Lynnwoorde

Page 6

In die gemeente LYNNWOOD AFTREE-OORD Johan Jooste

Anders as in sommige ander voorstedelike gemeentes het ons gemeente net een aftree-oord, maar die gemeente se verhouding met die Oord is besonders want ons is baie nou daarby betrokke. ’n Span dames van die gemeente sorg byvoorbeeld vir vervoer van die Oord se mense wat nie meer self kan ry nie en ons het ’n predikant vir die Oord wat amper soos ’n kapelaan daar is, want hy versorg almal nie net ons eie lidmate nie. Dit is interessant om te sien hoeveel van die Oord se mense oud-inwoners van Lynnwood is; heelwat het ook kinders en kleinkinders in die gemeente. Min mense weet dit, maar Lynnwood-Oord het sowat 22 jaar gelede op inisiatief van ons gemeente tot stand gekom nadat besluit is dat vir die afgetredenes van ons gemeenskap voorsiening gemaak moet word. ’n Ouetehuis sou nie nodig wees nie, maar wel ’n aftree-oord waar mense hul eie eenhede kon koop, met ’n eetsaal en ’n kliniek. Na die konsepbeplanning was die kerk nie meer betrokke nie, en het die Oord op sy eie gefunksioneer met ’n raad van trustees wat uit eie geledere aangestel word. Lynnwood-Oord se goeie verhouding met ons gemeente het voortgegaan en ons lidmate vorm steeds die grootste groep in die Oord. Ek meen dat daar nog nie ’n voorsitter van die raad was wat nie ’n lidmaat van ons gemeente was nie. Tans is mnr Nico du Plessis die voorsitter, na prof Samuel Lombard wat vir etlike jare as voorsitter gedien het. Oom Samuel was betrokke by die stigting van die gemeente en is nie net nog steeds op die Raad nie, maar neem ook leiding met kerksake. In ’n aftree-oord moet daar altyd ’n fyn balans wees om mekaar se privaatheid te respekteer, maar om ook ’n gelukkige onderlinge gemeenskap te skep waar mense vir mekaar omgee. Sosiale funksies word daarom gereeld gehou en baie vriendskappe ontwikkel hier. Kerkbyeenkomste word ook weekliks hier gehou. Hoe lyk die Oord se mense? Mense maak soms die fout om te dink dat die mense in ’n aftree-oord almal eenders is. Dit is vir seker nie so nie! Neem nou maar net ouderdom as voorbeeld. Ons oudste lidmaat is nou 101 jaar, en die jongste is net so oor die 60. Dit maak dat die ouderdomsverspreiding in Lynnwood-Oord amper 40 jaar is. Maar die Oord se mense verskil nie net in jare van mekaar nie. Ouer mense verskil onderling meer van mekaar as enige ander groep, want deur die jare kom die uniekheid van elke mens meer uit die verf. Hulle sê mos dat mens al hoe meer word soos wat jy is. Daar is ’n taamlike omset van mense in so ’n Oord. Wanneer ’n nuwe aftree-oord begin, is die mense gewoonlik

6 LYNNWOORDE 9

relatief jonk en met die jare styg die gemiddelde ouderdom. Die Oord se gemiddelde ouderdom het nou ’n hoogtepunt bereik en dit sal interessant wees om te sien in hoe ’n mate jonger mense begin by kom. Van die eerste intrekkers in die Oord is daar vandag nog net een oor, mej Eunice Theron. Ons gemeente is trots op “ons eie” aftree-oord waar baie van ons ouer mense bly, mense wat vir ons almal kosbaar is, nie net vir hulle wysheid nie, maar ook vir die voorbidding vir hulle kinders en kleinkinders en vir die hele gemeente.

Die ouderdom demp glad nie die pret by die Oord nie!


Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.