Page 1

My ervaring met goddelike genesing in die bediening van my pa, Dr James le Roux SJ le Roux Die volgende is ‘n feitelike en getroue weergawe van my ervaring van hierdie saak en ek probeer om nie te vergroot of te oordryf nie. Ek is ‘n nugter en rasionele persoon en beleef nie self ‘n gawe van genesing in my bediening nie – al het ek dit vroeër baie ernstig gesoek. Kinderjare te Parow, Kaapstad, 1961-1970 Ek het in ‘n huis grootgeword wat seker anders was as die meeste kinders van my ouderdom. My pa, James le Roux (Dr JBS le Roux), was ‘n predikant en absoluut toegewy aan die Here. Ek kan ‘n aparte dokument wy aan sy mooi lewe en voorbeeld. My pa het tot bekering gekom in die herlewings wat in 1950 in SuidAfrika voorgekom het en voluit vir die Here geleef. My ma, Alma Eva Brunner, wie hy in Duitsland ontmoet het, het ook die Here liefgehad en was self ‘n besondere talentvolle en kunstige mens. Die gesprekke in ons huis het oor die Here gegaan: wat die Bybel op ‘n vers beteken, Pa, ma en ek – eerste helfte van 1962 oor sekere leringe en hoe om dit te verstaan, oor wat die Here gedoen het in mense se lewe, oor die wederkoms, oor wat predikers gepreek het, dinge wat in die gemeente gebeur het, ens. Dit was die alledaagse temas. Dit was opgewonde gesprekke, want die dinge van die Here was alles die beste nuus denkbaar. Dis asof hulle nie genoeg kon kry nie. Om pa en ma te sien bid en Bybel lees was algemeen – pa het ook dikwels vir mense by ons huis beraad en gebid en saans was daar soms kleiner byeenkoms, kooroefeninge of ons het na dienste toe gegaan. Woensdagaande het ek meestal saam met my pa biduur toe gegaan – die enigste kind daar – en agter gesit en wag terwyl hy klaar gepreek het, en almal klaar gebid het: hy eerste, dan Oom Knoetze (natuurlik) en dan die ander soos hulle wou. As almal weg was het ek hom gehelp ligte afsit en die kerk toesluit. Ek was by elke diens (oggend en aand) in ons kerk en dikwels saam met hom na kleiner byeenkomste wat hy sou hou, bv. in die Paarl, Strand, ens. of saam met hom na huisbesoek of hospitaalbesoek, waar ek in die kar sou wag tot hy klaar is. Die rol wat pa in my vorming en lewe gespeel het kan nie oorskat word nie. Hy was en bly my mentor en held. Herlewing breek uit Kort na 1970, toe ek so 10 was, het daar ‘n herlewing in ons kerk, die Christelike Gereformeerde Kerk, in Parow uitgebreek. Dit het begin deurdat ‘n vrou vir pa gevra het om vir haar rug te bid. Hy het in die konsistorie vir haar op ‘n stoel laat sit en haar bene reguit voor haar laat hou, soos in nog tientalle en tientalle gevalle vorentoe sou gebeur. Hy het


gesien haar skoene eindig nie gelyk teen mekaar nie. Op sy gebed het dit opsigtelik reggeskuif. Sy het verklaar dat haar pyn weg en haar rug gesond was. Dit was die begin van baie soortgelyke gebeurtenisse. Na die diens sou pa vir siekes bid. Die hele gemeente het ook sommer agtergebly om te kyk wat gebeur. My pa sou ‘n stoel voor die banke neersit en mense uitnooi om te kom vir gebed. ‘n Sieke sou kom sit en verduidelik wat die probleem is – ‘n groepie omstanders altyd rondom die stoel. Dan sou my pa sy hande op die sieke lê en ‘n eenvoudige gebed bid. Dit was die “maklikste” om vir rugprobleme te bid en hy sou eerste vra of daar diegene was met rugbrobleme. Sonder uitsondering het die been “aangegroei” (vandag sou ons sê die skelet het reggeskuif), dikwels nog voordat pa sou bid. Hy sou bloot die skoene teen mekaar hou en as dit uit lyn is (dikwels was dit natuurlik heeltemal reg) sou hy of bid – almal met oop oë – of die bene sou dadelik begin self regskuif. Jy sou sien hoe die korter skoen vorentoe skuif (sê maar ‘n halwe of hele sentimeter, maar ook korter of langer) teen dalk so ‘n millimeter per sekonde. Daar was geen manipulasie of trekkery nie (hulle bene het net liggies op sy hand gerus) en die sieke was ewe verbaas oor die feit dat hulle bene so is en nog meer dat dit beweeg. Sommige sou huil. Dit was die standaard manier om met die voorbidding te begin. (Ons is heeltemal bewus van wat mense oor sulke praktyke sê, maar later daaroor meer.) Op grond van sulke gebeurtenisse het mense dan gesê dat hulle rugpyn weg is, en menige het hul opgeboude skoene, krukke of korsette aan my pa geskenk – nutteloos. Na sy gebed sou hy vra dat hulle buig, hulle voete raak of iets doen wat hulle nie kon nie. Almal sou dan kon sien dat hulle gesond is. Sommige was baie emosioneel as Pa, by van die korsette en opgeboude skoene wat hy hulle besef dat hulle geen pyn meer gekry het – kyk hoe hoog! het nie, ens. Daarna sou my pa vir ander siektes bid en vir hulle ook vra of hulle nou beter kan hoor, of die pyn nog daar is, ens. As die laaste een weg was, het ons huis toe gery. Elke keer was daar verbasende genesings, waaroor ons sou praat op pad terug. Natuurlik is nie almal genees nie, maar later aaroor meer. ‘n Dekade van wonders Die woord het versprei en die kerk het spoedig oorgeloop van besoekers, veral saans. In ons kerk was daar dikwels nie plek om te sit vir ons kinders nie – ons het op die mat gesit voor die banke, op die trap van die galery, tot op die trappe van die preekstoel. Tydens elke diens in hierdie tyd was daar getuienisse. Mense sou voor die preek na vore kom en vertel van


hulle bekering of hulle genesing. Later het ons so gewoond geraak aan wat gebeur het dat dit vir ons nie meer snaaks was nie en het ons op die gallery gaan “wegkruip” of gebank deur buite in die karre te gaan sit tydens die diens – soms is ons kom haal deur ‘n kwaai ouderling! Vir ons was dit normaal dat die kerk oorloop van mense en dat daar elke week opgewonde en emosionele verhale gedeel word van wat God vir hulle gedoen het. Baie mense het dan ook tot bekering gekom en by die kerk aangesluit. Ek sou sê die hele sewentigjare was die tyd dat hierdie dinge akuut beleef is. ‘n Nuwe gebou is gebou en die gemeente het ook afgestig. In die week by die huis het presies dieselfde gebeur. Elke dag sou mense my pa besoek vir gebed. Hy sou dan vir hulle siektes bid en dit was so algemeen dat mense in sy studeerkamer, of ons sitkamer (waar hulle ook al was), sou uitroep van blydskap of verrassing. Af en toe sou daar ‘n bose “manifestasie” wees – sommige mense wat ‘n okkulte belasting gehad het (m.a.w. deur die Bose gebind was omdat hulle te doen gehad het met toordery, seances, wiggelary of ander okkulte praktyke) het onder die gebed skielik uitgeroep, geskreeu, gebrul of iets soortgelyks. Dit was by tye baie ontstellend en ek onthou geleenthede waar ek uit die huis gehardloop het. My ouers het besluit om sulke gevalle nie by die huis te sien nie – maar mens kon sulke dinge natuurlik nie altyd voorspel nie. By die kerk het ons wel af en toe sulke bevrydings meegemaak en het by meer as een geleentheid gehoor hoe mense met ‘n onnatuurlike en vreemde stem bekend maak watter bose gees in hulle is – die name wat ek eerder nie sal herhaal nie. Sulke dinge het soms gepaard gegaan met ander manifestasies soos rukkings, spasmas, benoudheid, gehoes, ens. Dan het my pa ook vertel van werklik vreemde gebeurtenisse wat hy meegemaak het. Hy het egter nie doelbewus in hierdie rigting ingegaan nie en eerder net vir “gewone” siekes gebid. Pa het in hierdie tyd die land oor gereis om in gemeentes reekse dienste te hou en vir siekes te bid – verskeie kere per jaar en het ‘n mate van bekendheid verwerf. As ek dus feitlik daagliks mense sien en hoor gesond word het oor ‘n periode van tien jaar, oordryf ek nie as ek sê dat ek honderde gevalle van egte genesings meegemaak het in my jeug nie. Vir ons was dit algemeen. Natuurlik het ons elke dag daaroor gepraat. Soms het besondere genesings plaasgevind – kankers wat weg is, mense wat uit ‘n koma wakker word (elders in die wêreld) die oomblik as vir hulle gebid word, heelwat mense wat kinders gekry het wat nooit kon swanger word nie. Mense het soms kom sit vir gebed namens iemand anders wat ver van ons gewoon het, en ook dit het “gewerk”. Pa se benadering tot genesing Pa was geen tipiese “geloofsgeneser” nie, en het trouens nie in “geloofsgenesing” geglo nie. Hy wou nie as ‘n geloofsgeneser bekend staan nie (maar hulle het hom so genoem) en het eerder gesê wat hy doen is “goddelike genesing”. Hy was ‘n dominee en net in ‘n beperkte sin ‘n charismatic. Hy was wel ‘n voorloper in die sg. “vernuwingsbeweging” van die 70’erjare en onder sy leiding het die gemeente van die tradisionele (gereformeerde) liturgie wegbeweeg en is praise& worship-liedere begin sing, handeklap het stadig ingekom en mense het hul haande in die lug opgehef as hulle sing. Die gawes is verwelkom en gepreek. In die praktyk was ons egter ver van ‘n voluit-pinkster of charismatiese kerk (waarvan daar daardie tyd min was) en het baie mense eenvoudig nie meegedoen aan die nuwighede nie, is spreek in tale feitlik nooit gehoor nie en profesie net af en toe by besoekende sprekers. Die kleindoop is behou (pa is self nooit groot gedoop nie) en aanvanklik het hulle nog mense afgesny wat groot gedoop is. Later het hulle dit meer geïgnoreer, maar baie het wel die kerk daaroor verlaat. In alles het pa ‘n soliede gereformeerde basis behou, alhoewel ons meer “evangelies-gereformeerd” was as die ander stoerer vorme van Calvinisme. Die


uitverkiesing, belydenisskrifte, ens. was vir hom gegewes en ons het steeds ook die Psalms en Gesange gesing. Wat die NG Kerk vandag is in meeste gemeentes, is presies wat die CG Kerk toe was – daardie tyd was die NG Kerk natuurlik nog ‘n uiters tradisionele “volkskerk ”en is ons kerk beskou as ‘n sekte. Ironie… In elk geval, pa was ‘n geleerde man – vir sy doktoraal

Pa in Holland, vroeg 1961

gestudeer aan die Vrije Universiteit van Amsterdam en alhoewel hy sy doktorale eksamens geslaag het, het hy nooit sy tesis voltooi nie. Hy het ‘n ere-doktersgraad later ontvang by ‘n plaaslike instansie. Later het hy besef dat dit ‘n ongeakkrediteerde graad is, maar steeds die titel gebruik wat al aan hom toegedig is, omdat sy eintlike titel doctorandus (afgekort Drs) nie in Suid-Afrika bekend was nie. Pa was alles behalwe emosioneel aangelê. Hy was gemaklik met homself, maar ek het hom nooit sien huil nie en om hom te sien dans of spring was absoluut ondenkbaar. Hy het nooit hande geklap in die diens nie. Sy preke was meer intellektueel as emosioneel. Ek sê die bg. om aan te dui dat hy ‘n nugter benadering tot genesing gehad het. Hy het dikwels oor genesing gepreek, maar het nie ‘n “teologie” vir genesing ontwikkel nie. Ek dink die volgende som sy denke daaroor op – en dis vir iemand wat ‘n gerekende genesingsbediening gehad het, onthou: • Die bediening van genesing is ‘n gawe, volgens 1 Kor 12:9 – dit kom eenvoudig meer by sommige voor as by ander. Dis nie iets wat jy kan aanleer nie (en ons praat nie hier van Jak 5 se algemene opdrag om vir siekes te bid nie); • Geloof is wel nodig, maar geloof is nie iets wat ‘n mens moet opwek of voortbring nie. Geloof is eenvoudig teenwoordig of by die bidder, of by die sieke, of by die omstanders (of ook nie) – ja, dit bly maar ‘n geheim; • Genesing werk nie volgens ‘n formule nie. Daar is nie ‘n “metode” wat altyd werk nie. Ook geloof is nie ‘n formule nie. As iemand nie gesond geword het nie, kan jy nie sê dat dit a.g.v. sy gebrek aan geloof is nie. Die ervaring wys dat die mees toegewyde jarelange Christen dalk geen genesing ontvang nie en dan kom ‘n rou “sondaar” van die straat in en word summier gesond; • Genesing kan nie deur ‘n mens gemanipuleer of gemaak word nie. As jy gesond is, sal jy dit weet. In daardie tyd was dit onbekend dat jy moes “bely dat jy al gesond is” (as bewys van jou geloof – “dis net die simptome”) terwyl jy eintlik nog siek is. Siek wees en gesond wees is duidelik vir elkeen om te sien, ook vir jou dokter. As jy steeds siek is, het jy duidelik nie genesing ontvang nie. Menige dokter het verklaar dat hulle nie weet wat gebeur het nie, maar dat die pasiënt gesond is. Dis nie ‘n saak vir die verbeelding nie;


Ja, baie het nie gesond geword nie. Dan is daar doodgewoon gesê hulle moet maar weer terugkom, ons sal volgende keer weer bid. Daar was ‘n geheim rondom dit wat nie verklaar kon word nie.

Die groot ironie in die hele verhaal – wat by hierdie laaste punt aansluit – was natuurlik dat ma al die jare baie, baie siek was. Dokters kon nie eintlik vasstel wat sy makeer het nie (ons sou vandag sê sy het fibromialgie gehad, o.a.), maar sy kon beswaarlik eet, het sleg geslaap (kon nie plat lê nie) en het geweldige en konstante hoofpyn, nekpyn en rugpyn gehad, wat baie aftakelend was en ‘n groot bron van spanning vir pa en vir ons. In die verband het ons die grootste ellende beleef, die meeste waarvan ek net wil vergeet. Pa het gereeld vir haar gebid soos hy met ander gemaak het, maar geen sukses. So het ook elke geneser van faam wat Suid-Arika besoek het vir haar gebid, sonder sukses – tot Kathryn Kullman (dink ek, in Jerusalem). Sy het eenvoudig siek gebly en erger geword. Ons het soms gedink sy is die “prys” wat pa moes betaal vir sy bediening. Dis asof pa self soms gewonder het oor sy bediening - ek onthou eenkeer het hy vir my gesê as dit wat hy gedoen het dan suggestie is, is hy bly dat hy siek mense kon help. Hy het egter nie geglo dat hy maar suggestie toepas nie – dit was vir hom ‘n veel ernstiger saak. Van hipnose het hy nogal iets geweet, want hy het 3 jaar (of het hy gesê 4 jaar – dit was iets om te nóém) Sielkunde gehad en in hulle tyd was hipnose groter as vandag. Waar of vals? Ja, honderde en honderde mense het gesond geword en gesond gebly. Ons weet van die kritiek wat mense (wat gewoonlik niks van die saak weet nie) oor die genesingsbediening uitspreek en dit is gewoonlik dat suggestie ‘n psigologiese of hoogstens tydelike verbetering meebring – dat “geloof” jou enige-iets kan laat glo en dat dit geen ware genesings is nie. Geloof laat jou die saak anders beleef, ens. Dat daar baie charlatans en fraudsters is wat liggelowige mense om die bos lei. Dat gewetenlose bedienaars gelowiges die skuld gee as hulle siek is, terwyl hulle self daaruit ryk word. Ja, ek glo dat hierdie dinge bestaan. Ek is self baie skepties oor geloofsgenesers, televangelists (eintlik hele TV kanale) en verwerp amper alles van die sg. voorspoed-teologie. Dit is net nie in die gees van Jesus van Nasaret nie. Maar om die baba met die badwater uit te gooi is bloot onwys. Ek is jammer vir mense wat geen ruimte maak vir dit wat hulle nie self kan verstaan of beleef het nie, wat darem uiters vermetel is. Dit is ook nie noodwendig wetenskaplik om sulke uitsprake te maak nie, want die wetenskap krap maar nog aan die oppervlak van verskynsels. Goeie wetenskap weet ook wat dit nie weet nie. Wetenskaplikes moet ook gaan kyk na die realiteit van die tipe genesings in kulture reg oor die wêreld. Die Bybel praat ook duidelik van gawes van genesing en die voorbeelde in Jesus en die apostels se lewe is legio, so ook die kerkgeskiedenis. Dan is daar hierdie ervarings wat ons beskryf het. Ja, sommige mense het wel net tydelike genesing ontvang en daar is weer gebid. Baie het geen verbetering beleef nie. Maar baie, baie, baie het permanent genesing ontvang in Jesus Naam. Daar kom steeds mense na my toe en sê bv. “jou pa het vir my ma gebid jare gelede en sy is volkome genees”. Ja, pa het ‘n hele versameling krukke en goed gehad wat mense vir hom gegee het – eers later het hy begin om dit te hou.


Slot In die 80’s het pa se bediening bietjie afgeneem. Hy het steeds feitlik daagliks vir mense gebid en oral rondgepreek, maar dis asof ‘n golf deurgespoel het, asof die hoogbloei van die herlewing in die verlede was en nie die hede nie. Mense (dis nou die kinders van die Here, nie waar nie) het begin stry oor die doop en tale en die kerk verlaat om by Pinksterkerke of die Baptiste aan te sluit. Ma was steeds baie siek. Pa het ook baie ander kerkwerk gehad, hy was ook moderator by tye, ‘n dosent aan die Kweekskool en het deelgeneem aan interkerklike bedrywighede in die Kaap. Hy het trouens die meeste kerklike leiers – veral die in vernuwingskringe – geken. Dalk het ek net wegbeweeg van pa-hulle, want ek het in 1980 begin studeer, vanaf 1981 in ‘n ander provinsie.

Pa self het op 53 of so breinkanker gekry en is twee jaar later oorlede in 1985 – heeltemal te vroeg. Ek het gewonder of die jarelange stres oor ma se siekte en die onverstaanbaarheid daarvan ‘n rol gespeel het. Die koerant het ‘n berig geplaas oor hierdie “geloofsgeneser” wat oorlede. Hy het gesterf toe die kerk nog in onmin met die NG Kerk was, die CG Kerk het immers in 1944 uit die NG Kerk weggebreek en daar was baie gevoelens. Ek prys die Here dat ek deel was van die moderature van ons kerk en die NG Kerk wat in Feb 2004 by Zikomo, Strand ontmoet het en vrede gemaak het, en ook die versoeningsdiens (Goeie Vrydag 2004) wat in die NG Durban Moedergemeente (waar dr de Vos van die NG Kerk afgeskeur het, presies 60 jaar later) gehou is. Dit was vir my persoonlik ‘n groot stuk innerlike genesing. Ma is later oorlede (ironies genoeg), in 1990 in Pretoria. Wat was die gevolg van hierdie ervarings? • Ek is heeltemal oortuig dat goddelike genesing ‘n realiteit is – ek KEN dit;


• • • •

Ek weet ook dat mens die Here se werking in die verband nie sommer in maklike skemas kan saamvat of ‘n formule daarvan kan maak nie; Ek is ook oortuig dat baie wat vandag deurgaan as geloofsgenesing vals is en werd al die kritiek wat dit kry; Honderde mense se lewens is aangeraak deur hierdie gebeure en baie, baie het tot bekering gekom – die eintlike groot genesing natuurlik; Pa was nie net my mentor en inspirasie nie, maar my eie broers en susters wat in die bediening is en dan ook baie leraars, kollegas en lidmate in ons kerk en dan baie buite ons kerk. Ek hoop om nog onderhoude te voer met diegene wat hom geken het, voordat hulle ook heen is.

Ek sluit ‘n paar fotos in. Jimi le Roux 18 Oktober 2011

My ervaring met goddelike genesing  

'n Herinnering aan die bediening van my pa, James (JBS) le Roux in die 70'erjare in Kaapstad en die vele genesings wat daaruit gevloei het.