Die Pos 30 Augustus 2013

Page 33

diepos.linmedia.co.za / www.diepos.co.za

SPORT

DIE POS/THE POST

30 Augustus, 2013

Bladsy 33

Groot pret by Sonstraalskool se 4x4-dag A

Marlene de Villiers, Mev. Verenigde Nasies-finalis, saam met die drie klaswenners, Tiaan Potgieter, Pieter du Plessis en Hilton Kemp tydens die Sonstraalskool op Modimolle se 4x4-gesinsdag by Aardwolf. Foto: Kobus Pienaar

n Opwindende 4x4-gesinsdag, ten bate van die Sonstraalskool vir Buitengewone Onderwys op Modimolle, is op Saterdag, 24 Augustus, gehou. Daar was meer as 200 belangstellendes en toeskouers, en 20 deelnemers. Die dag word jaarliks deur die skool as ’n gesinsdag aangebied, met vermaak vir groot en klein. Die dag word georganiseer deur Wessel Pretorius, wat self ’n ouer van dié skool is. Die kompetisie het met ’n spannende tydtrajek begin, wat die volgorde bepaal het waarin die volgende sewe hindernisse aangepak moes word. Die hindernisse het ingesluit ’n bietjie speel, om te toets hoe goed deelnemers hul voertuie ken, ’n rit

deur ’n rotsgedeelte, oor skuinstes en skerp walle, teen baie steil bulte uit, ’n nat turf-gedeelte en dan die moddergat. Die deelnemers se vernuf het die toeskouers soms verstom en daar het telkens spontane gejuig weerklink as selfs die moeilikste hindernisse bemeester is. Die laaste hindernis was die veelbesproke moddergat wat vir groot pret en plesier gesorg het. Die deelnemers het alles moontlik probeer, maar niemand kon deurkom nie, behalwe een entoesiastiese bestuurder wat met sy voertuig vasgesteek en toe onder groot gejuig handeviervoet deur die modder gehardloop het. Die wenner in Klas 1 (produksievoertuie sonder ewenaarslotte) was Pieter du Plessis van Modimolle

met sy Toyota Hilux. Klas 2 (produksievoertuie met ewenaarslotte) se wenner was Tiaan Potgieter van Reitz met ’n Ford Ranger en Hilton Kemp van Bela-Bela het Klas 3 (omgeboude voertuie) met sy “Akkedis” gewen. Die prysuitdeling het plaasgevind nadat daar eers heerlik geëet en gekuier is. Talle toeskouers is ook met pryse beloon met die gelukkige trekkings wat gehou is. Die Sonstraalskool en die organiseerders was baie tevrede met die besonder gesellige wyse waarop die dag verloop het en dat die kompetisie, ten spyte van talle uitdagings, sonder ongelukke of skade aan voertuie afgehandel kon word. Die hele gemeenskap word met egte Sonstraal-groete bedank vir hul vriendelike ondersteuning.

B Gerrie Riekert en Rita Krog van die rolbalklub op Modimolle het ’n trofee ontvang as die wenners van die klub se kompetisie vroeër vanjaar vir Dames Gekose Pare-kompetisie.


Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.