygewoon.

’n OUMA­EN­OUPADAG is by Care Kids gehou. Kaelyn en Sebastiaan de Wit se ouma Celia Morton het die oggend saam met hulle geniet.

BABY PELSER (79) van Huis Kosmos op Kestell het terwyl sy klassieke musiek en opera oor die radio geluister het, 130 selfoonsakkies gehekel. Sy het die sakkies spesiaal vir die sinodegangers van die Methodiste­si­ node van die Noord­Vrystaat en Lesotho gemaak. Sy het die sakkies aan ds. Francois Brink oorhandig. Foto: Johann Ramage


MALUTI, WOENSDAG 26 JUNIE 2013

Skud oortollige kurwes by Curves af

ELNA HATTINGH, wat in vier maan­ de 10,7 kg verloor het, voel soos ’n ander mens. Sy is meer energiek en vol lewenslus en sien daarna uit om die vakansie by haar dogter in die buiteland te gaan kuier.

GAOBOTSE NTSELE het tot dus­ ver die tweede meeste met die Cur­ ves Complete­program verloor. Sy het altesaam 11,5 kg, 55 cm en 1,6 % (7,32 kg) liggaamsvet ver­ loor.

HESTER ERASMUS is die topver­ loorder van die Curves Complete­ program. Sy het in minder as vier maande 17,1 kg, 63 cm en 4,4 % (10,88 kg) liggaamsvet verloor. Die program is by Curves Bethlehem.

CURVES COMPLETE, ’n plan wat oefening, ’n gebalanseerde eetplan en motivering insluit, is die lede op die Complete-eetplan van Curves Bethlehem se lewe aan die verander. “Sedert die nasionale bekendstelling van Curves Complete op 4 Februarie het ons verstommende resultate,” sê Ernst en Tanya Prinsloo, eienaars van Curves Bethlehem. Tans is 42 lede op die plan, waarvan sommige lede pas begin het en ander in die middel van hul ses maande lange program is. Tien van die lede is nog nie geweeg of gemeet nie en die ander 32 het altesaam 135,5 kg, 447 cm en 44,8 % liggaamsvet verloor. Hester Erasmus (50) is nou die top-verloorder. Sy het 17,1 kg, 63 cm en 4,4 % (10,88 kg) liggaamsvet in minder as vier maande verloor. Hester sê sy het al wat dieet is voor Curves Complete probeer met geen sukses nie. Sy het voorheen geen gewig verloor of uithouvermoë gehad nie. Sy meen Curves Complete maak voorsiening vir kos wat jy kies en wanneer jy dit in die week gaan eet. Boonop is dit ’n persoonlike eetplan wat haar voorkeure en afkeure in ag neem – met resepte en ’n inkopielys wat dit met versnaperinge tussen maaltye maklik

maak. Boonop eet haar gesin saam en stem saam die kos is smaaklik. Sy sê die program is bekostigbaar, met geen kalorieë wat getel moet word nie, want die program op die internet doen dit vir jou. Gaobotse Ntsele (34) het in drie maande 11,5 kg, 55 cm en 1,6 % liggaamsvet verloor. Sy sê oor Curves Complete: “My results have been amazing. I love seeing the clothes hang on me and I am making healthy choices for my kids. I realise my limitations, however food is not my stress reliever anymore. Curves Bethlehem is warm and loving – it makes you want to go to gym.” Elna Hattingh (57) het in vier maande 10,7 kg, 56 cm en 1,7 % (6,52 kg) liggaamsvet verloor. Elna sê sy voel soos ’n ander mens. Sy is meer energiek en boonop kry sy nie meer skeelhoofpyne nie. “Die ondersteuning van die Curves-personeel is wonderlik. Dit help my om my doelwit voor oë te hou.” Op 1 Julie is dit ’n Curves Complete- ope dag. Prinsloo sê dit is belangrik om ’n afspraak vir die ope dag te maak. Belangstellendes kan 058-303-2611 bel. Tesame met die Christmas starts in July-promosie is daar groot pryse wat gewen kan word.

9


10

MALUTI, WOENSDAG 26 JUNIE 2013

Baie dinge te doen in die tuin in die winter DIE temperatuur het in die meeste dele van die land gedaal. Dit is winter. Daar is egter steeds baie wat in die tuin gedoen kan word. Dit is nou ’n goeie tyd om jou hele tuin met kompos en kunsmis te bemes (dit is te sê as jy nie reeds jou hele tuin met wintersaailinge en bolle beplant het nie). Indien wel, kan jy die kompos- en kunsmisbehandeling doen wanneer jy jou wintersaailinge verwyder en jou somertuin begin beplan. ’n Goeie maatstaf is om so nagenoeg ’n 6 cm tot 10 cm dik laag goed afgebreekte kompos oor jou tuin te versprei en dit dan tesame met ’n organiese 2:3:2-bemesting in te werk. Die organiese 2:3:2-bemesting sal jou plante se wortelstelsel voed. Moenie dit te diep inwerk en jou plante se wortels seermaak nie. Tussen bome en struike is ’n diepte van ongeveer 6 cm meer as genoeg en by die meeste grondbedekkers kan ’n mens dit net liggies bo-oor strooi en met water inwas. Take wat jy kan aanpak, is om jou snoeigereedskap en grassnyer reg te kry. Jy snoei en verplant gewoonlik in die laat winter, omdat die meeste van jou plante stadiger groei of dormant is. Onthou egter om nie te vroeg

te begin snoei nie, aangesien plante gestimuleer word om uit te loop nadat dit gesnoei is. Beplan jou snoeiprogram vir die laat winter. Hier is ’n paar redes hoekom jy behoort te snoei. Om jou plante skoon te maak: Baiekeer is jou plante net te dig en die takke is in mekaar gegroei met baie dooie hout tussen-in. Jy kan die struike skoonsny en van al die dooie hout en kraainestakke ontslae raak. Om jou plante te vorm: Bome en struike kan ook net te groot word en in ’n verkeerde rigting groei. Beplan nou om hulle kleiner te maak en takke wat pla af te sny. Hierdeur verminder jy ook die plant se las en gee jy die wortels kans om sterker te word. Om nuwe groei, blomme en vrugte te bevorder: Rose, vrugtebome en hibiskusse is drie soorte plante wat baie sterk teruggroei nadat dit gesnoei is en ook net op nuwe groei blom. Sodoende kry jy meer takke, meer blomme en meer vrugte. Om sukses te verseker met die verskuiwing van plante moet jy die volgende in gedagte hou. As jy enigsins ’n plant sou wou verplant, is dit die regte tyd om die plante te identifiseer. Indien dit ’n baie groot struik of boom is, kan jy selfs ’n sloot

om die plant grawe en ’n goeie grondmengsel in die sloot gooi om nuwe wortelgroei te stimuleer. Wanneer jy dit dan later verplant, moet die grond en die nuwe wortelgroei saam met die struik wat jy wil verplant, verwyder word. Snoei eers jou plant omtrent ’n derde terug dat jy dit makliker kan hanteer en ook om die las op die wortelstelsel te verminder en gooi die plant goed nat. Sodra jy teruggesny het, kan jy die grootte van jou wortelstelsel skat deur die druplyn te volg. Dit sal omtrent die regte aanduiding gee van die grootte van die wortelbal en hoe groot jy jou nuwe gat moet voorberei. Onthou: Die krag van jou plant lê in sy wortelstelsel en jou sukses hang af van hoe vinnig en versigtig jy jou plant kan verplant. Steek ’n graaf loodreg in die grond af om die wortelbal uit te haal. Lig die plant versigtig uit met ’n graaf sonder dat jy die grond van die wortels af wegbreek en verskuif die plant na die nuwe plek. Moet nie dat die wortels uitdroog nie. Verplant jou plant met die nodige kompos en beenmeel. Maak die plant sopnat en gooi hom minstens elke twee dag nat totdat die plant weer begin uitloop.

PRECON-MUURPANELE te koop. Skakel Marè by 082°403°8033.

For all tombstones and repairs to damaged tombstones, as well as epitaphs, etc. Please phone 058 303 4840.

VAN links is Tienus de Wet (o.14), Ayanda Miya (o.12) en Andene Scholtz (o.16), landloop­atlete van die Hoërskool Reitz, wat aan ’n interprovinsiale byeenkoms in Bloemfontein deelgeneem het. Tienus was derde in ’n wedloop wat oor 4 km gestrek het. CAROLINE MOKOENA van die Hoërskool Retief op Kestell is in die eindronde van die B­liga­spanne as die aanvallendste speler van die o.13­netbalspanne gekies. Foto: Babas Storm

Was van sitkamerstelle, volvloermatte en motorsitplekke. Uitsuig van water. Gratis kwotasies. Skakel Ronel 082 788 1483

TAFELDOEKE Kandelare Eetgerei Peto Odendaal Lombardstr. 7. 058 303 2392. Huis te huur: R5 500 p.m. 3 slk, dubbelmotorhuis, afdak, enkelgeriewe, groot erf, tuindienste. Panorama. Barry de Koklaan 8. Harold 083 450 9150.

Flower Fun Kwekery: Wintersaailinge, uieplantjies en vars blomme beskikbaar. (058 303 8423. Cambrigestr. 58. By silo's. Oop Ma. - Sa.

Dubbelkantoor te huur: Kerkstraat 1. Bethlehem. Front noord. Baie warm. 0833560685.

Blanke man, 35 jaar oud, met kode 10 plus PDP soek enige werk of werks-geleentheid, sal hoog op prys gestel word. Gideon 078°041°4474. Op soek na werk as huishulp 3 dae per week. Dinsdag, Woensdag en Donderdag. Skakel Anna 078 517 5503.

AANDAG

ALLE ADVERTEERDERS Die gebruik van die letter

"A", leestekens soos "!" of "*" of die gebruik van syfers met die doel om die advertensie na die bopunt van die klassifikasie-lys te skuif, is streng verbode. SMALLS NOTICE


MALUTI, WOENSDAG 26 JUNIE 2013

Geniet sportdag VLUGBAL was een van die sportsoorte waar­ aan deelgeneem kon word op die Maluti­Hoog­ landskool se sportdag tussen onderwysers en leerlinge.

BENNET KOK het die bal voor die onderwysers weggeraap in die Maluti­Hooglandskool se rug­ bywedstryd tussen leerlinge en onderwysers. Van links is Johan Wessels, Albertus van Nie­ kerk en Gerhard van Aswegen. Foto’s: Lynda Greyling

ONDERWYSERS en leerlinge aan die Maluti­Hooglandskool het teen mekaar netbal gespeel.

Voltooi tiende Comrades UYS LE ROUX, onderhoof van die Hoërskool Reitz, het vanjaar sy tien­ de Comrades­ultramarathon voltooi. Hier ontvang hy sy groen nommer van Grace D’Oliveira.

11


12

MALUTI, WOENSDAG 26 JUNIE 2013

Sport Koerant met hart I The paper with heart

Volg perdrykursus VIER inwoners van die Charlotte Theron­kinderhuis (CTK) het ’n perdrykursus voltooi. Die kursus is deur Johann Sieker en Muller Janse van Rensburg van die Saulspoort­ruiterklub aangebied. Die ruiters het ook elkeen ’n sertifikaat ontvang. Van links is Cynthia van Niekerk, Johann Siecker, Marcelle Kleynhans, Monya van den Bergh, Muller Janse van Rensburg en Maryke van Zyl. Foto’s: Lynda Greyling

Eindig onoorwonne in liga DIE Laerskool Jordania se o.12A­netbalspan het onoorwonne in sy liga geëindig. Hy is ook on­ langs op die Vrystaatse kampioenskappe as die algehele wenner van die Vrystaat­liga aangewys nadat hy sterk skole soos die Meisieskool Oranje, Vaalpark en Welkom­Volkskool geklop het. Dié span is volgende kwartaal op pad na die Suid­Afrikaanse kampioenskapsbyeenkoms. Van links is, voor: Dina­Mari Janse van Rensburg, Marica Miles, Mamelo Nhlapo, Cherile Trotter en Marcelle Pieterse; agter: André Smith (skoolhoof), Renemari Human, Lize­Mari van Niekerk, Jes­ sica Nel en Susan Kruger (afrigter). Foto: Verskaf

Vir meer foto’s en nuus gaan na www.malutinews.co.za

MARYKE VAN ZYL is ná ’n perdrykursus deur Johann Sieker en Muller Janse van Rensburg as die belowendste ruiter aangewys.

Maluti 26 06 2013  

Maluti 26 06 2013

Advertisement