Agri June/July 2018

Page 36

MEER as net tee Pietman Roos Agri SA

‘n Groot aanvraag na rooibosprodukte het daartoe gelei dat rooibosprodusente die moontlikheid ondersoek om ‘n produsenteliggaam te stig. “Die gehardheid van die rooibosplant te midde van die droogte in die Wes-Kaap het my verstom,” sê Werner Nieuwoudt, ‘n onlangse toetreder tot rooibosproduksie. “Dit is ‘n wonderlike plant wat aangepas is vir die natuurlike omstandighede van die streek.” Nieuwoudt is ‘n geoktrooieerde rekenmeester en het drie jaar gelede met rooibos in die Vanrhynsdorp-distrik bo-op Gifberg begin boer. Hy was een van die rooibosprodusente by die onlangse Agri SA-werkwinkel om die behoefte vir ‘n rooibosprodusenteliggaam te meet. “Die ervaring was deur die bank positief. Daar is ‘n definitiewe behoefte vir ‘n produsenteliggaam en nóú is juis die regte tyd om so iets te vorm, ongeag aan wie jy lewer of verkoop.” Die werkswinkel het na verskeie insette van rooibosprodusente geluister, soos onder meer om ‘n enkele bedryfspreekbuis te skep en om gesamentlike insae oor plantnavorsing te verkry. “Boere uit verskeie streke het die werkwinkel bygewoon en daar is werklik ‘n gemeenskaplike erkenning dat so ‘n organisasie nodig is.” Nieuwoudt is veral opgewonde oor die moontlikhede vir rooibos en wys gereeld daarop dat die plant soveel meer as net tee is. Rooibos word slegs in die Wes-Kaap verbou, maar die internasionale vraag groei steeds. Soos die rooiboskoors oorsee toeneem, is daar ander vraagstukke wat ook opduik, veral die beskerming van die handelsnaam, soos byvoorbeeld Port en Sjampanje in Frankryk of Tequila in Mexiko. Van die ander prioriteite wat op die werkwinkel bespreek is, is onder meer ‘n tekort aan sertifisering van organiese rooibos en ‘n graderingstelsel om standaarde vir die gehalte en sterkte in te stel. Laasgenoemde is juis belangrik omdat verskillende wêreldstreke se smake verskil, soos in Europa waar hulle meer van sterk tee hou. ‘n Geskatte 1,6 miljoen kilogram rooibos is in 2016 na Duitsland uitgevoer. In China – hoewel hulle daar meer van flou tee hou – is ‘n massiewe ontluikende mark wat nóg geleenthede vir produsente bied.

36


Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.