Page 1

20

Krit Saterdag

profiel

20 | Saterdag, 29.3.2014 29 Maart 2014

20 uit 20 vir ‘fees­ouma’ Amanda Strydom praat met Anika Marais oor Mandela, Makeba en ’n stuk met ’n hart wat net aanhou pomp en pomp.

‘E

k is die fees-tert. Of dalk liewers die fees-ouma!” spot Amanda Strydom. Dié sangeres, aktrise en liedjieskrywer het nog nie ’n fees in die KKNK se bestaan misgeloop nie. En vanjaar is sy weer hier – in ’n rits produksies. “Ek kan myself nie ’n jaar indink sonder die fees nie. Solank my aansoek goedgekeur word, sal ek in Oudtshoorn optree,” het Amanda aan Krit gesê op die vooraand van die fees. “Dalk is dit omdat ek van die heel eerste fees betrokke is, dat die KKNK so diep in my hart lê.” Met die eerste KKNK in 1995 was sy egter bang dié kunstefees sou uitsluitlik Afrikaans bly. “Ek was baie bang dat ons sou laertrek om onsself – dat dit net ’n fees vir ’n sekere groep sou bly. Maar die fees het oor die jare uitgebrei en gegroei en dis nou oop vir almal.” Sy skryf dié samehorigheid gedeeltelik toe aan die jaar toe oudpresident Nelson Mandela die fees besoek het. “’n Hele klomp van ons is genooi om die volkslied by die openingsverrigtinge van die fees in 2001 te sing. “Ons het op die verhoog gesit toe ek ’n helikopter hoor. Niemand het vir ons gesê wie die fees gaan kom open nie, maar toe die man uitklim, was dit onmiskenbaar mnr. Mandela,” vertel sy. “En daar kom maak hy ’n toe-

*

spraak in suiwer Afrikaans. Aan die einde, het hy die Groot Verseboek in sy hande bo sy kop vasgehou en gesê: ‘Afrikaans is vry!’” Haar oë skiet vol trane, soos sy dié oomblik weer in haar geestesoog herleef. “Dit het my so aangeraak. Ek sal dit nooit vergeet nie. Ons almal het hoendervleis gekry.” Kort ná Mandela se toespraak het die orkes die bekende lied Mama Tembu’s Wedding begin speel. “En as daai liedjie begin speel, kan ’n mens mos nie stilstaan nie! Ek het onwillekeurig begin move,” sê sy, soos sy op die stoel rondskuif en kamma-kamma dans. Toe vang ek Madiba se oog. Hy het óók sy bekende shuffle begin doen.” Sy lag en skud haar kop, bykans in ongeloof. “Ag, ek weet nie wat my besiel het nie, maar net daar hardloop ek tussen al sy lyfwagte deur. Hy het sy arms wyd oopgegooi en my vasgehou. Al wat ek, soos ’n verliefde matriekmeisie, kon uitstamel was: ‘We love you. We love you!’ “En hy antwoord: ‘I love you too. And I know who you are’.” Sy raak stil. Skielik ernstig. “Êrens in 1986 moes ’n riemtelegram op Robbeneiland by hom uitgekom het. Hy het geweet van die wit meisie wat by die Oude Libertas in Stellenbosch ‘Amandla!’ geskree het en teen die paswette gesing het. “Dit was net ongelooflik. Hy het ons daardie dag spesiaal laat voel, soos nét hy kon.”

Sien haar hier Strydom se eenvrouvertoning State of the Heart is Sondag, Woensdag, Vrydag en Saterdag by Die Boer te sien. Sy sing ook vandag die Misa Criolla en Navidad Nuestra met die Liber­ taskoor in die Absa Burgersentrum. Strydom is een van 13 kunstenaars wat Sondagaand by die Huisgenoot Klein Karoo 20­Jaar Pops op die Oudtshoorn­sportterrein optree.

Strydom vier vanjaar ook ’n ander mylpaal. Dit is 21 jaar sedert sy die gewilde eenvroustuk State of the Heart vir die eerste keer in 1993 op die planke gebring het. En vanjaar bring sy dié stuk weer KKNK toe. “Oorlede Patrick Mynhardt het destyds vir my gesê: ‘Meisiekind, dié is jou pensioen-show.’ Soos hy Herman Charles Bosman se stories kon vertel tot hy tagtig jaar oud was, só kan ek hierdie verhaal oor en oor vertel.” Sy lag verleë. “Ek word nou net ’n bas en die rokke word al hoe groter, maar dit neem niks weg van die magiese wonderlike wêreld waarin ek die gehoor saam met my kan wegvat nie.” Dié tydlose liefdesverhaal gaan oor die Afrikaanse vrou Maxie wat smoorverlief raak op ’n Engels vlieënier, Raymond Bartlett. Dié liefde word egter glad nie deur Maxie se stoere Afrikaanse familie aanvaar nie. “Daar loop raak Maxie verlief op ’n rooinek. In daardie dae sou jou pa jou velle afgetrek het as jy dit durf waag het!” Dit is vir haar wonderlik om te sien hoe gesinne die vertoning saam kom kyk. “Nou bring die man en sy vrou, wat nog die oorspronklike CD van die vertoning het, hul dogter en seun en kleinkinders saam om te kom kyk. Mense wil dit nog na 21 jaar sien. Dis ’n universele storie.” Maar die integrasie by die KKNK was egter nie sonder pyne nie. “Ek, Johannes Kerkorrel en Miriam Makeba het in 1997 by die musiekfees Kaktus op die Vlaktes opgetree. “Ek was eerste op die verhoog en was besig om te sing, toe ek agterkom die gehoor gooi bierblikke in my rigting. Hulle het die bierblikke aanhou gooi, terwyl Kerkorrel op die verhoog was. Ek het nie ver-

staan hoekom nie. “En toe moes Miriam opgaan. Sy het begin sing en sy was ongelooflik, maar hulle het die bierblikke aanhou gooi. “Sy het ophou sing en gesê: ‘Stop throwing these things on stage. They are like missiles. They can hurt someone.’ En toe loop sy van die verhoog af. Dit was verskriklik.” Soli Philander, seremoniemeester by die musiekfees, het daarna op die verhoog gestorm en op die gehoor begin skree, vertel Strydom. “‘Weet julle wie hierdie vrou is? Het julle enige idee watter ikoon hierdie vrou is? Weet julle hoeveel jaar sy stoksielalleen in ballingskap was? En julle gooi haar met bierblikke?!’ het hy geskree. “En net daar stap hy van die verhoog af, by die sportgronde uit en dit was die einde van die aand.” Hoekom die bierblikke gooi? “Ag, daar sal mos altyd êrens ’n dronk vark wees,” antwoord sy. “Onthou, ons het net ’n demokrasie geword. Hier stap hierdie wêreldberoemde swart ikoon op die verhoog en sing haar hart uit en daar is ’n paar varke wat besluit: nee wat, hulle hou nie daarvan nie. Strydom het agter die verhoog vir Makeba om verskoning gaan vra. “‘I am so sorry about what happened,’ het ek vir haar gaan sê. Sy was baie waardig, maar ek kon sien sy was ontsteld.” Die fees het intussen verander, beklemtoon sy haastig. “Ek moes dié insident noem, want sulke goed word nie meer geduld nie. Die fees het verander. Daar is Engelse produksies. Kunstenaars kom van Frankryk, van Nederland. “Jy kry ook fantastiese gemeenskapsteater wat die jeug van Oudtshoorn betrek.” Die fees het oopgegaan vir almal.

Krit kr krit 20