Page 1

1

Gereformeerde Kerk Rustenburg — enkele historiese gegewens deur A J (Dries) Coetsee — Inleiding: Die ontstaansgeskiedenis van die GKSA (Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika) is onlosmaaklik deel van die Gereformeerde Kerk Rustenburg. Toe ds Dirk Postma en 311 lidmate op Sondag 11 Februarie 1859 die GKSA onder die skaduwee van die seringboom in Kerkstraat gestig het, was die Gereformeerde Gemeente Rustenburg ook vir enkele maande die GKSA, totdat daar later daardie selfde jaar, aparte gemeentes in Reddersburg, Lydenburg, Waterberg en Pretoria tot stand gekom het. Die redes vir die stigting van die Gereformeerde Kerk, die aanloop daartoe en die werklike kerkstigting op 10–11 Februarie 1859, is in talle publikasies en gedenkskrifte geboekstaaf en word nie herhaal nie. Ek skryf hoofsaaklik oor ‘n paar belangrike momente in die geskiedenis van die gemeente, soos gedenkfeeste en ander kerklike gebeure wat met verloop van tyd vergete begin raak het. Kerklike eiendomme: Dit blyk uit Art. 19 in die notule van die heel eerste Kerkraadsvergadering, gehou op 11 Febuarie 1859, dat lidmate van die pasgestigte kerk gretig was om so gou moontlik op dreef te kom met gemeentelike aktiwiteite. Artikel 19, en ook die ander aanhalings uit die notules hierna, lees in vandag se Afrikaans soos volg: Word erwe heeltemal gratis aangebied vir die kerk en pastorie, deur die heer A. Smit twee, deur die heer H. Stroh en Collens een, deur die heer St. Kruger ‘n halwe en deur die heer W. Robinson, hoewel geen lidmaat van die gemeente nie, ook ‘n halwe en word besluit om die kerk op die laasgenoemde halwe erf te bou. Daarby bied die heer Robinson aan om die ysterwerk en glas sonder enige wins uit die Kaapkolonie te vervoer. ‘n Eie kerkgebou en pastorie is eerste prioriteit. In Art. 22 lees ons : Ter uitvoering van die bou van ‘n kerk en pastorie te Rustenburg word ‘n kommissie benoem, nl. die here St. Kruger, ouderling en H. Stoh, diaken. Tydens dieselfde vergadering word besluit: Art. 13: Om die erwe wat nie vir die kerk en pastorie nodig is nie tot voordeel van die Kerk te verkoop. Ds. Postma koop die twee erwe, gegee deur die heer A. Smit, albei saam vir driehonderd riksdaalders en die halwe erf deur die heer St. Kruger geskenk, vir honderd riksdaalders, op voorwaarde dat die vriende wat uit Holland saamgekom het tevrede is met die koop, anders is sy weledele daarvan ontslae. Art 14 :Sy Hoogedele Gestrenge Generaal Schoeman het belowe om agthonderd voet planke gratis vir die bou van die kerk te lewer. Eerste Pastorie Tydens die sesde Algemene Vergadering, gehou op 27 September 1861 oorhandig die Kerkraad die pastorie aan die leraar vir bewoning. Hy ontvang dit met


2 danksegging en ‘n gebed aan God en voeg daarby nog sy wens dat dit altyd deur ‘n waardige herder van die gemeente bewoon sal word. In sy skriftelike Herinneringe uit die Verlede, in 1959 deur die skrywer, G. Lampen (by ons beter bekend as oom Geert), wat hy aan die kerkraad gerig het, skryf hy die volgende oor hierdie pastorie: “Ek ag my gelukkig dat daar sekere herinneringsbeelde uit my prille jeug helder uitstaan. So onthou ek nog goed dat my oorlede vader, bouer en aannemer van beroep, sekere veranderinge en vergroting aan die kante van die ou pastorie se verenda aangebring het. Die ou pastorie het reg teenoor die kerkgebou gestaan op die erf waar tans (1959) die “Total Vulstasie “ is. [Vandag (2008) is dit waar “Shoe City” is.] Ek onthou nog goed dat hy uit hardekool (loodhout) pilare vir die verenda gedraai het en dié saam met tralies en stoephekkies opgerig het en die leiklippe met sement (destyds uit Engeland ingevoer) saamgevoeg het. Ek was toe omtrent vier jaar oud.” Eerste kerkgebou Op die vergadering van 4 Oktober 1862 is genotuleer dat die inwyding van die kerkgebou en die Algemene Vergadering vanweë landsomstandighede uitgestel is tot 25 Desember 1862. Die vraag ontstaan oor hoe die eerste kerkie gelyk het. Die antwoord is moontlik te vind in prof. Jan Lion Cachet se opmerking tydens sy feesrede in 1909, naamlik: Toe die Kerk vyftig jaar gelede herstig is, was ons ‘n klein en veragte hopie; nou het ons ‘n plek gekry in die land van ons inwoning. Ons tel vyf-en-twintig leraars; ons het ‘n skool vir opleiding; ons het na links en na regs uitgebrei. Toe die gemeente hier gestig word, was hulle eerste kerkgebou ‘n huisie van pale met strooi bedek; nou vergader ons in ‘n sierlike kerkgebou. (My kursivisering en weergawe in Afrikaans ) Volgens br. S.W. Vercueil was hierdie eerste kerk ‘n grasdakkerk en feitlik ‘n replika van die Nederduits Hervormde kerk wat in 1851 opgerig is. Uit gegewens uit dr. N. A. Coetzee se boek oor die geskiedenis van Rustenburg, blyk dat die sogenaamde palekerk van die Hervormde Kerk, wat in 1865 het as ‘n tussentydse kerk in gebruik geneem was, dus eintlik ‘n replika van ons eerste ou grasdakkerkie kon wees. Die Hervormde kerk se eerste kerkgebou van 1851 was ruim, maar het kleimure en ‘n grasdak gehad wat nie stand gehou het teen weer en wind nie. Dit het vroeg in 1865 ineengestort. Hulle nuwe kerkgebou, wat toe reeds in beplanning was, sou eers heelwat later voltooi word. Volgens br. Vercueil het groot armoede in die gemeente geheers en kon geen groot kerkklok gekoop word nie, net ‘n beesklok. Traktamente van die predikante was slegs klein geldelike bedrae, verder was dit kruideniersware, vars vleis, vrugte, groente, brood en mieliemeel. Tweede Kerkgebou Die tweede Gereformeerde kerk, ‘n sinkdak gebou, is op 2 Oktober 1887 in gebruik geneem. Die argitekte was die firma, De Lange en Dijksterhuis. Dit het


3 voorsiening gemaak vir 1000 sitplekke en ‘n konsistorie. Die gebou sou 130 voet x 53 voet wees en sou ‘n 6 voet wye middelgang hê terwyl die ander gang 4 voet wyd sou wees. Die Kerkraad het egter besluit dat die binnewerk van die kerk slegs 100 voet x 40 voet moet wees (Notule 27.12.1884). Die boumeester was Walter Seymore van Marico. Die kerkraad het al die boumateriaal en bou uitrusting, asook die arbeiders voorsien. Vir sy werk het die boumeester £ 1250 ontvang. In 1898 is besluit om nog ‘n vleuel aan te bou en die hele gebou van ‘n galery te voorsien. Hierdie werk was toevertrou aan wyle W.S. Lampen, wat ook ouderling van die gemeente was. Hieroor skryf br. G. Lampen aan die kerkraad: “Die bouberywighede in verband hiermee onthou ek baie beter. Die ou kerk was oorspronklik ‘n lang gebou. Die preekstoel het gestaan regs waar die nuwe vlerk sou kom. Dit was dieselfde preekstoel wat vandag (1959) nog gebruik word. Dit was alleen baie hoër en het net aan een kant links, trappies en ‘n deurtjie gehad. Agter hierdie preekstoel was die ou konsistorie, natuurlik veel kleiner as die teenswoordige. Die volgende is gedoen. Die dak van die preekstoel en galerye is van paneelwerk voorsien en die ouderlinge kateder wat vandag nog gebruik word en verskuiwing van die preekstoel, die aanbou van die vlerk, asook die oprig van die torinkies, voor en agter, maar wat na die Boere-Engelse oorlog weer verwyder is. Die kerkklok , voorheen in ‘n stellasie op die grond, was in die agterste torinkie sover ek onthou. In 1903 is die kerkklok weer op die grond opgerig. Verder kan ek my ook nog goed voorstel hoedat die mense uit die distrik met hulle ossewaens kerk toe gekom het. Dit was gewoonlik ‘n gewoel wat ‘n diep indruk op my gemaak het. Daar was die langtent- en die korttentwaens. Die plein het soos ‘n klein dorpie gelyk met al die tente en waens, almal in netjiese rye opgeslaan en opgetrek. Die jongspan het bedags en saans heerlik gespeel. Die jongmense het dit ook baie geniet, want gesellig was dit alteseker. Verder onthou ek nog goed hoedat ds. De Ridder die kansel bestyg het en ná hom ds. D. Postma. Die gesang van die gemeente was indrukwekkend, veral as jy op ‘n afstand daarna staan en luister het. Die lui van die klok was die werk van die koster. Soms het hy toegestem dat een van ons seuns die klok mog lui. Die kuns was dit: as jy die klok lui dan moet dit gaan: tongelong, tongelong. As jy dit kon doen was jy ‘n perfekte klokluier. Ek kon dit nooit verder bring as tong, tong nie. Wat ek verder ook nog goed onthou was die voorsang van oom Frans Smit. Hy het ‘n pragtige, suiwer, sterk stem gehad wat jy baie duidelik kon onderskei van die hele gemeente.” Dié kerkgebou is in 1961 te midde van omstredenheid gesloop, hoofsaaklik omdat die mure en houtwerk volgens sommige adviseurs so erg deur rysmiere beskadig was dat die gebou nie ekonomies permanent suksesvol herstel sou kon word nie.


4

Die derde kerkgebou Ds. P.J Venter het die hoeksteen van die derde Gereformeerde kerkgebou op 11 Februarie 1959 tydens die eeufeesjaar gelê en gesê dat dit die eeufeeskerk sou wees. Ek was teenwoordig toe die hoeksteen gelê was. ‘n Aantal dokumente was in die nis agter die hoeksteen geplaas om vir die nageslag bewaar te word. Ongelukkig weet ek nie meer watter dokumente dit was nie. Op Sondag 23 Julie 1960 het die gemeente vir die laaste keer in die ou sinkdak kerkgebou byeengekom, waarna ds. Venter en mev. Venter met ouderlinge, diakens en lidmate die ou historiese gebou stadig verlaat en na die nuwe teëldakkerkgebou gestap het, waar prof. G. C. P. van der Vyver ‘n dank- en erediens in ‘n stampvol kerkgebou gehou het. Tydens die erediens is kinders van die gemeente deur ds. P.J.Venter gedoop, onder andere ook my derde oudste seun. Ná die diens het die argitek, mnr. Jan Koelewyn kortliks gepraat en verwys na die opdrag wat hy ontvang het, naamlik:  dat dit ‘n feeskerk moes wees;  dat dit iets van die kruisvorm moes reflekteer, en  dat die orrel agter in die kerk geplaas moes wees. Ouderling Douw Potgieter het prof. Van der Vyver vir sy oorkoms en sy preek bedank. Die name en foto’s van predikante wat vanaf 1859 – 2007 in die bediening gestaan het, is in die huidige kerkgebou te sien. Terwille van die geskiedenis kan genoem word dat die volgende gemeentes van Rustenburg afgestig het: Krokodildrif in 1911; Koster in 1914; Rustenburg-Noord in 1949 en Rustenburg-Wes in 1973. Nasionale gedenkfeeste Vorige nasionale historiese feeste om die stigting van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) te gedenk, was almal op Rustenburg gevier. Die volgende feeste was gehou:  Die 50-jarige bestaan (1909),  die 75-jarige bestaan, bekend as die Diamant-Jubileumfees (1934) en  die 100-jarige bestaan, bekend as die Eeufees (1959). Vir die eerste keer in die geskiedenis sal die 150-jarige bestaan, wat in 2009 nasionaal deur die GKSA gedenk gaan word egterr op Potchefstroom gevier word. Besonderhede oor die vorige feeste volg hierna. Die 50-jarige fees te Rustenburg: 10 en 11 Februarie 1909 Lidmate en belangstellendes kan ‘n volledige verslag oor die die feesgebeure in Het Kerkblad van 1 Maart 1909 lees. Ek gee ’n opsomming van die gerapporteerde gebeure. Die fees was deur twee besondere gebeurtenisse gekenmerk, naamlik:  oorvloedige stortreëns wat die fees voorafgegaan het en meegebring het dat die spoorlyn tussen Pretoria en Rustenburg verspoel het;  die oorhandiging van die Orde van Oranje-Nasseau aan prof . J. Lion Cachet deur Konsul generaal Knobel, namens Koningin Wilhelmina van Nederland. Inleiding


5 Reeds in die inleiding van die berig in Het Kerkblad, vry uit Hollands vertaal, lees ons: “ Ondanks die swaar reëns het daar tog baie afgevaardigdes en belangstellendes opgedaag, selfs uit die Kaapkolonie en Vrystaat, om met die gemeente van Rustenburg op die gedenkwaardige dae van 10 en 11 Februarie feestelik saam te wees. Ook die meeste van ons predikante was daar. Die gemeente het goedgunstig gesorg vir die heen en weer vervoer vanaf Derby-stasie, waarvoor opregte dank aan hulle toekom van almal wat langs die roete gekom het, veral omdat die vervoer met baie moeite oor nat paaie geskied het. Inderdaad sal wat ons daar gesien en gehoor het lank in geseënde herinnering gehou word. Reeds by ons aankoms het vae gerugte die rondte gedoen van ‘n spesiale opdrag wat Sy Hoogedele die Konsul generaal , heer F.M. Knobel van Haar Majesteit Koningin Wilhelmina ontvang het. Omstreeks 4.30nm kom sy Hoogedele dan ook in geselskap van die Weledele heer F.C. Eloff daar aan, wat des te meer waardeer word omdat hy, weens die verspoeling van die Rustenburg-Pretorialyn per spesiale voertuig van Krugersdorp af moes kom”. Agenda Die agenda vir die fees (deur my verafrikaans) was soos volg : AGENDA VIR Die Viering van die Vyftigjarige Bestaan van die Geref. Kerk in Suid-Afrika TE RUSTENBURG 10 EN 11 Februarie 1909 Woensdagaand 10 Februarie 7.30 — Feesrede ter gedagtenis van die 50jarige bestaan van die Geref. Kerk in Suid – Afrika, deur Prof. J. Lion Cachet Donderdagmôre 11Februarie 9.30 — Samekoms onder die ou Seringboom (die plek waar die Kerk 50 jaar gelede gestig was). Toesprake deur Di. L.J. du Plessis, W.J. Snyman en P. Postma. Donderdag nm. 11 Febr. 3.30 — Kinderfees — Toesprake deur enkele ouer broeders ter herinnering aan die verlede en deur enkele jonger broeders wat op die toekoms van die Kerk wys. Donderdagaand 11 Februarie 7.30 — Dankdiens Rustenburg, Posbus 54 25 November 1908 (Daar was ‘n Gedenkboek vir die feesgeleentheid gepubliseer. Verskeie van bovermelde sprekers het verwys na artikels wat hulle vir die gedenkboek geskryf het wat meestal oor kerkgeskiedenis en historiese gegewens gehandel het. Ek het nie insae in die boek gehad nie)


6

Feesviering Op Woensdag namiddag 10 Februarie het die feesviering van die 50-jarige bestaan van die Geref. Gemeente te Rustenburg , en die jubileum van die Geref. Kerk in Suid-Afrika, begin. Onder begunstiging van ‘skoon’ weer het ‘n groot skare na die historiese Seringboom gegaan. Die volgende gaste was op die verhoog aan die voet van die boom : ds Louis Vorster, plaaslike predikant, Sy Edele Konsul-generaal Knobel, Sy Hooggeleerde prof. Jan Lion Cachet, die oudste predikante ds W. Snyman en ds. L.J. du Plessis en andere. Om 5.00nm het ds. Vorster Ps 68:14 laat sing, ‘n gebed gedoen en Ps 99 gelees, waarna hy die gaste en teenwoordiges verwelkom het. Hy het prof Cachet as oudste predikant verwelkom en gesê dat dit ‘n groot vreugde is dat hy vir hulle gespaar is. In sy verwelkoming aan die Konsul-generaal het hy melding gemaak van die spesiale bande tussen die Afrikaanse en Nederlandse volke en “ die onvergeetlike weldaad wat Haar Majesteit Koningin Wilhelmina bewys het deurdat sy die grootste staatsman van Suid-Afrika van hierdie strande in tye van groot benoudheid op een van haar oorlogskepe laat oorbring het in veilige hawe”. Hy het die Koningin en haar volk die seën van die Here toegebid, Ps 105:1 laat sing en toe die Konsul-generaal aan die woord gestel. Huldiging Die Konsul-generaal het die akademiese en literêre prestasies van prof. Cachet aangeprys en ook verwys na die” besondere toegenëendheid hier te lande waarvan ds. Vorster so hartlik melding gemaak het, en onder andere gesê: “My opdrag van Haar Majesteit, my hoë Opdraggewer, voer ek nou uit, wanneer ek die offisierskruis in die Orde van Oranje-Nasseau, volgens Koninklike Besluit van 2 Jan. 1909, no. 53, aan u uitreik. Vergun my om dit aan u bors te speld en die versekering uit te spreek dat niemand meer waardig is om dit te dra as u nie.” Prof. Cachet het op gepaste wyse geantwoord, Haar Majesteit bedank vir die eer en haar en haar volk die seën van die Here toegewens en toe, na vele ander opmerkings, gesê: “Ons moet met blydskap dink aan die hulp wat die Nederlandse kerk ons geskenk het. Oues van dae! Het ons ooit kon dink dat ons kerk onder hierdie boom uit ‘n verre land geëer sou word? God het dit gedoen. Hom kom die eer toe!” Prof. Cachet se Feesrede Om 7.30 Woensdag aand was die skare in die groot kerkgebou byeen om na die feesrede te luister. Prof. Cachet was die feesredenaar. Sy feesrede van 1909 het ‘n besondere indruk op my pa gemaak wat destyds die 50-jarige fees op Rustenburg bygewoon het. (Hy was in 1959 — vyftig jaar later, ook op die Eeufees te Rustenburg, saam met my en van sy ander kinders.) My pa het meer as eenkeer met ons oor dié toespraak gepraat. Nadat ek ‘n weergawe van die feesrede in Het Kerkblad gelees het, kon ek verstaan waarom hy so beïndruk was. Daardie toespraak is vandag nog net so geldig as in 1909. Moontlik kan Die Kerkblad oorweeg om dit weer te plaas — hierdie keer in Afrikaans. Dit is nie moontlik om ‘n weergawe van prof. Cachet se toespraak te gee sonder om die ryke inhoud daarvan te verskraal nie. Hy het 1 Timotheus 3:15 as teks geneem, naamlik:


7 Maar as ek vertoef, dan kan jy weet hoe iemand hom moet gedra in die huis van God, wat die gemeente is van die lewende God, ‘n pilaar en grondslag van die waarheid. (1953 vertaling) Sy rede het oor waarheid gehandel:  waarheid in die leer en lewe van die Kerk;  waarheid in ons huise;  waarheid in die skool  waarheid in ons persoonlike lewe. En dan sy vraag: “Sal die Gereformeerde kerk na vyftig jaar nog in die land bestaan? Die tyd het verander. In plaas van burgers van klein onafhanklike state is ons nou almal burgers van ‘n groot wêreldryk. Daarop antwoord hy dat die toekoms in God se hande is, maar dat die toekoms nie sonder besorgdheid tegemoet gegaan word nie. As ons egter ons bootjie aan die Here toevertrou dan sal hy ons klein skippie bewaar tot die einde toe, maar dan moet ons ons ook geheel en al oorgee om Hom met ‘n opregte hart te dien. Sy afskeidswoorde was: “Stry vir die waarheid! Beleef die waarheid! O volk, ons land, ons kerke het manne nodig wat die waarheid liefhet en die durf het om voor God vir die waarheid uit te kom. Mag God gee dat daar meer en meer sulke manne gevind mag word, dan sal ons land bloei en waarlik groot word!” Ná afloop van ds. L.J. du Plessis se toespraak het dit weer begin reën en moes die feesgangers na die kerkgebou verskuif, waar die res van die verrigtinge afgehandel is. Die program het verder volgens agenda verloop en die kinders is ná die kinderfees by die pastorie deur die plaaslike predikant op allerlei lekkernye getrakteer. Diamant-Jubileum Fees Van hierdie fees is daar min bekend. By die Administratiewe Buro was hulle nie seker of daar wél ‘n fees gehou was nie en, indien wel, wáár dit gehou was nie. Gelukkig beskik ek oor ‘n program vir die fees wat vanaf 9 – 11 Februarie 1934 op Rustenburg gehou was, en kon ek ‘n afskrif daarvan aan hulle stuur. Die program is op ‘n dubbelgevoude ligblou A-5 bladsy gedruk. Op die 2e bladsy is ‘n mooi foto van prof. D. Postma, stigter van die Gereformeerde Kerk en op die agterbladsy (bladsy 4) ‘n foto van die Seringboom — reusagtig groot, veral in vergelyking met die man op die voorgrond van die foto staan. Die program vir die 1934- fees het soos volg uitgesien : Bladsy 1

Bladsy 2

DIAMANT-JUBILEUM FEESVIERING te RUSTENBURG 9 — 11 FEBRUARIE 1934 TER GEDAGTENIS AAN DIE 75-JARIGE BESTAAN VAN DIE GEREFORMEERDE KERK in SUID-AFRIKA GESTIG OP 10 FEBRUARIE 1859, ALHIER, ONDER DIE BEKENDE SERINGBOOM. PROGRAM


8

Bladsy 3

Bladsy 4

VRYDAGMIDDAG, 3 UUR Samekoms by die Seringboom Opening deur ds. D. N. Kotze en kort toesprake deur Prof. J. A. du Plessis, Prof. Dr. F. Postma en Ds. J. A. van Rooy. VRYDAGAAND, 7.30. Voorbereidingsdiens deur ds. I. J. van der Walt, B.A, B.D. (Kollekte vir die Jubileum-Fonds) SATERDAGMORE, 9 UUR Feesrede deur Prof. J. A. du Plessis. SATERMIDDAG, 2.30 vir die kinders en jongmense. Toesprake deur Prof. J. C. van Rooy, M.A en Ds. B. J. de Klerk. Mededeling van enige herinneringe uit die eerste tyd van die bestaan van die Kerk deur Br. H. A. Roets en Ds. J.A. van Rooy. Toespraak deur Prof. L. J. du Plessi, M.A. SATERDAGAAND, 7 UUR. Toespraak deur Prof. Dr. F. Postma. Mededeling van enige herinneringe uit die eerste tyd van die bestaan van die Kerk deur Br. F. A. Smit. Toespraak deur Ds. W. F. Venter, B.A., B.D. Enige mededelinge uit die Geskiedenis van die Gereformeerde kerk in Suid-Afrika deur Prof. J. A. du Plessis SONDAGMORE, 10 UUR. Nagmaalsdiens deur Ds. A. Duvenage, M.A. SONDAGMIDDAG, 3 UUR Nabetragtingsdiens deur Ds. P. G. W. Snyman, M.A., B.D. SONDAGAAND, 8 UUR. Dankstond: Prof. J. A. du Plessis en ander. (Kollekte vir die Jubileum-Fonds)

Volgens br. Vercueil was die Sinode ook in sitting te Rustenburg rondom die fees in Februarie 1934, maar hy sê nie of dit vóór of ná afloop van die fees was nie. Volgens hom is ‘n mooi foto van al die afgevaardigdes geneem by die ou historiese seringboom waar die kerk op 11 Februarie 1859 gestig is. Die seringboom Br. Vercueil wat oor die jare groot belangstelling in die plaaslike geskiedenis getoon het, het die volgende interessante inligting meegedeel: Op 30 September 1934 het ‘n stormwind die ou seringboom omgewaai. Die stam is egter mooi bewaar deur oom Willie van Velden, die destydse eienaar van die boom en erf. Hy het die stam met sement bedek en ‘n mooi gedenkplaat met paslike bewoording daarop aangebring. Oom Willie Andersen senior lidmaat van die gemeente was ook ‘n medewerker. In Februarie 1947 het die S.A. Historiese Monumente kommissie hierdie boomstam tot historiese monument verklaar en is


9 daar ‘n 2de gedenkplaat ook met paslike bewoording daarop aangebring. In Maart 1959 tydens die eeufees van die Gereformeerde Kerk in S.A., het groot getalle feesgangers uit alle dele van S.A. sowel as oorsese lande by hierdie boomstam besoek afgelê. Onder hierdie groot getalle besoekers was ook dr. Hendrik Verwoerd en sy vrou Betsie Verwoerd , destydse eerste ministerspaar van die Unie van S.A. Dr. Verwoerd was ‘n spreker by die fees verrigtinge. Dit is dan ook die enigste kerk ter wêreld wat gestig is in die skaduwee van ‘n mak seringboom. Die stigtingsvergadering in 1859 was by hierdie boom gehou omdat die kerkraad van die Nederduits Hervormde kerk geweier het om hulle kerkgebou vir die 311 “Dopper Rebelle lidmate” beskikbaar te stel, ofskoon ds. Van der Hoff van te vore goedkeuring tot die gebruik van die kerkgebou verleen het. Dit is ‘n kenmerk van ons Gereformeerdes dat ons graag ons dankbaarheid met dankoffers betuig. Ek kon nie vasstel of daar ‘n fonds vir die 50-jarige fees was nie. Die Jubileumfonds kon moontlik toe al ontstaan het want daar was ook na daardie fees as ‘n jubileumfees verwys. Wat wel seker is, is dat daar tydens die 75jarige herdenking (Diamant-Jubileum) ‘n kollekte vir die Jubileum-Fonds gehou was. Die doel van die Jubileum-Fonds was vermoedelik om ‘n beursfonds aan voornemende teologiese studente te voorsien. Die Eeufees Dié fees was in die Tabakwaardasiesaal van die M.K.T.V. op Rustenburg gedurende die Paasnaweek van Vrydag 27 Maart 1959 tot Maandag 30 Maart 1959 gehou. Duisende feesgangers het verblyf gevind in die tentdorpie op die Skouterrein. Ander het by familie en vriende tuisgegaan. Ek kan nie ‘n beter samevatting van die fees gee as dié een in die Woord vooraf in die boek Eeufees te Rustenburg nie wat ná die fees in 1959 deur die Eeufeesdeputaatskap van die Algemene Sinode van die Gereformeerde Kerk uitgegee is: Nog nooit was daar in ons land soveel Gereformeerdes byeen vergader nie. Die verkeersbeamptes wat alle moontlike hulp verleen en kontrole uitgeoefen het, het die versekering gegee dat volgens hul konserwatiewe berekening daar op Saterdag 28 Maart 1959 nie minder as 25 duisend op die feesterrein byeen was nie, en Sondag 29 Maart 1959 nie minder as 30 duisend nie. Hierdie wonderlike belangstelling en meelewing het ons allerstoutste verwagtinge vér oortref. Wie kon hom dit ooit voorstel dat meer as ‘n derde van die totale aantal lidmate — doop en belydend — met soveel bruisende geesdrif in so ‘n oorweldigende getal van heinde en vér, uit alle dele van Suidelike Afrika, eenvoudig sou saamstroom? En as ons daaraan dink hoe stigtelik en ordelik alles kon verloop, dat daar nie een ernstige ongeval by die fees self voorgekom het nie, en aan soveel ander dinge, dan kan ons maar net ootmoedig neerkniel voor die aangesig van onse God en Vader deur Jesus Christus onse Here. O Ons het ryke stof tot dankbaarheid.


10 Die feesprogram, preke en toesprake wat tydens die fees gelewer was is volledig in die publikasie hierbo vermeld opgeneem. Belangstellendes kan gerus weer daarin nalees wat hulle nie meer kan onthou nie. Ek stem volmondig met die opstellers van die boek saam waar hulle sê: “Diegene wat verhinder was om die eeufeesviering by te woon, sal ‘n gedeelte van die skade inhaal deur hierdie boek te lees en te herlees. Solank ons wat daar teenwoordig kon wees gespaar mag bly, sal ons weet dat ons onvergeetlike oomblikke beleef het, oomblikke wat ons, toe ons uiteindelik moes besef dat dit onherroeplik verby was, as’t ware wou probeer vashou en teëhou. Nog altyd klink nie alleen die redevoeringe op in ons ore nie, maar ook die indrukwekkende koorsang en die Psalms wat die dertig duisend feesgangers aangehef het. Ons kon die akkoorde beluister van die kerk wat nog worstel om in te gaan en van die gesaligdes wat Johannes in die grootse visioene van die Openbaringboek gesien en hoor jubel het tot verheerliking van Hom wat op die troon sit en van die Lam. Selde het ons die eenheid van die kerk na sy geestelike, onsigbare sy sterker aangevoel met die kerk wat reeds in die hemel is.” Dit het my jare later opgeval dat ek min van dr. H. F. Verwoerd, destydse Eerste Minister, se toespraak op Saterdag 28 Maart 1959 kon onthou, moontlik omdat dit nie oor politieke sake gegaan het nie, maar meer algemeen was. Wat ek wel onthou is dat hy ter aanvang gesê het dat dit ‘n magtige skare is wat byeen is en dat dit ‘n mens soos ‘n bedevaart laat voel — ‘n bedevaart van ‘n Kerk na die plek van sy oorsprong. Hy het verder ook gesê dat ‘n Kerk wat ‘n honderd jaar kon voorbestaan en uiteidelik so magtig groot kon byeenkom, diep wortels in die volk se lewe moet geslaan het. Daarenteen onthou ek die woorde en die welluidende stem van wyle dr. P.W. Buys oor die luidspreker, wat ek tot vandag toe in die gees kan roep. Ek hoor hom nog met verwysing na Psalm 121 sê: “ Volgens ‘n bekende digter is slaap die tweelingbroer van die dood. Wanneer ‘n mens slaap, moet daar ‘n mag buite jouself wees waaraan jy jou in die bewustelose toestand kan vasanker en waardeur jy weer tot ontwaking geroep word. Dié mag is God. Om hierdie rede kan God nie slaap nie. Buite Hom is daar geen mag waaraan hy tydens die slaap Hom kan vasanker nie. As God vir die ondeelbare gedeelte van ‘n sekonde sou slaap, dan het Hy Homself vernietig. Dan is Hy nie meer God nie.” En sy wekroep aan die einde van die preek: “Waak en bid dat u nie in die versoeking kom nie! Waak! Want God slaap nie!” Ek onthou ook die tema van wyle prof. W. J Snyman se preek toe hy op Sondag 29 Maart 1959 die erediens gelei het, naamlik “….op hierdie rots sal Ek my gemeente bou” (Matteus 16:8 b). Hy het die twee kante van die teks belig, nl. die rots waarop die Kerk gebou is en die Kerk wat op die rots gebou is, en dit van toepassing gemaak op ons kerkseël — die Kerkie op die Rots — die poorte van die hel sal dit nie oorweldig nie omdat dit op die rots gebou is. Ook onthou ek prof. Fanus du Toit wat die feesrede gehou het. Sy toespraak het oor die kerkgeskiedenis, die strominge van die tyd en eenheid van die Kerk gehandel. Sy slotsom was dat daar alleen werklike eenheid onder die juk van Jesus Christus sal wees.


11 Ek glo nie daar is ‘n enkele feesganger wat ooit die slotpreek sal vergeet nie. Dit was gelewer deur ds. G. B. S. Pasch: “Gesien, Gedank, Moed gevat!”, met Handelinge 28:15b as teks: “…en toe Paulus hulle sien, het hy God gedank en moed gevat”. Hoe profeties was sy woorde nie toe hy gesê het: “Ons wat mekaar hier sien, sien mekaar nie weer nie, voordat ons mekaar in volmaaktheid sien by Christus — Saligmaker en Verlosser!” Hy is 10 maande en enkele dae later op 9 Februarie 1960, oorlede. Ook in sy slotwoorde vind sy naderende dood weerklank : “Vaar U wel! (my kursivering) Ons het gesien, ons het God gedank. VAT MOED!” Nog ‘n hoogtepunt van die fees was die oorhandiging van ‘n bedrag van ₤154,000 aan die Eeufeesbedieningsfonds. Die alombekende en energieke dr. Jan Schutte was in die jare voor die fees die hooforganiseerder van die fonds. Hy rapporteer op die fees: “Toe die sentrale eeufeesvierings te Rustenburg aan die nabye horisonte opdoem, het ook die geesfrif vir die Fonds fantasties gegroei, sodat binne 15 maande die kapitaal onverwags opgestoot is met ₤74,000! Dit was ‘n Godgewerkte wonder. Ons mense kan offer, of beter: deur die Gees van God besiel, kan ons tot klinkende offerdade beweeg word.” Tydens die fees is ‘n kantate ‘n Eeu het oor ons heengegaan deur die gesamentlike koor van Potchefstroom, Sasolburg en Vanderbijlpark uitgevoer. Die woorde was deur P.W. Buys, toonsetting en begeleiding deur H.P.A. Coetzee, dirigent, J.J. A. van der Walt en soliste: E. van der Walt. 125-jarige Fees Hierdie fees is plaaslik deur die gemeente herdenk. Geen nasionale fees was vir die geleentheid gereël nie. Ek was nie toe in Rustenburg woonagtig nie en die gegewens wat oor die viering verstrek word, is deur br. S.W. Vercueil voorsien. Hy skryf soos volg: In Februarie 1984 is die gemeente se 125 jarige bestaan feestelik herdenk. Tydens hierdie herdenking het die destydse predikant van die gemeente dr. Neels Smit ‘n mooi Rum olyfboompie in die kerk se gedenktuin geplant. Hierdie boompie is geskenk deur dr. Willie Marais destydse hoofdirekteur van die W.P Vrugte Navorsing Stigting vir Sagte vrugte in Stellenbosch. Die Israelse Minister van Landbou het die olyfboompie aan dr. Marais geskenk toe hy daar in Israel besoek afgelê het. Die olyfboompie is afkomstig uit die tuin van Getsemane, waar Christus gebid het die dag voordat hy gekruisig is. Die kerkraad het ‘n mooi rotsklip by die boompie laat aanbring wat ‘n replika is van die groot rotsklip in die tuin van Gestsémané waar Christus gebid het toe sy sweet soos bloeddruppels geword het wat op die grond val. (vgl. Luk 22:44). ‘n Mooi gedenkplaatjie met paslike bewoording is ook op hierdie rotsklip aangebring. 150-jarige Fees 2009. Die vorige herdenkingsfeeste was almal in die 20e eeu gehou, d.w.s die laaste eeu van die tweede millenium. Ons het intussen gevorder tot die 8e jaar in die derde millenium. Die 150-jarige fees lê om die draai ― enkele maande weg. Ons gemeente en buurgemeentes beplan om die fees, soos al die vorige gedenkfeeste, plaaslik in Februarie 2009 te vier. Trouens ons feeskomitee het besluit dat ons die


12 hele jaar sal feesvier. Die program daarvoor is gefinaliseer met toespitsing op 11 – 15 Februarie, d.w.s rondom die stigtingsdatum en sien soos volg daaruit: Woensdag11 Februarie: Vanaf 15.00 sal die verrigtinge op die kerkterrein begin met die besigting van uitstallings van kerkgeboue, fotos, dorslandtrek en onthulling van ‘n replika van die seringboom, ens. Om 18.00 sal die gemeentes van Rustenburg gesamentlik ‘n erediens in die kerkgebou bywoon. Daarna sal ‘n historiese verhaalbundel oor die Gereformeerde Kerk Rustenburg bekendgestel word, waarna die gemeentes sal deelneem aan ‘n Bybelse ete, gekoppel aan erediens. Saterdag 14 Februarie ‘n Musiekaand in die Ouditorium van die Burgersentrum, voorafgegaan deur ‘n kaas- en wynfunksie. Sondag 15 Februarie Erediens en nagmaal, gevolg deur ‘n gemeente-ete. Sondag 15 Maart 16.00: ‘n Psalmfees op die kerkterrein. Tee en verversings. Saterdag 6 Junie 10.0 Gemeente verkoping en ook verkoping van aandenkings. Vir die jeug: Vrydag 21 – Sondag 23 Augustus ‘n Naweekkamp op Potchefstroom vir die jeug van die klassis en op Sondag kerk saam met PUK studente. Saterdag 22 Augustus Verjaardagpartytjie op Rustenburg vir laerskoolkinders Donderdag 24 - Sondag 27 September Rustenburg Kloof: Dopperkamp en Dopperspele. Teetuin. Sondag 11 Oktober Kerkterrein: Musica Fantasia Saterdag 21 November Ouditorium Burgersentrum. Aand: Tablo/Toneel. Kaas en wynfunksie vooraf. Sondag 22 November Kerkterrein. AFSLUITING: Gesamentlike erediens/nagmaal Dankseggingsete – Rustenburg gemeentes Die Hooffees te Potchefstroom Die fees sal gehou word vanaf Donderdag 9 April tot Maandag 13 April 2009. Die program is pas gefinaliseer, maar nog nie gepubliseer nie. Volgens die voorlopige feesprogram sal daar benewens formele aspekte soos feesredes en eredienste, ook feeskonserte, Bybel Flinkdink, Kerk in Psalmnote, jeugprogramme, stalletjies en begeleide toere wees, om enkeles te noem. Enkele opmerkings: Wanneer ons die vorige feeste, almal in die vorige eeu, vergelyk met wat vir die komende fees beplan word, sien ons hoe die samelewing sedertdien verander het. Voorheen was professore en predikante die hoofrolspelers by feesgeleenthede en die lidmate meestal net toehoorders.


13 Ons sien reeds ‘n mate van verandering in die eeufeesvierings van 1959, toe lidmate aktief betrek was in koor- en samesang. ‘n Kantate was ook opgevoer. In die tyd waarin ons leef, speel vermaak‘n toenemende rol in mense se lewens. Feitlik elke huisgesin het ‘n televisiestel. Die hooftema van meeste programme is vermaaklikheid . In vorige eeue het vermaaklikheidskunstenaars meestal ‘n sukkelbestaan gevoer. Vandag maak die meeste van hulle ‘n goeie bestaan. Kunstenaars met sterstatus is welaf en sterk in aanvraag. Hulle optredes lok groot bywoningsgetalle en hulle beplande optredes is dikwels, vir ‘n jaar of langer vooruit, volbespreek. Dit is dus te verstane dat mense nie bereid is om net na toesprake en preke te luister nie. Hulle wil aktief deelneem aan verrigtinge en hulle soek ook vermaak. Die feesprogramme toon dat die organiseerders deeglik met die neigings van die tyd rekening hou. Ons vertrou dat dit tot heil van ons kerklike feesvierings en tot verheerliking van ons Verlosser, die Koning van die Kerk, sal wees. Mag ons Hemelse Vader dit so beskik. Mag ons dank ook uiting vind in ons offers aan die Dankbaarheidsfonds wat met die oog hierop ingestel is! Mag die fees van 2009 aan ons doen wat die eeufees in 1959 aan die GKSA gedoen het sodat daar opnuut weer ‘n kerklike bewussyn by ons ontwaak ― ‘n eenheidsgevoel in Christus, wat ons tot groter dade vir die uitbreiding van Sy koninkryk sal inspireer!

Gereformeerde kerk rustenburg  

Die Geskiedenis van Die Gereformeerde Kerk Rustenburg soos saamgestel deur Br. Dries Coetzee

Advertisement