Issuu on Google+

Tot dusver... God is soewerein en in volle beheer van ons lewe in voorspoed én in teëspoed. ‘n Mens het die reg om te kla en jou emosies uit te leef/stort, maar dan altyd eers teenoor die Here. Vriende sal jou in tye van nood wil intimideer met hulle sg. ervaring of bonatuurlike kennis of verstaan van die situasie. Mense probeer altyd die tye van lyding verklaar deur ‘n sonde of sondige verlede as skuld daarvoor. Miskien is die eerste die beste reaksie in sulke tye net begrip en empatie .

Ware sondebesef begin by die verstaan van die erfsonde: skuld en smet. Ons dien God nie maar net om straf vry te spring nie (Uit vrees vir straf, soos slawe nie). Ons kan nie met ons goeie werke of mooi lewe God se soewereine besluite manipuleer nie! Jy mag van God hierdie twee dinge vra: Neem my lyding tog weg en praat weer met my. Wag dan in hoop en met geduld. In plaas van ‘n beroep op jou eie ervaring of van die van jou voorouers beroep ons ons liewer op God teen God. Ons opstandingsgeloof laat ons nie met ‘n moralistiese motief die Here dien nie! Christus leef!

1.1 Sofar 2 ( Job 20:1-29)

Daar moet ‘n geraamte iewers in jou kas wees!

Ons onthou dat hierdie man voorheen die idee geopper het van werkheiligheid (Sofar 1 in Job 11): Doen iets om die saak reg te maak. Job gryp egter na ‘n Losser of Verlosser. Sy tweede argument speel nou nog net meer op daardie punt deurdat hy Job se gewete probeer beswaar. Hy speel op sy gewete... wil dat Job moet erken van die geraamtes in sy kas en van een of ander weggesteekte boesemsonde. Vers 27 kom uiteindelik by sy punt: die hemel sal sy sonde ontbloot! Ken u ook die predikers wat vertel dat ons eenmaal voor al die mense in die oordeel sal moet openbaar wat ons selfs in die geheim gedoen het, en ons sal ons koppe in skaamte laat sak.... Wel ek dink dit sal hel wees! Die duiwel misbruik alweer die waarheid, want dit sal sekerlik met diegene gebeur wat nie kinders van God is nie. Geen vader sal kinders ooit so verneder nie. By die Doop hoor ons in die Formulier-gebed: “...om eenmaal sonder verskrikking voor die regterstoel van Jesus Christus, die Here te verskyn...”. Hoe kan ons die wapenrusting van God hier gebruik? (Ef 6)

Job se reaksie (21) op Sofar 2

Sonder genade eindig almal as geraamtes

Job se reaksie (veral 21:7ev) is opvallend dieselfde as die argumente van die digter in Psalm 73: Daar is immers twee soorte mense op aarde en God werk verskillend met elkeen. Daar is die goddeloses wat sonder God leef op aarde en dit lyk ooglopend of dit goed gaan, totdat die einde kom en die onderskeid duidelik word (Psalm 73:16-24). Job 21:16-26 dui aan dat die uiteinde van die goddeloses nie deur hulleself bepaal word nie, maar deur die oordele van God. Nogtans is die een nie beter as die ander nie en eindig almal in die graf, by die wurms (26)! Net geraamtes! Die punt van Job is dus dat selfs die regverdiges in die dood eindig, net soos die onregverdiges, iets wat skynbaar ondenkbaar moet wees volgens die teologie van sy vriende (wat beweer dit gaan goed met die goeies en sleg met die goddeloses). As alle mense dus aan dieselfde vloek blootgestel is, dan moet ons weer saam met Job gryp na die wete van oorwinning deur ons Verlosser! (19:25) Daar is geen hoop nie, dieselfde lot tref almal, behalwe as God in genade deur ‘n Verlosser in gryp en red! 12


Die boek job bybelskool 7