Issuu on Google+

Die Doringtak Nr. 39

DESEMBER 2005 Nuusbrief van die JOHAN JOST STEINBERG FAMILIEBOND Posbus 3501, Pietersburg 0700 ( (015) 291 1421 083 377 7402 Faks (015) 295 7016 E-pos: ibron@mweb.co.za Bankbesonderhede: JJ Steinberg Bond, ABSA Spaarrekening 38065851803, Tak: 632 005

HULDE AAN ONS VOOROUERS (A Tribute to our Ancestors) Roy Stockdill het in 1997 in "Rhyming Relations: Genealogy in Verse" ‘n klompie treffende gedagtes geformuleer. Hy sê: HULLE het ons nie gekies nie, en ons ook nie vir hulle nie; ons het hulle nooit geken nie en hulle ons ook nie; tog is ons ewig en onontkombaar aan mekaar gebonde en daar is geen wet in die heelal, geen geestelike of fisiese metamorfose, wat ooit hierdie onvervreembare waarheid kan verander

nie. DIKWELS wens ons dalk ons het ander voorsate gehad en voel ons dalk om ons band met hulle te ontken, maar dit is net so futiel as om denkbeeldige valse voorsate vir onsself te skep, want ons bedrog sal sekerlik ontmasker word, indien nie deur ander nie, dan uiteindelik deur ons eie gewete. ONS is alles, ons ganse bestaan, aan ons voorvaders verskuldig, en tog weet ons feitlik niks van hulle af nie omdat daar so skraps verslag gehou is van hulle lewens. Dit is goed dat ons poog om ons kennis oor hulle lewens uit te brei sodat ons ons eie beter kan verstaan. HULLE het ons gemaak, liggaam en siel, en ons moet sonder klagte of wrewel aanvaar wat hulle was en wat ons is, want niks en niemand kan ooit hierdie feite verander nie en dis vrugtelose gekheid om obsessief daaroor te tob. ONS erken dat die nalatenskap van ons genetiese erfenis ‘n tweesnydende swaard is. Ons moet dankbaar

705

wees vir daardie gawes van persoonlikeid en inbors wat ons voorsate ons geskenk het wat ons voordelig vind, en nie kla oor die karaktertrekke wat ons minder voortreflik vind nie, want dit is sekerlik in ons eie hande om hulle te verander. ONS moet sover moontlik trots wees op ons voorouers en wat hulle bereik het, of hulle van hoё of nederige afkoms was, prinse of behoeftiges, en ons moet hulle nie arbitrêr probeer veroordeel vir dade waarvan ons die oorsake glad nie ken nie. ONS moet van hulle leer, uit hulle foute sowel as hulle suksesse; uit hulle tragedies sowel as hulle oorwinnings; uit hulle sondes sowel as hulle deugde; uit hulle verwagtinge sowel as hulle vrese. NAGESLAG en geskiedenis is onherroeplik verweef met die hede. Geen samehangende visie van die toekoms kan bestaan sonder ‘n verbondenheid met die verlede en kennisname van die lewens van ons voorsate nie. ONTHOU dat ons ook die voorsate is van hulle wat nog gebore moet word en ons moet streef daarna om vir hulle ‘n erfenis na te laat waarop hulle net so trots kan wees as wat ons is op wat ons voorvaders (en –moeders) aan ons bemaak het. ONS loof en dank ons voorsate vir die nalatenskap van goeie dinge wat hulle ons gegee het, vergewe hulle hul foute en bid dat ons sal poog om wyslik gebruik te maak van die kennis wat hulle vir ons nagelaat het. Die Doringtak is ‘n uitstekende (die enigste?) manier om 'n beter rekord te hou van ons voorsate se lewens. Stuur vir ons daardie vertellinge wat andersins verlore mag raak.

UIT DIE BRIEWEBUS Peter Steynberg (b7.c6.d7.e5.f1.g1. h1) van Vredenburg skryf: Vredenburg

se oorspronklike naam was Prosesfontein en dit is in 1848 gestig as 'n Wyk van die Agterbaai gemeente op Hopefield. Op die plaas Prosesfontein was die enigste vars water vir die boere van die kontrei waar die skape kon suip. Daar was gedurig gestry oor wie wanneer moes laat skape suip. Dit het later so erg geword dat die leraar van Malmesbury moes ingryp. Die nedersetting se naam het toe verander na Twisfontein in 1868. Daar het hofsake gevolg oor die waterreg en in 1872 is dit eers in die hof beslis en uitspraak gelewer. Na die hof-uitspraak het hulle die naam toe verander na Vredenburg (1873) soos dit vandag nog bekend is. In 1902 is die NG Gemeente Vredenburg onafhanklik van Hopefield afgestig en het dit eers 'n dorp geword. M T (Steynie) Steynberg (b11.c10.d5. e8.f2.) van Zastron skryf “ek het so pas Die Doringtak 38 ontvang en dit dadelik van bladsy 669 tot 704 deurgelees. Geluk met die inhoud daarvan en dankie vir al ure se onbaatsugtige arbeid daaraan”. Hy skryf verder dat sy dogter Cornelia M “Corné” (b11.c10.d5.e8.f2.g2.) onlangs ‘n operasie aan albei hande gehad het waartydens die kneukels van die regter wys– en middelvinger en dié van die linker wysvinger deur prosteses vervang is - alles die gevolg van reumatoïde artritis. Ernst (b11.c1. d1.e5.f1.g2) and Alise Steynberg of Potch received their “Een Familie” and promptly looked up Ernst’s cousin Dave who had phoned him out of the blue shortly before.

706


Ernst was in a meeting at the time and couldn’t talk much, so he took Dave’s number to phone him back—only to find later that there was one digit missing and he couldn’t phone Dave again. They have since established contact and Die Doringtak may well hear more about this. Nicolette Vermaas (neé Steynberg b7.c6.d7.e5.f1.g1.h2) skryf dat dit met hulle in Nelspruit goed gaan. Hulle woon nog op ‘n plaas by Hermansburg - sowat 10 km buite Nelspruit. Naby genoeg aan alles en ver genoeg om uit die gedruis te wees. Met dié dat sy en Wessel albei op plase grootgeword het, sal hulle moeilik in ‘n dorp aard. Die kinders raak groot. Wiam Willem (geb. 6/8/95) en Niël Wessel (geb. 15/6/98) is in Laerskool Laeveld. Albei speel tennis en krieket. Ma het nou al twee eksamens geskryf in Gr. 4 en nogal goed gedoen. Aliza (geb. 14/2/01) is drie oggende per week in ‘n kleuterskool en wil net graag elke dag gaan, maar Pa Wessel keer. Wessel verkoop nou eiendomme saam met die gifverkope. Nicolette is soggens by die huis en bly besig met VLU en Garden Club. Middae ry sy taxi soos so baie ander ma’s. Via Nicolette het ek verneem dat haar oom Stephanus Petrus “Steve” Steynberg (b7.c6.d7.e5.f1.g4) nou hulle plaas Daglumier (tussen Graaff Reinet en Aberdeen) in sy seun Stephan (en Elize) se hande gelaat het. Hy het sy oupa, Jan Petrus Steynberg (b7.c6.d7.e5) se ou huis (“Die Ark”) in Bourkestraat 76 in Graaff Reinet gekoop en hy en Pauline woon nou daar. Oupa JP het daardie huis op 7/11/1919 gekoop. Dit sal interessant wees om te weet wat hy daarvoor betaal het. Pauline hou nog

skool in GR. Hulle het die huis basies in twee woonstelle verander en hulle dogter Lulette woon in die een deel. Lulette het nou ‘n “Oppie-Koffie” restaurant in Graaff Reinet. Steve beplan ‘n interessante onderneming in Graaff Reinet waaroor ons graag meer sal hoor. Mev Elizabeth Magdalena (Bettie b7.c6.d7.e5.f2) Steynberg van Bourkestraat 69 Graaff Reinet, het ‘n tyd gelede geval. Toe het sy besluit om die huis op te gee en nou woon sy in Huis Karee in Middelburg K.P. Sy het juis op 10 November die geseënde ouderdom van 92 jaar bereik. Die hele familie wens haar hartlik geluk met hierdie besondere mylpaal en is dankbaar dat sy nog soveel krag en gesondheid geniet. Margaretha (Rita) Steynberg van Graaff Reinet vertel trots dat haar seun Petrie, wat nou in Alberton woon, en sy vroutjie op 16 November ‘n pragtige dogtertjie, Marli, ryker geword het. Rita gaan in Desember vir haar seuns kuier wat nou alvier in die Transvaal woon. Sy belowe om by haar tuiskoms vir ons ‘n lekker geselsbrief te skryf met interessante inligting oor haar familie en oor Graaff Reinet. Belofte maak skuld! Stephanus Johannes Hendrik “Fanie” Steynberg (b11.c1.d4.e9.f2) van Hermanus skryf, “weereens moet ek jou gelukwens met ‘n pragtige en insiggewende Doringtak. Ek het heerlik gelees.” Fanie se brief is aanvanklik verkeerd geadresseer en het met ‘n lang draai eers by Die Doringtak uitgekom. Sy kommentaar: “Oud word is nie vir snuiters nie!”

707

Oom Willem Frederik Ulrich Steynberg (b7.c6.d6.e6.f6) van die Paarl skryf n.a.v. “Op Onthou se Spoor”, DD38, P696 e.v., “Byvoeging by besonderhede oor my pa se motors: Hy het ‘n 1932 model Chevrolet gekoop met “skottel”-wiele. Al die vorige motors het speekwiele gehad - ‘n gebeurtenis! Die omgewing se boere het almal kom kyk. Sy battery het net vir die ligte en toeter gesorg. Geen aansitter nie ... die vonk is deur ‘n “magneto” verskaf. Op ‘n koue môre moes jy eers al die water uittap, so ‘n vier liter kokende water ingooi, ongeveer 20 minute wag en dan begin slinger draai en hoop op sukses. Regs van die stuurwiel het daar ‘n verstelhefboompie gesit met die woorde “Advance” en “Retard” daarop. As jy die masjien aan die loop wou sit, moes jy dit op “Retard” stel, ander kon die slinger so erg terugskop dat dit die ou wat dit draai se arm kon breek. Oom Ulrich en Tant Bettie-hulle het onlangs ‘n aangename toer deur Gauteng gehad; oral was dit ‘n soort van re-unie. Veral op sy suster, wyle Tant Anna Susanna Malan (neé Steynberg b7.c6.d6.e6.f4) se ou plaas Brandbach naby Cullinan was die heimweë erg. (Sien opdatering oor haar kleinkinders op bladsy 728) Daar het hy wonderlike dae gehad tot sy swaer, Oom Willie Malan se dood. Hierdie plaas, waarop ek wat Ron is, as stadskind in die plaaslewe kon deel en heerlik baljaar saam met die Malan neefs en niggies, is nou weer in die mark. Die een helfte, daar van ou April se stat af - vir julle wat die plaas geken het - oor die kliprantjie en die kaal sandbult is nou ‘n wildkamp met swartwildebeeste, blesbokke en ‘n

klompie springbokke. Die ander helfte is ook in die mark. Hy en Tannie Bettie het ‘n heerlike Malan-dag gehad aan huis van (Prof.) Helgard van Wyk en Elize (geb. Malan) in Pretoria—met 19 Malans en die syne. Hulle kleinseun Ulrich (Enslin) het intussen ‘n pragtige dogtertjie genaamd Nina ryker geword. Oom Ulrich merk effens knorrig op, “Reken, hulle foeter met die nege daggies-oue ou dingetjie in ‘n woonwa Hermanus toe! Op die strand! Vandag se ouers darem ... die ma moes nog in die bed gewees het!” So van foeter gepraat ... Oom Ulrich vertel hoe hy as linkshandige kind in die skool ge-’foeter’ was om hom te dwing om regs te skryf. Later het hy maar weer links begin skryf - 'n handskrif wat waarskynlik net u Doringtak-redakteur vlot kan lees! Opvoedkundiges sal vandag hieroor horries kry, en die jonge Ulrich het ook nie ongeskonde gebly nie. Daardie emosionele druk op hom het veroorsaak dat hy begin hakkel het, tot vandag toe en veral as hy opgewonde raak. Diegene wat hom ken, sal bv. weet dat hy nog al die jare ‘n foon beantwoord met ‘n uitgerekte, half vraende: “Ja...a?” Dis nie van andersgeit nie. Dis omdat hy met die woord “Hello” neig om te hakkel en daarom die woord vermy. Elizabeth Aletta “Lizette” Basson (neé Steynberg - b7.c6.d3.e9.f4.g1) van Marble Hall skryf dit gaan nog goed met haar en Chris, so goed as wat dit in boerdery deesdae kan. Hulle het nog mekaar en baie ander seëninge. Hulle het uitstekend gedoen met party van hulle lemoene en met

708


die res nie te sleg nie. ‘n Boer wou mos altyd nog ‘n bietjie beter gedoen het. Christo sukkel bietjie met sy gesondheid. Hulle oudste kleindogter, Lizette Loubser, het onlangs mondig geword en was hier met vakansie van London af om dit te vier. Dan besef mens dat die tyd nie stilstaan nie. Sy sluit af: “Ron, ek wil weereens vir jou baie dankie sê vir jou insette met ons familiebond. Ons waardeer dit baie en wil jou gelukwens met nog ‘n puik Doringtak. Christo geniet ook Die Doringtak baie.” Jacob Johannes (Jaap) Steynberg (b7.c6.d9.e3.f3.g1) en Petro vroeër van Hoopstad, skryf dat hulle nou rustiger kom raak het op hulle wildplasie, Num-Num, tussen Nylstroom en Naboomspruit. Hulle dogter Carina (f1. - foutiewelik Karina gespel in EEN FAMILIE) is op 26 April 2003 getroud met Christiaan Cornelius (Ian) Tolmay, ‘n boer van Hoopstad. Hulle het op Kersdag 2004 ‘n dogtertjie, Cayleigh, ryker geword. Carina, Ian en Cayleigh boer ook nou op Num-Num. (Terwyl sy nou aan die regstel is, wys Petro daarop dat sy op 23 Oktober verjaar, en nie op 25 Oktober soos op bl. 85 van EEN FAMILIE getoon word nie. Jammer daaroor, maar baie geluk, al is dit ‘n bietjie laat.) Jacob Johannes (Japie - h1), steeds ongetroud, is nog op Hoopstad, waar hy na die besighede omsien. Johanna Catharina (Babs) Botma (neé Steynberg b7.c6.d7.e6.f1.g1) getroud met P.J. (Peet) Botma – van Centurion skryf: “Ek was verbaas om van my en my gesin in Die Doringtak te lees. Dit was net soos belangrike mense soos Advokaat Anton Steynberg. Ek het my weereens verlustig in jou artikels en prentjies. Wonder net wanneer meer van die stam- (b7.c6.d7. ens.) -lede van hulle

gaan laat hoor. (Babs, daar is nie onbelangrike Steynbergs nie. Ek hoop ook bogenoemde stamlede neem kennis: ons hoor te min van julle! - Ron) Johannes Adriaan “Basie” Steenberg (b11.c5.d2.e8.f2.g2) van Algoapark bedank ons redakteur vir die vinnige wyse (Ek sê julle mos! - Ron) waarop ek op sy briewe reageer. Dan doen hy ook iets wat ‘n nuusbriefredakteur, baie waardeer. Hy stuur my die name en adresse van familielede wat ook in Die Doringtak belangstel en ek kon met hulle kontak maak. Hy het nog ‘n paar adresse belowe. Ek hoop jy onthou dit nog, Basie. Dan deel Basie nog met ons ‘n klomp heerlike herinneringe wat elders in hierdie uitgawe verskyn. Just to let all our family and friends know that Kolle, our Jack Russel (who raised our one female meerkat - for those of you that did not know!) has become the grandmother of three sweet darling meerkats!! They come to ask something to eat in the morning before they leave for the veld. After a hard day’s work following Mommy Meerkat all day, they come to tell us when they are back, just before sunset. They then go to sleep in their nest close to the house. Everybody at Ganora is so aware of the babies!! All work stops when they pass on their way to the veld or back. They sure have the right of way on Ganora ! Everybody has to look out for them. Two of them came back wet after their first walk about! You can ask any worker at any time where they are and they will be able to tell you. Everybody cares so much for them. Love from us all at Ganora J.P, Hester, Louis and Renier Steynberg Werner Steenberg (b11.c8.d5.e7.f2. g11.h1) skryf “om julle op datum te

709

bring met ons familie.” Hy is ‘n produksie superintendent wat agt jaar reeds skofte werk. Hulle maak polistereenbakkies vir vleis- en groenteverpakkings. Hy het tevore twaalf jaar vir die Lugmag gewerk as ‘n draaier op freesmasjiene. Sy vrou Mabeth het vir agt jaar vir L.A.M.A.F. gewerk voordat Discovery Health hulle oorgeneem het en nou werk sy in hulle kliëntedienssentrum. Sy seun Henco (28/08/98) is ‘n besige kêrel soos Steenberge maar kan wees. Hulle gaan veral saam visvang wanneer daar kans is. Toe hy onlangs vir twee weke by Hentiesbaai gaan hengel het saam met hulle hengelklub, was dié mannetjie erg omgekrap omdat hy nie kon saamgaan nie. Sy dogter Maelene (29/11/02) is nou op die oulike sêgoed stadium. Hulle durf nie êrens heen ry voor haar handsak en pop in die motor is nie, anders is daar pêre. Die twee kleingoed se name het op interessante wyse ontstaan. Die potensiële konflik wat naamgee van kinders inhou, het hulle vermy deur hulle kinders se name af te lei en te kombineer uit hulle oupas en oumas se name. Maelene se naam kom van MAbEth (skoonma) MAgdaLENa, en Henco kom van HENdrik (skoonpa) en ChristOffel. As gesin verkies hulle om naweke langs die see te gaan ontspan. Hy eindig deur sy dank uit te spreek vir die “besondere taak wat jy vir ons verrig met Die Doringtak.”

Lag voordelig vir lewe? Patrick J. Bird, dekaan van die College of Health and Human Performance,

aan die Universiteit van Florida, raadpleeg ‘n databasis van meer as 3,800 mediese, gesondheids– en fiksheidsgeskrifte by sy voorbereiding vir die skryf van ‘n gereelde rubriek. Net soos baie van ons, het hy ook begin wonder of lag regtig gesondheidsvoordele inhou. Thomas Sydenham, 17de Eeuse Britse geneesheer het glo al gesê “Die aankoms van ‘n goeie nar in ‘n dorpie doen meer vir die inwoners se gesondheid as 20 donkies gelaai met geneeskruide.” ‘n Verband tussen lag en gesondheid word al vir jare gesuggereer. Psigoanalis Sigmund Freud het eerste hierdie idee

ondersoek. In sy 1905 boek Wit and Its Relation to the Unconscious, sê Freud dat lag ‘n verweer is teen angstigheid, vrese, woede en ander emosionele versteurings, en hy toon aan dat gepaste humor sosiale verhoudinge bevorder. Terloops, Freud was self ‘n ywerige versamelaar van grappe en komiese verhale. 75 jaar later het Norman Cousins in sy 1979 topverkoper, Anatomy of an Illness, ‘n stap verder gegaan as Freud. Cousins maak daarop aanspraak dat hy ‘n degeneratiewe rugprobleem oorwin het deur grappige boeke te lees, na Marx Broers films en ook na opnames van Candid Camera te kyk. Vandag is die studie van lag en humor

710


‘n ernstige akademiese onderneming met geleerde studies wat gereeld in top-klas akademiese joernale verskyn: • Lag stimuleer glo die immuunstelsel. Dit kan die effek van stres verminder, kiemvernietigende T-selle aktiveer en die vervaardiging van nuwe immuunselle versnel. Lag pomp ekstra adrenalien in die bloedstroom in en stimuleer die vloei van endorfiene, die liggaam se natuurlike pynstillers. Gevolglik voel ons na ‘n goeie lagbui meer ontspanne met ‘n beter gevoel van welsyn. • Lag laat die verstand se ratte los kom en bevorder kreatiewe denke. Lag oefen die hart, longe, bolyf en rug. Een navorser het beraam dat om 100 keer per dag te lag, wat vir baie mense nie onrealisties is nie, dieselfde effek het as ‘n strawwe 10-minute oefensessie op ‘n roeimasjien. • Die mees beduidende voordeel van lag is ongetwyfeld stresverligting. Gespanne persone wat maklik lag is bevind om minder gespanne en angstig te word as persone met ‘n meer norse lewensuitkyk. Talle wetenskaplikes betrokke by die studie van humor glo dat die intensiteit van stres grootliks afhang van hoe ons die stresvolle situasie beskou. As ons in voeling kan bly met ons ingebore speelse natuur, sê hulle, sal ons sien dat meeste van hierdie situasies ten minste ‘n onderdrukte laggie inhou, en dikwels ‘n goeie stresverligtende skaterlag. Om in voeling te bly met ‘n mens se ‘innerlike nar” mag egter harde werk verg om ‘n lewenslange gesindheid van swaarmoedigheid en bedruktheid om te keer. Daar word beraam dat ‘n gemiddelde kleuterskoolkind omtrent

300 keer per dag lag, teenoor die jammerlike 17 keer per dag van ‘n tipiese volwassene. Alhoewel sommige humornavorsers glo dat teen bereiking van volwassenheid ons sin vir humor en daaglikse lagkwosiënt goed gevorm is en moeilik is om te verander, is andere ver meer optimisties. Die swartgalligste onder ons hoef egter nie toe te laat dat lewenservaringe en die proses van veroudering ons geleidelik in ‘n humorlose bestaan indruk nie. Hulle sê ‘n mens het nodig om te oefen om jouself in ‘n speelse stemming te plaas om moeite te doen om elke dag op te helder met behulp van humoristiese boeke, tydskrifte, video’s of wat jou ookal amuseer. En dit beloon werklik die moeite. Of ons nou gespanne of olik is, of eenvoudig moet ontsnap uit ‘n tydelike vrees, is lag lewensverheffend.

Een geestige wyse het gesê, “If you can laugh at it, you can survive it.” ___________________________

WAARBORG BAAR SORG Ons is so dikwels ontevrede oor die swak gehalte van diens in ons land. Kom ons hou op met kla! Kom ons doen iets daaraan. Kom ons as familie maak dit ‘n beginsel om op goeie diens aan te dring. En natuurlik self ook goeie diens te lewer waar ons ookal betrokke is. As jy oor swak diens swyg, kondoneer jy dit en moedig dit aan. Ons gee graag footjies aan kelners, selfs as was die diens maar so-so … Moet dit nie doen nie! En sê vir die kelner waarom hy geen footjie kry nie. Kom ek vertel gou ‘n ware verhaal. Ek glo talle familielede het al ervarings gehad soortgelyk aan wat ek nou met julle wil deel. In November 2003 sit ons seun Henry

711

opgeskeep met ‘n dorstige 4X4 vuurwa wat hy al vir maande vergeefs probeer verkoop. Onverwags verskyn ‘n kontantkoper wat binne ‘n week die voertuig wil hê. Henry kan nie die geleentheid verspeel om van die 4X4 ontslae te raak nie, maar hy mòèt Maandag ‘n ryding hê om sy werk mee te doen. Pa en Ma moet natuurlik help. Hy bel met hierdie nuus (Dinsdag) terwyl ons op pad is Rand toe met sake. Ons bel Jurie, ‘n familielid in Pretoria, en terwyl ons daarheen ry, kyk hy ‘n bietjie in die stad rond vir ‘n geskikte gebruikte voertuig. By Pretoria-Oos Toyota loop hy ‘n Toyota Corolla raak wat reg lyk - voorkoms, bande, prys en al. Die feit dat dit ‘n Automark gesertifiseerde voertuig is, gee ons dadelik vertroue al ken ons nie die handelaar nie. Ons het oor die jare etlike Automark motors in Pietersburg gekoop sonder enige probleme. Vir ons is die Automark Waarborg sinoniem met gehalte, eerbaarheid en betroubaarheid. Ons huiwer dus nie om die oënskynlik netjiese en skoon motor vir ons seun te help koop nie. Ons vra verkoopsman Pieter Putter om voort te gaan met die transaksie en finansiering te reël, terwyl ons met ons ander sake verder gaan Rand toe. Die volgende middag is finansiering gereël en die motor staan gereed om weg neem. Toe Issie die papiere teken (die voertuig is op haar naam gekoop), het die koopprys skielik met R1549 vermeerder, terwyl ‘n raaiselagtige R900.00 bygevoeg is, plus R400.00 vir registrasie. Die rentekoers is ook hoër as wat met ons gereël was. Putter belowe

hy sal dit laat regstel, maar doen dit nooit. Ons was egter so gedruk vir tyd dat ons hierdie krapplekkies moes oorsien. Ek moes die voertuig bestuur na Pietersburg van waar ons jongste seun Johann hom Saterdag sou wegbring na Henry toe in Margate. Toe ek die motor aanskakel om te ry, skakel ek ook die lugreëlaar aan, want dit was warm. Dié werk toe nie. Ek vra ‘n personeellid om te kyk wat verkeerd is. Hy kon nie sê nie, maar meld dat die “v”-band wat die kompressor aandryf, ontbreek. Putter stel ons gerus dat daar net ‘gas ontbreek’. Ek moes dit die volgende dag by Limpopo Toyota in Pietersburg laat herstel - Pretoria-Oos Toyota sou betaal. Ek wou die transaksie summier kanselleer, maar Issie se moederhart raak week. Henry mòès Saterdag ‘n motor hê en ons kon hom nie in die steek laat nie! So is ek vort Pietersburg toe in die bloedige hitte. Langs die pad begin die rubber om die windskerm agter die truspieёltjie uit te hang. Ek aanvaar die windskerm is dalk onlangs vervang en die rubber is swak teruggesit. In Pietersburg druk hulle die rubber weer in posisie, maar bevind dat die verkoelingseenheid vasgebrand was. Hy sou nooit weer werk nie. Vervangingskoste word teen R6000.00 gekwoteer. Putter sê dis te duur. Hy sou ‘n herboude eenheid kry en dit na Pietersburg laat koerier sodat Limpopo Toyota dit kon installeer. Vrydag was die herboude eenheid nog nie beskikbaar nie. Geen probleem, reken Putter. Ons moes die motor Margate toe stuur.

712


Pta-Oos Toyota sou die verkoelingseenheid daarheen koerier en die plaaslike Toyota mense kon dit insit. Pta-Oos Toyota sou betaal. So gesê, so gedaan. Na talle vertragings en leë beloftes, is die verkoelingseenheid drie weke later geïnstalleer. Ons ontvang geen kopie van die koopkontrak nie. Ook geen papiere rakende die ABSA finansiering nie. Ons het wel 'n ongetekende afskrif van 'n Afbetalingsverkoopooreenkoms met 'n gedrukte vorm met voorwaardes daarby ontvang. Hiervolgens sou die maandelikse paaiement R1087.57 beloop na die deposito van R4000. Die bedrag wat egter maandeliks werklik teen Issie se rekening gedebiteer is, was onverklaarbaar R1157.69. Oor die 48 maande van die afbetalings sou die motor ons R3365.76 meer kos as ooreengekom. Allerhande nuwe onheile steek kop uit. Dit blyk dat die voertuig in ‘n botsing was en swak herstel was. Daarom kon die windskermrubber nie in posisie bly nie. Die voertuig kon nie in reën bestuur word of buite geparkeer word nie - die bagasiebak word vol water. Die linkervoordeur se ruit kon jy nie weer opdraai as jy dit afgedraai het nie. Jy moes dit met die hand versigtig in posisie forseer voor jy dit weer kon opwen. Die regter agterdeur was permanent gesluit en kon nie oopmaak nie. Dieselfde geld vir die bagasiebak. 'n Slotmaker moes hierdie probleme regstel. Na twee weke aan die Suidkus begin stopverf op die bakwerk uitval en slaan verskeie roeskolle op die verfwerk uit. Nou begin ek navraag doen. Wat beteken “Automark gesertifiseerde voertuie?” wil ek weet. Is hulle nie veronderstel om deeglik nagegaan en

in orde verklaar te wees nie? Ja, reken Mnr Putter, maar ek moet verstaan, hy doen dit nie self nie. Hy het ook maar diè voertuig die vorige week van 'n ander tak af gekry. Hy was tevrede dit is in goeie orde. (Later blyk dit dat hy self die voertuig ingeruil het by die vorige eienares en alles oor haar weet!) Hy hou vol hy was beslis nie bewus van enige defekte nie. Hy verseker ons dat hierdie voertuig nie in 'n botsing was nie. En die stopverf wat wil uitval? Nee, verduidelik hy: moontlik is die deur teen 'n paal gestamp en deur 'n amateur herstel, maar hy verseker ons die voertuig was in geen botsing nie. Op 9 Desember bel ek Mnr Colin de Verniol by Automark Hoofkantoor, Jhb. Hy werk glo nie self hiermee nie, maar stel voor dat ek Mnr Dick Jacobs, Snr, eienaar van Pta-Oos Toyota skakel en met hom praat. As ek nie daar regkom nie, moet ek Mnr Jack Groenewald, Automark se klantediens-bestuurder skakel. Ek bel Mnr Dick Jacobs Snr. en vertel hom die hele storie. Aangesien die voertuig by hulle Alphen Tak gekoop is wat deur sy seun Dickie Jacobs bestuur word, moet ek hòm asseblief bel. As ek nie daar regkom nie moet ek terugkom na hom toe. Jacobs Jnr kry ek nooit in die hande nie. Hy bel nie terug soos sy dame herhaaldelik plegtig belowe nie. Daarna probeer ek Mnr Jack Groenewald by Automark Klantediens bel maar hy is die hele dag uit. Ek verduidelik waaroor dit gaan en word deurgeskakel na sekere Lucius. Hy luister geduldig en simpatiek na my probleem en sê ek moet alles in sy hande laat. Hy kry Henry se foonnommer ook.

713

Hy sal hom ook bel en gerusstel dat hý nou die kwessie gaan oplos. Grootliks verlig laat ek alles in sy hande. Hier gaan nou vordering kom! Nie ek of Henry hoor ooit weer van hom nie. Op Donderdag 11 Desember bel Henry my. Halfway Toyota op Port Shepstone sê Putter het hulle gevra om die lugversorger onder die Automark waarborg te herstel. PtaOos Toyota sou die verskil wat dit meer kos, betaal. Toe hulle hoor dat die eenheid reeds buite werking was voordat ons die voertuig gekoop het, weier Automark om dit te herstel. Mnr Putter neem vir Henry sterk kwalik omdat hy dié feit bekendgemaak het. Heel ongevraag beweer hy dat hy glo Henry kan nie die paaiemente op die voertuig bekostig nie en om daardie rede soek hy nou allerhande foute aan die motor. Nou bel ek Jack Groenewald by Automark. Nee, sê hy, hulle het geen verdere verantwoordelikheid t.o.v. hierdie transaksie nie. Dis 'n saak tussen die koper en die handelaar. Ek vra of die veel geroemde Automark Kopersgerustheid wat hulle so adverteer dan net 'n klomp wind is? Nee, sê hy, die handelaars moet hulle verpligtinge nakom. Maar wat kan julle doen as die handelaar 'n koper mislei en hom 'n kat in die sak laat koop? Watter gemoedsrus gee die feit dat dit 'n Automark gesertifiseerde voertuig is, vir my as koper? Word hierdie motors nie vooraf deeglik nagegaan en in orde bevind voordat hulle onder die Automark naam bemark word nie? Hy bly vaag oor al hierdie kwessies, behalwe om te sê dat dit nie 'n hol en leë belofte van goeie waarde is nie. Hy onderneem egter om dadelik Mnr Dick Jacobs Snr op een lyn kry en vir my op 'n

ander, dan kan ons drie die saak bespreek. ‘n Uur later bel Jack Groenewald my en verneem of Mnr Putter my al gebel het. Ek antwoord dat hy nie gebel het nie, maar wys daarop dat dit nie is wat hy (Groenewald) my belowe het nie. Ek wag om met hom en Mnr Jacobs Snr te praat soos hy belowe het. Nee, hy is jammer, maar hulle het nou gereël dat Putter my sal bel en die saak sal oplos. Nog ‘n uur later bel Mnr Ras, verkoopsbestuurder by Pta-Oos Toyota my. Hy wil weet wat die probleem is. Ek vertel kortliks van A tot Z. Hy belowe hy gaan nou met Mnr Jacobs Snr. praat en my dan dadelik terugbel en sê wat hulle gaan doen om ons probleem op te los. Ek hoor nie weer van hom nie. ‘n Kwartier later bel Pieter Putter. Ek sê ek het verwag om van Ras te hoor. Putter sê ek moet my nie aan Ras steur nie. Hý sal my allerhande stories vertel en uiteindelik niks doen nie. Hy wat Putter is het egter al vroegoggend met Halfway Toyota op Port Shepstone gereël om verder met Henry te skakel om die kar nou reg te maak. Ek wil weet wat van die water in die bak? Dis seker net 'n rubber wat nie reg ingesit is nie, sê hy. Hy sal dadelik reël dat hulle dit ook regmaak. Op 15 Desember bel Henry. Die lugversorger werk nou. Niks is egter aan die ondigte bagasiebak of enige ander foute gedoen nie. Op Woensdag 17 Desember bel Henry. Dit reën nou aanhoudend op die Suidkus. Hy kan die motor kwalik gebruik. Die bak word vol water. Ek en Issie is radeloos. Ons is beweeg om die prys van 'n gebruikte Toyota in goeie (Automark gesertifiseerde!) toestand vir hierdie swak, vernielde

714


en defektiewe motor te betaal en nou trek almal hulle skouers op. Ons het nou dringend hulp nodig. Op 19 Desember wend ons ons skriftelik per faks, na Automark Toyota Klantediens, Bankfin en Pretoria-Oos Toyota vir hulp. Ons vra kansellasie van die ooreenkoms en restitusie. Ons sal enige ander geskikte Automark voertuig met vertroue by Limpopo Toyota gaan koop. As ons nie hulp kry nie oorweeg ons regstappe om die transaksie te kanselleer en restitusie af te dwing. Ons beklemtoon dat ons geen konfrontasie verlang nie. Geen motoris kan egter so 'n vrot voertuig gebruik nie. Ons verlang net 'n redelike en billike oplossing binne 'n redelike tyd. Geen van gemelde instansies reageer op hierdie fakse nie. Henry en Nadia kom kuier by ons vir die Kersvakansie met die gewraakte voertuig. Ons wil steeds geen konfrontasie hê nie, maar Henry moet Saterdag 10 Januarie teruggaan Margate toe en ons kan hom nie met hierdie swak voertuig laat gaan nie. Om 10:00 op 8 Januarie 2004 spreek ons Mnr Hennie Ehlers by Bankfin, Pretoria. Hy luister simpatiek en begryp dat ons uit die transaksie wil terugtree en die voertuig teruggee. Hy is bereid om die voertuig te neem, maar verduidelik dat hulle dan 'n waardasie van die motor moet kry en dit dan teen minstens daardie bedrag verkoop. As hulle minder as die uitstaande bedrag kry, sal Issie aanspreeklik bly vir die tekort. Verder, verduidelik hy, moet ons besef dat die bank so 'n teruggawe in dieselfde lig beskou as waar 'n persoon vrywillig teruggee omdat hy

nie verder kan betaal nie. Dan sal Issie nooit weer finansiering by enige bank kan kry nie! Op Mnr Henning se aanbeveling gaan ons na die Automobiel Assosiasie in Pretoria waar ons 'n volledige buffertot-buffer verslag oor die voertuig verkry - teen betaling van R590! Daarvolgens is die motor in 'n skokkende toestand. Dit kon op geen reëlmatige of wettige wyse 'n padwaardigheidstoets slaag nie! Ek glo daar moes korrupsie gewees het by die verkryging van die padwaardigheidsertifikaat op sterkte waarvan die voertuig in Issie se naam geregistreer is deur Pta-Oos Toyota. Ons gaan sien Mnr Putter en bespreek die motor aan die hand van die verslag. Ons bring die hele middag by Pta-Oos Toyota deur. Mnr Putter is “verbaas” oor al die foute aan die voertuig. Hy probeer Mnr Dick Jacobs (eienaar) heel middag telefonies in die hande kry. Teen 18:30 slaag hy daarin om Mnr Jacobs “uit 'n vergadering” te kry en die saak telefonies breedvoerig met hom te bespreek. Hy kom terug en deel ons mee dat Mnr Jacobs ons baie goedgesind is en hom opdrag gegee het om alles te doen wat nodig mag wees om ons as gewaardeerde klante tevrede te stel. Ons is diep dankbaar en wil die voertuig daar laat sodat hulle die foute kan herstel. Mnr Putter sê egter Henry moet die voertuig terugneem Margate toe en daar kwotasies kry vir die nodige herstelwerk en dit vir hom deurfaks. Hy sal dan reël dat die werk gedoen word en Pta-Oos Toyota sal daarvoor betaal. Ons is verkies egter steeds dat die transaksie gekanselleer moet word en restitusie geskied. Mnr Putter is ons “simpatiek gesind” maar glo hy sal nie sy werkgewer sover kan kry nie. Hy sal egter toesien

715

dat die nodige herstelwerk gedoen word en ons tevrede gestel word. Ek maak die volgende dag 'n uittreksel van die ernstige foute wat in die AAverslag voorkom en wat ons verwag redelikerwys herstel moet word en faks dit aan Mnr Putter - ‘n lys van 19 items. Ons verwag nie 'n perfekte voertuig nie, maar dit moet bruikbaar en padwaardig wees. Hierdie “herstelproses” sleep voort vir maande en daar gebeur in effek niks. Henry kry kwotasies en faks dit aan Pta-Oos Toyota. Hulle “oorweeg” die saak eindeloos, maar uiteindelik word slegs gewerk aan die lekkende bagasiebakdeksel (waarvoor Pta-Oos Toyota toe ons laas gehoor het, nog nie die paneelkloppers betaal het nie. Of dit nou reeds betaal is en of die paneelkloppers eenvoudig moed opgegee het, weet ons nie.) Hierna deel Mnr Ras ons mee dat sy werkgewer nie bereid is om enige verdere herstelwerk te laat doen nie en dat hulle die saak as afgehandel beskou. Ons vra of ons moontlik die voertuig by Pta-Oos Toyota kan inruil op 'n ander geskikte voertuig. Hy is heel inskiklik en hulpvaardig en sê ons moet die voertuig daarheen bring en hy sal kyk wat hy vir ons kan doen. Ek reël dat Henry die voertuig vanaf Margate na Pta-Oos Toyota neem vir hierdie doel. Donderdag 8 April 2004 bel Mnr Adriaan Ras my. Henry is nou daar by hom met die voertuig soos gereël, maar ons skuld nog te veel op die kar. Hy sal hom ongelukkig nie nou kan inruil nie. Dit is ook sy opdrag om ons mee te deel dat dìt sover is as wat Pta -Oos Toyota bereid was om ons te probeer help. Hulle gaan niks verder vir ons doen nie. So sit ons toe met die gevolge van die

verrotte en korrupte transaksie. Hofsake kos dikwels meer as wat op die spel is en ons besluit moedeloos om maar te berus. In November 2004 verskyn ‘n insiggewende artikel in Die Huisgenoot oor hoe ‘n vasberade blondine reeds vier maal die Hof vir Klein Eise gebruik het om skadevergoeding te verkry teen ‘n bank, twee groot kettingwinkels, en ‘n groot munisipaliteit wat haar deur swak diens laat skade ly het. Die artikel verduidelik hoe die Hof vir Klein Eise werk en toe gaan daar vir my op ‘n lig op. Ek bereken toe konserwatief ons skade op R12416.00 en stel ‘n eisbrief op in oorleg met die hof. Hierdie hof se maksimum eisbedrag is R7000, en ons doen afstand van R5416 om daar te kan voortgaan. Pretoria-Oos ignoreer die aanmaning en ons volg dit op met ‘n dagvaarding. Pta-Oos Toyota se prokureur skryf vir ons dat ons eis ongeldig is. Ons laat weet dat ons met die eis voortgaan. ‘n Paar dae voor die verhoordatum skakel die prokureur my en beduie dat ons ons tyd mors. Ons eis is ongeldig en sal nie slaag nie. Hy beveel aan dat ons dit terugtrek. Buitendien is sy kliёnt ‘uitstedig’ en sal nie by die hof kan wees op die betrokke datum nie. Hy het glo reeds die hof so ingelig en ons sal daardie dag vergeefs Pretoria toe ry. (Ek bel en vind dat Mnr Jacobs wel in sy kantoor is. By die hof is ook geen versoek om uitstel ontvang nie.) Nie Jacobs of sy prokureur daag by die hof op nie. Die hof oorweeg die getuienis en beveel Mnr Jacobs om ons R7000 plus sekere toelaatbare koste te betaal. Ek skroom nie om hierdie feite kaalkop te noem nie. Die gegewens is skriftelik aan die verweerder en Automark voorgelê en niemand het ‘n woord

716


betwis nie. Nou kom ek by die kern van die saak. Ons as familie is bekend daarvoor dat ons harde koppe en sagte harte het. As familie kan ons iets daadwerkliks doen tot voordeel van ons land as ons almal ferm saamwerk om swak diens, korrupsie en swak besigheidsetiek wortel en tak uit te roei. Kom ons hou op swyg en aanvaar. Kom ons maak konsekwent beswaar teen swak diens by hotelle, restaurante, besighede, departemente, waar ookal ... Dis nie nodig om te raas en te toyi-toyi soos met die onlangse vlaag proteste teen swak munisipale diens nie. As jy kan, spreek die bestuurder dadelik, of skryf vir hom ‘n hoflike brief. Moet net nie swyg nie. Daardeur vererger jy net die toestand. As jy geldelike skade of ernstige ongerief gely het, stel ‘n eis in. Soos hierbo geïllustreer, bied die Hof vir Klein Eise die ideale en haas kostelose manier om regstelling af te dwing teen sake-boelies wat dikvellig daarop staatmaak dat jy nie sal Hof toe gaan nie omdat dit te duur en tydrowend is. In hierdie hof kan hulle jou ook nie deur ‘n regskenner kom verwar en intimideer nie. Die eienaar of hoofbestuurder van die besigheid moet jou persoonlik in die oë kom kyk wanneer sy firma se patetiese diens onder die loep geneem word. Hulle is gewoonlik óf te lafhartig óf te gemaksugtig om jou te konfronteer. Hou ‘n dag-tot-dag rekord van die verloop van transaksies wat twyfelagtig lyk. As jy jou feite mooi agtermekaar het, sal jy slaag met jou eis. Dit gaan nie net oor die geld nie, maar hoofsaaklik oor die beginsel. Kom ons

leer die hopelose of gewetenlose handelaars en agente en diensverskaffers dat hulle nie langer straffeloos kan skade veroorsaak deur hulle ongevoeligheid nie. Ek dink ons moet dit ‘n familie-veldtog maak. En in Die Doringtak vir mekaar daarvan vertel. As iemand vir my en Issie gewaarsku het teen bogenoemde handelaar, kon ons baie moeite, ergernis en skade gespaar gebly het. Wat dink julle? Laat ons hoor as julle soortgelyke ervarings gehad het. Ron ______________________ Een vriend sê, “Dit moet verskriklik wees om ongelukkig getroud te wees. Ek is gelukkig getroud ... en dit is al erg!” ________________________

KAN jy dit onthou ….? (Skrywer onbekend. Ingestuur deur Elriza Pienaar.) Lank, lank gelede voor TV speletjies, en dwelms ... Ek praat nou van die tyd van wegkruipertjie in die park, of saans; van die kafee op die hoek, 'hop scotch' vir meisiekinners as dit 'alie'-tyd is by die skool, touspring, klippie en 'handstands' en donkie; krieket in die groot agtertuin, Haas Das se Nuuskas vroegaand, swem in die rivier, kamp op die strand, 'n swaai van tou met tamatiekasplank vir sitplek aan die groot appelkoosboom; rugby op die stuk oop veld; tennis in die straat. Die ruik van koekiesbak uit die kombuis; gemmerbier in die spens, kougom vir 'n pennie, … room-ys by die kombi met die eentonige deuntjie. Wag, ... kan jy nog onthou ... toe om-die-hoek vêr was; toe jy moes was en aantrek om saam dorp toe te gaan. Honderde muskietbyte, stukkkende knieë en repe afgedopte vel in die somer. Taai toffie-appels en sand in die swemklere en oral. "Cowboys en kroeks", 'rounders', 'foefie-slide' en boomklim; modderkoekies bak.

717

Skooltoe loop of fietsry - ongeag die weer. Jagertjie speel tot jy op die gras neerslaan sonder asem. Lag tot jou maag pyn, Rondomtalie draai tot jy dronk-dronk val. Moeg en vuil gespeel...... onthou jy? Geen verleentheid groter as om laaste vir daardie kant gekies te word nie. Waterbomme en kleilat was jul grootste wapens; 'n Stukkie karton in die speke het jou fiets laat sing; Ek's nog nie klaar nie ... kan jy nog proe en ruik: die droë jelliepoeier uit die pakkie; droë Milo vir sjokolade; yslollies in Tupperhouertjies gevries van aanmaak koeldrank; jou eie suurpoeier van versiersuiker en

"dare". Ouer broers was die grootste boelies maar ook die beste beskermers. As jy die meeste van die dinge onthou, … dan het jy G E L E W E!!!!

_____________________________________________

Eno's; borrels blaas met seepwater en 'n strooitjie, lang ure se kook aan kondensmelk tot karamel; Wilson's en pienk toffies; taai malvalekker-vissies en lang stukke 'liquorish' of 'drop'. Onthou jy toe die enigste tekkkies wit seilskoene was, maar die enigste wanneer jy dit mag dra was vir PT. Toe dit nie vreemd was om 2 of 3 'beste' maats te hê nie. Niemand het betaal vir 'n troeteldier nie. As jy gelukkig was het jy 25c vir sakgeld of vir die kermis gekry. Almal se ma's was by die huis as die skool uitkom. Onthou jy hoe 'n slim pa kon toor as hy sy duim aftrek of 10c agter jou oor uithaal? Die lekkerte van by die padkafee gaan eet toe uiteet by 'n restaurant of hotel taboe was vir kinders. Onthou jy toe niemand 'n wenkbrou sou lig as enige ouer 'n kind berispe of in die werk steek nie en almal op die werf kosgee as dit etenstyd is nie. Om by die skool gestraf te word was niks in vergelyking met wat tuis wag as ma daarvan hoor nie, basies was ons doodbang - nie vir aanranding, dwelms, bendes ens. nie. Grootmense was 'n groter bedreiging - baie van ons is vandag nog bang vir wat Pa daarvan sal dink. Het dit nie goed gevoel nie ... die onthou … ? Onthou jy nog toe besluite geneem is met "eeny-meeny-miney-mo?" Foutjies was omseil met 'n eenvoudige "nix deps"; Geldsake was net in 'Monopoly". Die ergste wat jy van die 'ander' geslag kon kry was kieme. Die wapen waarmee jy gevang was by die skool was die BIC pen 'pea shooter' waarmee jy klasmaats agter die oor probeer piets het, of dalkies 'n kettie op die speelgrond. 'Verdowingsmiddel' het beteken Melk van Magnesia of Lewensessens. Roomys was kos; en moed is ontdek as iemand jou

What you do speaks so loudly that I cannot hear what you say" -- Ralph Waldo Emerson _____________________________________________

UIT DIE DAE VAN PLAE

Willem Frederik Ulrich Steynberg b7.c6.d6.e6.f6 skryf in September 1942 het daar ‘n swerm rooivlerksprinkane van sowat twee kilometer by een en ‘n half kilometer op sy plaas Sybrandskraal toegesak uit die Ooste. Hy was toe ‘n jong boer van twintig jaar oud en het ‘n morg vroeë mielies onder vloedbesproeiing aan die groei gehad, ongeveer 100mm hoog, te pragtig groen. Toe die wolk sprinkane neersak, het hy haastig hopies kaf rondom die land aan die brand gesteek vir rook - sonder enige effek op die vraatsige insekte. Die sprinkane het met hulle koppe tot 12mm in die grond ingevreet agter die

718


mieliestronkies se groenigheid en vog aan. Na twee dae het die vyf morg lemoenboord pateties gelyk, blaarloos en met al die dun takkies se bas afgevreet, spierwit. Hy moes al die droë punte afknip. Omdat lemoene aan die tweedejaarslote blom, het dit drie jaar geneem voor hy weer ‘n lemoen kon pluk. Die volgende herfs, toe hy sy oë uitvee, broei daar ‘n swerm van duisende voetgangersprinkane uit, almal hard in dieselfde rigting aan die stap. Hulle was nogal pragtige diertjies. Die agterlyfie en pootjies was helder goudgeel en die middellyfie en vlerke rooi. Hy onthou hy het ‘n ploegvoor getrek en op dié manier hulle weg van sy landerye gelei die veld in. Almal loop tot in die ploegvoor en volg dan die voor verder. 'n Paar interessante waarnemings oor sprinkane bly hom by. Of dit nou wetenskaplik korrek is, is hy nie seker nie, maar dit het vir hom gelyk asof hulle net eensaadlobbige plante

vreet. So sou hulle ‘n mielieland kaal vreet, maar nie grondboontjies nie. As hulle ‘n grondboneland toesak, vreet hulle al die osgras en uintjies skoon op, maar sit nie hulle bekkies aan die grondboneplant self nie. ‘n Ander interessante verskynsel was dat daar waar hulle die veld byvoorbeeld kaal gevreet het, die veld weer kon uitloop maar geen

bees of skaap vreet daardie gras nie. Dit moes eers weer goed geryp het die volgende winter. Dan is daardie reuk of smaak uit die weiding uit en sou vee dit weer vreet. Sy vader, Willem Frederik Steynberg b7.c6.d6.e6.f6 - was vroeër dae toe Oom Ulrich ‘n jong seun was, ‘n sprinkaan-beampte. ‘n Ent bokant die huis was daar ‘n stoorkamertjie gebou waar hy gif en spuite aangehou het wat deur die staat voorsien was. Dit was ‘n hele bedrywigheid as daar ‘n oproep kom om iewers ‘n swerm te gaan bestry. Arbeiders is gewerf om teen vyf sjielings per dag te kom help. Water moes aangery word om die gif mee te meng. Maar toe die swerm sy gesaaides daardie keer getref het, was sy vader al oorlede en was daar nie ‘n ander sprinkaanbeampte naby nie. Sprinkane wat oeste op massiewe skaal verwoes is natuurlik niks nuuts nie. Hierdie verwoestende mag is reeds in Bybelse tye gebruik om die toorn van God te illustreer in een van die sewe plae in Egipte. In Arabies word die frase vir sprinkane vertaal as “die tande van die wind.” Hulle val aan in onvoorspelbare siklusse ongeveer eenkeer elke tien of twintig jaar en verskyn wanneer omstandighede in hulle broei areas om die Rooi See en op oorbly-plekke langs hulle strooptog roetes net reg is vir hulle om te vermenigvuldig. In ‘n hongersnood-geteisterde wêreld sou dit ideaal gewees het as hierdie ontsaglike voorrade van proteïne opgegaar en bewaar kon word vir latere gebruik. Johannes die Doper het van sprinkane en wilde heuning geleef in die woestyn. Ons het as kinders ook by wyse van eksperiment sprinkane gebraai en

719

geëet, maar ek moet sê iemand wat sê dit was lekker, sal waarskynlik oor ander dinge ook lieg. Miskien het ons nie die regte resep gehad nie. Daar is lande waar sprinkane geëet word en daar is allerlei resepte beskikbaar, maar ek moet erken ek het nie moeite gedoen om hulle na te slaan nie. Weens die ontsaglike grootte van swerms, is daar min wat individuele boere kan doen wanneer sprinkane aanval. Die mees onlangse plaag het van 1986 tot 1989 geduur. Dit was die grootste swerm in die 20ste eeu en dit het na raming 1000 vierkante kilometer beslaan en het sowat 40 biljoen sprinkane bevat. Die koste van die 1986 sprinkaanplaag word beraam op ongeveer $300 miljoen (VSA Dollars). Slegs regerings en internasionale organisasies kan hoegenaamd effektief optree. Niemand kan voorspel wanneer ‘n sprinkaanplaag weer sal tref nie, maar Lukas Brader, entomoloog en direkteur-generaal van die Internasionale Instituut vir Tropiese Landbou, glo Afrika se volgende inval is reeds agterstallig. Chemiese insekdoders wat dusver gebruik is, dood ook ongelukkig voordelige klein diertjies en insekte, en hou gevare in vir plaaslike gemeenskappe. Dit is ook verantwoordelik vir geweldige afname in die getalle van trekvoëlswerms wat Europa gereeld besoek. Na jare se gesamentlike navorsing het wetenskaplikes in Afrika ‘n omgewingsvriendelike wapen ontwikkel, genaamd Green Muscle, wat lyk of dit finaal die probleem kan baasraak. Dit is ‘n bio-insekdoder wat ‘n veiliger, natuurlike alternatief is vir die chemiese middels wat dusver gebruik is. Die nuwe metode gebruik ‘n fungus wat natuurlik voorkom, Metarhizium anisoplae, wat dodelik is vir beide

locusts en grasshoppers maar geen ander insekte, plante, diere of mense benadeel nie. Wanneer dit gemeng word met ‘n olie-basis draer, kan die donkergroen vloeistof per hand of uit vliegtuie gespuit word. Wanneer hulle met die vloeistof besmet is, vrek sprinkane binne 4 -10 dae. Omdat swerms in hierdie periode nog steeds massiewe skade kan doen, word beplan om hoofsaaklik die broeigebiede om die Rooi See jaarliks te behandel om die jong sprinkane te bestry voordat hulle volwasse genoeg is om te kan vlieg en ‘n bedreiging vir boere ver daarvandaan te word. Na raming sal die koste om genoemde gebiede te behandel $15 miljoen (VSA) beloop - ‘n breukdeeltjie van wat nodig sou wees in ‘n intensiewe chemiese bestrydingsveldtog nadat die sprinkane swerms gevorm en vertrek het. Dit bly egter jammer dat daar skynbaar nie ‘n praktiese manier is om hierdie groot hoeveelhede voedsame proteïene te droog of te blik en op te gaar om hongersnood te bestry nie amper soos die kwartels en manna van weleer.

________________________

Geslagregisters!!! Daar is nog ‘n aantal eksemplare beskikbaar van “Een Familie”, die baanbreker geslagregister van die familie Steinberg, Steenberg, Steynberg. Hierdie uitsonderlike werk van Lieselore Steynberg, gepubliseer na 33 jaar se navorsing, is waarlik ‘n versamelaarsitem. Min families beskik oor so ‘n gesaghebbende werk oor hulle herkoms en geskiedenis. Teen slegs R45 (plus posgeld) is hierdie werklik ‘n winskoop. Vergelykbare werke verkoop teen tien

720


keer daardie bedrag. Dis die ideale geskenk vir jong volwasse familielede. Of gee een vir jouself present. Doen navraag by Ron.

Basie dink terug … “Basie”, (Johannes Adriaan Steenberg - b11.c5.d2.e8.f2.g2), van Algoapark, gesels sommer lekker. Hy vertel hy was vir twee jaar op Joubertina in die Langkloof in diens van die destydse Pos– en Telegraafwese, waar hulle die oorvloed van appels, pere, appelkose en perskes geniet het. Hy het ook graag heuning by die distrik se boere gekoop en dit na sy ouers in Port Elizabeth geneem het. Sy ouers wat albei plaaskinders was, het dit baie geniet. In die jare ‘60 het hy sy getroude lewe begin op Rietbron, ongeveer halfpad tussen Willowmore en Beaufort-Wes; ‘n klein plekkie sonder elektrisiteit of ‘n sentrale waterstelsel. Paraffienlampe en kerse het lig voorsien en reënwater en dou is uit drie watertenks op die hoeke van die huis verkry. In die kombuis was ‘n swart Welcome Dover stoof ingebou. Hout was redelik volop, mits jy dit self gaan ‘maak’. Hy het vir ‘n staatsdepartement gewerk en moes dikwels tussen die omgewing se boere beweeg. Wanneer die werk stil was, het hulle skelmpies die amptelike bakkie gebruik om op ‘n Joodse gesin se plaas te gaan hout haal - darem met die Jode se toestemming! Tuis is die hout dan met ‘n boogsaag opgesaag en met ‘n byl opgekap vir die stoof. Die stoof het nie ‘n boiler aan gehad nie en badwater is in ‘n kastrol op ‘n primusstofie warmgemaak. Die badkamer was presies wat die woord sê; ‘n aangeboude kamer met slegs ‘n bad daarin en ‘n klein venstertjie.

Terloops, die huis het hulle gehuur teen R15.00 per maand. Met die aankoms van hulle eersteling en die gepaardgaande doeke-was het Oom Piet Jonker vir hulle ‘n plastiekpyp van sy windpomp-dam af aangelê om die watervoorraad aan te vul. Daar was net een waterkraan en dit was buite die huis. Dit was kruidwater. Enigeen wat kruidwater ken, sal weet dat dit sleg ruik wanneer dit uit die aarde gepomp word - amper soos vrot eier. As dit egter ‘n ruk gestaan het, het die reuk verdwyn en was die water heel geskik vir mens, dier en tuin. Dit het egter die ketel of kastrolle waarin water gekook is, erg laat aanpak van kalk. Die paraffienlampe het ook maar hulle eie probleme gehad, soos gedurig vol maak en lampglase wat swart rook of breek. Op ‘n stadium het Basie ‘n Coleman lamp gekry wat ‘n groot verbetering was. Dis een van daardie lampe wat jy pomp soos ‘n primusstofie en waarvan jy die helderheid tot ‘n mate kon stel. Die reuk van ‘n doodgeblaasde kers vervul hom vandag nog met heimweë. Basie het vandag nog een van daardie paraffienlampe wat hulle soms opsteek as hulle onder die afdak bymekaarkom om ‘n snoek of ‘n vleisie te braai. Omdat daar nie straatligte of ‘n sentrale kragstelsel was nie, was dit saans na sononder so doodstil soos dit net in die Karoo kan word. Daar het hulle geleer om vleis eetbaar te hou sonder ‘n yskas of “syf”. Dit was nodig omdat daar nie ‘n slaghuis op Rietbron was nie. Hulle het gewoonlik ‘n Angora-bok geslag wat destyds omtrent R7 tot R9 gekos het. ‘n Meelsak is oor die slagding getrek nadat dit geslag, afgekoel en gesout is, en dan is dit op ‘n koel donker plek

721

opgehang. Saans is die vleis buite gehang. Hulle het selde vleis verloor wat sleg geword het as gevolg van brommers. Sommige mense was bevoorreg om destyds windlaaiers te hê. Net enkeles het 12-volt kragopwekkers gehad wat met ‘n masjien werk. Basie onthou die snaaksste byname: Lewies Jemboude, Vadoekbene, en Ysterbaard, Job Stoffie en Piet Coeries het na spesifieke persone verwys. Soos oral, het daar ook dinge gebeur wat nie hier genoem kan word nie. Oom Job Stoffie was ‘n konsertina-speler en Basie het so ‘n bietjie kitaar gespeel. Party aande na werk het Basie na Oom Job toe gegaan en dan het hulle saam musiek gemaak. Tant Annie sou dan vir hulle swart brakwater-koffie en tuisgebakte brood met sagte varkvet met sout en peper gee. Dan het Oom Job altyd vir haar “Silver threads among the gold” gespeel. Destyds was geglo as daar na negeuur saans nog iewers ‘n lamp of kers in ‘n huis brand, dan was daar siekte of dood by daardie huis. Die meeste inwoners van Rietbron in daardie dae was bejaardes wat vandag al oorlede is. Daar het hy Oom Fred Steynberg ontmoet, maar hy was toe nog nie juis geïnteresseerd in families of familiebande nie. ‘n Paar jaar gelede het Basie in Die Doringtak die berig van Fred se afsterwe gelees. Hy wil eendag weer teruggaan soontoe, al is dit net vir ‘n dag, om weer daardie rus en vrede te kan beleef. Hy sal Rietbron net nooit kan vergeet nie.

As pasgetroudes was die aanpassing vir Basie en sy vrou Petro wat van Port Elizabeth af gekom het, meer ‘n uitdaging en avontuur as ‘n probleem. Hulle het byvoorbeeld met ‘n afgeleefde Anglia motortjie vanaf Rietbrom na Dannhauser in Natal gery om vir sy oom te gaan kuier. Sy vrou het destyds hulle tweede kind verwag. Die ou karretjie het langs die pad onklaar geraak, maar omdat hy probleme daarmee verwag het, het hy enkele spaar onderdele saamgevat. So is die foutjie sommer in ‘n japtrap langs die pad herstel en was hulle weer op pad asof daar niks gebeur het nie. Op pad huis toe na die kuier in Dannhauser was hulle egter in ‘n botsing betrokke. Niemand was beseer nie, maar die regter voorkant van die motortjie was taamlik beskadig. Met hulp kon hulle die buffer en modderskepper van die wiel af wegbuig en hulle reis al sukkelende hervat. Hulle moes die nag op Umtata oornag want die Anglia se ligte was buite werking. Basie reken hy kan in alle eerlikheid sê dat hy nie vir die botsing verantwoordelik was nie, maar nouja, sê almal nie maar gewoonlik so nie? Vroeg in die sewentigerjare het hulle na Hofmeyr getrek. Dit was ietwat van ‘n verbetering want daar was elektriese krag en ook ‘n waterstelsel. Gas was in daardie dae goedkoper as elektrisiteit en daarom het hulle ‘n gasstoof aangeskaf. Vir toilet het hulle steeds ‘n emmerstelsel gebruik, maar daar was darem water in die huis aangelê - ‘n groot verbetering op hulle Rietbron-dae. Badwater is in ‘n ‘donkie’ warm gemaak, ‘n 44 gelling

722


drom wat in ‘n tipe bakoond ingebou is met skoorsteen en al. Een kraan het koue water ingelaat en ‘n ander het warm water uitgelaat. ‘n Steenkoolvuurtjie het hitte verskaf. Die vuil water het in ‘n french drain ingeloop wat somtyds oorvol was. Dan het water onder die sinkplate wat die gat bedek het uitgeborrel met ‘n gepaardgaande onaangename reuk. Gelukkig het hulle bo teen die bult gewoon en die water het in die grondstraat afgeloop en verdwyn. Cradock was hulle naaste groterige dorp, 70 kilometer ver met ‘n grondpad. Basie het steeds by dieselfde departement gewerk, Daar het hulle kinders begin skoolgaan en is hy op die kerkraad verkies. Behuising was deur sy werkgewer voorsien en in daardie dae was jou werk verseker. Die plaaslike hoërskool was kunsmatig aan die gang gehou deur kinders van ander plekke in te voer. Omdat dit duidelik was dat die plaaslike skool sy hoërskoolstatus sou verloor, het hulle hul kinders in Cradock se hoërskool geplaas en het die ouers van die dorp beurte gemaak om die kinders naweke op Cradock te gaan haal en weer terug te neem. Hierdie reëlings het nie altyd vlot verloop nie. Daarom het hulle aansoek gedoen vir ‘n oorplasing na ‘n dorp waar die kinders uit die huis uit kon skoolgaan. So het hulle op Noupoort beland in die tagtigerjare weer ‘n effense verbetering op Hofmeyr want nou was daar ‘n sentrale rioolstelsel en die kinders kon uit die huis skoolgaan. Noupoort was in daardie dae ‘n belangrike spooraansluiting en jy kon daagliks spoorvervoer gebruik na Port

Elizabeth of Bloemfontein. Daar het hy vir Hendrik Steenberg ontmoet en hulle hulle ‘n bietjie oor die familie gesels. Sover Basie weet, het Hendrik, net soos Basie-hulle, nooit ‘n familiefees bygewoon nie. Basie hoop steeds om nog so ‘n geleentheid by te woon. Hendrik en Basie se seuns het in 1985 saam gematrikuleer. Die seun was Johannes Frederick, bekend as Jay Ef. Sy pa Hendrik het na Middelburg verhuis na sy aftrede en Basie dink JF woon ook daar. (As daardie Hendrik dalk hier lees, hoor ons baie graag van hom ook! - Ron) Op Noupoort staan ‘n fort wat dateer uit die Boereoorlog. ‘n Mens het daar in– en uitgegaan met ‘n touleer wat van bo af laat sak en opgetrek is. Hoe die touleer die eerste keer bo aan die fort vasgemaak is, weet hy nie. Daar was stories dat ‘n tonnel die binnekant van die fort met die buitewêreld verbind het, maar so ver hy weet is so ‘n uitgang nooit gevind nie. Terloops, die Noupoort sentrum vir dwelmverslaafdes wat dikwels in die nuus is, het hy uit die aard van sy werk dikwels moes besoek. Oor die voor– en/of nadele daarvan kan hy hom egter nie uitlaat nie. Die spoorlyn tussen Port Elizabeth en De Aar is intussen geёlektrifiseer en die bekende hartseer fluit van die kolekoppe (steenkool-lokomotiewe) het verdwyn. Hulle het naby die spoorlyn gewoon en in die wintermaande wanneer die lug dun is, kon jy die trein baie ver hoor aankom. Soms het hy van die trein gebruik gemaak om Port Elizabeth te besoek en dan het hy baie ver teruggedink aan die dae toe sy pa nog op die spoorweg gewerk het en hulle soms met die trein gaan vakansie hou het in die verre Transvaal. Deesdae loop

723

daar net diesel en elektriese eenhede. Treinverkeer het oor die laaste jare geweldig afgeneem en is vervang met die talle groot lorries wat die paaie so verniel. Die vragmotors het tog ook ‘n bekoring van hulle eie. Na hulle skooljare het hulle een kind by die S.A. Polisie aangesluit en die ander een het ‘n haarversorgingskursus by die Tegniese Kollege in Bloemfontein geloop. Sy is getroud met Eduard Malan, ‘n geharde Vrystater wat reken die enigste goeie ding in die Kaap is die pad terug Vrystaat toe - en miskien die Currie-beker wat nou tydelik daar bewaar word! Hulle seun, Johannes Adriaan, was in ‘n aantal motorongelukke betrokke waarvan die laaste baie ernstig was. Hy het hoofbeserings opgedoen wat so ernstig was dat hy later medies onbekwaam verklaar is om met sy amptelike pligte voort te gaan. Hy woon by sy ouers en kry soms ‘n los werkie om hom besig te hou. Spoornet het intussen werkers verminder deur vir hulle skeidingspakkette aan te bied en die poste nie weer te vul nie. Ander mense is herontplooi. Hierdie lot het Noupoort ook getref en vergeleke met die tyd toe Basie-hulle daarheen getrek het, gaan daar vandag feitliks niks aan wat mense daarheen lok nie. Daar was baie gerugte van projekte wat aangepak sou word om die plek weer aan die gang te kry, maar niks het daarvan gekom nie. Inteendeel, baie van die ou Spoornethuise is vir ‘n appel en ‘n ei verkoop op voorwaarde dat hulle gesloop word en alle rommel verwyder word. Voorwaar

‘n groot jammerte. Die meeste daarvan is deur boere gekoop wat die sink, deur– en vensterrame en bakstene gebruik het om vir hulle werkers huise te bou. ‘n Bekende persoon op die dorp was ou Hottie. Sy I. D. boekie het sy naam as Joseph Alman aangedui, maar niemand het hom so genoem nie. Hy was Hottie en hy was Basie-hulle se tuinhulp. Op ‘n dag bel die mense van die kafee en sê dat ou Hottie by hulle kom lemoene verkoop wat nog ver van ryp is. Hy het dit sommer verruil vir Grandpa poeiers. Dit blyk toe dat hy daaraan verslaaf was. Een van Basie se lemoenbome was feitlik kaal gepluk, maar Hottie het ontken dat hy ooit ‘n lemoen gepluk of verkoop het. Die waarheid het egter uitgekom. Hulle het Hottie hulle ‘probleemseun’ genoem. Oor hom is daar nog baie stories: oor kwepers, bitter bier, die oumatjie, oor ‘spirits’ (bloutrein), die lakens en nog vele ander. Almal het vir Hottie geken. Op die dag van sy dood het vriende vir Basie laat weet. Hottie was by die hotel aan die vee en het net daar inmekaar gesak nog met die besem in sy hand. Die jare het aangestap. Basie het ‘n mediese probleem ontwikkel wat hom verplig het om met vroeё pensioen uit te tree. So het hulle einde September 1998 Noupoort verlaat en hulle in Port Elizabeth gevestig. Basie sê hy het moeilik by die aftrede aangepas. ‘n Hele aantal van hulle bejaarde familielede in die Baai het in die afgelope tyd weggeval. Basie hou

724


hom besig deur die oorblywende familie winkels toe of dokter toe te vervoer. Verder bly hy in die huis en tuin besig, en is hy ook baie betrokke by hulle kerk in Algoa Park. Oor die kwessie van byname kan ‘n mens nogal in ‘n verleentheid kom. Sy buurman het onlangs verhuis en daar trek toe ‘n gesin ordentlike bruinmense langs hulle in. Basie gaan toe om kennis te maak, maar toe hy by die deur kom, tref dit hom - hy kan homself mos nie as Baas of Basie Steenberg voorstel nie! Hy los toe die probleem op deur hom voor te stel as Steenie Steenberg - soos hy by die werk bekend was. Hulle kom baie goed oor die weg. Basie-hulle gryp elke geleentheid aan om die Karoo te besoek. Gelukkig woon hulle kinders by Gariepdam (die ou Verwoerddam) en het hulle darem ‘n goeie verskoning om gereeld daarheen te ry.

ONTHOU Lede wat nog nie een het nie kan steeds ‘n pragtige A4 grootte volkleur oorkonde (of lidmaatskapsbewys) bekom met hulle name en geslagsregisterverwysing teen slegs R25. Dit kan geraam word en met trots in jou huis of kantoor vertoon word. Skakel Ron vir vinnige versending.

________________ BOER IS NIE VIR SISSIES NIE

Dit het alles in 1961 begin toe die geldstelsel van ponde na rande verander het en my oortrokke bankrekening dus verander het. Ek was net besig om daaraan gewoond te raak toe bring hulle kilogramme in die plek van ponde/ onse en my oes verminder met die helfte. Toe verander hulle die reënval van duime na millimeter en ek het sedertdien nog nie weer ‘n duim reën gehad nie. Wat doen hulle toe? Bring ‘n ding genaamd Celsius en die temperatuur daal met 20 grade. G'n wonder my mielies wil nie groei nie. Asof dit nie genoeg was nie, verander hulle morge na hektaar en my plaas se grootte verminder met 15% van wat ek oorspronklik geërf het. Dis toe dat ek besluit het om my plaas te verkoop en glo my, ek het pas my grond in die mark gesit toe verander hulle myle na kilometer. Nou is my plaas so ver uit die dorp uit dat niemand daarin belangstel nie! (Dit laat my dink aan die ryk weduwee van Alldays se wêreld wat destyds al haar plase in die mark gesit het. Toe die bure na die redes vra, verduidelik sy dat daar nou te veel motors en lorries die land ingekom het en sy sien geen toekoms meer in boerdery nie. Al die lug word in die bande ingepomp en binnekort sal daar nie meer wind wees om die windpompe te draai nie!)

Behou e-pos kontak asseblief

Die Doringtak maak graag gebruik van e-pos adresse om met lede te kommunikeer. Dit help baie want dan kan Ron ingestuurde inligting haak en plak, sonder om dit te moet oortik. So Skrywer onbekend. kontak ons so gereeld as moontlik diegene wat 725

e-pos adresse het. Dit gebeur egter dat e-pos adresse verander en lede ons nie laat weet nie. Dan kom ons e-posse as onafgelewer terug en ons het kitskontak verloor met ‘n gewaardeerde lid. Wees asseblief so vriendelik om by die lees hiervan, dadelik vir Ron ‘n e-pos te stuur na ibron@mweb.co.za en daardeur jou korrekte e -pos adres te bevestig. (Terwyl jy die moeite doen, stuur sommer ‘n bietjie nuus ook saam!) _________________________________

VREEMDELINGE IN 'n VREEMDE LAND Ben (b11.c1.d5.e5.3.g5) en Elize Steenberg skryf uit Suid-Korea, die “Land of the morning calm”: Ons deel graag met ons groot familie grepe uit ons lewe in die vreemde. Eerstens, Japan is bekend as “The Land of the Rising Sun” en ek kan nie help om daarin so ‘n bietjie aggressie raak te sien nie - duidelik onderskryf deur hulle geskiedenis van invalle en oorwinnings en onderdrukkings deur die eeue van die Mongole, die Koreane en, in ons eie dag, die hele Suidelike Asië tydens die Tweede Wêreldoorlog tot en met die vredesverdrag in 1945. Korea, aan die ander kant, het ‘n geskiedenis van onderlinge oorloë tussen die drie groepe Koreane wat in die oertydse onverdeelde Korea om oorheersing van hulle bloedbroers geveg het. Elk van die groepe het hulle dag gehad, maar daar was nie juis groot drome om na buite uit te brei en ander lande te onderwerp nie. Korea self is meer as 500 keer ingeval deur die loop van hulle geskiedenis. Volgens hulle berekening staan hulle jaartal op hulle eie almanak tans ongeveer op die jaar 5030! Japan maak daarop aanspraak dat hulle jaartal op ongeveer die jaar 2700 staan. Die Japanese is nakomelinge van ‘n

koninklike of adellike groep Koreane wat, volgens oorlewering en so ‘n bietjie geskiedkundige getuienis, Japan oorspronklik as ‘n luukse speelplek gebruik het. Later het hulle hulle met hulle hele gevolg permanent daar gevestig. In hulle agterkoppe het die idee egter bly vassteek dat Koreane steeds hulle onderdane en Korea steeds hulle besitting is! Koreane se identifisering van hulle stukkie aarde as die “Land of the Morning Calm” staan in strak teenstelling met die ambisies van hulle energieke bure! ‘n Mens hoef nie lank in Korea te wees om agter te kom dat hulle soos miertjies in ‘n miernes ‘n baie diepgewortelde samehorigheidsgees koester nie. Hulle is ‘n homogene nasie, met uitsonderlike fisieke en ander onderskeidende karaktertrekke. W at lig g aa msb o u betref, is hulle fyn van gebeente. Hoewel die jonger geslag nou met die die Westerse invloed op hulle eetgewoontes ‘n merkbare verlenging van gestalte ondergaan (soos ook in die geval van die Japanese gedokumenteer is), het hulle baie klein voetjies en handjies en kort vingers. Daar is natuurlik die uitsonderings, maar hulle is werklik uitsonderings. Die mans veral het ook groot bolywe en lang arms, maar kort bene. Die Noord-Koreane daarenteen neig om langer bene te hê. ‘n Man met lang bene word as uiters aantreklik beskou in Korea! Koreane het natuurlike steil, taamlik growwe,

726


gitswart hare. Hulle het die kenmerkende Asiese oë wat effens skuins na bo neig, met dik ooglede wat die oë half verbloem sodat dit soos skrefies voorkom. Die mees algemene kosmetiese operasie in Korea vir jong dames is om die vet in die ooglede te verwyder, waarna hulle oë dan heelwat groter voorkom. Dit word oor die algemeen vryelik bespreek en as normaal en noodsaaklik aanvaar. Koreane is baie lig! Die dames veral pas hulle velle baie goed op teen die sagte sonskyn wat hulle hier het, vergeleke met Suid-Afrika se stekende son. Wanneer hulle egter aan die son blootgestel word, brand hulle baie donker sodat hulle amper vir ‘n ander ras aangesien sal kan word. So is daar dan ‘n taamlike duidelike onderskeid tussen die werkers en die meer welaf groep wat kan bekostig om uit die son te bly. Daar is dus nie juis sonaanbidders op die strande nie, en mense gaan see toe om ten volle gekleed en gepantser teen die son lang wandelings te neem, of vroeg in die oggend of laat in die middag ‘n vinnige duik in die water te kry en dan weer te skerm teen die son. Daar is egter ‘n neiging by sommige om natuurlikerwys ‘n bietjie meer kleur te hê en dan het hulle wel die geel of “almond”-kleur vel wat werklik pragtig is, maar nie juis gesog in Korea nie! Westerlinge van alle lande staan uit soos seer duime in Korea, want die Koreane het ‘n heel herkenbare gesig! Behalwe vir die oë, het het ook baie kleiner neuse, met ‘n plat brug. Dit is die tweede gewildste kosmetiese

operasie, om die brug van die neus, tussen die oë, uit te bring en die ronde, sagte, soms amper plat neusie, ‘n bietjie skerper te maak. Hulle hou nie van ons lang neuse nie, sê hulle, maar duidelik hou hulle ook nie van hulle platterige neuse nie. Om sout in die wonde te vryf, kry Westerlinge ‘n “Alien”-kaart wat ons te alle tye by ons moet hê. Ons is nog nooit daarna gevra nie, maar dis wet. ‘n Mens voel en lyk en is werklik ‘n “alien” vanaf ‘n ander planeet wanneer jy nie ‘n Koreaan in Korea is nie. Die Engelse praat van “to add insult to injury”, en dis presies wat met buitelanders gebeur wat Korea toe kom, want Korea is Koreaans; hulle praat ‘n taal wat as die vierde moeilikste op die wêreldranglys bekend staan om van buite aangeleer te word, en hulle skryf in ‘n skrif totaal eie en enig aan hierdie land, soos hulle taal ook is. Buitestaanders lyk anders, kan nie lees of skryf of praat nie, en het geen werklike ‘regte’ in Korea nie, want hulle is “aliens”. Klink dit na ‘n nagmerrie? Wel, dan sal ons julle die res moet vertel, want dis ‘n fees! Ons is nou in ons agste jaar hier in Korea, en sou baie graag nog tien jaar wou aanbly! Maar die ouderdom haal ‘n mens meedoënloos in en ons voel dat ons darem te veel van die res van die familie se wel en weë misloop, veral die kleinkinders se alte vinnig grootword. So hierdie is ons laaste jaar hier, as alles goed gaan, maar dit sal met ‘n swaar hart wees wat ons afskeid neem van die land en sy mense. Ons sal graag meer van ons aangenome land met julle deel, as daar plek in Die Doringtak vir Korea is. Met vriendelike groete en “kam-sam-hab

727

-ni-da” (dankie!) Van Ben en Elize uit Seoul, Suid-Korea. (Ons verseker julle, ons kan nie wag vir die volgende aflewering nie - Ron)

_______________________________

TANT ANNA MALAN SE KLEINKINDERS Wyle Tant Anna Susanna Malan (geb. Steynberg - b7.c6.d6.e6.f4) het ses kinders gehad wie se besonderhede nie in EEN FAMILIE opgeneem is nie. Haar kleinseun, Eksteen van Wyk, het vir ons die volgende besonderhede byeengebring. Hier volg die name van haar kinders, met hulle kinders en ‘n paar besonderhede oor elk: 1. Louisa Catharina Murray (geb. Malan) (a) Paul Milne (Paul) Murray - hy en sy dogter Coeleen Louise (Coeleen) Murray woon tans in die Kaap. (b) Anna Susanna (Annalie) du Plessis (geb. Murray) en haar man, Jean, bedryf hulle eie bruilofbykomstigheidsonderneming in die Kaapstad omgewing. (c) John Neethling (Ian) Murray woon en werk al geruime tyd in die Kaap - hy en sy vroutjie Engela (geb. Jansen van Vuuren) het onlangs die ouers geword van ‘n fris babaseun (Tiaan) - hulle eersteling en ouma Louise Murray se tweede kleinkind. 2. Willem Fredrik (Frikkie) Malan (a) Johannes Wilhelmus (Willie) Malan: na jare in die SAPD het hy die kantoorlewe vir die buitelug verruil en verbou hy nou groente in die Potchefstroomdistrik. Sy vrou Brenda (geb. Jacobs) gee onderwys by die Hoërskool Wonderfontein in Carletonville. (b) Jan Harm (Jan) Malan – is hoof van die Laerskool Jongspan in Carletonville. Sy vrou Ronél het o n l a n g s ‘ n gesondheidsterugslag

gehad, maar dit gaan gelukkig nou baie beter. (c) Elizabeth Maria (Elmarie) Nel, gebore Malan) is ‘n Departementshoof by die Hoërskool Wonderfontein. Haar man, Rikus, is verbonde aan Anglo Gold en hulle het ‘n seuntjie, Ruan, nog in die laerskool. 3. Wyle Petrus Johannes Dirkse Malan (a) Johannes Wilhelmus (Johan) Malan - hy en vroutjie Lize (geb. Swanepoel) en hulle seun Kino woon in Alberton waar Johan sy eie onderneming as aankope-makelaar bedryf. (b) Christien Fourie (geb. Malan) en haar dogter Alyche woon in Alberton waar Christien ‘n werkswinkelbestuurder is. (c) Tjaart van der Walt (Walt) Malan en Michelle (Whittaker) en hulle kinders Megan en Danica woon in Pretoria waar Walt in die inligtingstegnologie-bedryf betrokke is. (d) Petrus Johannes Dirkse (Dirk) Malan en Laetitia en hulle seun Joshua woon ook in die Kaap. 4. Elizabeth Johanna van Wyk (Geb. Malan) (a) Daniel Eksteen van Wyk. Hy woon sedert Oktober vanjaar in Linden, Johannesburg, en werk by die regsafdeling van Gautrans (oftewel die Gauteng Departement van Openbare Vervoer, Paaie en Werke.) (b) Louisa Carolina (Louise) Dingelstad, (geb. Van Wyk) is ‘n spraaktaalterapeut, en is in April 2005 getroud met Dalton Dingelstad, ‘n fotograaf, en hulle woon in Waverley, Pretoria. (c) Anna Susanna (Susan) Pool (geb. Van Wyk) is ‘n verpleegkundige by Lancet en Willie is aan Denel verbonde.en woon in Pomona, Kemptonpark met hulle twee dogters, Elizabeth Johanna (Elizbé) en Johanna Isabella (Annabelle). 5. Johanna Helena Susanna van der Merwe (geb. Malan) (a) Anna Susanna

728


(Anneke) van der Merwe het haar eerste jaar as onderwysstudent by die Groenkloofkampus van die UP agter die rug. Sy geniet haar deelname aan die UP Camerata-koor terdeë. Sy beplan o.a. om na sy “graad gevang”het die voorbeeld van haar neef Ian Murray en niggie Ansunette Calitz te volg om in Brittanje te gaan onderwys gee. 6. Anna Susanna van Zyl (Voorheen Calitz, geb. Malan) (a) Anna Susanna (Ansunette) Calitz gee sedert 2001 onderwys in Londen en verken Europa en omstreke tussendeur. Sy het onlangs vir ses weke heerlik kom kuier by die familie in Suid-Afrika. (b) Johannes Wilhelmus (Wilhelm) Calitz. Na ‘n paar jaar as tandtegnikus het hy hom onlangs by sy stiefpa (Jan van Zyl) se verffabriek in Koedoespoort, Pretoria, aangesluit. Sy vroutjie, Karien (geb. Visser) werk as tandartsassistent in Pretoria. ________________________

Sterftes Ena Enslin (neé Steynberg b7.c6.d3. e9.f2.g4) skryf hartseer nuus. Haar moeder, Tannie Elsje Sophia Steynberg, (gebore de Wit op 9 Mei 1915, weduwee van Roelof Jooste, broer van Ulrich) is op die 15de Oktober 2005 in die ouderdom van 90 jaar en 5 maande sag heengegaan. Na 'n kort siekbed het sy vanaf Mosselbaai hospitaal saam met Ena huistoe gekom na Irene in Pretoria vir tuisverpleging en om te bly. Haar ouer suster, Elzane het ook daar kom bly om te help met haar Moeder se versorging. Tannie Elsje het aanvanklik goed aangesterk maar die ou liggaampie

was moeg. In gees wou sy by haar familie wees en het tot op die laaste getel, gespel en probeer om sterk te wees, maar die liggaamlike kragte was nie daar nie en sy het stil en rustig heengegaan.

Sy was 'n wonderlike, liefdevolle en besondere Mamma, Ouma, Oumagroot, vriendin en mens. Almal wat sy aangeraak het was vir haar lief en geraak deur haar wonderlike mens-wees. Sy was te alle tye 'n dame en het die mooi in die lewe na vore gebring. "A real lady". Die groot gemis word getemper deur die rustige wete dat sy nou by Pappa en ons Hemelse Vader is. In beter hande kan sy nie wees nie. (Ena stuur ‘n pragtige volkleurfoto van Tant Elsje saam, wat ons ongelukkig weens Ron se tipe druktoerusting, nie kan plaas nie.) Ons harte gaan uit na Johannes Cornelius Riaan Steynberg (b11.c5.d1.e7.f1.g5.h1) en Haley van Bloemfontein, wie se dogtertjie Keileigh op 10 maande ouderdom oorlede is. Petrus Johannes Steynberg (b7.c6.d3.e1.f1.g1) eggenoot van Catharina Magdalena (Trienie geb. Knox) is op 4 Augustus 2001 oorlede. _________________________

GEBOORTES Ulrich Enslin, kleinseun van Oom Ulrich Steynberg van die Paarl, en vroutjie Danien, het in Julie ‘n pragtige dogtertjie genaamd Nina ryker geword. Petrus Johannes “Petrie” Steynberg (b7.c6.dt.e5.f9.g3) en sy

729

vroutjie, wat nou in Alberton woon, het op 16 November ‘n pragtige dogtertjie, Marli, ryker geword. Carina Tolmay (neé Steynberg b7.c6.d9.e3.f3.g1.f1., en eggenoot Christiaan Cornelius (Ian) Tolmay, het op Kersdag 2004 ‘n dogtertjie, Cayleigh, ryker geword.

HUWELIKE Carina Steynberg - b7.c6.d9.e3.f3. g1.f1. - is op 26 April 2003 getroud met Christiaan Cornelius (Ian) Tolmay, ‘n boer van Hoopstad. Elizabeth, dogter van Dr Jan en Cobie (neé Jooste) Steinberg (b11.c7.d2.e4. f6.g2 ) van Lydenburg, is op 22 Julie getroud met John Kendall Reid, seun van Douglas en Sylvia (neé Sandnes) Reid. Elizabeth, ‘n grafiese ontwerper en Kendall, ‘n animasie deskundige, is oud-Tukkies wat mekaar in die grafiese en multi-media bedryf ontmoet het waarin hulle reeds twee jaar werk, o.a. in Southampton en Sheffield. Tien dae na hulle huwelik het die „IT“ firma ZooTech in Sheffield vir Kendall aangestel om 'n kantoor in Los Angeles te open, waarheen hulle vroeg in die jaar verhuis met opdrag om met die Disney en/of Universal maatskappye te skakel. Die sprokiesmooi troue is voltrek in die Kerk van St Giles in Great Longstone in die Peak Distrik van Engeland. Die onthaal was in Cressbrook Hall, 'n statige ou herehuis daar naby. Douglas, voormalige Professor en hoof van die Wits Musiekdepartement, het die huweliksmarse vir die geleentheid gekomponeer, dit self in

die kerk gespeel en 'n seëningsgedig geskryf wat voorgelees is. Interessant was dat Cobie se broer, Marius Potgieter Jooste van Ann Arbor, Michigan, en sy seun, Steynberg Jooste, ook teenwoordig was. Dit sluit aan by die vorige Doringtakberiggie oor Ulena Groenewald (geb. Steynberg) wie se suster Charlotte met Marius Jooste getroud is en na die VSA verhuis het. Charlotte is Cobie se skoonsuster. Cobie se moeder, Elizabeth Jacoba „Babs“ Jooste, tans 81 jaar oud, gesond en geseënd, het ook die huwelik bygewoon. Cobie se vader, Marius Jooste, 'n mediese dokter wat in die Sendingvelde, o.a. Witzieshoek, Saulspoort, Bourke’s Luck en Maandagshoek, gewerk het, is in 1996 oorlede. Sy skryf dit was sommer lekker om die Jooste, Steinberg, Reid verbintenisse te sien ontwikkel.

GELUK Hartlike gelukwense gaan aan twee familielede wat vanjaar grade ontvang het aan die Universiteit van Stellenbosch. Simeon Mattheus Steynberg b7.c6.d7.e9.f3.g4) van Carnarvon het die graad GOS cum laude verwerf. Jeanette Deborah (Janie) Steinberg b11.c7.d2.e4.f6.g3.h1 - dogter van Peet en Elria Steinberg van Hendrina het die B.Commgraad behaal. Janie was so gelukkig om reeds ‘n pos te kry by Weatherly’s in Kaapstad. ________________

730

Lewe in die


Arabiese woestyn. (Deur Analize Viljoen, dogter van Rosina Elizabeth „Elbie“ Viljoen, geb. Steynberg - b11.c5.d1.e7.f1.g6)

Ek is nie doodseker presies waar en wanneer my “jeukende-voete-sindroom” begin het nie, maar as ek moet raai was dit dalk die dag toe ek die sonlig deur die bloekombome sien skyn het op die pad tussen ons huis in Parys, Vrystaat, en die hospitaal waar ek ‘n dag of twee vroeër gebore is, want dit is deel van my solank ek kan onthou … En nou ... ‘n klompie jare en ‘n hele paar reise en lande later, woon ek in Dubai in die Verenigde Arabiese Emirate. Toe ek klein en altyd aan die lees was, het ek aan Arabië gedink a s ‘n misterieuse plek met versluierde vroue en kameelkaravane by oases in die woestyn, maar nou dat ek hier is het ek al agterkom die enigste misterie in die land is hoe mens ‘n rit stad toe oorleef… Die “Lonely Planet” reisgids beskryf dit as ‘n “ekstreme sport” om in die land te bestuur en ek kan dit sekondeer! Daar is absolute chaos op die paaie en die bestuurders wat die groot 4X4’s bestuur se ontwikkeling het blykbaar vasgeteek toe hulle vier jaar oud was, want soos klein kindertjies wil hulle almal nóú dadelik eerste wees sonder inagneming van enige ander padgebruikers. Die enigste ligpuntjie hier is die prys van brandstof, wat na ‘n onlangse verhoging van meer as 30% – die eerste in ‘n paar jaar – op min of meer R2,50 per liter staan! Die lewensstyl is heel anders as in enige land waar ek al gewoon het, en wel baie interessant. Die Arabiese mans dra nog gereeld die tradisionele wit klere, en die vrouens swart, maar nie almal bedek hulle koppe en gesigte heeltemaal nie, alhoewel jy tog baie vroue sien wat dit doen. As jy egter in ‘n publieke toilet ingaan waar hulle soms die sluiers afhaal, of na ‘n partytjie uitsluitlik vir vroue genooi word dan sien jy eers die sexy uitrustings wat onder die

swart abayas weggesteek word. Daar is baie tradisies om aan gewoond te raak, soos die maand van Ramadan wat onlangs opgehou het, waarin hulle vas elke dag tot sononder as ‘n gebaar om dank te betoon juis vir die dinge waarvan hulle hulself vir die maand weerhou. In die tyd is daar dan ook geen oop koffiewinkel, restaurant of eetplek in die stad nie, tot sononder, as die iftar-maal geëet word om die dag se vas te breek, en baie kom dan bymekaar in mekaar se huise en eet saam omdat dit ook ‘n gebaar van vriendskap, dank en toegeneentheid is om iemand in die tyd in jou huis te ontvang. Die maand word afgesluit met Eid Al Fitr, wat ‘n feestyd is gelykstaande aan Kersfees; daar is ‘n paar dae vakansie, mense gee mekaar geskenke en families spandeer die tyd saam. Die somers is warm; en nou praat ek nie van warm soos in die laeveld nie… ek praat van daardie warm wat mens voel as jy ‘n voorverhiite oond oopmaak. Agt en veertig grade met 80% humiditeit is doodnormaal, met die gevolg dat jy in die somer nie veel verder kom as die lugversorgde, ultra-moderne “glitzy” winkelsentrums nie, maar teen Oktober begin dit afkoel na ‘n aanvaarbare nege en dertig grade en die winkels is vol kampeertoerusting en die aande in die woonbuurte ruik na kebabs op ‘n braaivleisvuur. Teen November is dit al lekker om te gaan kamp, en dis eintlik eers dan, by ‘n vuurtjie op ‘n sandduin, of in ‘n tent by ‘n oase in die dor, kaal berge, dat ek die woestynlewe die meeste waardeer. Dit is ook natuurlik die perfekte tyd en plek om aandag te gee aan my fotografie wat een van my passies is. Na so ‘n naweek, wat hier op ‘n Donderdag en Vrydag val omdat Vrydae die Moslems se biddag is, sien mens weer kans vir die week wat op Saterdagmôre begin. Die kos hier kan sekerlik ook vir party mense ‘n ligte

731

kultuurskok wees, alhoewel dit nie so erg is soos in die Verre Ooste, waar ek vir drie jaar in Singapoer en Maleisië gewoon het, en moes kennis maak met dinge soos gebraaide varkrektum en vark-orgaansop wat ek nie eers sou probeer het al was ek nie ‘n vegetariër nie! Hier is dit meer g e m a t i g , alhoewel vleis ook ‘n groot deel v a n d i e tradisionele maaltyd uitmaak; meestal in die vorm van bredies en kebabs en seekos maar “brein” is ook ‘n gereelde inskrywing op die spyskaarte van kleiner, meer tradisionele eetplekkies. Vir seekos maak ek wel soms die uitsondering om iets te eet wat eens op ‘n tyd oë gehad het. Die geregte word gewoonlik geëet saam met rys, plat ongesuurde brode, hummus (‘n tipe pasta gemaak van fyngemaalde keker-ertjies en sesame-pasta) en slaaie. My gunstelinge onder die slaaie is druiweblare gevul met rys, olyfolie en speserye, en babaganoush, ‘n soort doopsous gemaak van gaar, gemaalde eiervrug, olyfolie, suurlemoensap en knoffel. By die meeste restaurante kan mens ongelukkig nie eens ‘n glas wyn saam met jou ete geniet nie, want dit is natuurlik teen die Moslem geloof om alkohol te gebruik. Alkohol word wel bedien by restaurante in 4- en 5-ster hotelle, en natuurlik by die Burj Al Arab, die bekendste landmerk in Dubai, wat die hoogste hotel in die wêreld is, en tot onlangs ook die enigste 7-ster hotel in die wêreld was. Soms raak die hitte te veel vir my, en mis ek die groen van Suid-Afrika, die wit strande en palmbome van die Maleisiese eilande en die interessantheid van ‘n plek soos “China Town” in Singapoer, maar die woestyn kruip tog in jou bloed in op ‘n manier en herinner jou aan hoe aanpasbaar en verskillend mense eintlik is, en as die son ondergaan oor die Arabiese Golf, of

agter ‘n sandduin in die woestyn, dan besef mens die meeste plekke is mooi as jy net reg kyk. :_________________________________

TONEEL Agtergrond: Toe Lieselore Steynberg die familiebyeenkoms vir die Paasnaweek in 2003 in Graaff Reinet beplan het, het sy gedink om ‘n toneeltjie oor die lewe van ons stamvader, Johan Jost Steinberg, as deel van die feesprogram daar te laat opvoer. Sy het eerste aan H C U (Coert) Steynberg gedink om Johan Jost se rol daarin te speel na aanleiding van die kostelike stukkie “Die krokodil en die naturellemeisie” wat hy by ‘n vorige fees naby Warmbad voorgedra het. Volgende het sy ‘n geskikte toneelstuk nodig gehad. Vir een of ander rede het sy gedink aan Ron Steynberg, (Doringtak redakteur) om ‘n geskikte stuk te skryf en dan ook die afrigting en regie waar te neem. Toe Coert ongelukkig nie in daardie tyd beskikbaar was nie, het Lieselore oorweeg om mense van Graaff Reinet, desnoods skoolkinders, daarin te laat optree. Ron moes die toneeltjie skryf en opvoer. Lieselore het ‘n aantal grepe uit Johan Jost se lewe geïdentifiseer wat daarin opgeneem kon word en Ron het begin werk aan die “drama” sonder enige literêre pretensies. Dit was egter gou duidelik dat afstand en tyd groot probleme sou wees. Om hierdie probleme te bowe te kom, het Ron voorgestel dat hy die stuk as ‘n eenmanvertoning sou aanpak wat minimale dekor sou benodig en geen skakeling tussen meerdere spelers en regisseur nie. So is die stuk dan in GR opgevoer en het dit heelwat byval gevind.

732


Ron het gemeen dat dit moontlik by verdere familiebyeenkomste opgevoer kon word. In die twee jaar sedertdien was dit slegs eenkeer aangebied, by ‘n byeenkoms van die sg. Mooiplaas Steynbergs op die plaas Bloubank naby Hoedspruit. Verskeie jonger lede het reeds versoek dat ons meer inligting oor Johan Jost en ons ander voorsate in Die Doringtak moet publiseer. Daar het reeds heelwat sulke inligting oor die jare in Die Doringtak verskyn, maar mense vergeet, of was teen daardie tyd nog nie lid nie. Nou bied ons hierdie toneeltjie in Die Doringtak aan in ‘n poging om heelwat jonger lede ‘n oorsigtelike idee te gee van die lewe van Johan Jost Steinberg, ons stamvader in Suid-Afrika.

Johan Jost Steynberg – 'n Terugblik (Die toneel is ‘n vertrek in die huis van Johan Jost Steinberg in Kaapstad in die jaar 1785. Verbeel jou dat jy ook in die vertrek sit en luister na Johan Jost aan die woord. Kies maar self wie jy graag wil wees: sy vrou, een van sy kinders of ‘n besoeker. Kuier in jou gedagtes saam met hom waar hy in herinnering terugkyk oor sy lewe. Daar is ‘n klop aan die deur en ‘n persoon kom die vertrek binne. Johan Jost herken ‘n ou vriend wat hy jare laas gesien het, en verder verloop die gesprek met sy ou vriend.)

My liewe aarde! Jacob Hofmann ... , sowaar as my naam Jost Steinberg is het ek nooit kon dink dat jy weer hier in die Kaap sou uitslaan nie! Kom binne. Laat ek jou voorstel aan my vrou, Aletta, en my seun Johannes. Jy sê jy’s op pad terug van Batavia af Holland toe? Man, ek waardeer dit dat jy my weer kom opsoek! Van Holland af gaan jy seker terug na Niederaula om jou daar te vestig? ... O, so jy het nou die familie-eiendom daar geërf. Man, ek is bly vir jou. Ek gun jou dit. Ek

wonder hoe dit vandag daar gaan ... en wie van my familie en vriende nog lewe. Kom, sit gerieflik hier naby die vuur! Ja-nee wat man, wat sou jy tog ook nou in 'n herberg tuisgaan. Ek siens gans te min mense deesdae. Verskoon tog as my vroutjie in en uit beweeg terwyl ons gesels. Sy hou 'n ogie oor die kosmakery in die kombuis. En die gedruis wat jy in die agtergrond hoor, is die ander kinders wat hulleself daar in die kombuis vermaak. Ek glo nog kinders moet nie by die grootmense kom sit en tande tel nie. Met ons twee is dit 'n geval van my twee kinders, haar drie en ons vier. Ek hoor jy’t so 'n belangrike man geword in die Kompanjie se diens daar in Batavia. Wêreld, maar jy lyk werklik waardig en welvarend. Ai, ek dink nog dikwels terug aan ons kinderdae daar in Niederaula. Dis wonderlik om weer met jou te kan gesels. Ek hoop nie al my stories verveel jou nie. Ek is regtig uitgehonger vir gesels. Deesdae kom ek maar min uit die huis uit. Vandat ek die terugslag gehad het, sit ek maar meestal hier alleen ... soos dit met 'n ou mens gaan. Mensig! Dis darem wonderlike tye waarin ons leef! Tot nou die dag was ek feitlik blind, man. Ek het al daarmee vrede gemaak. Toe kom vertel my liewe vroutjie van 'n Engelsman van London af met 'n skepelmandjie vol brilglase. Dit word verkoop by die teken van die bril daar in Tweede Straat. Dit kon nie hoër of laer nie, sy neem my daarheen. Watter sotlikheid, dag ek. Ek kon mos voel my oë is gedaan. Maar jong, sy grou daar rond en pas al wat glas is op my oë. Ek brom en kla want die goed verdraai en verdof alles en ek sien nog slegter as ooit. Man, toe vat sy daar so 'n valetjie met 'n swart draadraampie - hierdie een op my oë! Sy sit hom op my neus, en dis soos 'n

733

wonderwerk – dis asof daar skille van my oë afgeval het. Skielik was alles weer glashelder om my. En dis nie een van daardie ou soort wat net op jou neus balanseer nie. Nee, dis die heel modernste soort. Hy’t sulke steeltjies langs jou kop wat jy agter met 'n toutjie vasmaak. Jy vergeet glad dat jy die ding op het! Maar man, ek protesteer toe nog, want die affêretjie kos letterlik 'n plaas se geld. Maar jy ken nie my vroutjie nie. As sy 'n ding besluit het dan gebeur hy! Vandag is ek dankbaar. Man, ek sien jou so goed soos toe ek 'n kind was. My oë sien weer perfek. Waar die mensdom op pad heen is met al hierdie moderne nuwighede sal ons nie weet nie. Die jare snel so verby … ek wil graag alles hoor van jou lewe in Batavia nadat jy weer hier weg is op die Eendragt. Wat van 'n bokaal wyn? Of lus jy eerder 'n oorlam brandewyn? Johannes, gooi daar vir die Oom 'n ietsie. Dit sal gou die koue en klammmigheid uit jou gebeente uit verdryf. Magtig, kon ek nou ooit dink dat ek weer iemand uit Niederaula sou raakloop. Skielik onthou ek weer dinge uit ons kinderdae wat ek in geen jare aan gedink het nie. Dit voel soos nou die dag toe ons klompie Steinbergs laas doerrr in ons huis in Niederaula byeen was. Ons moes besluit wat om verder te doen na my pa se dood. Johan Jacob, my oudste broer, had vanselfsprekend die eerste aanspraak om ons vader se smedery oor te neem. Hy was toe reeds getroud en het al 'n fraaie klein dogtertjie gehad. Johan Michael, die tweede oudste, was ook daar. Hy was in murg en been 'n herder. Hy het die dorp se skape en beeste versorg en had geen erg aan smidswerk nie. Man, sou hý darem hierdie uitgestrekte land geniet het! Ek wonder hoe dit vandag met hom gaan … en of hy ooit nog leef.

Soos jy, was ek toe reeds 24. Ek het ook maar by my pa die ambag van grofsmid geleer en ek sou graag daar wou bly en voortgaan met die werk. Maar, man, Johan Jacob en ek was soos kruit en vuur. Ons Steinbergs is mos maar hardekop. En hy was moeilik … daar in die smedery kon hy vir jou met woorde gooi dat dit soos klippe voel! Twee base in een besigheid werk nooit en my broer se kneg wou ek nie wees nie. Johan Jacob se humeur en ongeduld herinner my aan 'n storie wat my vriend Jan Wagenaar my 'n tyd gelede vertel. Hy korswil altyd met my oor my ambag. Hy vertel 'n ou grofsmid besef hy sou binnekort moes ophou om so hard te werk. Hy soek toe 'n sterk jonkman om 'n leerjonge by hom te wees. Die ou kêrel was kwasterig en veeleisend. “Moenie vir my baie vrae vra nie,” vermaan hy die seun. “Doen jy net wat ek jou sê om te doen!” Op 'n dag haal die ou smid met sy lang tang 'n rooiwarm yster uit die blaasbalk en sit dit so op die aambeeld neer. “Kry die hamer wat daar lê,” blaf hy. “Wanneer ek my kop knik slaan jy hom behoorlik en hard!” Nou soek die dorp glo 'n nuwe grofsmid! (Lag te lekker.) Nee wat, ... ek moes weg. Daar was nog my drie susters ook ... maar hulle was versorg en had geen sware besluit te neem nie. Twee was al getroud en die jongste het op troue gestaan. Mutti het swaar gekry. Sy en Johan Jacob het mekaar altyd verkeerd opgevryf. Hulle was te eners, jy sien. Sy’t het nie kans gesien vir die lewe sonder my vader nie. Skielik was sy baie onseker. Maar vir my had sy altyd ‘n sagte plek. Ek was toe alreeds van plan om elders 'n begin te gaan maak. Die Verenigde Oos-Indiese Companjie het destyds mos

734


talle soldate in daardie dele gewerf om hulle belange in die Ooste te beskerm. Wat 'n avontuur het dit gelyk! 'n Hele nuwe toekoms het gewink. Vir my was dit 'n geleentheid om kosteloos in die nuwe wêreld te kom. Ek was al 'n opgeleide soldaat toe my vader oorlede is. Op die laaste minuut besluit Mutti toe mos om saam met my te kom na die Cabo de bona Esperance ... reg aan die suidpunt van Afrika! Sy het geglo van haar ander kinders sou ons ook hierheen volg wanneer ek en sy goed gevestig was. Sy sou hulle laat weet watter wonderlike moontlikhede en geleenthede hierdie nuwe land bied. Jy onthou seker hoe dit gebeur het? ............ Daar was g'n plek meer vir 'n muis op die Eendracht nie, maar ...... ek het met die kaptein gekonkel om vir Mutti plek te maak … diè dat haar naam op geen passasierslys verskyn het nie ... O, wragtig, daardie seereis – my eerste en my laaste! Onthou jy? Op 5 Mei van die jaar van Onse Heer 1748 is ons weg uit die hawe van Texel, Nederland. Vyf senutergende dae het ons daar voor anker gelê ... wagtend op 'n goeie wind om te kon uit vaar. Daar van die rede van Texel af het talle ekspedisies begin en geëindig na en van elke uithoek van die wêreld. Wat 'n bedrywigheid! Die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie het so geweldig gegroei dat daar so 'n twee tot drie duisend koopvaarders en oorlogskepe per jaar in Texel aangedoen het. Jy sal onthou ... ons was in 'n klein vlootjie van sewe skepe wat saam gevaar het: Lekkerland, Eendragt – wat ons op was – en Huyenaard; ook nog die Duynenburg, Achis, die Hercules en Bredenhof. Die 8ste een se naam het ek nou vergeet! My ma had in haar ‘n gramstorigheid wat haar met ‘n flenter-gemoed op die boot laat klim het. Sy’t sommer gou sleg gelyk, die seesiek had haar sleg beet … sy wat haar lewe lank goed gelewe het … nou opeens in ‘n houtkis

gekluister … saam met ‘n spul morrerige wywe en kotsmislike seesiek vrouens … ‘n vreeslikheid. Ek moes toe nog vir haar vaargeld matroos! ‘n Totaal vreemde wêreld vir my … maar as jy jonk is sien jy kans. Ek moes vinnig leer. My vriend Jan Wagenaar vertel my die storie van die beroemde skeepskaptein wat so bewonder en gerespekteer was deur sy bemanning en mede-offisiere. Onthou dat ek jou nog meer van Jan Wagenaar vertel. Ewentwil, almal bly dronkgeslaan oor 'n vreemde ritueel wat die beroemde kaptein daagliks uitvoer. Op see sluit hy homself elke dag in sy kajuit toe, sluit dan 'n stewige trommel oop, haal 'n koevert uit met 'n nota daarin en lees dit aandagtig. Daarna sluit hy dit weer sorgvuldig toe en keer terug na sy pligte. So gaan dit vir jare. Sy bemanning kon maar net wonder. Was dit 'n kaart van 'n verborge skat? Was dit dalk 'n brief van 'n verlore liefde? Almal het bespiegel oor die geheimsinnige koevert. Toe sterf die kaptein. Hulle begrawe hom, en dadelik lei die opperstuurman die hele bemanning na die kaptein se kwartiere, sluit die kis oop en lees die woorde op die papier aan die verbaasde manne voor. Daar staan: Bakboord: links. Stuurboord: regs. Vir my was dit egter nie so moeilik nie. Ek moes net onthou: Stuurboord was regs; hoenders se kant. Bakboord links; skape se kant. Voor was die voormas. In die middel die grootmas. Besaansmas agter. Die bakdek was onder waar my Mutti en die vrouens meesal lê en kots het. Nog 'n bakdek op die voorkasteel. Die manne se gemak was heel voor op die skip sodat die see die uitwerpsels kon skoonspoel. Die vrouens moes potte gebruik en die jongstes onder hulle moes aanhoudend die potte oorboord leegmaak en aan ‘n tou in die see uitspoel. Ra’s is die kruishoute aan die maste waaraan

735

die seile hang. Ek het nogal maklik aan die ewige beweging gewoond geraak, maar my ma het gou die dag begin vervloek wat sy die Heimat verlaat het agter beloftes aan – sy’t vas geglo ons ga’ almal kaput. Onthou jy hoe al ons landrotte – maar veral die vrouens – op see mismoedig was oor die lang vaart, die skaarste aan vars kos en water, siektes, sterftes? Daardie vier maande op die Eendragt was die langste vier maande van my lewe. Die ergste van alles was Mutti se mismoedigheid en ontevredenheid met alles. Toe ons op Vrydag, 6 September 1748 eindelik Tafelbaai binnevaar was daar op die Eendracht tydens die reis reeds 70 mense aan boord oorlede en 115 was ernstig siek – omtrent almal aan die skeurbuik. Op die Lekkerland, die Huyenaard en die ander skip wat saam met ons aangekom het, was die toestand ook maar treurig. Die ander vier skepe het weke tevore op ‘n sandbank geloop waar hulle ternouernood van afgekom het. Toe het hulle boonop nog in ‘n windstilte beland en het eers weke na ons in 'n erg treurige toestand in Tafelbaai aangekom. Ai ... ek treur vandag nog oor my moeder wat die vaart ook nie oorleef het nie. Maar, wat sal ek jou nou hierdie dinge vertel? Jy was mos daar!! Jy onthou dit sekerlik self. Ai, sal ek ooit daardie eerste blik op Tafelberg vergeet! Die lug was heel betrokke en die wind was fris. En toe, skielik kom Tafelberg in sig. Seker die mees welkome gesig vir enige seevaarder! Hy rys mos amper 'n driekwart myl hoog so uit die see uit op. Op 'n helder dag kan seevaarders hom meer as 120 myl ver sien! Vir die eerste matroos wat Tafelberg bespeur, was daar altyd 10 Hollandse gulden en 'n bottel wyn! Vir mý het Tafelberg nie net die einde beteken van die eentonigheid en verdriet van die maandelange seevaart nie, of 'n belofte van vars kos en water, of 'n kans om weer op terra firma te loop nie! Belangrikste vir my was die vooruitsig van 'n nuwe toekoms! Volgens Skipper Hansen van die Eendragt het Sir Francis Drake dit glo genoem die skoonste

Kaap op die omtrek van die ganse aarde. Die ou Portugese seevaarders het dit genoem die Cabo Tormentosa – die Kaap van Storms. Hierdie Kaapse Skiereiland is vandag nog vir mý sekerlik die mooiste gesig op aarde. Ek kan nie genoeg daarna kyk nie. Dis nog 'n rede waarom hierdie bril vir my so 'n seën is. Jy sal onthou – vir die meeste van die reisigers, soos vandag ook nog, was die Vlek, of Hoofdstad, soos die Kaap toe genoem was, 'n stilhouplek langs die pad eerder as die einddoel van die reis. Soos jy self, was die meeste op pad na die Ooste, veral Java en Batavia. Net 'n handvol van ons wat daardie dag hier geland het, het gekom om te bly. Die res is vort Ooste toe nadat die skepe weer versorg is en voorrade ingeneem het. Ek het nogal gou tuis gevoel. Hier was heelwat Duitse soldate, net soos ek, in diens van die Kompanjie. Gou het ek met ene Martin Melck bevriend geraak wat twee jaar voor my hier beland het. Man, daar was vir jou 'n knap jongman. In ’52 is hy met 'n gegoede weduwee getroud en deur sy skerpe verstand en harde werk het hy die vermoë wat hy sodoende verkry het, aansienlik vermeerder en later 'n baie gegoede man geword. Melck en ek het oor die jare kontak gehou. Hy het vroeër baie werk in my smidswinkel laat doen. En 'n ryk man geword. Man, hierdie sal jou 'n idee gee van sy voorspoed: 'n Klompie jare gelede gaan besoek ek vir Melck op sy plaas Elsenburg, daar in die Stellenbosch distrik. Daar was 'n groot vendusie in die omgewing. Kyk, 'n vendusie is mos altyd 'n groot geleentheid hier aan die Kaap. Ons kuier toe sommer 'n paar dae by Melck en sy vrou op sy plaas. Jy moes dit kon sien. So vieruur een middag bereik ons die plaas, wat op 'n afstand soos 'n hele dorp gelyk het. Dit lê in die gebergte teen die sagte helling van 'n hoë rug, langs 'n standhoudende stroom wat hy soos 'n grag tussen twee mure gelei het, en

736


wat 'n watermeul aan die gang hou waarmee hy sy meel laat maal. Die woonhuis was rojaal groot - met vier of vyf kamers, almal netjies en kosbaar gemeubileer. Dit het meer soos die buitehuis van 'n ryk rentenier gelyk as die woonhuis van 'n boer. So 'n dertig treë van die hoeke van die huis had hy vier groot pakhuise, elkeen ten minste 150 voet lank, waarin hy sy koring en wyn bewaar. Twee daarvan was reeds leeg; in die derde was daar nog meer as 150 lêers wyn, en in die vierde vyftien- of sestienhonderd mud koring: elke mud koring word op 180 of 190 pond Amsterdams-gewig geskat, na gelang die graan swaar of lig is. Hiertussen het hy 'n eie smids-, timmermansen wamakers-winkel; ook ander werksmense, wat altyd besig is om alles te vervaardig wat vir so 'n groot en omslagtige woning en boerdery nodig is. Slegs die minderheid was Europeërs. Die meeste was Oosterse slawe wat hom besonder veel geld gekos het. Onder andere het hy my 'n slaaf gewys wat smeewerk en die beslaan van waens verstaan het. Hom het hy vir 1500 riksdaalders of 3600 gulden gekoop. 'n Bietjie hoër op was daar 'n reeks netjiese geboue met 'n gemesselde blyplek vir elk van sy meer as 200 slawe. Hy weet glo nie die presiese getal nie. 'n Entjie verder het hy twee krale vir sy vee, omring met 'n klipmuur van 8 of 10 voet hoog, elkeen met 'n oppervlak van omtrent 'n duisend vierkante roedes. Hierin word die skape, perde en horingvee snags opgesluit vir beveiliging teen die wilde diere, besonderlik die wolwe en tiers, wat dikwels groot slagting onder die kleinvee aanrig. Van laasgenoemde het hy duisende. Wat die horingvee betref, het hy my vertel, so ... asof dit niks beteken nie, dat hy kort tevore 125 stuks aan klou- en tongsiekte verloor het. Daar is nog ander kleiner geboue wat vir verskeie doeleindes opgerig is. Dan besit hy ook nog sewe of agt ander plase, waar hy sy huurlinge geplaas het, waarvan sommiges koring en ander wyn oplewer; ook 'n

aantal wat slegs veeposte is. Met dit alles kan die man nòg lees nòg skryf! Sy geheue is so goed dat hy die inhoud van al die boeke wat 'n ander man sou nodig hê om hierdie bedryf goed te bestuur grotendeels in sy kop het. Hy het destyds, net twee jaar voor my, uit Pruise in 'n ondergeskikte hoedanigheid hier aangekom. Omdat hy geweet het hoe om kalk te brand en stene te bak en iets van die landbou verstaan het, het hy as meesterkneg by die vorige eienaar van hierdie spogplaas in diens getree. Dit was op daardie tydstip op verre na nie so uitgebreid soos teenswoordig nie. Toe hierdie eienaar oorlede is, het Melck met sy weduwee getrou (wat hier ook nie seldsaam is nie), en namate hy van tyd tot tyd meer onderneem het, het hy die pag van die Kompanjie bekom, waarmee hy in 'n enkele jaar meer as 100 000 gulden wins gemaak het, en wel deur die aankoms van die Franse vloot. Dit het hom in staat gestel om nog groter sake te onderneem sodat hy eenkeer die hele land se wyn-opbrengs opgekoop het, wat 'n paar duisend lêers beloop het. Alhoewel dit sekerlik nie tot die algemene voordeel was nie, wys dit wel met hoe 'n ondernemende gees die man besiel is. Melck se vrou is in ’76 dood. Sonder meer is hy vandag die rykste man in die Kaap. Maar daar is heelwat ander manne van sy kaliber. Onder ‘n groot deel van die blanke bevolking begin daar deesdae 'n heel eiesoortige Kaapse lewenstyl ontwikkel. Hier vanaf die vyftigerjare het die Kaapse wynen graanboere baie welvarend begin word. Deur 'n oor-en-weer trouery en wedersydse verpligtinge aan mekaar het hier 'n uitsoek sosiale orde ontstaan. Sê my, onthou jy nog iets van die tydjie wat jy in die Kaap deurgebring het voor jy vort is Batavia toe? Vir my was hierdie wêreld hoogs vreemd. Slawe oral rond ... bruin en swart mense! So

737

iets het ons mos nie in Niederaula of in die ganse Hesse geken nie. Kwalik in die hele Duitsland! En dan die raarste diere! Leeus en tiers het ek nooit self gesien nie, maar wel hulle velle en koppe ... en die stories van die jagters! Jy kon jou verluister. En bobbejane! En die dassies teen die berge – om nie van ystervarke en krimpvarkies te praat nie! Elke dag was 'n opwindende avontuur. Hier aan die Kaap het dit ook maar veel gestruwel, hoor! Toe ek hier aankom, is daar gefluister oor 'n swart tyd kort tevore aan die Kaap die Goeie Hoop, toe vier goewerneurs mekaar binne twee jaar opgevolg het en omwentelinge veroorsaak het wat elke burger geraak het. Goewerneur van Kervel was net drie weke in sy amp toe hy en sy vrou na 'n middagmaal siek word, en voor sononder is die goewerneur dood. Hy was al die hele duur van sy ampstyd in die bed met maagkoors, maar was al aan die herstel toe hy skielik sterf. Dadelik was daar 'n magstryd. Die Beleidsraad moes inderhaas in die Kasteel vergader om 'n waarnemende Goewerneur aan te stel tot tyd en wyl die Here Meesters in die vaderland hulle eie wense bekendmaak. Pas afgetrede Oud-Goewerneur Jan de la Fontaine, die Fiskaal Independent, Meneer Daniel van Henghel, sekunde Hendrik Swellengrebel, en Ryk Tulbagh die Sekretaris, was almal daar. Van Hengel maak toe sommer dadelik aanspraak op die amp en die vergoeding van waarnemende goewerneur. 'n Stemmming in die Beleidsraad verloop gelykop: ewe veel stemme vir Van Henghel en Hendrik Swellengrebel. Op advies van Oud-Goewerneur de la Fontaine, word 'n dolk op die tafel neergelê en vinnig in die rondte getol. Toe die draaiende dolk tot stilstand kom, wys die punt reguit na Van Henghel se hart. Hy was 'n gevreesde

man wat ewe graag aanklaer, regter en laksman wou wees. En nou was hierdie genadelose wreedaard die waarnemende Goewerneur! Gelukkig is die Here XVII se besluit taamlik gou ontvang en is Swellengrebel toe aangestel as Goewerneur. Van Henghel was weer die Fiskaal en toe eers venynig. Korrupsie, vra jy? Man, die hoogste amptenare dryf vandag nog net soveel handel as voorheen. Almal weet dat minder as die helfte van die vrag op enige Kompanjieskip regtig aan die Kompanjie behoort. Die vryburgers raak al meer ontevrede. Hulle betaal belasting, maar kan nie hulle goed verkoop kry nie, want die grote here se produkte kry voorkeur. En jy kan nie gaan kla nie, want die amptenare het alle mag in hulle eie hande. Die burgers is vas ... die handel, die kerk, die verdediging, die regspraak ... alles is in die hande van dieselfde paar kêrels. Gerug wil dit hê dat toe Goewerneur Joachim van Plettenberg op 'n keer gevra is oor pogings om korrupsie in die plaaslike bestuur teen te werk, hy ewe sinies opgemerk het dat dit heel eenvoudig gedoen sou kon word deur alle lede van die families Cloete, Van Reenen, Van Breda en Eksteen te verban! Maar kom ons los dit nou! Johannes, skink

738


daar vir die Oom nog 'n oorlam! Weet jy wat ek nooit sal vergeet nie? Hoe opgewonde jy my kom vertel het van die wonderlike Kaapse vrou wat jy ontmoet het. Onthou jy? Jy was mos hier in die Kaap tuis by Andreas Hansen, skipper van die Eendragt waarmee ons albei van Nederland geseil het. Hy was mos getroud met 'n Kaapse vrou. Onthou jy? Jy het op 'n dag vir Mevrou Hansen op Vlaeberg koekemakranka-blare gaan bymekaar maak. Sy het dit tussen haar klere bewaar om dit van die verderf en die mot te bevry. Dit gee mos ook so 'n aangename reuk aan die klere. Op hierdie heuwel was daar van die vroegste Kompanjiestyd af 'n vlagstok wat die aankoms en aanwesigheid van vreemde skepe in Tafelbaai aangekondig het. Ja, man! Sal ek ooit jou verhaal vergeet van hoe 'n jong Hottentot meisie van buitengewone skoonheid naby jou verskyn het. Sy het skynbaar daar gesit om die ruime uitsig te geniet en die vlag te besigtig wat toe juis die nabyheid van 'n skip op see aangekondig het. Toe sy sien waarmee jy besig was het sy vanself opgestaan en jou help soek na nog blare. Toe jy genoeg daarvan versamel het, het jy, vermoeid van die hitte en die klim, gaan sit om uit te rus. Sy het toe dadelik, sonder die minste vrees, langs jou kom sit en die doek waarmee jy jou beswete bors afdroog, uit jou hande geneem en ewe prettig daarmee oor jou gesig gestryk. Vir jou was sy die bekoorlikste en fraaiste vrouebeeld wat 'n mens jou kon voorstel. In plaas van die plat neus en uitstaande kake wat gewoonlik haar nasie kenmerk, het sy 'n vol gesig gehad met die bekoorlikste gelaatstrekke, 'n ry blinkende tande en vurige wydoop oë. Jy het die presiese eweredigheid van haar ledemate en haar goedgevormde boesem beskryf wat van haar 'n skoonheid gemaak het wat onder die

Hottentotte seldsaam voorkom. Al wat jou glo gehinder het, was die walglike mengsel van vet en roet waarmee sy, soos alle lede van haar nasie, bestryk was. Julle kon nie een woord van mekaar verstaan nie en het met tekens probeer om 'n gesprek te voer. Toe jy eindelik huiswaarts draai, het sy jou tot halfpad teen die berg af gevolg en op 'n vlaktetjie daar naby die kamp van haar mense gewys. Sy het jou met tekens laat verstaan dat jy die volgende dag vroeg op dieselfde plek moes wees. Na 'n rukkie het dit gelyk of haar vurige dartelheid in treurigheid verander was, en het sy met haar hand oor jou gesig gestryk, en toe met ongelooflike spoed teen die berg af gesnel en eerlank tussen die struike verwyn. Kaptein Hansen en sy vrou het nog so hartlik daaroor gelag toe jy hulle vertel het, en jou gelukgewens met jou Hottentotse oorwinning. Hansen en sy vrou het geweet van die Hottentot afvaardiging daar teen die berg. Hulle was in die Kaap om by die Regering te kom kla oor die tirannieke optrede van sommige boere teenoor hulle mense en om reg vir hulle leed te kom vra. Onthou jy? Die volgende dag het jy vroeg daarheen gegaan, maar tot jou grootste spyt, het Hottentotte, kamp, alles verdwyn. Hulle het glo met dagbreek al vertrek, verontwaardig dat daar, oudergewoonte, probeer is om hulle met fraaie woorde en beloftes tevrede te stel. Toe jy die plek bereik waar jy en die meisie die vorige dag gesit het, het jy daar 'n string krale gevind wat sy om haar arms, bene en nek gedra het. Jy het geglo dat sy dit daar geplaas het toe sy uitvind dat sy skielik moes vertrek,

739

met die idee dat jy dit moes vind en bewaar. Hoe sê jy? ... O! So jy hèt dit saamgeneem en jy het dit vandàg nog, na al die jare. Wat 'n mooie aandenking aan jou Hottentotse droomvrou! Èk het dadelik in diens getree van die Kompanjie as Smid, Geelgieter, Cooper- en Blikslager. Hulle het vir ons laat werk, hoor! Geen slawe om jou werk ligter te maak in die Kompanjie smedery in daardie vroeë dae nie! Trouens, daar was ons meesal Hollanders, 'n klompie Duitsers, Franse en 'n paar ander uit NoordEuropa. Maar buite die Kompanjie se diens was dit 'n ander storie. Daar was reeds 'n klomp slawe – veral Maleiers – wat goed onderlê was in bouwerk, timmermanswerk, wielmakery, visvang en kosmaak. Dit was duidelik dat die meeste slawe van buite Afrika veelsydig en aanpasbaar was. Hier teen die vyftigerjare was veel van die huisbouwerk, steenmakery, dakdekwerk, transport en die op- en aflaai van skepe, sowel as die meer inspannende take van die boerdery, deur slawe verrig. Daar was so veel werk dat daar gou te min Europeërs was om dit alles te doen. Feitlik elke Europese smid, messelaar, wamaker, kleremaker en selfs pruikmaker het begin om slawe-seuns in te neem as leerjongens. Jy sal nie glo hoe vinnig daardie mannetjies die gewoontes van vlytigheid en tegniese vaardighede aangeleer nie. Ek sê vir jou, as dit nie was vir die Kompanjie se verbod op vervaardiging nie, sou hierdie Kaap gou ontwikkel het in 'n belangrike sentrum van industrie. Rou materiale, veral velle en wol was volop, en baie van ons Europeërs het geglo dat spin-, weef- en kleurwerk baie lonend gevestig kon word. Feitlik die enigste vervaardiging wat toegelaat was, was wa-makery, waaruit ons smede natuurlik voordeel getrek het. Werksgeleenthede vir jong Europeërs was egter baie beperk. Visvang het 'n monopolie geword vir gekleurde vrymanne, terwyl slawe

feitlik elke ander vorm van hande-arbeid binnegedring het. Maar weet jy? Die Europeërs hier aan die Kaap het algaande die fluksheid en ondernemingsgees van die tipiese Hollander of Noord-Duitse dorpenaar verloor. Dit is algemeen aan die klimaat toegeskryf, maar glo jy my, die oorsaak was eerstens die beperkende beleid van die Kompanjie – en dan natuurlik, die teenwoordigheid van die slawe. Kyk, vroeër moes jy slawe ten duurste koop, en nie almal kon dit bekostig nie. Maar hier teen die vyftigs en sestigs het die slawe se eie aanwas in die vraag begin voorsien. Die opgroeiende slawekinders is grootgemaak om ambagte te vervul. Die burgers wou glad nie meer harde werk doen nie – dit was beskou as slawe-werk. Amper elke burger het slawe gehad – wat hout en water gehaal het, en stoele en kussings kerk toe gedra het. Slavinne het die burgers se vroue se huiswerk oorgeneem. Hulle het die kos gemaak, kamers skoongemaak, die konfoor voorberei – alles vir die meesteres se gerief. Hulle het ure bestee aan fyn naaldwerk. Seuns het die burgers se kinders opgepas, sy vrou met 'n lantern begelei na donker - selfs 'n waaier van volstruisvere gebruik om nuuskierige insekte weg te hou! Byna net die Goewerneur self het nog wit slawe gehad. Ons slawe was goed geklee ... èn gevoed. Enne ... as hulle slae moes kry vir versuim, was dit niks erger as wat jy jou eie kinders sou gee nie. Slawe kommer nie oor hulle oudag nie – sy meester moet hom van kos, klere en huisvesting voorsien selfs nadat hy nie meer in staat is om te werk nie. Jy sal my nie glo nie, deesdae word slawe dan glad al toegelaat om hulle vaardighede te gebruik om vir hulle eie onderhoud te voorsien. Dan moet hulle aan hul eienaars so omtrent 6 stuiwers per dag betaal vir die voorreg. Man, 'n slaaf kan nou-se-dae selfs weg van sy meester se huis woon. So is daar nou al heelwat slawe wat glad nie meer onder beheer van hulle meester is nie!

740


Ek sê vir jou dis dit wat misdaad so laat toeneem! Die goewerment praat deesdae dat hulle slawe wil belet om 'n eie huis of kamer te huur – want dit sal glo ontvangs van gesteelde goed bevorder. Maar dit lyk my hulle sal niks doen om te verhinder dat 'n slaaf se meester hom uitverhuur aan 'n ander burger wat sy vernuf en vaardigheid nodig het nie. Hier in die Kaap is nou al ver meer slawe as vrymanne. 'n Klompie is nou wel onnutte, maar die meerderheid van hulle is goed van gedrag. Jy moet weet, dis nou al so erg dat 'n jong burger dit baie moeilik sal vind om 'n beroep te vind, as hy sou wou, waar hy met sy hande kan werk sonder om met slawe-arbeid te kompeteer. Op diè manier word burgers ontneem van geleenthede vir sake- of vervaardigingsondernemings. Hulle word dus gedwing om terug te val op onbenullige transaksietjies, soos om hulle slawe te gebruik om mandjies groente en vrugte deur die strate te smous. Ek sê vir jou, hierdie kortsigtige toestand gaan hierdie mooi land nog duur te staan kom. Jong, ek babbel te veel. Maar dis tog so lekker om met iemand te gesels wat belangstel en verstaan. My familie ken al al my stories. Die grootste sosiale gebeurtenis hier in die Kaap en ook op die ander dorpe wat nou reeds ontstaan het, is die Nagmaal. Alle burgers, selfs dié op die mees afgeleë plase, aanvaar dat hulle die Nagmaal eenmaal 'n kwartaal moet bywoon. Dit beteken dikwels 'n reis per ossewa van etlike weke. Boere sorg dat hulle reeds Donderdag hulle waens met produkte op die dorpsmark het vir verkope. Daar ontmoet familie en vriende mekaar wat dalk 'n paar weke per ossewa van

mekaar af woon. Deesdae besit baie van die gegoede boere huise in die dorp of huur kamers waar hulle families vir die duur van die fees kan tuisgaan. Meisies van die hubare ouderdom van 15 jaar, se huwelike word ook meesal hier gereël. Hier aan die Kaap was nooit veel vermaaklikheid nie. Wel 'n paar taphuise, wat ek nie juis besoek nie, en diè moet om 9 uur saans sluit. Hulle mag wel Sondae oop bly, maar moet vir die duur van elke kerkdiens gesluit wees. Jan Wagenaar vertel my passeerde week 'n rare verhaaltjie. Ek wens jy kon diè man ontmoet! 'n Kostelike vent. Ek moet jou nog van hom vertel. Ewentwil, die taphuis-eienaar maak dit bekend dat hy 10 gulden betaal aan enigeen wat 'n kom van sy sop van die dag kon eet en ook 'n groot rou Kaapse oester heel kon insluk! 'n Matroos kom binne en vra wat die sop van die dag is. Die eienaar sê “Dit is mosselsop.” “Mosselsop!” roep die man uit. “Ek is verskriklik lief vir mosselsop en oesters. Hierdie gaan maklik wees!” Die matroos vra toe of hy die oester eerste kon kry, want hy glo as hy eers die oester in het, sou die sop geen probleem wees nie. So bring die eienaar toe vir hom 'n knewel van 'n oester ... en die man sluk hom weg sonder om 'n oog te knip. Hy sê, “Hierdie gaan kinderspeletjies wees - bring nou die sop,” en die taphuishouer bring vir hom 'n tamaai kom sop. Die matroos proe daaraan en sê,

741

“Hierdie is die beste mosselsop wat ek nog ooit geproe het!” en hy eet alles tot die laaste skepppie op. Hy skuif behaaglik terug en sê, “Dit lyk my ek is 10 gulden ryker!” Di eienaar kyk hom so en sê, “Ek skat jy’s reg. Jy behoort trots te wees. Jy’s vandag die eerste man wat daardie besondere oester kon binne hou!” (Lag uit sy maag uit ...) Man, ja, ons het nou wel nie vanaand mosselsop nie, maar my vroutjie sê ons moet gou kom eet voor die kos koud word. Ons kan na ete weer verder hier kom sit en gesels. (Gordyn - gaste eet heerlik saam. Daarna gaan die toneelstuk voort.) Johannes, gee daar vir die oom 'n glasie konjak. Jy kan maar vir my ook enetjie skink. Ja, man, terwyl jy nou vra ... in 1751 is ek getroud met Christina de Vries, dogter van Cornelis de Vries van Leeuwaarden. Volgens haar vader se testament sou sy, haar twee susters en een broer elk 1000 Kaapse gulden erf. Ons eerste dogter het as baba gesterf. Die tweede dogter is twee jaar later gebore en gedoop Catharina – my moeder se naam. Kort na die geboorte van ons tweede dogter, is my dierbare vrou Christina oorlede. Daardie was vir jou swaar jare. In ‘52 sit ek toe as wewenaar met 'n papklein babatjie. Boonop kom die klomp smede in opstand oor ongerymdhede in die Kompanjie se smidswinkel. Verbeel jou, ons baas, ou J H Kreigler, beskuldig òns daarvan dat ons twee grawe uit die smidswinkel gesteel het. Intussen verdink ons die voorman daarvan. Dit was vir jou 'n kabaal. Ons 20 smede het gemurmureer en byna tot brutaliteite oorgegaan. Daar is oor en weer geskel onder tuiten van vele onbeskaamde vloekwoorde. Die uitbarsting

was so erg dat die smidswinkel 'n paar dae gesluit moes word. Ou Kreigler het ons so kwaad gemaak dat ons geweier het om verder te werk. Eers het hulle ons ons vrye uur ontneem. Daarna het hulle ons met brandmerking en kettings gedreig, Hulle’t glad ons kiste gevisenteer! Toe was de duiwel los. Ons het nie net geweier om verder te werk nie, maar ons het ook begin kla dat ons loon te min was. Ons het ook gerapporteer dat ons baas snags die winkel ingegaan het om goedere in 'n sak uit te dra. Ek self het 'n verklaring hieroor voor die Fiskaal, Pieter van Reede van Oudtshoorn, afgelê. Man, ons word toe voor die Raad van Justisie verhoor. Die uitspraak was dat ons uiters verregaande extravagantien betyds gestuit moes word, anders kon dit tot groot kwaad by 'n ander wankelbare troep lei. Hulle het vir ons swaar gestraf! Ons moes kwansuis as 'n voorbeeld dien om verdere gevalle van muitery betyds te stuit. Kan jy dit glo? Hulle het tot die gevolgtrekking gekom dat die eerste drie gedaagdes nie bewus was dat hulle weiering om te werk 'n misdaad teen die Edele Companjie was nie! Ten spyte daarvan is ons leiers en woordvoerders die volgende strawwe opgelê: Arie Van der Steen en Josef Fee moes gebring word na die plek waar kriminele eksekusies plaasvind en daar aan 'n paal gebind word en deur die regter op die blote rug strengelik gegesel word. Vervolgens is hulle in kettings geklink om vir ses agtereenvolgende jare sonder loon op Robbeneiland te werk. Die derde gedaagde, Gert Maluck, is sy amp en loon ontneem en aan 'n paal gebind om deur die swart handlangers van die Fiskaal

742


streng gelaars te word. Daarna is hy na die eiland Edam gestuur om vir drie jaar net vir kos en klere te werk. Ons ander sewentien is skerp berispe oor ons misdryf. Ons moes ook die Heer de Ruyter om verskoning vra en ook die koste van die saak dra. Boonop is ons een maand se loon ontneem. Ja-nee, die lewe was vroeër jare hard hier in die Kaap. Ek kan vir jou insidente vertel ... 'n Ou man was verban omdat hy nie opgestaan het toe die Goewerneur die kerk binnekom nie. 'n Slaaf is opgehang omdat hy 'n ander man met 'n klip gegooi het. 'n Derde is verwurg omdat hy aangeplante boompies vir vuurmaakhout gekap het ... dis om van nagmerries te kry! Ja, man ... die regering was streng. Kyk, jy moet onthou – in Europa was dit anders. Daar was ten eerste mense wat in groepe saam gaan woon het en na baie omwentelinge volke geword het. Toe kies die volke hulle eie regerings; dit was 'n natuurlike politieke verloop. Hier in Suider-Afrika was daar eerstens 'n regering, en mense is toe onder hulle gesag geplaas. Van 'n volk wat sy regering kies, was hier geen sprake nie, want hier was geen volk nie. Dit was 'n onnatuurlike politieke toestand, en daarom moes die mense hulle na die regering se wense skik, en nie die regering na die volkswil, soos in ander lande nie. Ek het baie gewonder of dit dan altyd so sou bly ... of ons altyd maar 'n handelspos van die kompanjie sou wees en nooit 'n vrye land soos Holland of Engeland sou word nie. Miskien, eendag in die toekoms ... Weet jy, daar is nou al boere wat onder die beheer van die Kompanjie begin uitbeweeg. Ek hoor daar is van hulle, of hulle nou as Franse, Duitsers, Engelse of Hollanders hier aangekom het, wat deesdae al na hulself as Afrikaners begin verwys. Dalk word ons tog eendag 'n volk. Interessant, min mense praat hier nog suiwer Hollands, Frans, of Duits. Die tale leen by

mekaar en waar 'n woord steeds kortkom, gebruik ons die Hottentot woord of 'n Maleier woord of net wat ter hand kom. Egte Europeërs het al moeite om ons te verstaan ... en ons vir hulle. Dit sal my min verbaas as die tale wat vandag hier aan die Kaap gepraat word, eindelik uit Hollands sal ontwikkel in 'n taal eie aan hierdie land. Dalk noem hulle dit nog eendag Afrikaans – die taal van die Afrikaners! In 1753 toe ek reeds vier jaar aan die Kaap was, besluit ek om my vrydom te neem en ek lê toe die Eed van Burgerskap af. As bekwame vryburger moes ek nou elke jaar twee weke diens doen in die milisie. Dit geld vir alle burgers tussen 16 en 60 jaar. Dit het ek dan gereeld gedoen tot Oktober 1783 – ja, dis reg, twee jaar gelede toe ek 60 geword het. 'n Vader van drie seuns of skoonseuns het hierdie pligte vrygespring, maar hierdie voorreg het ek nooit gesmaak nie. Om die waarheid te sê, daar was tye dat ek getwyfel het of die Steynberg naam ooit in hierdie land sou voortleef! As inwoner van die Tafelvallei moes ek ook as lid van die Burgerwag die strate patrolleer om brandstigting, diefstal en ander geweld wat deur weggelope swartes veroorsaak kon word, te voorkom. Alle burgers aan die Kaap moes ook bydra om die strate in stand te hou en moes 'n voertuig beskikbaar stel vir aanry van klippe vir 'n werf in die hawe. Hier teen ’54 het dit met my geldelik begin beter gaan. Dit het eintlik begin toe ek 'n uitstekend geleë erf gekoop op die weg vanaf die Kasteel na die Souterivier, reg aan die Wagenweg. Man, dit was mooi – 300 kwadraat roeden tussen die strand en die Wagenweg. Ek kon dit nie regtig bekostig nie, maar sekere Dirk Coetzee het my die geld voorgeskiet teen 'n eerste verband oor die erf. Die erf had selfs dienlike geboue daarop en lê op die oewer van die Sout Rivier.

743

Ek koop toe die erf by Joachim Ernst Wepener, wildjagter en pagter van die wyn- en brandewynlisensie van Rondebosch, en later eienaar van die bekende plaas Molenvliet. Min het ek geweet hy was my toekomstige vrou Aaltjie se toekomstige skoonvader. Vergewe my as dit vir jou 'n bietjie Grieks klink! Dit het egter toe ver in die toekoms gelê. Met die groot wapad uit die Kaap wat vlak langs die erf verby loop het my smedery oorvloedig werk gehad om wabande te kort en ander herstelwerk te doen. Ons het ook destyds grawe en allerlei werkgereedskap gemaak. Man ek het hard gewerk! En nog steeds was ek wewenaar met net my dogtertjie Catharina. In 1756 trou ek met Christina van der Swyn, dogter van Adjudant Jan van der Swyn van ‘s Gravenhage. Net voor sy dood het die ou vloek 'n testament opgestel waarin Christina nie eers genoem is nie. Man, ek praat nie graag hieroor nie, maar sy het gou ernstig siek geword en terwyl sy siek te bedde lê, stel ons twee 'n omslagtige testament op waarkragtens haar moeder, Rosalene van Bengale, al ons besittings sou erf indien ons albei kinderloos sterf. My hart krimp nog van pyn om daaroor te praat, maar sy herstel toe nie en kort daarna is ek maar weer 'n wewenaar, en lewe vir 'n verdere 6 jaar weer alleen met my enkele dogter, Catharina. Na 'n verdere ses jaar trou ek in 1762 vir die derde maal. Dit was met Anna Maria Knoetze. Haar groot-grootvader het al voor 1700 in die Kaap gewoon. Haar moeder se voorouers was daar van Stellenbosch se wêreld. Hier teen ’68 het die familie hulle in Swellendam gevestig. Dit was nou vir jou 'n goeie huwelik. Vir amper 10 jaar was ek so gelukkig as wat 'n man kan wees. Anna en ek het een seun en drie dogters

gehad. Jy kan dink hoe in my skik ek was met die seun! Ons het hom Johannes genoem, my vader se naam. Ek het hom met groot sorg en liefde grootgemaak en hom 'n uitstekende opvoeding gegee. Vandag is hy 'n knap kêrel wie se kop en hande vir niks verkeerd staan nie. Wat sê jy, Johannes? Praat ek reg? Eindelik kon die Steinberg naam voortgedra word, het ek gedink. Hoe kon ek toe ook weet dat diè man net dogters sou voortbring? Magtig, man, hy het vandag reeds sewe dogters, met 'n agste een op pad, lyk dit my! As dit van hom afgehang het, het die Steinberg naam in SuidAfrika by my doodgeloop! Of wat praat ek, Johannes? Maar, ons was voorwaar 'n vreugdevolle huisgesin. Hoe goed onthou ek nog die 16de September 1770. Op daardie pragtige dag is my en Anna Maria se jongste dogtertjie gedoop en my oudste, Catharina, trou met Pieter Langenau, bootsmanmaat uit Danzig. Anna Maria en ek was getuies by die doop. Maar daardie vreugde was van korte duur. Die volgende jaar het groot droefheid gebring. Ons jongste dogter het net 14 maande oud geword. En net 'n week na haar sterf my dierbare Anna Maria. So was ek toe nogmaals wewenaar – hierdie keer vir 18 maande – met 'n seun van 10 jaar en twee dogters, een nog klein en die ander reeds getroud. Jy vra na Aaltjie? Man, daar is vir jou 'n storie om te vertel! Onthou jy ek het vroeër vertel hoe ek daar in ’54 my eerste erf gekoop het by Joachim Ernst Wepener? Man, terwyl ons destyds onderhandel het, het daar die allerpragtigste dogtertjie van so 'n ses of sewe jaar, Aaltjie Verreyn, al om Wepener

744


gedraai. Voorwaar 'n prentjie van 'n kind – en so bekkig! Haar ouers is kort tevore oorlede en sy het verder grootgeword by haar grootouers wat bure van die Wepeners was. As alleenkind was sy feitlik pal by die Wepeners se kinders. Jy moet onthou, ek was toe al drie jaar lank wewenaar. My klein Catharinatjie was al amper drie. Man, die eensaamheid het my toe al erg begin vasdruk ... en Catharina het dringend 'n moeder nodig gehad. Jy weet, 'n slavin is darem nie dieselfde as 'n moeder nie. Ek het die pragtige Aaltjie Verreyn so bekyk ... en ... e ... jy weet hoe werk 'n man se gedagte ... 'n paar vlietende oomblikke was ek spyt dat sy nie al 'n jaar of tien ouer was nie!!! Maar nou-ja, dit kon nie wees nie en ek moes maar van haar vergeet! Later het ek verneem dat sy toe getroud is met 'n welvarende jonkman, Ernst Frederik, 'n seun van dieselfde Wepener-bure by wie sy grotendeels grootgeword het. Ieder geval neusie verby. Maar man, nou moet jy mooi luister! In ’73 se winter kom hier 'n storm soos net hierdie Kaap van Storms kan oplewer. Die reën giet neer, die wind waai jou van jou voete af en dis ysig koud. Al wat leef is binnenshuis. En toe strand De Jonge Thomas, hier in Tafelbaai! Nou moet jy weet, die stranding van De Jonge Thomas was nie meer merkwaardig as diè van 'n dosyn of wat ander skepe wat oor die jare in Tafelbaai vasgekeer is deur die woeste noordwes storms nie. Wat hierdie een egter laat uitstaan bo al die ander, was tweeledig. Eerstens was daar die onvergeetlike gesig van 'n man op 'n perd wat die golwe aandurf. Luister mooi. Dit was Dinsdagnag, 1 Junie 1773. Die Noord-wester het al 'n paar dae al kragtiger gewaai. Vir die Goewerneur was dit eintlik 'n groot verleentheid, want die vloot op pad Indië toe het in Tafelbaai gelê waar dit geen reg gehad het om te wees nie. Jy sien, vir 40 jaar al was

dit staande instruksies dat die Hollands OosIndiese Kompanjie se skepe in die suidelike winter in Simonsbaai moes vasmeer en nie in Tafelbaai nie. In Simonsbaai is skepe doodveilig teen die noordwes storms. Maar, om hulle daar te hanteer en te bevoorraad, is ongelukkig baie ongerieflik aangesien alle voorrade van Kaapstad moet kom, 23 myl oor 'n uiters swak pad. So het die Goewerneur hom soms geriefshalwe blind gehou en die Indië-manne in Tafelbaai laat vasmeer. Hierdie betrokke nag sou die Kompanjie die prys betaal vir hierdie verbreking van die regulasies. Vyf skepe het al 4 of 5 dae in Tafelbaai gereed gelê om te vertrek sodra die groeiende wind bedaar. Daar was die DUYF EN BRUG, ASCHAT, OVERHOUT, DE JONGE THOMAS en 'n klein hooker, die SNELHEID. Maandagnag het al wat 'n skip is bykomende ankers uitgesit, want die ruwe see het 'n woedende storm voorspel. Die wind bereik 'n crescendo en bring toe die reën. Man, en dit was ook nie die gewone Kaapse winter motreëntjie nie. Dit was soos 'n waterval man, begelei deur verdowende donderweer en blitse. Op die klimaks van die storm verkool 'n bliksemstraal die hoofmas van die DUYF EN BRUG en laat dit nutteloos. Een na die ander het die kettings van die verskillende ankers afgeruk, en waar hulle nog gehou het, het die ankers begin sleep onder die gekombineerde aanslag van wind en water. Op land kon ons nie uitmaak wat aangaan nie, maar die gebulder van noodkanonne oor die Baai het ons vrese laat vererger. De Jonge Thomas, met 207 man aan boord onder Skipper Barend de la Maire, was die swakste van al die skepe geplaas. Teen 5 uur die oggend had Jonge Thomas nog net een anker en diè het al erg begin sleep. Die donderende noodkanonne het geen hulp

745

gebring nie en enige oomblik sou die laaste ankerketting breek. Eerder as om onvoorbereid aan land gedryf te word en aan die genade van die storm oorgelaat te word, besluit skipper de la Maire om sy skip op die strand te laat loop terwyl hý nog die plek kon kies. Toe is die laaste anker losgesny en het die skip op die strand afgepyl. Die skipper het die gelyk deel gekies net noord van die Soute rivier se monding ... nie ver van my erf nie, man! Hoe kon hy ook weet dat die Soutrivier in vloed was, die monding versper deur 'n sandbank en dat die rivier sy wal oorstroom het en nou in die see geledig het net noord van die punt waarheen Jonge Thomas gemik het? Om sake te vererger, het Jonge Thomas reg dwars tot die strand gedraai op die oomblik van impak. Man, in net twee minute het die reuse branders die skip se rug gebreek en is sy by die hoofmas wat in die water getuimel het, in twee geskeur. Hierdie toneel het die Goewerneur begroet toe hy teen ligdag angstig oor die baai kyk. Hy het seker 'n dankgebed geprewel dat die 18 kiste geld wat die Jonge Thomas van Holland af gebring het, nog veilig in bewaring in die Kasteel was, anders kon die tragedie vir hom 'n veel groter ramp geword het. Onmiddellik is 'n troep van 30 soldate na die wrak gestuur om uitgespoelde goedere teen roof te beveilig. Sekere ooggetuies beweer dat geen poging aangewend was om die bemanning te red nie, maar man, ek was daar! In billikheid moet ek sê dat die Kompanjie nie totààl harteloos was nie. Behalwe die soldate, was die Hawemeester, die bootsmanmaat en die kaai-werkers gestuur om te sien wat vir die bemanning gedoen kon word. Wel, ek glo dit was die bedoeling, maar wat werklik gebeur het was dat elkeen die

herwinning van uitgespoelde goedere sy eerste doel gemaak het. Na alles, die ou spreuk sê mos dat 'n matroos net nege stuiwers kos! Dit het 'n hele ruk geneem om die strand teenoor die wrak te bereik, want nie net was die Soutrivier in vloed nie, maar Paardeneiland was totaal onder water. Eers laat die oggend het die ampsgeselskap die toneel bereik. Die luitenant in bevel het onmiddellik 'n galg laat oprig en manne uitgesit om almal te waarsku dat enigeen wat uitgespoelde goedere nader, onmiddellik gehang sou word. Dit het natuurlik n i e n e t n u u s k ie r i g e toeskouers weggehou nie maar ook welmenende redders. Die soldate het toe begin om die goedere wat van die snel opbr ekende wr ak af uitspoel, bymekaar te maak. Die hawemeester en sy manne het 'n slag ongemaklik na die skip gekyk wat besig was om deur die branders verpletter te word, en het hulle voorts doof gehou vir die hulpkrete wat deur die wind aangedra was landwaarts en hulle het begin hand bysit om die wrakstukke bymekaar te maak. 'n Aantal matrose het dadelik vergaan toe De Jonge Thomas opbreek, maar daar het nog talle oorlewendes aan die stukke vaartuig gehang, onder wie die skipper, die tweede stuurman, die kanonnier en 'n klompie matrose. Die strand het so naby gelyk dat, in die afwesigheid van rotse, talle van hulle probeer strand toe swem het. 'n Paar uitsonderlik sterk swemmers het die strand gehaal, maar die meeste is oorweldig deur die vloed van die Soutrivier en het óf dadelik verdrink óf is die oop see in gevoer. Ek sal nooit vergeet nie, man. Ek sien daar 'n Matroos wat lyk of hy nie die strand gaan haal nie. Jy onthou, van kindsbeen af was ek 'n sterk swemmer. Ek duiwel toe die brullende

746


branders daar in om hom te gaan help. Met 'n groot geluk kry ek hom in die hande en bring hom hoestend en proestend tot in die vlak water. Ek self het amper versuip, man! Die matroos strompel feitlik nakend op die sand uit en tot sy grootste vreugde vind hy reg voor hom sy eie see-kis. Hy haal sy sleutel af van 'n ketting om sy nek en was net besig om die kis oop te sluit toe 'n rottinghou oor sy skouers brand. Dis toe die Luitenant. “Ag jouself gelukkig dat jy nie dadelik aan daardie galg gehang word nie!” skreeu hy, “Kom nou dadelik weg van die Kompanjie se eiendom!” “Maar Mijnheer, dis my eie kis, Mijnheer,” protesteer die matroos. “Kyk, hier het ek die sleutel.” “Alles wat hier uitspoel behoort aan die Kompanjie,” antwoord die Luitenant terwyl hy sy rotting dreigend swaai. “Dit is my plig om dit veilig te bewaar. Gee nou pad!” So moes die matroos, Jan Wagenaar, die res van die dag daar bewend op die strand hurk ... totdat die soldate teen skemer vertrek het dorp toe. Hy was gedaan, man. Kon skaars op sy voete staan. Tussen die honderde nuuskieriges deur het èk hom gehelp tot by 'n groot vuur wat iemand op die strand gemaak het. Jy kan dit nie glo nie, man! Iemand het die rumoer en sensasie geïgnoreer en op 'n praktiese manier kom hitte en hulp verleen aan die verkluimde, geskokte drenkelinge wat die strand gehaal het. Daar was sterk swart koffie met – net vir die skok - 'n goeie skeut

brandewyn daarin vir elkeen. Andere het begin om stukke dryfhout nader te bring en gou was daar 'n reuse sissende vuur met 'n klompie half versuiptes daar rondom gehurk. Dit was glo 'n jong weduwee wat kop gehou het en die vuur en hout deur haar slawe daarheen laat dra het. Om daardie vuur was daar 'n samedromming, man. Eers toe die soldate teen die aand begin vertrek, is Jan Wagenaaar toegelaat om sy kis te nader, net om dit oopgebreek te vind met die inhoud gesteel. Ek het gesien hoe hy die soldate agternakyk, hulle geweerlope toegedraai in gesteelde goue kant, voordat hy stadig agter hulle aangedrentel het dorp se kant toe. Hom het ek later goed geleer ken. 'n Vrolike vent en nou nog my beste vriend. Hy wou nooit weer see toe nie en het hier in die Kaap aangebly. Hy is vandag 'n vryboer. Hy kom gereeld hier en beur my op met sy stories. Ek hoop regtig jy kan hom ontmoet. Net laas week kom hy hier aan met die volgende storie. Hy vertel 'n matroos loop 'n seerower in 'n taphuis raak. Die seerower het 'n houtbeen, 'n haak in die plek van een hand en 'n swart oogklap op een oog. “Hoe kom jy aan die houtbeen?” vra die matroos. “Man, ek is oorboord gespoel tydens 'n verskriklike storm, en 'n groot haai hap toe my been morsaf net toe hulle my met 'n reddingstou uit die see optrek!” “Magtig!” roep die matroos uit. “Wat van die haak?” “Man, ons val op 'n dag 'n skip aan en

747

ons veg met swaarde. Daar kap 'n reus van 'n vent my hand morsaf!” “Magtig!” roep die matroos uit. “En wat van die oogklap?” “Man, ek het op 'n dag opgekyk ... en toe mis 'n seemeeu binne in my oog!” “Wat? Moet ek glo jy het 'n oog verloor omdat 'n voël in jou oog gemis het?” Antwoord die seerower: “Dit was my eerste dag met die haak .... !” (Lag dawerend.) Maar nouja, nie almal was harteloos nie. Man, ek onderbreek myself terwyl ek myself onderbreek! Daar was soveel dinge besig om gelyktydig te gebeur! In die loop van daardie oggend kom 'n man te perd daar aangery. Hy spring af langs een van die soldate, Korporaal Christian Ludwig Woltemade. Die ruiter was Woltemade se vader wat vir hom 'n brood en 'n bottel wyn gebring het. Wolraad Woltemade was geen jongeling meer nie. Ek het later gehoor dat Woltemath, soos hy oorspronklik genoem was, self reeds in 1752 'n Korporaal was, gestasioneer te Muizenberg. Teen 1770 het hy al 'n hoër rang gehad en was hy in beheer van die Muizenberg pos. Ek dink hy het later afgetree want hier teen ‘73 was hy vir die Kompanjie 'n melkeryman. Vervul met medelye vir die ongelukkige matrose aan boord die wrak, bestyg hy wèèr die perd en spoor die dier aan, die see in, vasbeslote om sommige van hulle uit die gevaar te red. Of daar geen tou byderhand was nie en of Woltemade net nie daaraan gedink het nie, weet ek nie, maar feit is hy ry die woeste see daar in sonder 'n tou! Man, daai perd kon vir jou swem. Hy beur dapper teen die golwe en toe hulle die wrak nader, roep Woltemade vir twee matrose om in

te spring en aan die perd se stert vas te hou. Na 'n bietjie weifeling maak twee manne so en hy sleep hulle strand toe. Nog nie tevrede nie, keer Woltemade dadelik terug na die wrak en red nog twee manne. Man, hy doen dit wragtig weer en weer tot hy 14 manne na veiligheid gebring het. Teen hierdie tyd was daar, pleks van weifeling, woeste kompetisie onder die matrose vir die volgende plek. Wat die perd betref, hy het nou reeds gesteier van uitputting. Woltemade klim 'n slag af om die perd te laat rus, maar toe is daar vir jou uitroepe van wanhoop van die wrak af. Ten spyte van ernstige pleidooie van sy seun, bestyg Woltemade weer die perd en ry die branders in. Bewus daarvan dat hierdie sekerlik die perd se laaste toer sou wees, verloor die matrose alle selfbeheer. Toe die vermoeide dier die wrak nader, spring daar 'n stuk of ses die water in en gryp aan die perd vas. Een stommerik gryp die toom vas en trek die perd se kop onder die water. Man, dit was alles in 'n moment verby ... perd, ruiter en matrose verdwyn onder die golwe. Niemand het verder probeer om die manne te red nie. Aand se kant sien ek hoe die strand leeg word soos die soldate en burgers terugkeer na hulle warm huisvure. Deur die nag klou die misrabele sopnat matrose aan die wrak tot die see begin bedaar. Die volgende oggend was die see nog rof, maar Jan Jacobs, die tweede stuurman en 'n stuk of 25 matrose kon toe strand toe waad van die wrak af. In totaal het 67 manne die ramp oorleef, waarvan 14 hulle lewens direk aan Wolraad Woltemade te danke had. Daardie oggend was die strand besaai

748


met lyke. Onder hulle was die Skipper en Wolraad Woltemade. Ook sy perd. Die Skipper was 'n amptelike begrafnis gegee, maar daar was niks sò deftig vir Woltemade beskore nie. Die Kasteel het skynbaar vir Woltemade as 'n inmengerige dwaas beskou wat sy lewe onnodig gewaag het. In die eerste verslag aan die Kompanjie was sy naam glo nie eers genoem nie. Daar was glo baie te sê oor die 18 kiste geld wat so wonderbaarlik deur die Hoër Hand gered is! Maar ... nie almal het vir Woltemade vergeet nie. Die feite is in 1775 opgeneem in 'n boek van Anders Sparrman, en die verhaal van hierdie ongelooflike redding het daarvandaan wyd versprei. Die Here XVII het eers daarvan kennis geneem toe die Daghregister van 1773 Amsterdam bereik en hulle die verhaal van “die man Woltemade” kon aanmekaarflans. Tot hulle eer moet ek sê dat hulle dadelik opdrag gestuur het dat enige seun van Woltemade bevordering moes kry in die Kompanjie se diens, of ander beloning moes kry. Maar ek het gehoor dat Christian Woltemade toe reeds uit die Kaap weg is Batavia toe en dat hy nooit enige voordeel uit die bevel gekry het nie. Verder het die Kompanjie darem een van sy nuwe skepe genoem Held Woltemade en die verhaal van die dapper daad was op die agterstewe geskilder deur Hendrik van Velzen.

Vandag is die verhaal van Woltemade reeds 'n legende. Min mense kan vir jou die naam van De Jonge Thomas vertel, maar daar’s duisende wat Woltemade se naam trots onthou. Ironies egter, niemand ken vandag die naam van die werklike held nie, die perd! Man, ek voel 'n bietjie gedaan ... kry vir jou nog 'n oorlam brandewyn voor ons gaan slaap. Ekskuus, ... wat vra jy? O ja, ek het genoem dat daar 'n tweede rede was waarom ek De Jonge Thomas se stranding nooit sou vergeet nie. Kyk, in daardie dae was ek 'n sterke derduiwel, man. Ons grofsmede is mos harder en meer gebrei as kêrels wat hulle lewens op ander maniere verdien. Die hele dag het ek gehelp om drenkelinge tot by die weduwee se vuur te neem. En om hout aan te dra vir die vuur. Ek kon myself net nie daar wegskeur nie. Jy sien, toe ek die uitgeputte Jan Wagenaar daar langs die vuur neerlê, was die flinke weduwee dadelik by met geurige swart koffie om hom te versterk. Man, daar was vir jou 'n raakvat-vrou! Pragtig, kalm, seker van haarself. Toe sy vir my 'n beker stomende koffie gee, kyk ek in haar oë en daar roer 'n vae herinnerng in my. En weet jy wat sê sy vir my? “Dankie, vir jou hulp, Jost Steinberg!” Dis toe daardie selfde pragtige Aaltjie kind van die bure van Joachim Ernst Wepener, by wie ek destyds die erf gekoop het! Maar man, sy was g’n dogtertjie meer nie! Daardie belofte van skoonheid wat my destyds reeds so getref

749

het, was in oortreffende mate vervul! En waaragtig, man, sy het mý ook onthou! En my nie eers “Oom” genoem nie! Die res is seker nou vir jou duidelik. Sy was 'n welaf jong weduwee van buitengewone skoonheid. As sesjarige kind het sy by haar eie ouers goed geërf en op 24 jaar het sy weduwee geword en van haar man weer 'n keer goed geërf. Sy had twee kindertjies, die jongste seuntjie net 'n paar maande oud. Toe ons enkele maande later trou, was daar in my huis – dis nou buiten my oudste dogter Catharina – wat al getroud was – vier meisies en een seun. Vir ons is daar toe nog twee seuns en drie dogters gebore. By ons is dit vandag 'n geval van my twee kinders, jou drie kinders en ons vier kinders! Ek was ver bo verdienste geseënd. Aaltjie is 'n vrou duisend – al moet ek dit nou hier voor haar sê! Ons lewe saam is nog al die jare soos 'n mooie droom. En eindelik was ek seker dat die naam Steinberg voortgedra sou word in hierdie mooi land. Johannes, vir jou is dit seker nog nie te laat om 'n seun te hê nie, maar daar is darem nou nog twee seuns wat die naam kan voort dra. Ja man, vandag is ek gedaan na die terugslag wat my getref het. Die laaste maande van my sestigste jaar, is ek glad as 'n invalide beskou deur die Kompanjie en kon ek nie meer my militêre-diens doen nie. Ek kan egter terugkyk oor 'n mooi lewe verryk en versier deur deugsame vrouens, en pragtige voorbeeldige kinders. Johannes, my oudste seun, beplan om binnekort na die Swellendam distrik te trek. Hy gaan daar vee laat wei – aard beslis na sy oom, Johan Michael, wat 'n herder in murg en been was. Hy sal sekerlik goed aard in die

veeboerdery. Aaltjie is reeds besig met voorbereidings om 'n leningsplaas langs die warmwaterbron agter Cogmanskloof naby Swellendam te kry, waar sy beeste en skape kan laat wei. Sy sê ek is verspot, maar ek voel al meer en meer dat ek nie die verskuiwing sal meemaak nie. My kragte begin regtig nou al minder word. My ander kinders praat van verder land-in trek om te gaan vestig in “de wijdgelegen kolonie van Graaff Reinet”. Hierdie vierde afgebakende distrik beslaan die hele gebied van die Gamtoosrivier in die Weste tot aan die Groot Visrivier in die Ooste; en van die Indiese Osean tot kort duskant die Gar iep. Hulle begin reeds 'n drostdy daar bou wat die setel van die plaaslike regering sal wees. Ek bid vir hulle seën en voorspoed toe. Die nuwe dorp wat nou daar begin groei word g l o vernoem na die nuwe Goewerneur Jacob van der Graaff en sy vrou Cornelia Reinet. Ai man, as ek nog my kragte gehad het! Diè dorp gaan vir jou groei! Daar is nou reeds talle uitspannings uitgemerk met water en weiding en rusplek vir reisigers se osse – en daar is reeds etlike herberge gebou al is die dorp nog nie eers amptelik gestig nie. Dit gaan sekerlik 'n oorblyplek wees vir elke reisiger na die binneland. Man, daar gaan vir jou 'n florerende besigheidsentrum ontstaan. Hulle vertel daar is nou reeds meer skape in daardie distrik as in die ander drie distrikte saam. Die slagters hier in die Kaap gee openlik voorkeur aan vleis uit daardie geweste, veral daar uit die Kamdeboo streek. Die plase is uitstekend met volop water en ek

750


glo pragtige wingerde gaan nog daar aangelê word. En dis 'n voorslag skaap-, bok- en beeswêreld. Ek glo met my kinders sal dit daar goed gaan. Ek wens regtig ek kon ook daar wees om hulle voorspoed te beleef. Man, nou moet jy my verskoon, maar ek moet nou gaan slaap. Ek voel regtig gedaan. Aaltjie maak al vir my groot oë daar van die deur af. Kom, laat sy vir jou gaan wys waar jy moet slaap. Môre gesels ons verder. Rustige nag. (Gordyn)

Dankie aan elkeen wat nuus of inligting bygedra het. Dankie vir al u steun en bemoediging. Vrolike groete tot volgende keer. M o e n i e vergeet om te skryf nie!

Ron _______________________________

Hartlike familiegroete en warm Feestydwense aan elke familielid.

751

752


Die Doringtak 39