Snicker Doodles
En daar wen Tert amper ‘n Oscar. Nou moet ek ook darem byvoeg dat as dit nie vir ‘n stukkie briljante toneelspel was nie, het hy met sy agterent in die tronk gesit, hoor! Kyk; dis net ‘n genade dat hy heelhuids anderkant uitgekom het. En ek saam met hom, maar ek was darem nie ‘n kandidaat vir die tronk nie al het ek self amper ietsie gekry vir beste byspeler of so iets.
Hy bel my een oggend baie vroeg en sê ek moet my dinge so reel dat ek saam met hom kan deurry Swartruggens toe. Hy is daar besig met ‘n bouprojek en ek moet gaan kyk, want daar is ‘n tamaaie dek wat gebou moet word en sommer ander goeters ook. Ek laai my werkers af en so om en by agtuur se koers tel Tert my op en ons ry. Langs die pad stop Tert gou vir ‘n stukkie droë wors en biltong. Die dag is mooi. Net duskant Swartruggens draai Tert regs op die Steenbok-een –of-anderding se pad (ek onthou die naam nie so mooi nie) en ry met ‘n grondpad tot by ‘n bord wat sê “Twin Oakes.” Daar draai hy links in en ons ry met ‘n geplaveide pad tot by sy nuwe projek. Ons sien nogal baie wild soos ons ry en ek verlustig my in die pragtige uitsig. Van die plek waar Tert besig is om te bou rol die Wes Transvaalse vlaktes uit tot doer ver in die verste bloutes. Ek verlustig my so in die uitsig dat ek skoon vergeet waarvoor ek eintlik gekom het. Tert wys my die plekke waar die dekke gebou moet word, en toe die eienaar daar aankom was ek reeds amper klaar met die opmetings. Ons gesels oor die dekke, en sommer ook oor die besproeiing en die tuin wat gemaak moet word. Toe vat Tert oor en hy sorteer ander goeters met die eienaar uit.
Dit was so hier by twaalfuur se koers toe Tert se selfoon aan die skreeu gaan. Tert se selfoon lui nie soos ons ander s’n nie. Hy het ‘n vreeslike aardige geskreeu vir ‘n luitoon op sy selfoon afgelaai. Gee jou skoon koue rillings as jy dit hoor. Elk geval; dis sy voorman aan die ander kant. Hy sê Tert moet Hartbeespoort toe kom en gou ook. Die polisie en Binnelandse sake se manne het op sy site toegesak en omtrent die helfte
van sy werkers gearresteer. Die res het almal weggehol en nou staan die werk. Tert gee ‘n groot woord, vee sy snor se punte plat, drink twee pille en klim met krag in sy bakkie. Toe ek inklim, gespe ek vas, want ek weet uit ondervinding dat dinge nou in topspoed gaan gebeur. Dit gaan maar wild in die stukkie grondpad tot by die teerpad, en toe Tert links draai op die N4, fluit die bande soos hy wegtrek. Die krag van die bakkie druk my so liggies in die sitplek terug. Op ‘n stadium kyk ek so regs van my op die spoedmeter en my hart gaan staan amper. Tert is al op honderd en sestig en die bakkie tel nog spoed op. Ek druk my keppie stywer op my kop vas. Ons seil oor daardie stukkie pad dat dit voel of ons op lug ry. Op ‘n stadium dink ek: “Gee vir hierdie bakkie vlerke en hy word ‘n Boeing.” Ons sien Rustenburg vlugtig in die verbygaan. By die tolhek net anderkant Rustenburg staan die voertuie in rye en wag en dit beproef Tert se geduld tot die uiterste. E-tol skyfie of te not.
So halfpad tussen die Buffelspoort- en Mooinooi-afritte spring daar ‘n ding in die pad. Hy beduie Tert moet stop. My hart klop in my keel. Tert noem weer ‘n paar swaarweer woorde. “Nou moet jy toneel speel soos nog nooit in jou lewe nie Maans,” sê hy vir my en hy trek van die pad af. My ore suis. Tert pluk die paneelkissie oop, haal ‘n half-aampie brandewyn uit en gooi vinnig ‘n paar druppels op die vloer. Die bakkie ruik skielik soos ‘n ou kroeg. Hy stoot die bottel onder die sitplek in. Tydsaam kom die verkeersman aangestap. Hy kom staan aan Tert se kant van die bakkie en kyk hom in die oë. Hy tik met ‘n pen op sy boek. “Weet jy hoe vinnig het jy gery, Meneer?” vra die verkeersman redelik vriendelik. Tert sê niks. Hy laat sak net sy kop. “Twee honderd en vier kilometer per uur. Dis wat op daardie meter staan.” Tert ruk sy kop op en dit kantel half lomp na links. “Twee honderd en vier!! Maar dit kan mosh nie konshtabel? Hierrie bakkie kan nie so vinnig hardloop nie! Twee honderd en vier? Never!” Tert se tong sleep en sy oë wil-wil oormekaar kyk. Die verkeersman se ogies vernou. “Waar is
jou lisensie Meneer?” Ek kan sien die verkeersman se neus werk oortyd. Tert het intussen die bakkie afgeskakel. Hy vroetel in sy een hempsak en dop dit om. Toe vroetel hy in die ander hempsak, maar daar is ook niks. “Dish hier ieewersh” sê hy en klop op al sy sakke. Sy mond staan ‘n tuit. Hy buk effens vooroor om in sy sleutelhouer se sakkie te kyk en in die proses stamp hy sy kop teen die stuurwiel. “Is jy gesuip, Meneer?” vra die verkeersman. Tydsaam tel Tert sy kop op en hou sy hande in die lug met die palms na bo. Sy kop bewe liggies soos ‘n ou mens s’n van links na regs en sy hande lyk of hy Parkinsons het. Hy sukkel om sy fokus reg te kry. Hy maak sy oë klein en dan weer groot. “Shorry tjom, maar ek is vrot....Vrot-vrot. Heeltemal ... vrott!” sê Tert. Hy laat sak weer sy kop en sy hande rus op sy skoot. Die verkeerman kyk na my. Ek trek my oë oormekaar en probeer gesuip lyk. “Ek is bevrees jy moet saam met my kom,” sê die verkeersman. Tert tel sy kop op. “Waantoe nogal?” vra Tert. “Polisiestasie toe meneer. Ons gaan jou bloed trek en jou toesluit vir spoed.”
“En hoe gaan jy my daar kry?” tart Tert die man verder. “Ek gaan jou bakkie bestuur. My kollega sal met ons voertuig agterna kom. Jy sit nou hier doodstil en moet niks snaaks probeer nie. Ek gaan gou oppak en dan ry ons.”
“Ou Maans, spietkops lê nagte lank wakker en fantaseer oor situasies soos hierdie,” sê Tert toe die verkeersman wegstap. Hy grinnik. Ek tiekie-wawiel. My ouma het altyd gesê as jy erg benoud is, dan tiekie-wawiel jy. Eers rek jou agterend so groot soos ‘n wawiel en dan krimp hy so klein soos ‘n tiekie. Elk geval; ek tiekie-wawiel dat dit so klap. In ‘n oogwink is al die toerusting opgeslaan en opgelaai. Die verkeersman kom teruggestap. Hy help vir Tert agter die stuurwiel uit en laat hom agter in die amptelike voertuig sit. Hy klim in en skakel die bakkie aan. My kop hang skeef teen die ruit. “Waar kom julle vandaan?” vra hy. “Shwart... Swartruggensh” sê ek en hik na sy kant toe. “Jy kots nie op my nie, verstaan!”
“Shorry,” sê ek en my kop kantel weer tot teen die ruit. My ken rus in my handpalm.
By Mooinooi se polisiestasie help hulle ons uit die voertuie uit. Tert se bene swik so effens toe ons aanstap (aanstrompel?) na die aanklagkantoor. Die verkeersman vat hom aan sy linkerkant vas. Orals staan mense vir ons en kyk. Hulle vat ons na ‘n klein kamertjie net langs die aanklagkantoor. Tert val in ‘n stoel neer en in die proses vou die stoel onder hom inmekaar. Hulle spook dat dit bars om Tert weer opgetel te kry en in ‘n ander stoel te laat sit. Ek kan sien die twee manne raak nou effens kriewelrig. Skielik staan die bevelvoerder van die stasie in die deur. “En toe?” vra hy, “Waarvoor bring julle hierdie twee in?”
“Dronkbestuur, Kolonel. Hierdie ou is so gesuip hy kan skaars op sy twee voete staan.”
Tert wip orent. “Wie is gesuip, meneer?” vra hy aan die verkeersman. “Toe ek vra, wie is gesuip? Bring jou toestel laat ek blaas.” Hy hou sy hande voor hom uit. “Kyk, my hande bewe nie eers nie.” Tert se hande is rotsstewig. Die verkeersman is totaal van stryk af. Die Bevelvoerder kyk hom agterdogtig aan.
“En hy het ook nie sy bestuurslisensie by hom nie,” gooi hy nog ‘n troefkaart in. Hy hakkel effens van senuwees. Tert pluk sy lisensie uit sy hempsak uit.
“Hier is dit,” sê hy en gee dit vir die Bevelvoerder. “En nou gaan hierdie manne seker nog vir jou vertel dat ek twee honderd kilo’s ‘n uur op die snelweg gery het,” sê Tert en gluur die twee verkeersmanne aan. Die verkeersman sluk diep. Die Bevelvoerder gee Tert se lisensie vir hom terug. Hy staan effens uit die deur uit. “Dit lyk nie of julle regtig ‘n saak het nie?” sê hy vir die verkeersmanne en beduie met sy kop dat ons kan loop. Ons skuur by hom verby.
“Luister,” sê ek vir Tert toe ons in die bakkie sit, “nou ry jy soos ‘n ordentlike mens, verstaan jy?! Amper het ons nou met ons agterente binne-in die tronk gesit! My onderbroek is voos gekou!”
Tert grinnik. “Dit was nou close, ek sê jou, Ou Mannie. Daai spietkop gaan hierdie een nie lig vergeet nie; gaan hy?”
Die bande grou in die gruis. Ek gespe vas. Hartbeespoort lê nog ver.
Hours: Mon-Fri: 8am - 5pm